GENESIS 49:1-4; HEBREËRS 12:22-24

Ons het gesien watter besondere rol dieeersgeboortereg gespeel het in die kultuur van die antieke wêreld. En verrassend was dit om te sien hoe ingrypend die herverdeling van Ruben se eersgeboortereg die ontwikkeling van die Ou Testamentiese geskiedenis geraak het. 

Eintlik was alles wat tot nou toe gesê is, inleidend. Vir drie redes is daar heelwat tyd aan spandeer. 

Eerstens om ons te help om die Ou Testament beter te verstaan. 

Tweedens om dit by ons tuis te bring dat die konsep van die eersgeboortereg uiters belangrik is in God se weë met ons, Sy kinders. Die begrip is vol openbaringsbetekenis. Ons het nie hier te doen met ‘n tweederangse tema nie. 

Derdens om vir ons die nodige gereedskap in die hand gee om die Nuwe Testamentiese waarheid oor hierdie saak na te vors.

DIE GELOWIGE SE REGERINGSGESAG

As ons nou wil verder beweeg wat ons tema betref, sluit Hb 12:23 vir ons wêrelde oop. Hier word die kerk van Christus genoem, die vergadering van die eersgeborenes. Die meervoud sê onontkombaar duidelik dat hier gepraat word van die gemeente en nie van Jesus Christus nie. Die ware kerk van die Here bestaan dus uit eersgeborenes. 

Terwyl net enkele mense in die Ou Testament die voorregte en verantwoordelikhede van die eersgeborene gehad het – as ‘n reël oudste seuns – is een en elke Christen dus ‘n eersgeborene! 

Dit sal ons deur en deur loon om hierdie saak in die Nuwe Testament oop te grawe.

Kom ons kyk eerste na die Christen se gesag.

‘N STUK UITERS BETEKENISVOLLE EKSEGESE

Dit loon die moeite oor en oor om goed te kyk na Efesiërs 1 en 2.

In Ef 1:3-14 skryf Paulus oor God se ewige plan – vasgemaak voor die skepping van die aarde – om in Christus sondegevalle mense vir Homself as kinders uit te kies, en om hulle uiteindelik onder die hoofskap van Sy Seun te verenig. Dit alles doen Hy ten einde Homself te verheerlik (Ef 1:6,12,14, OAV).

Dan, vanaf v.15 skryf die apostel oor sy gebed vir die gemeente in Efese. Die hart van wat Paulus van die Vader vra, is dat Hy aan die Christene in Efese “die Gees van wysheid en openbaring” sal gee (17).

Keer op keer, as Paulus vir die gemeentes bid, is hierdie versoek sentraal: begrip, kennis, insig,

wysheid! (vgl. 3:18; Fl 1:9-11; Kol 1:9-10a). 

Wat wil die apostel híér hê moet die Efesiërs

begryp – en daarom ook ons?

Eerstens, moet hulle God beter leer ken! (17). 

Tweedens moet hulle “geestesoë” verlig word (18a). Waarom? Sodat hulle drie dinge kan “weet” – dinge wat hulle in Christus ontvang het (18-19).

Wat is hierdie drie dinge wat hulle moet weet?

Eerstens, die hoop waartoe hulle geroep is (18).

Tweedens, die rykdom van hulle erfenis (18). 

Derdens, die grootheid van Sy krag wat nou reeds in hulle aan’t werk is (19). Só opgewonde is Paulus oor hierdie krag (Gr. dunamis), dat hy nóg 3 woorde, amperse sinonieme, gebruik om dit te beklemtoon: energeia (aktiwiteit, werking); kratos(uitgeoefende krag); ischus (inherente mag) (19b).

Let op hoe Paulus al hoe meer infokus. Hy is duidelik op pad na ‘n bepaalde punt toe. Op die derde punt hierbo sak hy nou dieper in – God se krag in en vir die Efesiërs (20vv).

Dis presies dieselfde krag wat in Christus gewerk het tydens die opstanding en die hemelvaart. 

Die apostel droom dus nie drome nie; hy praat van iets wat reeds beleef en gedemonstreer is!

Drie woorde lig hierdie krag in Christus uit (20).

God het dit in Hom “uitgeoefen” (Gr. effektief

bewerkstellig) – en sodoende lewe in Hom geskep. 

Met hierdie krag het Hy Hom ook “opgewek”.

Les bes, met hierdie krag het God Sy Seun aan Sy regterhand in die hemele “laat sit” – en Hom

sodoende oor alle “owerheid en mag en krag en heerskappy” (21, OAV) aangestel; trouens, oor elke “vorm van gesag waarvan daar sprake mag wees, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook in die bedeling wat kom.” (21, NAV).

Die apostel kan egter nie van die verhewe Here Jesus Christus praat, sonder om ook onmiddellik aan Sy gemeente te dink nie. Daar is immers ‘n organiese lewenseenheid tussen die Hoof en die liggaam. Wat vir Hom geld, geld vir hulle (22-23). Vanuit hierdie waarheid kan dit nie anders nie – Christus se posisie van onaantasbare en universele gesag (22) móét implikasies inhou vir Sy gemeente. 

En hieroor gaan dit in hoofstuk 2 – in duiselingwekkende terme! Die fokus verskuif dus nou van wat die Vader vir Jesus Christus gedoen het, na wat Hy vir Sy kinders doen in hulle verbondenheid met Sy Seun.

Om die heerlikheid van wat God in en vir ware Christene doen, beter uit te lig, skets Paulus eers die ellende waarin hulle vooraf verkeer het (2:1-3). 

Drie dinge is waar van die ongeredde mens, die mens in Adam.

Eerstens is hy geestelik dood. Dis vanweë sy “oortredings” – sy rebellie en oorsteek van die grense wat God daargestel het. En dis vanweë sy “sonde” – sy mislukkings om aan God se standaarde te voldoen (1) 1.

Tweedens is hy ‘n slaaf van die wêreld (die Godvyandiggesinde wêreldstelsel), die Duiwel en die vlees (2-3). 

Derdens is hy van nature (dus vanuit sy menslike aard) onder die toorn van God (3, OAV).

Ef 2:4 is dan musiek in verlostes se ore. Dit begin met woorde waarop ons ewige lotsbestemming skarnier: “Maar God” (vgl. ook Rm 3:21; Kol 1:22; Tit 3:4). Toe ons nog magteloos vasgevang was in die lot van Adam se nageslag, het Hy in barmhartigheid en liefde ons duisternis binne getree en drie dinge vir ons gedoen:

Eerstens het God ons (wat dood was, v.1) saam met Christus lewend gemaak (5).

Tweedens het Hy ons (wat onder God se toorn was, v.3) saam met Christus opgewek (6a).2

Derdens het Hy ons (wat slawe was van die wêreld, die Duiwel en die vlees, v.2-3) saam met Christus in die hemele laat sit – in ‘n posisie van gesag en heerskappy (6b; 1:20-22).

Twee dinge moet hierbo raakgesien word.

Paulus skep 3 nuwe Griekse werkwoorde

deur die voorsetsel, saam met, te kombineer met ‘n bestaande werkwoord. Sodoende beklemtoon hy dat hierdie 3 dinge wat met gelowiges gebeur, te danke

is aan hulle lewenseenheid met Jesus Christus. Ware Christene is saam-lewend-gemaak, saamopgewek en saam-laat-sit met Christus. 

Hierdie is ‘n fundamentele aksent van die Nuwe Testament: slegs in verbondenheid met Christus is daar enige redding. Hiersonder kan jy die evangelie nie verstaan nie. Vandaar die kwalifikasie, “in Christus”, wat Paulus oor en oor en oor gebruik.

Al drie hierdie werkwoorde is in die verlede tyd. Hulle beskryf eens en vir altyd afgehandelde feite. Dit is dus nóú reeds waar van elkeen in Christus – Hy wat histories lewend gemaak is, opgewek is uit die graf, en in die hemel aan die regterhand van die Vader gaan sit het.

Dit alles vloei vanuit God se “genade” (5, 8) en het ten doel om Hom vir ewig te verheerlik (7). 

Genade dui op die verlossingsguns wat ‘n sondaar van God ontvang (ten spyte daarvan dat hy die teendeel verdien) en dat God op geen wyse onder verpligting staan om dit aan hom te betoon nie. Hy het gevolglik geen aanspraak daarop nie; inteendeel. Daarom kan niemand roem nie (9).

Die werkwoord, “gered” (5, 8), is belangrik. 

Dis passief. Die sondaar ondergaan dit dus, sonder enige aandeel aan sy of haar kant(9a). Natuurlik bly mens ná redding nie passief nie. Jy word herskep met die oog op “goeie dade” (10). 

Die Griekse vorm dui op ‘n huidige werklikheid voortvloeiend uit ‘n gebeurtenis in die verlede. Ons is destyds gered, maar bly gered. Ware verlossing is blywend – eens en vir altyd!

Die apostel se argumentasie is nou duidelik. Dit sluit die hele gedeelte oop.

Soos Christus lewend gemaak is (1:20); só is ons saam met Hom lewend gemaak (2:5); wat nodig was omdat ons geestelik dood was (2:1).

Soos Christus opgewek is uit die dood (1:20); só is ons saam met Hom opgewek(2:6a); wat nodig was omdat ons onder God se toorn was (2:3).

Soos Christus laat sit is aan die regterhand van die Vader om vandaar met gesag te heers (1:20-22); 

só is ons saam met Hom in ‘n posisie van gesag in die hemele laat sit (2:6); 

wat nodig was omdat ons slawe was van die wêreld, die Duiwel en die sondige natuur (2:2-3).

Sien jy dit? Paulus roem hier in God se verlossingswerk in Christene – in en deur Christus.

Ware Christene wat deur ‘n ware geloof met Christus verenig is, is wedergebore (lewend gemaak), geregverdig (opgewek uit die dood), en het gesag oor die wêreld, die Duiwel en die vlees (hulle sit in die hemel).

WAT SÊ DIT VIR ONS?

Daar is slegs tyd vir ‘n enkele woord van toepassing – ‘n waarheid van kardinale praktiese belang. As ek dan wedergebore en geregverdig is – as ek dus deur ‘n ware geloof met Christus verenig is – het ek gesag oor my vlees, die sondige wêreldstelsel en die Duiwel.

Dit beteken dat ek nooit aan sonde hoef toe te gee nie; trouens, dat ek nooit enige verskoning vir my sondes het nie. 

Dis uiters belangrik om hierdie waarheid te verstaan en heelhartig te aanvaar. Dit sal my help om

op die voorvoet teen sonde te veg. Laat 2Pt 1:3 op die tafels van ons harte geskryf wees: “Immers, Sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien …” (OAV). 

Dit sal my ook help om my sonde met dieper verootmoediging te bely en om nie voortdurend verskonings daarvoor te probeer aanvoer nie. 

Perfeksionisme is nie bybels nie! Maar ewe min ‘n defaitistiese verloordersmentaliteit! 

“Wees heilig, want Ek is heilig”, sê die Here (Lev 11:44, 45; 19:2; 1Pt 1:16).

VOETNOTAS

1. Die Griekse woord om te sondig, beteken basies om die kol te mis.

2. Die verband tussen God se toorn (v.3) en die Christen se opwekking, reeds in hierdie lewe, moet soos volg verstaan word: toe die Vader Sy Seun opgewek het, het Hy daarmee verklaar dat Hy die Strafdraende Middelaar se versoeningsoffer aanvaar het, en dat Sy toorn oor die sonde van die uitverkorenes gevolglik bevredig is. In die opstanding sit dus die waarborg dat ons, in ons verbondenheid met Christus, van ons grootste probleem bevry is – die toorn van God. Vergelyk ook Rm 4:25- 5:2; 5:9; 1Ts 1:10.

Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00