JOHANNES 16:7-11

DIS DIE AAND VOOR DIE HERE JESUS SE KRUISIGING. Hy is alleen saam met Sy dissipels. Hulle weet dramatiese gebeure is op hande en is daarom diep gekweld en bekommerd oor die toekoms. Wat gaan van hulle word as die Here nie meer by hulle is nie? Hoe gaan hulle regkom? Hoe gaan hulle hul roeping kan uitvoer? En hoe gaan hulle alles onthou wat Hy vir hulle geleer het?
Die bovertrek staan gevolglik in die teken van bemoediging en vertroosting. Dis waarom hoofstuk 14 so troosryk begin: "Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God, glo ook in My." En dis waarom Jesus voortgaan met die versekering dat Hy sal terugkom om Sy dissipels te kom haal.
Maar wat van die periode tussenin? Beloftes alleen gaan die dissipels nie deurdra nie! En dís waaroor Jesus dit veral in die bovertrek het. In ‘n neutedop is Sy trooswoord: "Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ‘n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees …" (Jh 14:16).
Die koms en werk van die Heilige Gees is dus die hooftema van die Here Jesus se lering daardie aand. Dis verreweg te ryk vir ‘n enkele preek. Maar dít kan en moet ons sê: die hart van die Gees se werk is om Christus te verheerlik! (16:14). En een van die maniere waarop Hy te werk gaan, is om die dissipels getuies oor Christus in hierdie wêreld te maak (15:26-27). Maar hulle is nie bloot stemme roepende in die woestyn nie. Hulle getuienis bewerkstellig inderdaad die insameling van die oes. Enersyds bekragtig die Gees hulle om soos Simsonsvosse kruis en dwars deur die oeslande van hierdie wêreld te hardloop. Andersyds werk Hy oorredend in die ongelowiges se klipharte sodat hulle by die miljoene voor Jesus Christus buig.
En laasgenoemde is waaroor ons teks gaan.

JH 16:8-11 VAN NADER BEKYK

TOEPASSING

  1. Ons teks dra verskeie korrektiewe op die Godonterende ellendes in die kerk van ons dag.
    • Vir geslagte reeds is dit een van die kenmerke van die kerk in ons land dat baie gemeentekinders sonder meer as lidmate opgeneem word  –  of hulle werklik deur ‘n ware geloof met Christus verenig is, al dan nie. Veral onder die Afrikaners het dit ‘n volkskerk en ‘n dooie ortodoksie voortgebring wat ons baie, baie ver van Nuwe Testamentiese standaarde laat wegdryf het.
      In reaksie hierop het baie nuwe kerke oor die afgelope dekades ontstaan. Talle van hierdie kerke het verbysterend gegroei. Maar helaas vertoon baie van hulle bekerings nie die merktekens van Bybelse egtheid nie. Dit het net verder bygedra tot die ellendes wat ontstaan wanneer ‘n groot persentasie van kerkmense nie waarlik soos dissipels van Jesus lewe nie. As die kerk nie meer in die wêreld is nie, maar die wêreld in die kerk, is dit ‘n kwade dag!
      • Derduisende ongeredde mense verkeer onder die valse indruk dat hulle die ewige lewe het. Dit bring ‘n selfvoldane gearriveerdheid mee wat hulle grootliks afstomp vir die ware evangelie.
      • Kerke word lamgelê deurdat baie van hulle lidmate geen erg het aan Jesus se radikale eise van dissipelskap nie. En omdat die samestelling van ‘n bepaalde gemeente se lidmaatskap uiteindelik die vlak, fokus en inhoud van die prediking bepaal, bring dit noodwendig mee dat die kerk se boodskap simplisties, sentimenteel en mensgesentreerd raak. Tewens, as hierdie neiging  –  om bokke te vermaak, in plaas van skape kos te gee, soos Spurgeon dit stel  –  ver genoeg ontaard, masel daar naderhand praktyke uit wat selfs die ongelowiges skok.
      • Al hierdie dinge word ‘n struikelblok in die pad van mense om tot die geloof te kom.
        Hartseerste van alles is dat baie van ons jongmense besig is om meer verhard te raak teen die evangelie as die ergste heidene daarbuite. Dis asof hulle teen die waarheid geïmmuniseer is!
        Hoe anders sou dit nie gewees het nie as die kerk in Suid-Afrika oor die afgelope eeue grootliks uit ware, Bybelgetroue dissipels van Jesus bestaan het!
    • Die kerk wat ons teks se lesse voortdurend voor oë hou, sal nie net bogenoemde slaggate vermy nie, maar ook ‘n sinvolle bydrae lewer tot reformasie in die situasie wat ons tans beleef.
      Wat leer ons uit Jh 16:8-11? Veral vier dinge:
      • Ware bekering en redding gaan gepaard met die Heilige Gees se diep oortuigingswerk!
        Geredde mense het hartgrondige oortuigings! Hulle het brandende harte. Hulle is yweraars. Hulle is mense met ‘n hartstog. Hulle het duidelikheid waaroor dit gaan. Dis omdat die Gees blote kopkennis laat afsak tot in die hart  –  waar dit ‘n vuur word in die sentrum van jou persoonlikheid. As sodanig beheers dit dan jou ganse lewe.
        Egte bekerings hoef nie dramaties of emosioneel te wees nie. Lidia het rustig en aandagtig na Paulus bly luister (die Grieks dui op tydsverloop) voordat sy tot bekering gekom het. Maar die Skrif sê dat die Gees haar hart geopen het om die evangelie te begryp (Hd 16:14, OAV). Bekering kan dus geleidelik en stil-stil gebeur. Maar dis altyd lewensveranderend  –  want dis jou hart wat geopen word.
      • Volgens ons teks oortuig die Gees mense in wie Hy reddend werk van ten minste drie dinge:
        Hy oortuig hulle van hulle eie doemwaardigheid. Voordat die besef van jou hopelose verlorenheid nie op jou daag nie, bly Christus se versoeningswerk grootliks ‘n akademiese saak.
        Hy oortuig hulle dat hulle eie goeie werke nooit God se volmaakte standaarde kan slaag nie, en dat dit as sodanig nooit die grond vir hulle redding kan wees nie. Dan staan Fariseërs en Oudste Seuns (Lk 15:25-32) naak voor die Here.
        Hy oortuig hulle van Christus se unieke en volmaakte middelaarskap  –  sodat hulle nie anders kan as om vir lewe en dood in Hom in te vlug nie.
      • Die Heilige Gees se oortuigingswerk is dus uit en uit Christosentries.
        Bekering wat nie op Christus gerig is nie, is eenvoudig nie eg nie! Bekering beteken omdraai deur 180 grade. Dis ‘n wegdraai van sonde  –  maar ook ‘n heendraai na Jesus Christus toe. Indien dit bloot ‘n wegdraai van sonde is, is dit net ‘n morele hervorming. En dit doen alle mense van tyd tot tyd.             Nee, ware Christenskap word nie geken aan hoë morele standaarde nie  –  noodsaaklik soos dit is  –  maar aan die diep wete dat jy nooit voor ‘n heilige God sonder ‘n volmaakte Middelaar kan staan nie.
      • Hierdie verse leer ons dus wat die inhoud is van prediking wat tot ewigheidsvrug lei.
        In die algemeen is dit Christus-prediking. En in die besonder het dit te doen met sonde, geregtigheid en oordeel  –  Christo-sentries belig.
  2. Ons teks hou wonderlike bemoediging in vir ons wat voor die oorweldigende en menslik-onmoontlike taak staan om deur ons evangeliegetuienis die siniese en Godvyandiggesinde wêreld na Christus toe te lei.
    • Ons weier om truuks te gebruik om mense so ver te kry om die Here aan te neem. En ons weet dat waterdigte intellektuele argumente op sigself niks waarborg nie. Hoe dan gemaak? Ons oplossing is presies dieselfde as die vroeë dissipels se allerantwoord: hulle het op die Heilige Gees staat gemaak om vrug op hulle werk te gee!
    • D. A. Carson skryf iewers: "I would quit all forms of Christian ministry immediately if I were not convinced that the Lord Jesus is building his church; that the Father has given over a people to his Son; and that the blessed Holy Spirit is working in the world to convict it of its sin, its righteousness, and its judgment. I have no confidence that on my own I could successfully persuade anyone of his deepest need and of the truth of the gospel. And so the passage reassures believers today that, far from being abandoned to their task of witness, in fact they are privileged to be the chosen instruments by which the Spirit customarily performs his ministry"

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00