EKSODUS 20:13; DEUTERONOMIUM 5:17

DIE NUWE TESTAMENT HAAL DIE GEBOD DIKWELS AAN. Die Here Jesus noem dit in die Bergrede by die naam (Mt 5:21). Hoewel Hy direk deursteek na ‘n dieper toepassing daarvan, is daar geen sprake dat Hy die primêre betekenis daarvan ophef nie. Ook die apostels haal dit aan en laat geen twyfel oor die voortgaande geldigheid daarvan nie (Rm 13:8-9; Jk 2:10-11).

Moord is die vrug van ‘n bose hart (Mt 15:19; Mk 7:21); dit is waarin die mens verval as hy deur God oorgegee word aan sy eie verdorwe natuur (Rm 1:28-29). Dis ‘n werk van die vlees en moordenaars sal nie die koninkryk van God beërf nie (Gl 5:21; 1Jh 3:15; Op 21:8; 22:15).

Die Nuwe Testament sê bloedweinig oor onopsetlike doodslag, oftewel manslag. Ons moet egter nie te veel van hierdie swye maak nie. Deur die Sesde Gebod so sterk te bevestig, endosseer dit per implikasie die ganse strekking daarvan in die Ou Testament. ‘n Navolger van Christus is dus alles behalwe vry om traak-my-nie-agtig te wees oor ‘n medemens se lewe; inteendeel, hy moet alles in sy vermoë doen om andere se welsyn te bevorder.

‘n Uitstaande Nuwe Testamentiese oortreding van die Sesde Gebod is natuurlik die kruisiging van die Here Jesus. Dis waar dat Hy verhoor is. Maar dit was onreëlmatig, só gemanipuleer, en só vol haat, dat dit hoegenaamd nie die toets van regverdigheid slaag nie. Daarom huiwer Petrus nie om die Jode te beskuldig van moord nie (Hd 2:23, 36; 3:14-15; 4:10). En al weet Petrus dat Jesus volgens God se raad gekruisig is (Hd 2:23; 4:27-28), weet hy ook dat die volk se sonde so ernstig is dat eksplisiete verootmoediging en bekering noodsaaklik is vir vergiffenis en redding (Hd 2:38; 3:19).

Hoewel die spore hiervan reeds in die Ou Testament opgetel kan word, is dit eintlik die Nuwe Testament wat die Sesde Gebod en sy implikasies op ‘n dramatiese wyseverinnerlik.

In die Bergpredikasie toon die Here Jesus baie uitdruklik, as Hy oor hierdie gebod praat, dat dit ook te doen het met innerlike gedagtes en gesindhede: “Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank … elkeen wat sy broer uitskel … is strafbaar met die helse vuur” (Mt 5:22). Hy veroordeel dus nie net alle uitdrukkings van woede en vervloeking nie, maar selfs die innerlike vertroeteling daarvan. Nog meer, die duidelike implikasie is dat dit op dieselfde vlak as werklike moord lê. Die dinge wat tot doodslag kan lei, is net so sondig soos die doodslag self.

Hierdie beklemtoning van die Bergrede word voortgesit in die res van die Nuwe Testament (Gl 5:19-21; Ef 4:30-31; Tit 3:2-3). Niemand stel dit sterker as Johannes in sy eerste brief nie: haatdraendheid is totaal onversoenbaar met ware Christenskap. “As iemand beweer dat hy in die lig is, maar hy haat sy broer, is hy nog steeds in die duisternis” (1Jh 2:9, 11). Dis huigelagtig: “As iemand sê: ‘Ek het God lief,’ en hy haat sy broer, is hy ‘n leuenaar …” (1Jh 4:20). “Elkeen wat sy broer haat, is ‘n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe in hom het nie” (1Jh 3:15).

Die Heidelbergse Kategismus, Sondag 40, is deur en deur Bybels as hy dit só stel: Die Sesde Gebod, word gesê, eis onder meer “dat ek my naaste nie met gedagtes, en ook nie met woorde of enige gebaar en nog minder met die daad, deur myself of deur ander mag onteer, haat, wond, of doodmaak nie …”. Dit leer verder dat God “die wortel van die doodslag soos nyd, haat, toorn en wraakgierigheid” as doodslag beskou.

Alles wat uiteindelik tot werklike doodslag kan lei, is dus eweneens ‘n oortreding van hierdie gebod.

Dit gaan daarom oor meer as fisiese leed. Mens kan die gebod oortree in jou hart en emosies, met jou woorde, selfs met jou gebare of jou kyk (Eng.).

Spesifiek word haat en nyd, woede en wraakgierigheid onderstreep. En sekerlik kan ons dinge soos onvergewensgesindheid (Mt 18), naywer, twisgierigheid, laster en jaloesie byvoeg.

Jy kan hierdie gebod ook oortree deur jou invloed of gesag te gebruik sodat iemand anders sy naaste leed aandoen. Hoewel Dawid nie self vir Uria vermoor het nie, het hy sy invloed só gebruik dat Batseba se man gesneuwel het  –  en die Here het die koning sonder meer as ‘n moordenaar geag.

Dis betekenisvol dat die Nuwe Testament kwaadsprekery as ‘n doodsonde beskou (1Kor 6:10). En inderdaad kan mens met die tong karaktermoord pleeg. Woorde kan soos dolksteke wees, sê Spr 12:18.

Nog meer, deur hulle leuenagtige beskuldigings was die Jode net so skuldig aan die moord op die Here Jesus soos enige van die ander partye.

Waarom is die Here God so gesteld op mense se welsyn en goeie naam? Omdat alle mense na God se beeld geskep is! Ten spyte daarvan dat hierdie beeld ernstig in ons verwring is deur die sondeval, waarsku Jakobus teen die vloek van ‘n ander, want hy is ‘n beelddraer van God (Jk 3:9). Of hý sy roeping uitleef of nie, maak nie saak nie.

‘n Oortreding van die Sesde Gebod wat die Bybel in ‘n baie ernstige lig beskou, is wanneer mens so optree dat andere se ewige heil in die gedrang kom. ‘n Oomblik se nadenke laat jou besef dat die ou Puriteine reg was toe hulle dit die ergste moord van alles genoem het. En hoeveel sielemoordenaars is daar nie!

Ek kan deur my voorbeeld veroorsaak dat mense wat na my opsien, tot ‘n lewe op die breë weg verlei word. Ontelbaar baie ouers vermoor hulle kinders op hierdie manier  –  deur wat hulle doen of nie doen nie. Ja, talle kinders wat in goddelose huise groot geword het, kom tot bekering  –  maar verreweg die meeste sulke kinders volhard lewenslank in hulle ouers se spore op pad na die ewige verdoemenis. En wat van onderwysers se invloed op kinders? Wat deponeer jy in jou vriende en kollegas se lewens?

Mens oortree die gebod as jy andere tot sonde verlei, aangesien sonde ‘n mensemoordenaar is. En as daar nie bekering is nie, eindig dit in die hel. Hoe sterk, byvoorbeeld, waarsku die Spreukeboek nie teen seksuele verleiding nie (Spr 7:6-23).

In hierdie verband kry die verantwoordelikheid van herders en leraars prominente aandag in die Skrif. As ‘n voorganger sy gemeente verwaarloos, laat verhonger, of mislei, sal die Here die kudde se bloed van sy hand eis. Petrus stel dit só: “… so sal daar ook onder julle vals leraars kom. Hulle sal verderflike dwaalleer insmokkel en die Here … verloën. So sal hulle hulleself baie gou in die verderf stort” (2Pt 2:1). Deur die eeue is hierdie woorde weer en weer in die kerk vervul.

DIE POSITIEWE KANT VAN DIE SESDE GEBOD

Volgens oorlewering het ‘n heiden eendag teenoor ‘n Joodse Rabbi onderneem om die Joodse geloof aan te neem as die Rabbi die Wet kan opsom terwyl hy op een been staan. Die Rabbi het só geantwoord: “Moenie aan ‘n ander doen wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie.”

Die Here Jesus se antwoord op dieselfde vraag het baie amper dieselfde geklink  –  en tog was dit radikaal anders: “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete” (Mt 7:12; Lk 6:31).

Wat is die verskil? Die Rabbi se antwoord was negatief; Jesus s’n wonderlik positief.

Wat is dan die positiewe implikasies van die Sesde Gebod? Dis nie genoeg om jou net te onthou van moord nie; die Bybel beklemtoon dit baie sterk dat ek my naaste moet liefhê  –  soos myself!

Die Skrifgedeelte wat onder meer uitdruklik werk met die Nuwe Testamentiese implikasies van die Sesde Gebod, die Bergrede, leer nie dat ons bloot ons naaste die slegste moet spaar nie; dit leer uitdruklik dat ons vir hom die heel beste moet gee.

Die woord wat die Nuwe Testament tipies vir Christelike liefde gebruik, is skaars buite die Skrif. Agape het ten minste 5 elemente wat dit van ander soorte liefde onderskei: Eerstens, styg dit bo selfbelang uit  –  dis ingestel op die ander se belange. Tweedens is dit nie uitsoekerig nie  –  dis gerig op almal met wie jy te doen kry. Niemand is uitgesluit nie, want jy moet selfs jou vyande liefhê. Derdens is dit nie in die eerste instansie iets wat jy voel nie, maar iets wat jy doen. Vierdens gaan dit oor motiewe, eerder as oor emosies. Vyfdens is dit onmoontlik vir die natuurlike mens. Dis deel van die vrug van die Gees en word as sodanig deur Hom in mense gewerk.

In die verhoudinge tussen mense in hierdie wêreld is daar, wat ons sou kon noem, ‘n wet van wederkerigheid: een hand was die ander. Jy nooi my, en ek nooi jou; jy gee vir my, en ek gee vir jou. Ek vat jou vir ‘n jaguitstappie, en jy koop my produk. So sterk is die ding in ons interpersoonlike verhoudinge ingebou, dat dit nie lekker is om te ontvang as jy nie kan teruggee nie. En natuurlik werk dit ook negatief: as jy my knyp, gaan ek jou vir seker ook bykom.

Jesus vee hierdie manier van die gevalle wêreld van die tafel af  –  soos byvoorbeeld in Lk 6:27-36. In v.32-34 bevestig hy dat die wet van wederkerigheid hierdie wêreld beheers. Maar in v.27-30 spel Hy aan die hand van agt voorbeelde die andersom-benadering in die andersom-koninkryk uit. As ‘n wêreldling sy vyand doodmaak, het ‘n koninkryksburger hom lief. As ‘n wêreldling sy hater haat, doen ‘n koninkryksburger aan hom goed. As ‘n wêreldling sy vervloeker terug vloek, seën ‘n koninkryksburger hom. As ‘n wêreldling diegene wat hom sleg behandel nog slegter behandel, bid ‘n koninkryksburger vir hulle. As ‘n wêreldling sy aanrander terugslaan, bied ‘n koninkryksburger sy ander wang aan. As ‘n wêreldling met rente terug vat wat ‘n ander by hom afvat, gee ‘n koninkryksburger nog ekstra saam. As ‘n wêreldling die bedelaar vermy, verwelkom die koninkryksburger elke geleentheid om te gee. As ‘n wêreldling diegene vervolg wat by hom steel, eis ‘n koninkryksburger dit nie terug nie.

In v.37-38 word dan opsommend beskryf hoe agape-liefde lyk  –  eers negatief, dan positief.

Is dit te veel gevra? Wel, Jesus vra niks méér van my as wat ek reeds ontvang het nie  – barmhartigheid (36). Het ek en jy wat die hel verdien het, nie die Vader se onvoorwaardelike liefde ontvang nie? Is ons nie deur >n omhelsende Vader oorweldig nie?

Vergeet dit nooit nie: jy het nie in sy lig ingebeur nie; Hy het jou duisternis vorstelik binnegemarsjeer.

Mag die Here ons help om die Sesde Gebod uit te leef  –  ook die positiewe implikasies daarvan. Dan sal ons Verlosser waarlik behaag en verheerlik word. En almal sal weet dat ons Sy dissipels is.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00