JOB 38:1-42:6 [9]

HIERDIE LAASTE HOOFSTUKKE IS SEKERLIK DIE MEES VERHEWE GEDEELTE VAN DIE BOEK JOB. Hier praat die Here God self, en die taal en beelde wat hier gebruik word, is van die aangrypendste in die ganse Bybel.
As mens hierdie hoofstukke die eerste keer lees, het jy die gevoel dat die Here hoegenaamd nie Job se probleem aanspreek nie. Maar dit is nie Sy doel om Job se vrae te antwoord nie. Nooit gaan staan Hy in die aanklagtebank as Sy kinders ongelukkig is oor Sy optrede nie. Nee, nee, Hy is die soewereine God wat teenoor niemand aanspreeklik is nie. Tog wil Hy Job se probleem oplos  –  op Sý manier.
In hierdie hoofstukke daag die Here Job as ‘t ware uit om hom gereed te maak vir ‘n strydgesprek. In sy wrewel het hy immers duur dinge teen God gesê: dat God se wêreldregering arbitrêr is, dat Hy mense onregverdig straf, en dat Hy nie in beheer is van die onreg in hierdie wêreld nie. Nou kan Job sy standpunte en opinies aan God self verduidelik. God sal die vrae vra, en Job moet antwoord.

‘N OORSIG OOR 38:1-42:6

God praat die eerste keer (38:1-39:35) 
Die Here begin om Job uit ‘n storm aan te spreek. Hy vermaan hom omdat hy in onkunde homself aangematig het om allerlei onverantwoordelike dinge oor die lewende God te sê. Die Here stel dit dan duidelik aan Job dat hy nóg die gesag, nóg die wysheid het om die lewende God te leer hoe Hy die wêreld moet regeer (38:1-3).
Waar was Job immers toe God die aarde geskape, en die see ingeperk het (4-11)? Kan Job die koms van die dagbreek beheer (12-15)? Wat weet hy van die dieptes onder die aarde, of die ruimtes daarbo (16-18)? Waar kom lig en donkerte vandaan (19-21)? Wat weet Job van die oorspronge van sneeu en hael, van die lig en die wind, van reën en ys (22-30)? Kan hy die beweging van die sterre beheer (31-33)? Kan hy die wolke beveel om te reën, of die weerlig om te slaan (34-38)? Kan hy die wilde diere beheer, en wat verstaan hy van die kragte wat hulle laat kom en gaan (39:1-33)?
Hierdie eerste rede van die Here sluit Hy af deur Job op te roep om nie langer met Hom as die Almagtige te twis nie, en om te buig voor die feit dat Hy God is (4:34-35).

Job verneder homself (39:36-38) 
Job se baie woorde van vroeër het grootliks opgedroog. Al wat hy in skaamte kan uiter, is ‘n belydenis: "ek het heeltemal te veel gepraat in die verlede; in die toekoms sal ek liewer stilbly."

God praat die tweede keer (40:1-41:25) 
Hierdie tweede rede van God is baie soos die eerste. Job het God beskuldig  –  nou het hy geleentheid om te sê hoe hý die wêreld sal regeer, die ontembare seekoei, die gevaarlike krokodil. Uiteindelik sê die Here vir Job dat hy moet onthou dat hy ‘n skepsel is, en dat hy dus sy plek moet ken. Hoe kan hy teen God standhou (41:1)? Hoe kan hy ‘n stryd met God wen?
Maar God is nie net almagtig nie; Hy is in elke opsig volmaak  –  in Sy Persoon en in al Sy handele. Hoe durf Job, om homself te regverdig, God bevraagteken en Hom van onreg beskuldig? Weet hy dan nie dat God alle kennis en mag het nie? Het hy vergeet dat sy Skepper absoluut soewerein is?

Job se finale oorgawe (42:1-6) 
Na God se eerste rede het Job stil geraak. Maar nou is hy heeltemal ingebreek en hy verootmoedig homself. Hy verag sy eie dwase en goedkoop uitbarstings. En dan uiter hy sy bekende belydenis: In die verlede het ek U bloot volgens hoorsê geken. Maar nou het ek U self ontmoet. En ek verag myself. Ek het diep berou oor alles wat gebeur het (42:5-6).
Nie ‘n enkele van Job se vrae is beantwoord nie. Maar nou weet hy waarlik dat God soewerein en goed is  –  en altyd reg in alles wat Hy doen. Nou weet Job sekerder as ooit dat hy volkome kan peil trek op God se liefde, wysheid en geregtigheid.

TOEPASSING

  1. God het nie alles aan ons geopenbaar nie. 
    In ons verhouding met en verstaan van die Here sal daar altyd talle geheimenisse wees. Hy het net die noodsaaklike in Sy Woord aan ons geopenbaar.
    • In 1Kon 8:12 vind ons ‘n betekenisvolle uitspraak. Met die ingebruikneming van die tempel sê die Here vir Salomo dat Hy in duisternis wil woon. Daarmee wil Hy vir die koning en die volk aan die verstand bring dat Hy die heilige, onbegryplike en geheimenisvolle God sal bly, al sit daar ook ‘n hele stuk self-openbaring in die tempel. Jesaja het dit verstaan: "U is die God wat U verborge hou …" Só belangrik is hierdie beginsel, dat ‘n Latynse frase tot vandag toe oorleef het: God is die Deus Absconditus  –  die verskuilde en geheimenisvolle God.
      Laat ons hierdie beginsel maar goed onthou. Hy is nie ons speelmaat nie, maar heilig en verhewe. En wat ons van Hom weet deur Sy openbaring, is ‘n geringe fraksie van wie en wat Hy is. Een van ons belangrikste aktiwiteite in die toekomstige heerlikheid, sal wees om die Drie-enige steeds beter te leer ken. Is die essensie van die ewige lewe nie dat ons Hom ken nie? (Jh 17:3).
    • Uiters belangrik is Dt 29:29 (OAV): "Die verborge dinge is vir die Here onse God; maar die geopenbaarde dinge is vir ons en ons kinders …"
      Wat die Here dus nie geopenbaar het nie, verwag Hy nie moet ons weet nie. Hy sal ons ook nie daarvolgens oordeel nie. Wat Hy egter wel in Sy Woord laat opteken het, moet ons met die grootste erns bejeen. Wat ander sake betref, het ons vryheid.
      Maar dis noodsaaklik om te onthou dat nie ál God se geopenbaarde beginsels simplisties en voor die hand liggend op die oppervlakte van die Bybel lê nie.  Baie daarvan moet uitgemyn word. Dis een rede waarom dit so belangrik is om aan ‘n gemeente te behoort waar die Woord Sondag na Sondag verantwoordelik en deeglik uitgelê word. En dis waarom ons soveel erns moet maak met die historiese Christelike geloof. Dis die opperste dwaasheid om jou nie te steur aan die lesse wat die Heilige Gees vir ons vadere geleer het nie.
    • Ons hoef nooit verleë te wees as ons nie al die siniese vrae en aanklagte van ‘n ongelowige wêreld kan antwoord nie. Tewens, ‘n leraar wat nie kan sê nie, "ek weet nie", is ‘n leraar onder ernstige verdenking. Oppas vir daardie mense wat al die antwoorde het. Dis ‘n teken dat hulle die Here en Sy weë nie ken nie.
  2. Die soewereiniteit van God is nie bloot ‘n onpersoonlike karaktertrek wat onvoorspelbaar allerlei bedreiginge vir ons inhou nie. Nee, daar sit vir ons wonderlike sekuriteit in en ons leer dit in verhouding met Hom ken. 
    Baie mense se idee oor God, veral as hulle aan Sy soewereiniteit dink, is dat Hy ‘n veraf en onpersoonlike God is. Hulle het die heidense persepsie dat Hy onvoorspelbaar en arbitrêr is, en dat ons as mense magteloos uitgelewer is aan Sy grille en giere (in respek gesê). Dis een van die groot redes waarom soveel mense niks van God se soewereiniteit wil weet nie. Dit bedreig hulle.
    Maar dis allermins ‘n Bybelse siening.
    Die Skrif leer ons, en ervaring bevestig dit, dat God altyd in volle harmonie met al Sy attribute optree. Dit sluit Sy liefde, regverdigheid en wysheid in. Daarbenewens bly Hy sonder uitsondering onkreukbaar getrou aan Sy verbondsonderneminge. Die Here is dus absoluut konsekwent  –  en as sodanig in vele opsigte voorspelbaar. Daarom hoef ons nooit, maar nooit insekuur te wees in ons verhouding met Hom nie.
    • Job leer God eers werklik in Sy soewereiniteit ken as hy met Hom persoonlik te doen het. So moet dit ook met ons wees. Ons ken God nog nie as ons bloot ‘n klomp waarheid oor Hom verteer het nie  –  waarheid wat ons gewoon by mense kry, korrek en belangrik soos dit ook al mag wees. Bloot intellektuele kennis is nie genoeg nie. Let weer daarop dat die Here nie ‘n enkele van Job se vrae beantwoord nie. Hy weier as ‘t ware om Job bloot intellektueel te bevredig.
      Die antwoord op Job se krisis is dus persoonlike gemeenskap met God; nie net hoorsê oor Hom nie (42:5). Die ware kennis van God gee Hy nie bloot op ‘n onpersoonlike wyse nie. Nee, ek verkry dit slegs as ek met Hom wandel  –  wanneer ek oor jare aan Sy hand stap, gelowig deur voorspoed en teëspoed, blydskap en hartseer, triomf en mislukking.
    • Nog iets wat ons goed onder die knieë moet kry, is dat dit nooit moeiliker is om voor God se soewereiniteit te buig nie, as in tye van swaarkry en smarte. Of ons dit nou wil weet of nie, almal van ons het die geneigdheid om God ter wille van ons voorspoed te wil inspan. En om hierdie mentaliteit uit ons te brand  –  want maklik raak ons nie daarvan ontslae nie  –  moet ons deur ‘n vuur van beproewing worstel totdat ons ook hierdie moeilikste van alle lesse van harte geleer het. Waarlik, geseënd is die man of vrou wat nie deur die Here op laer vlakke van Godskennis gelos word nie.
  3. Soos in Job se geval, is die beproewinge in ons lewens op ons heiligmaking ingestel. 
    Sekerlik het Job goed gevaar in sy konflik met die Duiwel. Maar daar is altyd ruimte vir verbetering. Die Here wil hê ons moet heilig wees soos Hy. En gewis staan Job se voete nou op hoër grond.
    Eerstens is hy baie nederiger. Hy is aan die einde van homself. Vantevore was hy deeglik bewus van sy vroomheid, maar nou stel hy geen vertroue meer in homself nie.
    En tweedens ken hy God soveel beter. En wat is belangriker as dit (Jh 17:3)? Waarlik, die pad van Godskennis kan soms baie steil wees.
  4. Die uitnemende les wat die Here God vir ons almal wil leer, is dat ons wat ewigheidsake betref, geen vertroue in ons eie insig en oordeel sal stel nie, maar ons volledig sal verlaat op Sy betroubare Woord. 
    Job moet op ‘n punt kom waar hy in God self rus, sonder enige verduidelikings hoegenaamd. Dit is waarheen die Here met hom op pad is. Dan sal Satan nie die minste houvas meer op hom hê nie. Daarenteen rig die vyand van ons siele, in sy ondermyning van ons geloof, hom op ons vleeslike rede en sintuiglike waarnemings. Maar as ons onvoorwaardelik vertrou in God se goedheid en betroubaarheid  –  ten spyte van ‘n duisend dinge wat ons nie verstaan nie  –  is ons immuun teen Satan se geloofsondermyninge.
    • Nooit sal die meeste van ons kragtiger aanvegtinge ervaar as op ons sterfbeddens nie. Dan, meer as ooit, sal ons só ‘n ryp en gespierde geloof nodig hê  –  geloof in ‘n algeheel betroubare Middelaar wat vir ons by die Vader intree.
      Laat ons dus die pad vorentoe met ‘n ferm tred aandurf. Met ‘n Hoëpriester soos Jesus Christus kán ons nie misluk nie  –  want as Voorspraak is Hy onfeilbaar getrou en effektief.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00