MATTEUS 7:13-14

IN MY OUPA EN OUMA SE EETKAMER het ‘n reuse afdruk van De Breede en de Smalle Weggehang. As klein seuntjie het ek male sonder tal gefassineer daarna staan en kyk. Ons ken mos almal die prent, nie waar nie. Wie dit oorspronklik geskilder het, weet ek nie, maar dis gebasseer op die fundamenteel belangrike woorde in die Bergrede: "Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min" (Mt 7:13-14).
Dis van die allergrootste belang dat ons hierdie uitspraak van die Here Jesus Christus reg verstaan. Maar ons kan dit net reg verstaan as ons dit in die breëre konteks van die Bergrede vertolk.

DIE BERGREDE

In Mt 5:17-20 beklemtoon die Here Jesus dat Hy nie gekom het om die Ou Testament  –  die wet en die profete  –  ongeldig te maak nie. Hy het juis gekom om dit te bevestig, te bekragtig, te vervul. Daarom is en bly God se morele wet die grondwet van Sy koninkryk. Uitlewing daarvan is dus nie opsioneel nie. Tewens, diegene wie se getrouheid daaraan (lett. "geregtigheid") nie ver bo dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs uitstyg nie, sal nooit die koninkryk van die hemel binnegaan nie (20).
Wat is hierdie geregtigheid waarvan Jesus praat? Dis lewensbelangrik om te weet.

DIE ONONTKOMBARE KEUSE

As die Here Jesus Sy lering oor ware geregtigheid in Mt 7:12 tot ‘n afronding bring, gaan Hy onmiddellik voort om Sy hoorders dringend op te roep tot só ‘n lewe.
Wat mens opval in hierdie slotgedeelte (7:13-27), is hoe Jesus alles elke keer vereenvoudig tot net twee moontlikhede. Vir draadsit laat Hy geen ruimte nie. As jy nie op die smal pad is nie, is jy op die breë (13-14). Die leraar wat nie waarheid verkondig nie, is ‘n misleier (15). Wat nie goeie vrugte is nie, is sleg (16-20). Wie nie die Here se wil uitleef nie, is ‘n werker van ongeregtigheid (21-23, OAV). En as jy nie jou huis op rots bou nie, bou jy op sand (24-27).
Hier is geen sprake van allerlei oop opsies nie. Vir gemoedelike relativisme en eiewillige sinkretisme word geen voorsiening gemaak nie. Wie nie beslis en voortdurend vír geregtigheid kies nie, diskwalifiseer homself sonder meer.
Ons teks konfronteer ons dus met vier radikaal-teenoorstaande alternatiewe:

DAAR IS TWEE EN NET TWEE PAAIE

Die een pad is wyd, ruim, maklik. Daar is baie ruimte vir uiteenlopende opinies en morele vryheid. Elkeen doen soos hy goed dink en lus voel. Van inperkende grense en versmorende nougesetheid is hier geen sprake nie. Dis ‘n maklike en lekker lewe, want jy gee jou oor aan dit wat vanself kom.
Die ander pad is smal. Om daarop te bly, verg nadenke, sterk oortuigings, dissipline, inspanning, volharding. Sy grense is duidelik gemerk  –  deur God se Woord. Dit bepaal my oortuigings, voorkeure, besluite, plig. Dis nie ‘n maklike pad nie; dis dikwels baie steil.

DAAR IS TWEE EN NET TWEE POORTE

Die hek wat toegang verleen tot die breë pad is wyd. Daar is geen beperkinge op die bagasie wat kan saamgaan nie. Eiegeregtigheid, trots, wellus, hebsug is geen probleem nie. Vat saam wat jy ook al wil!
Die ander hek is nóú  –  só nou dat Jesus dit met die oog van ‘n naald vergelyk (Mt 19:24). Jy kan as ‘t ware net op jou knieë daardeur  –  en dan ook net een-een.

DAAR IS TWEE EN NET TWEE BESTEMMINGS

Die een pad lei na die "verderf". Die Griekse woord sinspeel op vernietiging. Dis dus ‘n plek van voortdurende disintegrasie. En daar is niks wat goed en mooi en sinvol is nie. Vir die mens is dit ‘n plek van onbeskryflike verskrikking, want hy is gemaak om te lewe, nie om eindeloos te bly vergaan nie. Ergste van alles: die Here is nie daar nie.
Die ander pad lei na die lewe  –  die ewige lewe. Dit lei na ‘n plek van volkome gemeenskap met God, van skitterende heerlikheid vir elke reisiger, van oneindige en volmaakte vervulling in vreugdevolle diensbaarheid.

DAAR IS TWEE EN NET TWEE GROEPE REISIGERS

Die een klomp is baie. Die pad is besig, opwindend en gewild. Almal is vrolik en sorgvry  –  want elkeen leef vir homself en niemand kwel hom oor die bestemming nie. Jy hoef geen spesiale keuse te maak om op die pad te kom nie; as jy niks kies nie, is jy vanself op die pad.
Die ander groep is min  –  in elk geval in vergelyking met die getalle op die breë pad. Hulle weet egter waarheen hulle op pad is, want hulle het die nou poort doelbewus gekies. En ten spyte van die inspanning wat die reis verg, is hulle vasbeslote. En soos altyd in sulke omstandighede, ervaar hulle ‘n heerlike kameraderie.

TOEPASSING

  1. Wesenselemente van ware bekering 
    Die bevelsvorm (13a) dui op ‘n besliste handeling. In Lk 14:25-35 werp Jesus belangrike lig hierop. ‘n Groot en sensasiebeluste menigte loop agter Hom aan. Hy stel die feite dan in perspektief. Om een van Sy dissipels te wees, het drie voorwaardes: jy moet jouself losskeur van dierbares wat jou probeer terughou (26); in jou hart mag jy nie allerlei besittings deur die hek dra nie (33); en jou selfbeskikkingsreg moet jy volledig en finaal afteken (27).
  2. Die aard van die ware Christelike lewe 
    Dis ‘n lewe van geregtigheid  –  van gehoorsaamheid aan God se wil soos dit regdeur die Skrif oopgevou word. En dis ‘n puntenerige gehoorsaamheid wat oor selfs jou oë en mond en hart waak.
    • As die hele Skrifopenbaring oor hierdie saak bestudeer word, is dit duidelik dat die gehoorsaamheid wat God behaag en Sy standaarde slaag, drie kenmerke het: dis nie eiewillig nie, maar in pas met Sy uitdruklike voorskrifte in Sy Woord; dit ontspring uit ‘n hart vol geloof, dankbaarheid en oortuiging; dit word gedryf deur ‘n hartstog vir die Here se eer.
      Die geloofsvaders het besef hoe belangrik dit is om te weet wat ware gehoorsaamheid behels, aangesien feitlik alle regsinnige belydenisskrifte deeglike aandag gee aan die vraag wat presies as goeie werke kwalifiseer.
    • Die res van die Nuwe Testament maak duidelik dat hierdie gehoorsaamheid nooit in enige opsig die grond kan wees vir sondaars se redding nie, maar dat dit ‘n noodwendige uitvloeisel is van innerlike herskepping. Die bergrede herinner ons egter dat die vrug wat by bekering pas nie maar bloot ‘n paar stukkies vroomheid hier en daar is nie, maar dat dit ‘n ganse lewe van vasbeslote, begripvolle, doelgerigte, volhardende en heilige dissipelskap is.
      Die Christelike lewe is ‘n reis; trouens, ‘n wedloop. Daar is dus voortgang en ‘n vooruit-gerigtheid. Daar is reëls. En daar is ‘n eindpunt  –  en ‘n prys vir oorwinning.
  3. Die verskil tussen ‘n ware Christen se lewe en dié van ‘n nie-Christen 
    Daar is ‘n groot verskil. Dis onmiskenbaar duidelik, nie net vir betrokkenes nie, maar ook vir waarnemers. En dis nie net ‘n graadverskil nie, maar ‘n wesensverskil. Christene en nie-Christene is op twee totaal verskillende paaie  –  elkeen met sy unieke aard.
  4. Huidige idees in Christelike en kerklike kringe 
    Teenoor Jesus se uitsprake leer ‘n ontroue kerk  –  hetsy uitdruklik, hetsy deur verswyging  –  dat min of meer almal wat bloot ‘n mondelinge belydenis oor Christus maak, sonder meer gered is. Dit geld selfs vir kerke wat hulleself as evangelies en regsinnig beskou (van daardie instellings wat hulleself "kerk" noem, maar die standpunt van universele redding huldig, praat ons nie eers nie!). Hierdie is duidelik nie net ‘n skadelose mistasting nie; dit is sielsvernietigende misleiding!
  5. Ons algehele afhanklikheid van ‘n Verlosser 
    As jy enigsins nugter en eerlik is, sal jy weet dat jóú geregtigheid nie naastenby die hoë en verhewe standaarde van die bergrede haal nie. Hoe afhanklik is ons nie van ‘n volmaakte Middelaar wat aan ál God se geregtigheidseise voldoen nie! Kan ons ooit dankbaar genoeg wees dat Jesus Christus nie net as Profeet en Koning gekom het nie, maar ook as Hoëpriester!

SLOT

Nou verstaan mens waarom die vroeë kerk hulleself die mense van die Weg genoem het (Hd 9:2; 19:9, 23; 22:4; 24:14, 22; OAV).
Op watter pad is jy? Het jy al ingegaan? Is jy op die smal pad? Onthou, daar is net twee paaie: die smal pad en die breë pad. En só duidelik is die verskil tussen hierdie twee maniere van lewe dat niemand oor sy antwoord hoef te twyfel nie. Onthou voorts dat dit oor jou en my ewigheidsbestemming gaan. Natuurlik kan ‘n lewe van geregtigheid nooit die grond vir redding wees nie. Dit vind ons alleen in die soenverdienste van Christus. Maar volgens God se Woord is ‘n lewe van geregtigheid die onfeilbare watermerk van ‘n ware geloof  –  daardie geloof wat sondaars met die Saligmaker verenig.
Hoe kom mens deur die nou poort? Christus het gesê: "Ek is die ingang …" (Jh 10:7, 9). Hoe bly mens op die smal pad? Hy het gesê: "Ek is die weg …" (Jh 14:6). Reddende geloof is om vanuit jou geregtigheids-bankrotskap in die Verlosser in te vlug  –  en om dan by Hom te bly skuil. En súlke mense bekragtig Hy dan deur Sy Gees om lewens van geregtigheid te leef. Al is dit nie volmaak nie, is dit tog so radikaal anders as die van die wêreld, dat niemand dit kan miskyk nie.

 

Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00