JOHANNES 1:14
"... het vlees geword ..." [3]

ONS STAAN VIR DIE DERDE KEER STIL BY DIE STELLING IN JH 1:14 DAT DIE WOORD VLEES GEWORD HET. Nou moet ons besin oor Jesus Christus se Persoon, veral oor die verhouding tussen Sy twee nature, die Goddelike en die menslike.

INLEIDENDE OPMERKINGS

Ons moenie aan die vleeswording dink as die ontstaan van ons Verlosser nie. As “die Woord” was Hy van ewig af, en was Sy ontvangenis en geboorte nie Sy ontstaan nie. Nee,Hy wat geen begin gehad het nie, het nie opgehou om te wees wat Hy van ewig af was nie, maar Hy het begin om vir ewig daarna te wees wat Hy nooit vantevore was nie.

Die vleeswording is iets oorweldigends, aangesien dit die samevoeging in één Persoon beteken van alles wat eie is aan die Godheid, én alles wat eie is aan volkome mens-wees. Die Man wat gekruisig is, was die ewige Woord! Die skrynwerker van Nasaret was waarlik God! Die baba in die krip was die Een wat alles geskape het!

Dit sou ‘n onbegryplike vernedering vir die Seun gewees het om ‘n volmaakte mens te word, soos die mens voor die sondeval  –  maar dit is nie wat gebeur het nie. Nee, die Woord is na ‘n wêreld van sonde en ellende en dood gestuur! En daarmee moes Hy Homself volkome identifiseer. Hy het presies soos een van die mense in hierdie wêreld geword  –  onderworpe aan hartseer, pyn, lyding en selfs die dood. Daar is een, en net een, uitsondering  –  Hy het nie sonde gehad nie.

As ons sê dat Hy vlees geword het, sê ons onder meer: dat die Een wat van ewig af bo-tyds was, die tyd binnegekom het en Hom onderwerp het aan die beperkinge daarvan; dat die Onveranderlike veranderlik geword het; dat die onsigbare sigbaar geword het; dat die Onderhouer van alles afhanklik geword het; dat die Almagtige onderworpe geword het aan swakheid en die onsterflike aan sterflikheid.

DIE PERSOON VAN CHRISTUS

Ons het gesien hoe die vroeë kerk geworstel het om die goddelike en die menslike in Christus se persoon te verstaan en dit onder woorde te bring. Uiteindelik het die Sinode van Chalcedon tot ‘n formulering gekom wat tot vandag toe as die regsinnige beskouing aanvaar word. Ook die belydenisskrifte van die 16de eeuse Reformasie het versigtig in hierdie spore bly loop.

As ons oor die verhouding tussen die goddelike en menslike nature van die Here Jesus praat, verwys ons na die hupostatiese eenheid van Christus. Kom ons probeer iets daarvan verstaan:

Die woord “hupostaties” is afgelei van die Grieks vir substansie of natuur  –  die wesensaard van iets. Dis te onderskei van die blote voorkoms of manifestasie daarvan.

Die Here Jesus is sowel volkome God as volkome mens. Chalcedon formuleer die eenheid van Sy persoon en die individualiteit van Sy twee nature só: die twee nature is onvermeng, onverander, ongedeel en ongeskei. Die twee nature van Christus mag dus nie verstaan word as ‘n samevoeging tot ‘n derde soort God-menslike natuur nie (dis onvermeng en onverander). Maar dis ook nie ‘n losse saambestaan van twee nature wat die eenheid van Christus se persoon in die gedrang bring nie (dis ongedeel en ongeskeie).

Kom ons by die Reformasie, word dieselfde waarheid net effens anders gestel: “twee hele, ware en afsonderlike nature is onafskeidelik in Sy Persoon saamgevoeg, sonder verandering, vermenging of verwarring. Hierdie Persoon is dus ware God en ware mens, en tog net een Christus …”

Die goddelike word dus nie vermenslik nie; en die menslike word nie vergoddelik nie  –  daar is nie “verandering” nie. Voorts: die goddelike en die menslike vervloei ook nie só dat ‘n derde soort natuur gevorm word nie  –  daar is nie “vermenging” nie. Derdens: die goddelike en die menslike nature wissel mekaar nie bloot af nie, sodat die een natuur die een oomblik voorop is, en die ander die volgende oomblik  –  daar is geen “verwarring” nie.

Waarlik, die twee nature van die Here Jesus is ‘n diep en onpeilbare geheimenis. Verstáán sal ons dit nooit volkome nie; gló moet en wil ons dit egter, omdat God dit so in Sy Woord openbaar.

Daar is meer sulke onbegryplike waarhede in die Woord. Neem byvoorbeeld die drie-enigheid van God: een God, drie Persone. Wat is meer ondeurgrondelik as dit? Ook worstel ons om die samehang van God se algehele soewereiniteit en die mens se verantwoordelikheid te verstaan.

In die logika is daar ‘n woord vir hierdie verskynsel. Ons praat van ‘n antinomie. Dis wanneer ons twee (of meer) feite het wat elkeen onbetwyfelbaar vas staan, maar wat tog vir ons begrip mekaar oor en weer uitsluit. As die een waar is, kan die ander logies nie waar wees nie, en as die ander waar is, kan die een logies nie waar wees nie  –  en tog staan beide vaster as die berge.

Die samehang van Christus se twee nature is so ‘n antinomie. Tog moet ons, sover dit binne ons vermoë is, suiwer daaroor dink. Want skeeftrekkings lei sonder uitsondering tot God-onterende en pastoraal vernietigende ketterye  –  soos die kerkgeskiedenis oor en oor bevestig.

In ‘n neutedop: Jesus Christus is waarlik God en waarlik mens  –  één Persoon, maar twee nature, sonder verandering, vermenging of verwarring.

ENKELE PUNTE VAN TOEPASSING

Die Seun se vleeswording verklaar al die ander wonders in die Nuwe Testament. 

Derduisende skeptiese mense kry baie in die Nuwe Testament nie geglo nie: die wonderwerke, die opstanding van Christus, die hemelvaart, ensomeer. Maar as Jesus van Nasaret inderdaad die tweede Persoon van die goddelike Drie-eenheid was wat mens geword het, verval alle besware teen die bonatuurlike in Sy lewe. Kan daar iets té wonderbaar wees vir die lewende God!

Die vleeswording is waarlik ‘n ondeurgrondelike geheimenis  –  maar dit maak sin van alle ander wonders in die Nuwe Testament.

Jesus se mensheid is ‘n voorvereiste vir die volheid en rykdom van ons redding. 

Hebreërs werk dit uit in die tweede hoofstuk.

Hb 2:5-8: Twee dinge is waar:

Eerstens, tydens die skepping is die heerskappy oor hierdie aarde aan die mens gegee.

Tweedens, ons sien egter niks van hierdie heerskappy nie.

Hb 2:9-10: Dit beteken nie dat God se belofte misluk het nie. Nee, die belofte ís vervul! Die mens heers wel oor alles. Hoe dan so?

Sekerlik is ons as mense nog nie met eer en heerlikheid gekroon nie. Maar ons het ‘n Hoof wat volmaak aan God se eise voldoen het. Hy het rééds alle gesag in die hemel en op aarde. Hy verteenwoordig ons. En in Hóm sit die waarborg van ook óns uiteindelike heerlikheid en heerskappy.

Ons sonde het ons gediskwalifiseer om met eer en heerlikheid gekroon te word. Voordat dit kon gebeur, sou ons eers weer in heiligheid voor God herstel moes word. Maar hoe? Self sou ons tot in ewigheid nie ons skuld kon betaal nie; self sou ons nooit die moeras van sondegevallenheid kon ontworstel nie. Waarlik, ons het ‘n plaasvervanger nodig gehad.

Die enigste aanvaarbare plaasvervanger vir die mens, was nóg ‘n mens  –  maar dan ‘n sondelose mens. Ons praat dus van iemand wat nie vir sy eie sonde moes sterf nie. Uit Adam se nageslag het niemand, helaas, hiervoor gekwalifiseer nie. Almal was vol sonde. En in elk geval is geen mens in staat om miljoene ander se sondeskuld te betaal nie.

Dis waarom God die Seun mens moes word! As mens kon en kan Hy vir ons instaan; as God kon Hy die straf namens miljoene verduur.

Hb 2:11-15: Die nuwe mensheid in Christus is een groot familie van broers en susters. Ons praat van diegene wat waarlik met Christus verenig is deur ‘n ware geloof. En van hierdie universele familie  –  wêreldwyd en deur alle eeue versprei  –  is die Seun die oudste broer.

Hb 2:16-18: Laat ons goed verstaan: die Seun móés een van ons word om namens ons voor God te kon en steeds te kan staan.

Is die voortgaande en ewige mensheid van Christus onuitwisbaar in jou gemoed gegrafeer? 

Verreken jy ten volle die ewige mensheid van die Here Jesus in jou verhouding met Hom? Ons verval maklik in ‘n oorreaksie teen die ongeloofsteologie van ons dag  –  wat Jesus as bloot ‘n wonderlike mens beskou  –  en vergeet dat Hy inderdaad volkome mens was en tot in ewigheid sal wees.

Baie Christene dink dat Hy destyds Sy mensheid hier op aarde agtergelaat het. Nee, daar is ‘n verheerlikte, begripvolle en simpatieke Mens wat liefdevol in die hemelse troonkamers na ons belange omsien (1Tm 2:5).

Jý is vir ewig volkome en verheerlikte mens! 

Is dit ‘n sentrale aspek van jou salige hoop dat jy  –  indien jy inderdaad deur ‘n ware geloof met Christus verenig is  –  onderweg is om dieselfde verheerlikte staat as Hy te geniet? Kyk na Hom  –  nádat Hy opgestaan het  –  en sien hoe jý vir ewig sal wees!

Besef jy deeglik dat jy steeds en vir ewig volkome mens sal wees soos Hy? Ons sal as mense  –  weliswaar verheerlik, maar tog waarlik as mense  –  op hierdie aarde saam met Christus vir ewig heers. En die herskepte aarde sal steeds volkome aarde wees, nie sóveel anders as tans nie.

Waarlik, die idee dat ons in die hiernamaals engeltjies gaan wees wat harpe bespeel, is nie net onbybels nie, maar ook tot skreiende oneer van God. Nee, ons gaan ‘n duisend maal meer as tans, volkome mens wees. Ons gaan presies wees wat Adam sou geword het as Hy getrou aan sy roeping gebly het. God sal nie ‘n greintjie inboet van Sy oorspronklike plan met die mens nie. Ons wat waarlik in Christus is, sal as mense  –  ja, ménse  –  vir ewig op hierdie verheerlikte aarde leef en regeer. En, anders as Adam destyds, sal ons nie meer kán sondig nie. Die toets waarin die eerste Adam so klaelik misluk het, is rééds seëvierend deur die laaste Adam en Hoof van die nuwe mensheid afgelê.

Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00