JOHANNES 1:14
"En die Woord …"

SONDER TWYFEL IS JH 1:14 EEN VAN DIE MERKWAARDIGSTE VERSE IN DIE GANSE BYBEL. Dit breek verbysterende waarhede vir ons oop. Só ryk is die vers dat ons meer as een maal daarna moet kyk. Vireers konsentreer ons nou op die eerste drie woorde: "En die Woord …" (OAV).

DIE WOORD

  • Ons kan nie v.14 verstaan as ons nie ook met v.1 rekening hou nie  –  veral met die uiters belangrike begrip "die Woord".
    Beskou mens v.2-13 by wyse van spreke as tussen hakies, sien jy die apostel se gedagtegang baie duidelik: "In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God … en die Woord het vlees geword."
  • Volgens Jh 20:30-31 wil Johannes met sy geskrif sowel Jode as nie-Jode tot die geloof lei. Die Jode wil hy oortuig dat Jesus die Christus is  –  die beloofde Messias, God se Gesalfde. En by die heidene wil hy tuisbring dat Jesus die Seun van God is en God die Seun.
  • Hier in sy inleiding wil die apostel onmiddellik sy groot tema aan die orde stel. Maar hy sit met ‘n yslike dilemma. Die uitdrukkings "Christus" en "Seun van God" is vir sy lesers gelaaide begrippe  –  en allermins wil hy hulle reeds hier aan die begin verloor, of skewe idees by hulle vestig.
    Ja, die Jode sal sekerlik die ene ore wees as hulle lees dat hy oor die Christus skryf. Hulle verwag egter ‘n menslike Messias, met ‘n bloot binne-wêreldse missie  –  en Johannes weet dis lewensbelangrik dat hulle besef dat Hy waarlik God is.
    En as die heidene hoor hy praat oor "die Seun van God", gaan hulle in terme van die Griekse mitologie dink  –  aan iemand wat kwansuis gebore is uit gemeenskap tussen een van die gode en ‘n menslike vrou. En wat kan meer godslasterlik wees as dit!
    Nee, Johannes wil seker maak sy lesers verstaan dat die Een oor wie hy skryf absoluut uniek en verhewe is  –  nie net nóg een van baie nie. Hy is nie net nóg ‘n messias, nóg ‘n Christus nie. En Hy is nie net nóg ‘n heidense afgod nie.
  • Daarom, voordat die apostel begin verduidelik dat die Here Jesus die Christus en die Seun van God is, wil hy eers die spyker goed en diep inslaan: die Persoon oor wie hy skryf, is volkome en van ewig af waarlik en ten volle God!
    Maar om misverstand te vermy, moet hy eers ‘n ander naam vir sy Hoofkarakter gebruik  –  iets anders as "Christus" en "Seun van God". En op hierdie punt lei die Heilige Gees Johannes dan tot ‘n briljante woordkeuse: hy noem sy hoofkarakter "die Woord" (Gr.Logos). Vir sowel Jood as heiden is hierdie begrip swaar gelaai. Anders as in die geval van die ander begrippe, het hulle oor die Logos die mees verhewe idees.
    • Wat die heidene betref, is die Logos algemeen bekend. Die Griekse filosoof, Heraklitus (sesde eeu v.C.) het geleer dat die Logos die siel van die heelal is  –  die skeppende energie waaruit alles ontstaan het, wat alles orden, en wat alles in stand en in balans hou.
      En die meer kontemporêre Stoïsyne het die idee verder ontwikkel. Vir hulle was dieLogos die alomteenwoordige wysheid waardeur alles geskep en gestuur word.
      Die heidene het die Logos dus met die allerhoogste God geassosieer. Johannes weet daarom dat hy met hierdie woordkeuse verseker dat sy heidense lesers verstaan dat hy vir hulle skryf oor die algenoegsame eerste Oorsprong van alles  –  die onveroorsaakte Oorsaak van alle dinge.
    • Die Jode het eintlik nog sterker assosiasies met die idee van die Logos gehad.
      Johannes se openingswoorde sou hulle
      onmiddellik herinner aan Gn 1:1: "In die begin …"
      En natuurlik sou die begrip Logos, oftewel Woord, hulle laat dink aan die skeppingsgebeure  –  want die uitdrukking "En God het gesê" kom 9 maal voor in Gn 1. Trouens, vir die Jode het Logos inderdaad gestaan vir God se almagtige, skeppende woord.
      Ps 33:6, 9 sê: "Deur die woord van die Here is die hemele gemaak, deur sy bevel al die hemelliggame. …want Hy het gepraat en dit was so, Hy het beveel en dit was daar." En Jes 55:11 sê: "So sal die woord wat uit my mond kom, ook wees: dit sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek gedoen wil hê en tot stand bring waarvoor Ek dit gestuur het."
      Uit bogemelde is dit duidelik: as God spreek, doen Hy iets. Die begrip Logos het dus vir die Jode ook gesinspeel op ‘n Goddelike handeling.
      Nog meer, uit respek vir God wou die Jode nie die Godsnaam gebruik nie. As hulle na Hom verwys het, het hulle veel eerder gepraat van "die Heilige", of "die Naam", of"die Woord".
      Met sy woordkeuse sê Johannes dus vir die Jode: dis oor Hóm wat ek skryf  –  oor die almagtige en heilige Skepper van hemel en aarde.

DIE VERHEWENHEID VAN DIE WOORD

  • In die verse voor v.14 maak Johannes ten minste 8 stellings oor die Woord se verhewenheid. Let op dat sowel denkende Jode as Grieke met elkeen hiervan sou kon saamleef.
    • In die begin was die Woord (1). Die werkwoord is in ‘n vorm wat dui op tydsverloop in die verlede (imperfektum). Met ander woorde, toe die tyd en alles wat bestaan, begin het, was Hy reeds daar. Hy was van ewigheid af.
    • Die Woord was by God (1) (weereens die imperfektum). Die Woord was dus maar altyd by God. Daar is van ewigheid af ‘n intieme assosiasie tussen die Woord en God.
    • Die Woord was God (1) (nogeens die imperfektum). Ja, die Woord is onderskeie van God, maar tog is Hy nie ‘n skepsel nie; trouens, Hy is van ewigheid af self ook God. Hier stel Johannes die geheimenis van persoonlike onderskeide binne die eenheid van die Godheid aan die orde  –  maar geeneen van sy ongelowige lesers sou dit agter gekom het nie.
    • Alles het deur Hom tot stand gekom (3, 10). Ook die feit dat Hy Skepper van die heelal was, sou Jode en Grieke nie gepla het nie.
    • In Hom was daar lewe (4). Daar is niks binne die skepping wat nie lewe van die Woord as lewegewende krag en bron ontvang het nie.
    • Dié lewe was die lig vir die mense (4, 9). Hier sinspeel Johannes reeds op die Woord as openbaarder van God, maar die heidene sou dit meer filosofies verstaan het, en die Jode in terme van Spreuke 8 se personifisering van die wysheid.
    • Baie mense neem Hom nie aan nie (11). Ja, sou die lesers dink, daar is altyd die stiksienige dwase wat nooit dink en niks begryp nie.
    • Daar is wel diegene wat Hom aannneem (12). "Inderdaad!", sou die lesers hulleself op die skouer klop.
  • Waarlik, geen skrywer kan sy hoofkarakter in meer verhewe terme aan sy lesers voorstel nie!

TOEPASSING

  • Laat ons nie die Nuwe Testament se sterk beklemtoning van Jesus Christus se goddelikheid miskyk nie.
    Té maklik is ons geneig om slegs aan Hom as die wonderlike man van Nasaret te dink, wat met Sy liefdevolle lewe vir ons ‘n uitnemende voorbeeld is. Ja, die Woord hét vlees geword, en Hy was en bly volkome mens, maar sonder hierdie heel eerste en baie sterk beklemtoning van Johannes word ons Christologie verwater tot ‘n mensgesentreerde karikatuur wat totaal onversoenbaar is met Bybelse openbaring.
    Die bleek en verwyfde Jesus van veral die Middeleeuse skilderkuns, en die sentimentele Jesus van sóveel prediking vandag, kan niemand red nie. En vir seker is so ‘n mensgemaakte Jesus nie die Koning van die konings en Here van die here oor wie Johannes elders skryf nie  –  in  Openbaring.
  • Laat ons onthou dat die Nuwe Testamentiese skrywers Jesus nie net as waarlik God aan ons voorhou nie, maar ook as ‘n lewende Persoon. Hy is dus oneindig meer as die onpersoonlike beginsel of krag van Johannes se heidense lesers.
    Ook Lukas noem Jesus die Woord. Van die apostels sê hy dat hulle "van die begin af ooggetuies en dienaars van die Woord" was (Lk 1:2). Gaan dit oor Christus of die evangeliewoord? Die NAV het ‘n hoofletter "W", die OAV ‘n kleinletterjie. Watter een is reg?
    As Lukas die apostels "ooggetuies" van die Woord noem, suggereer dit dat hy van die Here praat. Maar die feit dat hulle "dienaars" (of bedienaars) daarvan is, kan ook op die evangelie sinspeel.
    In die vroeë kerk was dit nie ‘n kwessie nie. Vir daardie Christene was daar eintlik nie ‘n onderskeid nie. Die inhoud van die evangelie was vir hulle die persoon van Jesus Christus!
    Dis presies wat Paulus bedoel: "Die Jode vra wondertekens, en die Grieke soek wysheid, maar ons verkondig Christus wat gekruisig is" (1Kor 1:22-23). En: "… ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde" (1Kor 2:2, OAV). Les bes: "Jesus Christus is tog so duidelik aan julle verkondig dat julle Hom as ‘t ware aan die kruis kon sien hang!" (Gl 3:1).
    Wie die opgestane, lewende en verheerlikte Christus leer ken het, kan net nooit weer iets of iemand anders verkondig nie  –  allermins moralisme of wellewendheid of mooiklinkende sentiment. Vir sulke mensgesentreerdheid sou nie een van die apostels bereid gewees het om te sterf nie (en gesterf het hulle inderdaad, as martelare). Maar oor God wat mens geword en onder hulle gewoon het, kon hulle eenvoudig nie stilbly nie.
    So was dit deur die eeue. So is dit steeds. So sal dit bly.

Christenskap is nie in die eerste instansie ‘n manier van lewe nie; dis ‘n heilige beheptheid met ‘n Persoon  –  die Woord van God, die eerste oorsprong van alles, die hoogste openbaring van God aan ons, die Seun van God en God die Seun.

 

 Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00