AMOS 5:1-5

ISRAEL SE GODSDIENS WAS ONLOSMAAKLIK VERBONDE AAN HULLE GESKIEDENIS. Die drie aanbiddingsplekke van die noordelike tienstammeryk wat in v.5 genoem word, Bet-El, Gilgal en Berseba, het dan ook elkeen sy historiese wortels gehad. Hiermee moet mens rekening hou as jy hierdie gedeelte behoorlik wil verstaan. Kom ons kyk dus eerstens na hierdie drie plekke wat so gereeld en getrou deur die mense van die noordelike tienstammeryk besoek is.

DRIE PLEKKE MET GEWIGTIGE HISTORIESE EN GODSDIENSTIGE BETEKENIS

Bet-el 

Jakob was een van die verbondsvolk se stamvaders; trouens, die volk is na hom vernoem, aangesien hy ook “Israel” genoem is. Twee van die belangrikste gebeure in sy lewe het by Bet-El plaasgevind.

Vorentoe sou Bet-El vir die volk die betekenis inhou van hulle stamvader se ontmoeting met Jahweh, asook die lewe en hoop wat daaruit vir hom voortgevloei het.

Die eerste gebeurtenis word in Gn 28:10-22 beskryf. Jakop gaan slaap die aand as ‘n koerslose en uitsiglose vlugteling. Dan het hy ‘n wonderlike droom en ontvang ‘n nog wonderliker belofte  –  ‘n verbondsbelofte. Die land sal aan sy nageslag behoort, en hulle sal tot ‘n seën wees vir die hele wêreld. Jakob beleef dit as ‘n lewensveranderende ontmoeting met God [“Die Here is op hierdie plek” (16)] en hy noem daarom die plek Bet-El (19). Dit beteken huis van God (17, 22).

‘n Ruk later staan Jakob weer oor by dieselfde plek. Weereens het hy ‘n ontmoeting met God wat sy lewe ingrypend raak. Hy ontvang weer die verbondsbeloftes van die vorige keer (11-12), en sy naam word na Israel verander (10).

Gilgal 

Mens lees die eerste maal van Gilgal as die verbondsvolk die beloofde land onder Josua se leierskap binnetrek (Jos 4:19-24). Hier vind ‘n massabesnydenis plaas, aangesien die seuntjies wat tydens die woestynreis gebore is, nooit die verbondsteken ondergaan het nie (Jos 5:2-9). Nogeens kry ons hier dus ‘n verbondsvernuwing. 

Meer nog, hier eet die volk vir die eerste keer van die opbrengs van die beloofde land (5:12). Ook het Gilgal die basis geword vanwaar hulle Kanaan sou inneem (9:6; 10:6-9, 15, 43; 14:6).

Gilgal het dus vir die Israeliete gestaan vir hulle verbondserfenis uit God se hand, asook hulle verkryging en voortgaande besit van die land.

Berseba 

Hier het al drie die aartsvaders beloftes van God ontvang  –  Sy voortgaande teenwoordigheid.

Abraham kry die belofte: “God is by jou in alles wat jy aanpak” (Gn 21:22).

Isak kry van God die belofte: “Moenie bang wees nie, want Ek is by jou. Ek sal jou seën en jou ‘n groot nageslag gee” (Gn 26:23-24).

Jakob kry ‘n soortgelyke belofte: Ek gaan saam met jou Egipte toe, en Ek sal jou beslis weer hierheen laat terugkom” (Gn 46:1-4).

Opsomming 

Dis baie duidelik waarom Israel eeue later hierdie drie plekke uitgekies het as aanbiddingsentra. Al drie was vol godsdienstige betekenis. Al drie het gestaan in die teken van Jahweh se verbond met Sy volk. Hulle het die boodskap gedra van ontmoeting met God, en lewe en hoop. Hulle het gespreek van die Here se voortgaande teenwoordigheid en gemeenskap. Hulle het gestaan vir die feit dat die land Kanaan hulle erfenis uit Sy hand sou wees.

DIE KLAAGLIED (5:1-3)

Israel het geval om nie weer op te staan nie  (2a).

Die volk het nog altyd gedink hulle gereelde besoeke aan Bet-El bewerkstellig vir hulle lewe en hoop. Maar die teendeel is waar. Hulle eiesinnige godsdiens vergiftig hulle toenemend, en dis ‘n kwessie van tyd voordat hulle geestelik finaal sterf.

Anders as in Jakob se tyd, is Bet-El nie meer God se huis nie (5c). Nee, as hulle Hom wil ontmoet en geestelik wil lewe, moet hulle in Jerusalem gaan aanbid. Daar is net een manier om Jahweh te dien  –  en dit is volgens Sy voorskrifte.

Israel lê op die grond en daar is niemand om haar te help nie (2b).

Die Israeliete roem daarin dat hulle pelgrimstogte na Berseba hulle gemeenskap met Jahweh verseker. Maar dis ‘n illusie. Wanneer hulle binnekort val, gaan daar niemand wees om hulle op te help en hulle te versorg nie. Toe hulle hul die dag van Jerusalem en Sy tempel afgeskei het, het hulle hul van die Here self afgeskei.

Die geskiedenis bevestig hierdie skrikwekkende veroordeling. Vanuit die Assiriese ballingskap het daar bloedweinig Israeliete teruggekeer. In elk geval was daar nie ‘n formele restorasie soos in die geval van Juda se latere Babeloniese ballingskap nie.

Daar wag ‘n vernietigende militêre nederlaag op Israel (3).

Dit waarvan Gilgal spreek, naamlik erfenis en oorwinning en inbesitname, word alles behalwe bewerkstellig deur hulle getroue besoeke aan hierdie derde aanbiddingsplek (5b). Inteendeel, hulle godsdienstige rebellie sal meebring dat hulle magteloos is voor die Assiriese militêre aanslag.

DIE WESE VAN ISRAEL SE SONDE (4)

Vir seker het Israel se eiesinnige godsdiens ten hemele geskrei. Maar Jahweh se eintlike aanstoot is aan iets nog meer dieperliggend.

Vers 4 begin met “want” (OAV en Hebreeus), ‘n redegewende voegwoord. Waarom sal die tragedies van v.2-3 se klaaglied ‘n werklikheid word? Dit word onmiskenbaar duidelik geïmpliseer: “Soek My, dan sal julle lewe!” 1 (Die oproep word herhaal in v.6).

In al hulle godsdienstige ywer soek Israel nie regtig die Here self nie! Hulle godsdiensbeoefening is bloot formalisties. Dit gaan net oor die vorm. Hulle beledig God deur te dink dat hy nie dwarsdeur hulle vroom vertonerigheid tot in hulle yskoue harte kan sien nie. Hulle stel nie in Hom persoonlik belang nie; net in wat hulle by Hom kan kry.

Verder in die hoofstuk word hierdie soort aanbidding weer aan die kaak gestel (5:21-23).

Daar is natuurlik ‘n soort “aanbidding” wat nog gruweliker as vormgodsdiens is  –  en heel moontlik was Israel óók hieraan skuldig. Dis wanneer mense hulle worship so omvorm dat God gladnie meer in die prentjie is nie. Dit gaan bloot oor selfbevrediging. Hoewel dit steedsaanbidding genoem word, is dit niks meer as ‘n jollifikasie nie.

WAT SÊ DIT VIR ONS?

Eiesinnige godsdiens is nie net tevergeefs nie, dis ook ‘n gruwel voor die Here. 

Hoe dikwels word daar vandag nog gevra na wat God geopenbaar het oor die soort aanbidding wat Hom behaag? Maak ons die nodige erns met die Here Jesus se uitspraak dat die Vader aanbidders soek wat Hom “in gees en waarheid” aanbid? Veeleerder word daar onnadenkend op die lawaaiwa (die woordspeling is doelbewus) van elke skaretrekkende aanbiddingsresep gespring.

Hier het ons ‘n verduideliking vir die doodsheid en kragteloosheid van baie kerke. 

Kyk mooi wat v.4 sê. As ons die Hére soek  –  dan sal ons lewe. Daarenteen beskryf v.1-3 wat soveel gemeentes en denominasies vandag ervaar. Die rede is voor die hand liggend. Sal God Hom ophou met eiesinnige en selfsugtige aanbiddingspeletjies?

Ja, talle gemeentes is tot in hulle wese gegrief oor dit wat vandag in soveel ander kerke as aanbidding beskou word  –  niks anders nie as gewoon sinlike bevrediging. En hulle is reg. Maar laat sulke verontwaardigde gemeentes baie goed onthou waaroor (beter gestel, oor Wie) dit ten diepste in aanbidding moet gaan. Dis nie genoeg om elke element van ons eredienste, asook die volgorde waarin dit plaasvind, tot in besonderhede prinsipiëel uit te werk nie. As die aangesig van God nie in ‘n gemeente se aanbidding gesoek word nie, sal die asem van die dood oor hulle waai  –  ongeag hoe suiwer hulle liturgie ook al mag wees.

Deur die eeue het ontelbaar baie yskoue harte net driehonderd millimeter onder die suiwerste regsinnigheid gehang. Nee, laat ons met ywer dit najaag om én in gees én in waarheid te aanbid. Enigeen, sonder die ander, is ‘n volslae mislukking.

Die roeping om God sélf in ons aanbidding te soek, moet nie ligtelik opgeneem word nie. 

Is ons gebede régtig so Godgesentreerd soos ons graag wil glo? Dis meer as tragies as mense se gebedstye beswaarlik méér behels as inkopielyste vol behoeftes. En so maklik maak ons onsself wys ons is gebedsreuse, omdat ons dag na dag ritse name as voorbidding aandra na God se troon toe. Ja, natuurlik sê Jk 4:2 ons hét nie, omdat ons nie bid nie. En natuurlik moet ons gereeld vir mekaar bid. Maar as hierdie dinge nie ingebed lê in ‘n witwarm liefde vir die Drie-enige God nie, en as my diepste vreugde nie lê in innige gemeenskap met Hom nie, is ‘n klomp versoeke  –  hetsy vir myself, hetsy vir ander  –  niks anders as ‘n belediging vir Hom en ‘n uitbuiting van Sy goedheid nie.

O, laat ons die Gewer in die eerste instansie soek, en eers daarna Sy gawes! Trouens, na ‘n tyd van innige en Geesgewerkte gemeenskap met ons geliefde Vader in Christus, is dit meermale net nodig om ons behoeftes en verlangens vir Hom te noem. Ja, natuurlik is gebedsvolharding ook dikwels nodig. Ons geloofspiere moet immers gebou word. Maar dít kan ons as ‘n beginsel aanvaar: God deel Sy kosbaarste skatte slegs digby Sy troon uit.

Laat ons God se teenwoordigheid in ons gemeentes en aanbidding nie as ‘n vanselfsprekendheid aanvaar nie. 

Soos Israel van destyds, aanvaar en sê ons so maklik dat ons in elke erediens die Here ontmoet; dat Hy elke keer intens by ons betrokke is wanneer ons bid en lofliedere sing; en dat Hy altyd aan ons kant is in ons lewensworstelinge. Maar ek is bevrees ons aanbidding is meermale soos die gebabbel van ‘n kleuter in ‘n speelgoedtelefoontjie  –  niemand is aan die anderkant nie.

Lees die Bybel, slaan ag op die kerkgeskiedenis!  As die Here teenwoordig is, en as Hý vir jou stry, bly niks dieselfde nie  –  allermins jaar in en jaar uit.

Waarlik, dis tyd om met nuwe erns die aangesig van die Here te soek! O, mag ons tog meer en meer Sy teenwoordigheid en Sy triomfe ervaar!

VOETNOTAS

1. Die NAV slaan die bal totaal mis met sy gepoogde parafrase. God beveel juis hier vir Israel om Hóm te soek, en niks anders nie  –  ten diepste selfs nie eers Sy wil nie. Belangrik soos gehoorsaamheid is, is niks vir die Here só belangrik soos ons liefde vir Hom persoonlik nie. Dis immers die eerste en groot gebod.

Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00