1KORINTHIERS 14

IN 1KORINTIËRS SPREEK PAULUS ‘N AANTAL PASTORALE KWESSIES AAN WAAROOR DIE KORINTIËRS OËNSKYNLIK AAN HOM GESKRYF HET (7:1; 7:25; 8:1; 12:1; 16:1).

Die 3 hoofstukke, 12-14, is so ‘n antwoord. Die 3 hoofstukke is ‘n eenheid. Presies wat die Korintiërs se vraag was, weet ons nie, maar die apostel spreek hier ‘n probleem aan wat waarskynlik eie was aan hierdie gemeente. Oënskynlik het hulle ‘n ongesonde beheptheid gehad met die gawe van tale en dit as dié merkteken van geestelikheid beskou.

H.12: ENKELE PERSPEKTIEWE

Oor die gawes van die Gees wil die apostel nie hê dat sy lesers onkundig moet wees nie. Dit geld uiteraard ook vir ons.

Die Korintiërs was rou heidene voor hulle bekering, en was gevolglik bekend met allerlei geestelike ervarings (2). Daarom moet hulle weet om fyn te onderskei tussen demoniese aktiwiteite en die openbaringe wat van die Heilige Gees kom. Wat Paulus dan essensiëel in v.3 vir hulle sê, is dat die verskil te doen het met wat oor Christus gesê word. Word Hy verheerlik of nie. Dis die eerste maatstaf.

Vanaf v.4 wil die apostel veral drie dinge oor die funksionering van die charismata in ‘n gemeente beklemtoon. En dit volg vanuit die feit dat die Drie-enige God die oorsprong daarvan is (4-6).

Eerstens, aangesien die gemeente die liggaam van Christus is, volg dit noodwendig dat die Heilige Gees deur die hele liggaam sal werk. Elke ledemaat het deel daaraan. Elke lidmaat het dus ‘n gawe of gawes.

Tweedens, daar is baie maniere waarop die gawes tot uitdrukking kom. ‘n Sleutelgedagtes in hierdie hoofstuk is die begrip “verskeidenheid”. Eenheid in ‘n gemeente kom dus nie tot uitdrukking in eendersheid nie, maar in verskeidenheid wat in harmonie funksioneer.

Derdens, aangesien al die gawes Christus wil verheerlik, en aangesien alles van God drie-enig kom, volg dit noodwendig dat geen gawe meer verhewe of geestelik as ‘n ander is nie. Dus is niemand in die gemeente minderwaardig (14-20) of meerderwaardig (21-25) nie.

Maar (31), verskeidenheid is nie noodwendig in harmonie nie. Daar moet hard aan gewerk word  –  soos in die geval van ‘n simfonieorkes of sportspan.

Presies hier lê die Korintiërs se probleem. Hulle kompeteer met mekaar  –  hulle soek die sogenaamde beste gawes (sien NIV voetnota). En volgens hoofstuk 14 is hulle behep met tale.

H.13: DIE KWALIFIKASIE

Nee, nee, sê die apostel, die heel belangrikste ding in ‘n gemeente is onderlinge liefde. Daar is geen plek vir kompetisie en naywer nie. Ook die beoefening van die gawes moet daardeur beheers word. Daarsonder is alles tevergeefs. Die spreek in tale is dan bloot ‘n lawaai. Profesie, woorde van kennis, en geloof, beteken dan ‘n ronde nul. En uitdeling wat nie uit ‘n hart vol liefde ontspring nie, baat absoluut niks nie.

H. 14: IN MEER BESONDERHEDE

In hierdie hoofstuk spreek Paulus die spesifieke probleem in Korinte aan. Sy punt is dít: een van die belangrikste funksies van samekomste is die opbou van die gemeente (3, 4, 5, 12, 17, 26). En as die beoefening van die gawes dit nie bewerkstellig nie, is alles sinneloos en tevergeefs.

Dit beteken dat daar ten minste 3 norme is wat die beoefening van die gawes moet beheers: dit moet verstaanbaar wees (6-19); besoekers moet in ag geneem word, wat beteken dat die gawes welvoeglik beoefen moet word (20-25); en alles moet ordelikgeskied (26-38).

Daarom is profesie by verre verkieslik bo tale.

Kom ons kyk nader na Paulus se argument.

V. 1-5: Die argument in ‘n neutedop. Profesie moet voorrang geniet bo tale, aangesien dit die gemeente opbou. Daarenteen beteken onverstaanbare tale net vir mens self iets  –  tensy, natuurlik, dit getolk word.

V. 6-19: As dit dan gaan oor die opbou van die gemeente, is verstaanbaarheid ‘n eerste vereiste. Hieraan beantwoord profesie, maar nie tale nie  –  in elk geval nie as dit nie uitgelê word nie.

In v.7-11 gebruik Paulus drie illustrasies. Musiekinstrumente moet musiek maak, nie lawaai nie (7-8). Die tong is daar vir intelligente spraak, nie net om geluide mee te maak nie (7-11). En net so is alle wêreldtale se doel om te kommunikeer (10-11).

Paulus ontken nie dat glossolalie (die gawe van tale) ‘n plek het in die Christelike lewe nie; trouens, hy self praat baie in tale. Maar as dit nie uitgelê word nie, het dit geen sin in die gemeente-byeenkoms nie.

V.20-25: ‘n Tweede vereiste is welvoeglikheid. Dit is veral van belang met die oog op ongelowiges wat die byeenkoms mag bywoon.

In die Ou Testament was die vreemde tale van die Babeloniërs ‘n teken vir die ongelowige Israeliete dat God se oordele op hande is (Jer 5:15; Jes 28:11). Net so sal die Korintiërs se glossolalie vir die ongelowige besoekers ‘n teken wees  –  so sal hulle dink  –  dat die klomp Christene mal is.

Daarenteen kan verstaanbare profesie instrumenteel wees in die bekering van ongelowiges.

V. 26-36: ‘n Derde vereiste vir die gawes om vir die hele gemeente waarde te hê, isordelikheid.

Hoe groter die verskeidenheid van bydraes in ‘n bepaalde samekoms, hoe groter is die noodsaak vir orde  –  anders bou dit nie op nie (26)

Daarom, as daar tóg tale beoefen word, is drie dinge noodsaaklik (27-28). Hoogstens moet 2 of 3 mense ‘n geleentheid kry; dit moet beurtelings geskied; en dit moet getolk word (dis wat die Griekse woord vir “uitlê” beteken). Só noodsaaklik is dit, dat as daar niemand in die byeenkoms is wat die betrokke taal verstaan nie, moet geswyg word.

Ook wat profesie betref, skryf Paulus sekere ordereëlings voor (29-33). Weereens moet uiters 2 of 3 ‘n kans kry  –  en dan beurtelings. Daarna moet dit beoordeel word.

Wat die beoordeling van profesie betref, maak die apostel ‘n ordereëling: vrouens mag nie hieraan deelneem nie. Waarom nie, aangesien hulle volgens 1Kor 11:5 en Hd 21:9 wel kon profeteer? Beoordeling van profesie, oftewel die beslissing oor wat die Here vir die gemeente sê, is ‘n regeringsfunksie  –  en daarvan is vrouens uitgesluit.

V. 37-40:        Geestelike mense sal besef, hierdie is nie bloot Paulus se opinies nie  –  dis die Here se bevele.

Daar is geen twyfel nie: profesie is éíntlik die gawe wat waarde het in die gemeentelike samekoms. Daarop moet die mense hulle toelê. Tog moet tale nie summier verbied word nie, aangesien so ‘n verbod meer skade as goed sal doen.

Les bes: laat alles smaakvol en ordelik verloop.

VIER OPMERKINGS

Ons het na hierdie hoofstuk op sigwaarde gekyk, asof ons in die eerste eeu leef. Dis my oortuiging  –  op grond van Bybelse argumente waarop ons nie nou kan insak nie  –  dat van die gawes wat in hierdie hoofstukke genoem word, sedertdien grootliks verander of bykans heeltemal verdwyn het.

In die lig van hierdie hoofstukke (en ander Nuwe Testamentiese uitsprake) kan daar min twyfel wees dat wye gemeentelike betrokkenheid aan die orde was in die eerste gemeentes.

Twee faktore speel hierop in. Eerstens was baie gemeentes destyds sonder ‘n vaste prediker en in die tye tussen apostoliese besoeke  –  wat lank kon wees  –  moes hulle self regkom, en het die amp van die gelowige uiteraard ‘n baie belangrike rol gespeel. Tweedens maak veral die pastorale briewe dit duidelik dat formele prediking en lering ‘n baie belangrike plek ingeneem het waar daar wel ‘n staande prediker was.

As ons dus die volle Nuwe Testamentiese prentjie wil hê, moet ons beide hierdie sake vashou. In sommige byeenkomste sal daar baie ruimte wees vir liggaamsdeelname. In ander byeenkomste sal die gemeente se grootste rol wees om doodstil na die verkondiging van die Woord te sit en luister.

Ek meen dat ons hier, met die oog op die welsyn van ‘n gemeente, ‘n sterk argument het vir sowel kleingroep-byeenkomste as gesamentlike dienste.

‘n Voorvereiste vir sinvolle liggaamsbetrokkenheid is dat elkeen sy verantwoordelikheid opneem. Paulus begin hoofstuk 14, en sluit dit dan weer af, met die oproep tot die gelowiges om hulle te “beywer” vir die beoefening van die gawes van die Gees (14:1, 39). In beide gevalle dui die werkwoord op ‘n voortgaande en ywerige ingesteldheid. Gemeentebetrokkenheid kan deur ‘n voorganger gedemp word, maar nie bewerkstellig word nie. Almal moet die wa help trek.

Dit beteken ten minste 3 dinge.

Eerstens moet ek verstaan en glo dat die Here deur mý ‘n stukkie genade vir my broers en susters wil gee. Volgens 1Pt 4:10 ontneem ek hulle van God se seën as ek nie my kant bring nie. Nog erger, ek veroorsaak dat die vertoning van God se veelkleurige genade deur die gemeente nie is wat dit moet wees nie (vgl. E84).

Tweedens moet ek vrymoedigheid neem. Dikwels is mens lui of moeg of skaam, en wil net stil sit en luister. Goed en wel, maar eweneens móét ek dikwels doelbewus my kant bring.

Derdens moet ek voorbereid na elke byeenkoms toe kom. Soms beteken dit inhoudelike voorbereiding, soos in die geval van ‘n preek. Maar altyd moet ek sorg dat my ingesteldheid reg is. Ek moet as ‘t ware op die voorvoet byeenkoms toe kom  –  gereed en gretig om ‘n sinvolle bydrae te lewer.

Laat ons onthou, ons praat nie hier oor ‘n opsionele en onbelangrike saak nie. Ons praat oor gawes wat die Drie-enige God vir ons voorberei en aan ons toevertrou het (12:4-6). Ons praat oor die opbou en welsyn van die liggaam van ons Here Jesus Christus (12:12-13, 27). Ons praat oor die verheerliking van die Here.

Waarlik, die priesterskap van alle gelowiges het alles te doen met ons verhewe roeping hier en nou, en die verskil tussen valse en ware kerkwees.

Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00