PSALM 95 & 96

GOD HET DIE MENS GESKAPE OM MET HOM GEMEENSKAP TE HÊ  –  om Hom met ander woorde te ken. Tot die mate wat ek God ken, tot daardie mate sal ek Hom aanbid. Aanbidding is die heel eerste uitvloeisel van die kennis van die Here. Hoe kan jy Hom ken en Hom nie aanbid nie? Só noodwendig en intiem is hierdie verband, dat ons omgekeerd ook kan sê: tot die mate wat ek God aanbid, tot daardie mate ken ek Hom.

Soli Deo gloria: die eer van God alleen!

Lees mens die Nuwe Testament, is die uitdra van die evangelie ‘n fundamentele roeping van die Here Jesus se gemeente. Kan mens sê jy is kerk as evangelisering en sending nie ‘n sentrale hartstog is en ‘n groot deel van jou aktiwiteite en begroting daaraan gewy word nie? Verwys ons nie na hierdie roeping as Jesus se gróót opdrag nie?

En om mekaar lief te hê? Kan ons sê ons is kerk as onderlinge liefde nie alles deursuur nie?

Nogtans, nogtans, selfs meer fundamenteel as evangelisering en onderlinge liefde, is ons aanbiddingsroeping. Dit beteken nie ons moet hierdie dinge teenoor mekaar stel nie; inteendeel. Nee, as kerk van die Here staan ons in drie verhoudings: na bo, na binne, na buite. Net soos ‘n driepoot-tafel nie kan bly staan as jy enige een van sy pote verwyder nie, net so kan die kerk nie waarlik kerk wees as hierdie drie roepinge nie in ewewig is nie. Maar as ek dalk ‘n dag kan deurbring wat nie aan uitreiking gewy is nie, of ‘n dag sonder om my broers en susters lief te hê (ondenkbaar behoort dit vir die ware Christen te wees, nie waar nie!), mag daar nie ‘n dag van my lewe verbygaan sonder aanbidding nie.

Kom ons besin dus ‘n oomblik oor aanbidding.

‘N BYBELSE SINE QUA NON

Die Ou Testament is oorlopens vol aanbiddingshartstog  –  soos die gelese Psalms.

Dieselfde beklemtoning kry ons in die Nuwe Testament: “Julle … is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom … (1Pt 2:9). En hoe dikwels lees ons nie van aanbidding in die Openbaringboek nie. Waarlik, God se verheerliking is ons hoogste roeping!

BYBELSE BEGRIPPE

Die begrip “aanbidding” word nêrens in die Bybel gedefiniëer nie. Ook kan dit nie aan ‘n enkele Hebreeuse of Griekse woord gekoppel word nie.

Kom ons kyk na enkele Bybelse begrippe.

Die Ou Testament 

Veral twee Hebreeuse begrippe is belangrik.

Die eerste dui op ‘n neerbuig voor God. Dit dui dus op ‘n diep respek en nederigheid voor Hom. Dis ‘n hartsgesindheid wat dikwels in ‘n liggaamshouding tot uitdrukking kom. Ps 95:6 is sprekend: “Kom ons val in eerbetoon voor Hom neer, kom ons buig, kom ons kniel voor die Here ons Skepper!”

Die tweede beteken om diens te lewer  –  ook in die amptelike aanbidding. Ware aanbidding het dus nie net te doen met die houding van my liggaam en die woorde van my mond nie, dit kom ook tot uitdrukking in die dienswerk van my lewe. Die kombinasie sien ons orals, byvoorbeeld: “Ek is u dienaar, Here, van my geboorte af is ek al u dienaar: U het my vry gemaak. Ek wil U loof met ‘n dankoffer, ek wil die Naam van die Here aanroep” (Ps 116:16-17).

Onnodig om te sê, om vir die Here aanvaarbaar te wees, sal sulke diens uit ons harte kom  –  uit ons dankbaarheid, liefde, toewyding en verwondering.

Die Nuwe Testament 

Daar is veral vier groepe Griekse woorde.

Eerstens is daar ‘n baie algemene woord wat die idee dra van “vereer, hulde bring, neerbuig of uitstrek voor” (Gr. proskuneo e.v.w.).

‘n Tweede begrip, weliswaar skaars in die Nuwe Testament, kan met “dien” vertaal word (Gr. leitourgeo e.v.w.). In die Griekse vertaling van die Ou Testament, die Septuaginta, word dit meer as ‘n honderd keer aangetref, en dan met ‘n goed gedefiniëerde betekenis. Dit dui op die diens van die priesters en Leviete in die tabernakel of tempel. Dit was dus amptelike diens  –  intrede by God namens die volk. Ook in die Nuwe Testament word die woord meesal só gebruik, veral in Hebreërs.

Tog word dit ook op twee nuwe maniere gebruik. In Hd 13:2 word die kultiese betekenis vergeestelik en op Christelike gebed toegepas: “Toe hulle op ‘n keer bymekaar was om die Here te dien en om te vas …” En in Rm 15:27 word die woord gebruik vir die gee van materiële gawes.

Ook die derde begrip word tipies met “dien” vertaal, maar dit dui op meer as amptelike priesterdiens (Gr. latreuo e.v.w.). Dit word gebruik vir dienswerk in die algemeen  –  deur sowel die individu as die gemeente  –  maar dan van ‘n religieuse aard. Dit gaan oor dinge soos gebed, die uitdra van die evangelie, en les bes die diens van die gelowige se ganse lewe as dit aan God toegewy is. Uiteindelik kan mens sê dat die begrip neerkom op selfopoffering ter wille van God, in reaksie op God se selfopoffering in Christus ter wille van ons.

Die vierde begrip word met “offer” vertaal (Gr. thuo). Die werkwoord word in die Nuwe Testament, soos in die Ou Testament, suiwer kulties en seremoniëel gebruik: om te offer deur die slag van ‘n offergawe. Kom ons egter by die selfstandige naamwoord, is daar ‘n betekenisvolle afwyking van die Ou Testament. Metafories word dit gebruik vir die toewyding van die gelowige se liggaam as ‘n lewende offer aan God; vir die offer van materiële gawes; vir die lofprysing wat ons aan die Here offer; vir die offer van onsself in liefdesdiens  –  kortom, vir al ons geestelike offers in die algemeen, geoffer deur ons as ‘n heilige priesterdom.

Samevatting 

Kyk mens mooi na bogenoemde ses idees, sien jy dat dit basies uiteenval in twee kategorieë. Aanbidding is om God te eer én om Hom te dien  –  om enersyds aan Hom hulde te bring en Sy Naam groot te maak, en om andersyds jou hele lewe in alles wat jy doen aan Hom en Sy verheerliking te wy.

Bybelse aanbidding kom dus tot uitdrukking in die ganse lewe van die gelowige, uiterlik sowel as innerlik. Niks in ons lewens is uitgesluit nie. Oor die volle spektrum van ons bestaan, sewe dae ‘n week, moet ons aanbidders wees. “Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here …” (Kol 3:23).

Hierdie algehele offer van myself aan die Here en Sy eer is volledig begrond in die algehele offer van Jesus Christus in my plek. Dis dankbaarheids- en verwonderingsrespons.

IN DIE EREDIENS BY UITNEMENDHEID

Terwyl aanbidding oor die volle spektrum van ons lewens tot uitdrukking moet kom, mag ons die enger en meer toegespitse betekenis daarvan nie vergeet nie: om in gebed en sang vir God met woord en liggaamshouding te sê hoe onbeskryflik hoog en heerlik ons Hom ag. En nooit kom dit tot hoër uitdrukking as wanneer die gemeente dit gesamentlik in die erediens doen nie. Dis waarom ons in Engels van ‘n worship service praat.

Sekerlik is ons gebede méér as lofprysing  –  ons sê ook dankie, ons vra, ons doen voorbidding. Maar lofprysing moet altyd daar wees; trouens, dit moet waarskynlik die belangrikste element van ons gebede wees. En wat vir ons gebede geld, geld ook vir ons gemeentesang. Per slot van rekening is ons liedere gewoonlik net nog gebede  –  nou gesing. Kyk maar na die Psalms, die Bybel se liedere. Kyk na die belangrike plek van lofprysing daarin.

Twee Nuwe Testamentiese uitsprake is in dié verband belangrik: Paulus praat oor die gevolge van die volheid van die Heilige Gees, en een van die eerste dinge wat genoem word, is dat ons onder mekaar psalms, lofgesange en ander geestelike liedere met ons hele hart tot eer van die Here sal sing (Ef 5:19; vgl. ook Kol 3:16).

WAAROM MOET ONS ONS GEBEDE SING?

Eerstens is dit in die Skrif duidelik dat dit uiters belangrik is dat ons in eenheid voor die Here sal wees. Matteus 18:19: “As twee van julle op die aarde oor enige saak saamstem en daaroor bid, sal my Vader wat in die hemel is, hulle dit laat kry, want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle.” Die woord wat met “saamstem” vertaal word, is betekenisvol. Dit beteken “om saam te klink”. Die Griekse woord is sprekend: sumphoneo. In ons gebede moet ons dus so één wees soos mense wat saam musiek maak. As ons dus ons gebede saam sing, is dit ‘n wonderlike hulpmiddel om hierdie eenheid te bevorder  –  hoewel dit natuurlik nie hartseenheid verseker nie.

Tweedens is musiek ‘n wonderlike gawe van die Here aan die mens. Daarom moet ons alles in ons vermoë doen om ons musiek en sang so uitnemend moontlik aan Hom te offer  –  sonder natuurlik om van ons kerkgeboue konsertsale te maak. Maar dink aan die musiek by die tabernakel in Dawid se tyd, hoe baie moeite hulle gedoen het met hulle sang en musiek. En soos ‘n refrein lees ons weer en weer, later in die Ou Testament, dat godvrugtige konings opnuut toegesien het dat die musiek by die tempel herstel word  –  “soos in die tyd van Dawid” (2Kron 23:16-18; 29:25-26, 30; 35:4, 15; Esra 3:10-11; Neh 12:24, 36, 45).

WAT SÊ DIT VIR ONS GEMEENTESANG?

Ons moet baie aandag gee aan ons gemeentesang . Dis ‘n integrale en uiters belangrike deel van ons erediens. Asseblief, dis nie bloot die sing van ‘n paar liedjies nie. Ewemin is dit ‘n onontkombare liturgiese handeling wat maar agter die rug gekry moet word. As ons baie tyd spandeer om byvoorbeeld ons preke voor te berei, geld presies dieselfde vir ons musiek. Die een is nie belangriker as die ander nie

Dit gaan nie net oor hartlike saamsing nie. Dit gaan oor gekonsentreerde aanbidding met ons hele hart. Die woorde is belangrik  –  nog belangriker as die musiek. Ons moet agslaan op wat ons sing.

Hier is ‘n uitnemende geleentheid vir die héle gemeente om by die erediens betrokke te wees. Gemeentelike betrokkenheid is belangriker as uitnemende begeleiding. Laat ons eerder a capella sing, as om begeleiding te hê wat alles oorheers.

Kom ons vergeet van al die wanpraktyke óm ons en al die slegte ervaringe wat ons al gehad het. Laat die leiding van die Heilige Gees deur die Woord ons enigste maatstaf wees.

O, mag die Here Sondag na Sondag vanuit ons en elke ander gemeente verheerlik word!

Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00