LUKAS 15:25-32

DIE HOOFSTUK BEGIN MET DIE FARISEËRS EN SKRIFGELEERDES SE AANSTOOT AAN JESUS se hartlike welwillendheid teenoor tollenaars en sondaars in die algemeen (Lk 15:1-3). Na aanleiding hiervan vertel Hy dan 3 gelykenisse. Ons kyk na die derde van hierdie gelykenisse, en fokus nou ten slotte op die baie ordentlike oudste seun.
Dis belangrik om raak te sien dat elkeen van die drie gelykenisse ‘n teenstelling bevat: tussen die een wat wegraak en die wat nie wegraak nie. Daar is dus elke keer twee groepe. En onmiskenbaar duidelik verteenwoordig hierdie twee groepe die tollenaars en sondaars, enersyds, en die Fariseërs en skrifgeleerdes, andersyds.
In hierdie gelykenis is die ordentlike oudste seun dus verteenwoordigend van die Fariseërs en skrifgeleerdes.
In die Here Jesus se verhaal word die meeste aandag aan die verlore seun en sy hartroerende bekering geskenk. Daarom word die gelykenis gewoonlik na hom vernoem en onthou ons sy storie.
Maar die oudste seun is ewe belangrik! Per slot van rekening het die Here ook ‘n boodskap vir die selfvoldane godsdienstiges  –  en dalk veral vir hulle.

DIE OUDSTE SEUN

Meeste mense dink maar sleg van die Fariseërs en skrifgeleerdes. Niemand hou van hooghartige skynheiliges nie. Maar hierdie mense was in Jesus se tyd nie so sleg soos ons dink nie. Hulle was ordentlik, eerlik, hardwerkend en vermoënd. En godsdienstig het hulle nie ‘n voet verkeerd gesit nie.
Daar is steeds baie sulke mense. Dis mense op wie jy kan staat maak  –  kundig, konsensieus en korrek. Hulle is pilare in die gemeenskap. Sonder hulle stort die samelewing in duie.
Dit beteken nie alles was pluis met die Fariseërs en skrifgeleerdes nie. Inderdaad was daar iets groot verkeerd. Maar oneerlik, immoreel, onopreg  –  dit was hulle gewis nie.
Dis hoekom die oudste seun in die gelykenis is  –  om die ware probleem van die Fariseërs en skrifgeleerdes uit te wys. Maar, let op, hy was ‘n modelseun. Mens sou jare lank saam met hom kon leef sonder om agter te kom daar is fout met hom. Al wat dit uiteindelik uitwys, is sy reaksie op die eerste helfte van die gelykenis. Sy pa se hantering van sy jonger broer, was vir hom eens te veel!
Om die oudste seun dus te verstaan, is dit nodig om eers ‘n oomblik na te dink oor die jongste seun.

DIE JONGSTE SEUN

Skaars is die jongste seun tuis, of daar is ‘n dieper liefde tussen hom en sy pa as ooit. Hulle verhouding is nie meer dié van wedersydse verdienste nie. Nou gee die pa alles; terwyl die seun niks verdien nie. Vrye liefdesgenade bind nou hulle harte saam!

Presies hier lê die oudste broer se aanstoot. Vir hom praat sy pa se optrede die jongste se sonde goed. Wat meer is, dis alles behalwe regverdig. Kyk net hoe dien hý sy vader al vir jare (v.29-30). Van hierdie dubbele standaarde het hy nou genoeg gehad! Van kleins af sloof hy homself af. En wat het hy daarvoor gekry? Die swartskaap, daarenteen, gaan mors sy erfporsie op die gruwelikste manier uit  –  en hier word die vetgemaakte kalf vir hóm geslag!
Helaas, die oudste seun mis die punt geheel-en-al. Sy jonger broer kry nie ‘n ereplek in die huis omdat hy dit verdien nie; inteendeel! Enige aanspraak daarop het hy lankal verbeur. En hy kry nie bloot wat hy nié verdien nie. Hy kry die teenoorgestelde daarvan  –  hy kry genade!

DIE VERSKIL TUSSEN DIE TWEE SEUNS

Wat is die diepste verskil tussen die twee? Dit lê nie in die een se vertrapping van sy pa se liefde, en die ander se getroue gehoorsaamheid nie. Ten diepste is die verskil tussen hulle die een se gebrokenheid oor sy mislukkings, en die ander se selfvoldane trots. Die een weet hy is algeheel afhanklik van sy pa se genade; die ander is vas oortuig hy verdien sy pa se goeie guns.
Waarom beleef die twee broers hulle verhouding met hulle pa so verskillend? Hulle het uiteenlopende beskouinge oor sonde!
Die oudste seun dink kwantitatief oor sonde. Hy dink in terme van meer en minder sonde. Wat hom betref, slaag mens die toets as jou skaal reg kantel.
Die jongste seun dink kwalitatief oor sonde. Hy het geleer dat sonde nie in die eerste instansie iets is wat jy doen, of nie doen nie. Dit het te doen met die gesteldheid van jou hart! Hy het agtergekom hy is nie ‘n sondaar omdat hy sonde doen nie; nee, hy doen sonde, omdat hy ‘n sondaar is.
Wat die oudste broer nog nie verstaan nie, het sy jonger broer tussen die varke geleer: slegs volmaakte gehoorsaamheid is vir ‘n volmaakte God aanvaarbaar. En omdat niemand ooit 100% kry nie, slaag niemand ooit God se toets nie. Of jy 90% kry, of 10%, maak uiteindelik geen verskil nie. A miss is as good as a mile! Dis soos ‘n blikkie ingemaakte vis. As hy enigsins opgeblaas is, gooi jy hom weg. Of hy ‘n honderd giftige organismes in het, of ‘n honderd miljoen, verander niks aan die saak nie.

‘N DAG VAN BESLISSING

Niemand sou ooit kon raai dat die ordentlike seun net so verlore was soos sy swartskaap-broertjie daar tussen die varke nie. Waarom nie? Op die oog af kan die geregtigheid van verdienste en die geregtigheid van genade op ‘n haar na dieselfde lyk!
Maar eendag het iets gebeur wat die sweer laat oopbars het. Dit was ‘n lotsbepalende dag vir die oudste seun. Wat het gebeur? Sy jonger broer het huis toe gekom  –  en genade gekry!
As hy van die veld af terugkom, loop die goeie seun hom tromp-op vas in ‘n fees. ‘n Sondaar is met sy vader versoen! En hy neem aanstoot. Hy stamp hom teen die evangelie!
Wonderlik is dit hoe genade in een mens die afwesigheid daarvan in ‘n ander kan uitwys! Niks is so ‘n goeie lakmoestoets vir jou sielsgesteldheid, as jou reaksie op die evangelie nie  –  die boodskap van Christus die gekruisigde, en van God se genade vir sondaars in Hom. Vir trotse godsdienstiges wat op hul eie verdienste staatmaak om God se standaarde te slaag, is die boodskap van God se vrye genade in Christus ‘n belediging. En vir die beterweterige slimmes van hierdie wêreld, is dit onsin (1Kor 1:23).
Die ware evangelie is altyd tweesnydend. Party neem aanstoot, ander omhels dit. Party verhard hulle daarteen, ander drink in gebrokenheid diep teue uit die fonteine van heil.

TOEPASSING

Hier lê die verskil tussen oudste seuns en verlore seuns. Dit het te doen met jou oortuigings oor jou stand voor God. En die verskil is lotsbepalend. Want God red sondaars, en net sondaars!

‘n Christen word nie in die eerste instansie daardeur gekenmerk dat hy moreel op ‘n hoër vlak as ander leef nie. Die essensiële kenmerk van ‘n ware Christen is sy diep wete dat hy nie eendag sonder ‘n Middelaar voor die lewende God durf verskyn nie.

1 v.25-26 Die oudste seun kom nader
2 v.27 Jou broer is veilig; dus ‘n fees
3 v.28 Die vader wil vrede maak
4 v.29 Die oudste seun se beswaar: "Kyk hoe behandel u my!"
4′ v.30 Die oudste seun se beswaar: "Kyk hoe behandel u hom!"
3′ v.31  Die vader wil vrede maak
2′ v.32 Jou broer is veilig; dus ‘n fees
1′ ????? Die oudste seun kom in
óf
die oudste seun loop weg

 

  1. Wie word deur Jesus Christus gered? 
    Dis lewensbelangrik om nie hier mis te tas nie. Waarom? Omdat Hy nie oudste seuns red nie! Luister wat sê Hy: "Dié wat gesond is, het nie ‘n dokter nodig nie, maar dié wat siek is. … Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar sondaars." (Mt 9:12-13; Lk 15:7; 19:10).
    Natuurlik leer die Here nie hier dat sommige mense nie genade nodig het nie. Hieroor laat Rm 3:23 geen twyfel nie: "Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie …"
    Wat bedoel Hy wel? Die gesondes is dié wat dink hulle is gesond en regverdig voor God. Die siekes is dié wat weet hulle is sondaars en dus verlore. Hulle weet húlle het vergiffenis en genade nodig. Die gesondes dink ander het dit nodig.
  2. Die sielsvernietigende kettery van wettisisme. 
    Volgens die Bybel is genade aan die hart van egte redding en Christenskap. Maar ontelbaar baie kerke en kerkmense maak van die Christelike lewe bloot ‘n manier van lewe. Dit definiëer Christenskap in terme van moraliteit.
    Natuurlik is geloof sonder werke dood. Daar is geen redding sonder heilige gehoorsaamheid nie. Maar nooit kan my eie verdienste die grond wees vir my redding nie. Wie ook al gered word, word gered op grond van Christus se verdienste alleen.
  3. Wat het toe van die oudste seun geword? 
    Die struktuur van v.25-32 is fassinerend
  4. Sien jy hoe skerpsinnig vertel Jesus hierdie gelykenis? Die laaste punt, wat die gedeelte oor die oudste seun pragtig simmetries sou afrond, los Hy uit  –  vir seker doelbewus. Hy laat ons met ‘n ope vraag: het die oudste seun ingekom? Ja of nee?
  5. Waar staan jy? 
    Daar is drie, en net drie moontlikhede. Jy is óf ‘n verlore seun wat tuisgekom het; óf ‘nverlore seun wat nog swaarkry in ‘n verre land; óf ‘n oudste seun  –  met ‘n vlymskerp keuse voor jou: om jou vroomheid as drek te beskou en in te kom na die genadefees toe, of om voort te gaan om op jou eie geregtigheid vir jou stand voor God staat te maak
    • Hoeveel troos het hierdie gelykenis nie vir verlore seuns wat nou feesvier nie! Gee voluit uiting aan julle liefde vir die Here. Hulle wat van baie sonde vrygespreek is, het immers baie lief (Lk 7:47).
    • Hoeveel belofte hou hierdie gelykenis nie in vir mense wat tans nog tussen die varke sit nie! Kom, die Vader se hart en arms en huis is oop vir julle. Onthou, die beste bekerings vind tussen die peule plaas!
    • Hoe dringend word oudste seuns nie in hierdie gelykenis gewaarsku nie! Gaan jy in jou trots steeds daarop aandring dat God jou op grond van jou goeie werke beoordeel? Of gaan jy jou rug draai op jou eie geregtigheid  –  en jou totaal verlaat op die verdienste van Christus (Fl 3:7-11)? Gaan jy omdraai en wegloop? Of gaan jy inkom fees toe?

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00