HEBREËRS 10:23

AS DIE HEBREËRSKRYWER MET DIE PRAKTIESE IMPLIKASIES VAN SY EERSTE NEGE-EN-‘N-HALF HOOFSTUKKE BEGIN, som hy dit eers kernagtig op  –  voordat hy dit agtereenvolgens in hoofstukke 11 – 13 in meer besonderhede uitwerk. In ‘n neutedop gaan dit oor geloof, hoop en liefde (22, 23, 24). Dit is die drie hoekpilare van die egte Christelike lewe.

Ons kyk na v.23, oor die hoop. Laas week het ons na die eerste helfte van die vers gekyk. Nou kom die tweede helfte aan die beurt: “want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het.”

‘N NADERE KYK NA DIE TEKS

“Want” 

Hierdie redegewende voegwoord sê vir ons waarom ons die belydenis van die hoop kan en moet vashou. Dis omdat “Hy” getrou is.

Wie is “Hy”? 

Die teks sê nie uitdruklik nie; dit word veronderstel. En dis so duidelik soos daglig: dwarsdeur die Skrif is dit deurgaans die Here God wat die beloftes oor ons ewige toekoms gee. Wie anders sou dit kon doen? Die apostels is bloot instrumenteel om hierdie beloftes by Sy kinders uit te kry.

Wat is beloof? 

Nogeens sê die teks nie uitdruklik nie, maar dis die dinge wat ons as ons hoop bely  –  die dinge wat ons agter God aan praat. En wat is hierdie inhoud van ons hoop? Soos gesien, is dit die afronding en vervolmaking van ons verlossing in Christus (2Kor 1:8-10)  –  die wederkoms (Tit 2:13), die opstanding (1Ts 4:13-18; 1Jh 3:2-3), die heerlikmaking (Rm 5:2), die ewige lewe (Tit 1:1-2; 3:7).

“Getrou” 

In die oorspronklike taal is hierdie woord voorop en dus beklemtoon: getrou is Hy. Om getrou te wees, is om betroubaar te wees. Daar kan op so ‘n persoon se geloofwaardigheid peil getrek word. Wat hy sê, doen hy. Sy “ja” is ja; Sy “nee” is nee.

As God nie getrou was nie, was ‘n verwagting op die dinge wat Sy Woord vir ware Christene se ewige toekoms beloof, naïef en tevergeefs. Dan was dit bloot ‘n lugspieëling.

HOE KAN EK VIR SEKER WÉÉT DAT GOD GETROU IS  –  VERAL MET BETREKKING TOT MY SALIGE HOOP?

Ons leef in ‘n wêreld waarin betroubaarheid baie skaars geword het. In die sakewêreld is verkoopspraatjies, korrupsie en bedrog aan die orde van die dag. In die politieke wêreld het ons só gewoond geraak aan leë retoriek in die spel van eie gewin, dat ons nie eers meer aanstoot daaraan neem nie. Huweliksontrou is in baie kringe só algemeen, dat dit voorveronderstel word. Selfs in die kerk is daar honderde predikante wat tydens hulle ordening voor die aangesig van die Here beloof het om getrou te bly aan die belydenis van daardie denominasie, maar vandag sonder blik of bloos dinge preek wat lynreg daarteen indruis.

Om te vertrou kom net nie meer vanself by ons nie. Oneerlikheid en onbetroubaarheid word veronderstel. Onder die boonste laag blinkwang appels lê die slegtes wel. Selde is “ja” nog ja.

Kan ek Gód dan vertrou? Kan ek daarop staat maak dat my sondes vergewe word as ek my volkome vertroue in Christus stel? Kan ek seker wees ek is geregverdig, dat ek sal opstaan uit die dood, dat ek die ewige saligheid sal beërf?

Objektief benader 

Onthou, die beloftes wat die inhoud van ons salige hoop vorm, is deur die Here self uitgespreek. Die betroubaarheid van God se beloftes lê in God self. Alles wat Hy is, staan agter Sy beloftes.

Hy is onveranderlik. Hy voel daarom nie vandag anders as tweeduisend jaar gelede nie. Hy het nie van opinie verander nie. Hy het nie sedertdien so ontnugter geraak met die mens se onwilligheid om te glo, dat Sy aanvanklike opgewondenheid oor die verlossingsplan soos water in sand verdwyn het nie.

Hy is almagtig. Hy is dus in staat om alles te doen wat Hy beloof het. Hy het nie in Sy oorywerigheid dinge onderneem wat nou of eendag sal blyk onhaalbaar te wees nie  –  bokant Sy vuurmaakplek.

Meer nog, God se beloftes is in terme van ‘n verbond vasgelê. Hy het dit met ‘n eed bevestig. En Hy het by Homself gesweer.

Lees Hb 6:17-20. “… En omdat God aan die erfgename van die belofte bo alle twyfel wou verseker dat sy besluit onveranderlik is, het Hy dit met =n eed gewaarborg. Die twee onveranderlike dinge, die belofte en die eed, waarborg dat God sy woord gestand sal doen, en is vir ons wat ons toevlug tot Hom geneem het, =n kragtige aansporing om vas te hou aan die hoop op wat vir ons weggelê is. Hierdie hoop besit ons as =n veilige en onbeweeglike lewensanker, wat agter die voorhangsel vas is. Daar het Jesus, ons Voorloper, ter wille van ons ingegaan, en Hy is vir ewig Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek”.

Hiermee sê God vir Sy kinders: “As Ek in gebreke sou bly om My beloftes waar te maak, sal Ek nie integriteit hê nie, maar bedrieglik wees; sal My karakter nie volmaak wees nie, maar liederlik bevlek; sal My ewige wese tot stof verkrummel  –  sal Ek ophou om God te wees.”

En dan sal ons sonder hoop en sonder God in die wêreld wees, soos Ef 2:12 dit stel.

Subjektief benader 

Om ons sekerheid nog vaster te maak, het God vir ons die Heilige Gees gestuur.

Hy is die “waarborg” (NAV)(Gr. arrabon) van ons geloof (2Kor 1:22; :5:5; Ef 1:14). Dis ‘n handelsterm, wat praat van ‘n eerste deposito of afbetaling. As sodanig is dit die waarborg dat ook dit wat uitstaande is, betaal sal word.

Ook is die Heilige Gees die Vader se “eerste gawe” aan ons (Rm 8:23)(Gr. aparge). Dis ‘n landbouterm, en slaan op die oes se eerste vrugte.

Aan dit wat Hy in ons doen, kan ons weet dat ons die Gees ontvang het. Betekenisvol is dit dat die Bybel, wat hierdie sekerheid betref, nie eintlik met wonderwerke en die gawes werk nie. Waarom? Omdat die bonatuurlike geen sekere waarborg is nie, aangesien dit ook ander oorspronge kan hê. Waarmee die Skrif wel werk, is dat Hy in ons getuig dat ons kinders van God is. Só stel Rm 8:15-16 dit: “julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: ‘Abba!’ Dit beteken Vader. Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is.”

Wat doen die Gees dus in ons om hierdie sekerheid te gee? In die eerste instansie is dit sekerlik daardie innerlike wete wat ware gelowiges deur die eeue geken het dat hulle waarlik aan Christus behoort. Maar dis méér. Hy roep ook in ons “Abba, Vader!” In die eerste instansie sinspeel dit op liefde vir die Vader. Dit gebeur net eenvoudig nie van nature nie. En daarbenewens is dit meer as ‘n innerlike emosie; dit het diep ingrypende en praktiese effekte in ons lewens  –  heiligheid, toewyding, ywer, gehoorsaamheid en so meer. Dis waarom Johannes ‘n klomp praktiese merktekens kan opnoem waaraan ons kan weet dat ons die ewige lewe ontvang het (1Jh 5:13; 5:1; 3:9; 2:29; 4:7; 5:4; 5:18). Johannes koppel dit weliswaar aan die wedergeboorte, maar, natuurlik, almal wat weergebore word, ontvang die Gees  –  trouens, dis die Gees wat die wedergeboorte bewerkstellig.

Saamgevat 

In die ware Christen is Godsvertroue dus veel meer as bloot ‘n hoop vir die beste. Ons praat nie van ‘n sprong in die donker nie. Nee, dis ‘n sekere wete, ‘n lewende verwagting.

Deur die eeue het dermiljoene ware Christene uit alle nasies hulle lewensmotivering vanuit God se getrouheid geput. Presies hierin sit die daadkrag van Christene en die onvernietigbaarheid van die kerk. Lees van begin tot einde deur die Bybel, en keer op keer sal jy vind dat dit die onwankelbare vertroue in Sy getrouheid is wat God se helde voortgestu het. Gaan krap maar onder die heroïese in die kerkgeskiedenis, en jy sal elke keer híérdie hartstog aan die hart daarvan aantref.

TWEE LAASTE OPMERKINGS

God se getrouheid beteken nie dat ons nie deur krisisse en swaarkry sal gaan nie.

Christene deur die eeue het dae van beproewing, duisternis en wanhoop geken. Seisoene van swaarkry is nie vreemd vir Jesus se dissipels nie.

Baie dikwels was hierdie swaarkry juis die merktekens van egte kindskap. Sê die Hebreërskrywer nie dat álle kinders van God deur Hom getugtig word nie? (Hb 12:4-11). Maar hierop kan ons peil trek: in die lewens van ware kinders van God sal Sy tugtiging altyd “ten goede” wees (Rm 8:28-30; Hb 12:11). Onthou vir Job!

In hierdie verband is 1Pt 4:19 tot groot troos: “Daarom moet dié wat ly omdat God dit wil, hulle lewe toevertrou aan die getroue Skepper, en aanhou goed doen.” Die woord “toevertrou” is ‘n bankterm. Laat ons ons lewens by ons hemelse Vader deponeer. Hy sal dit in die kluis van die ewigheid bewaar.

God se getrouheid waarborg nie net die vervulling van Sy heil nie, maar ook elkeen van Sy verskriklike dreigemente. 

God se Woord swyg nie oor God se haat vir ongeregtigheid en goddeloosheid nie. Sonde het skrikwekkende gevolge. Die Bybel is vol waarskuwings dat Hy gewis sonde sal straf. Maar in Sy getrouheid waarsku Hy ons betyds.

Neem byvoorbeeld 1Kor 6:9-10. Die apostel noem ‘n klomp tipiese sondes, en sê dan dat diegene wie se lewens deur die dinge beheers word, nie sal deel kry aan die koninkryk van God nie.

Maar loof die Here, net die volgende vers sê dan: “En so was party van julle juis ook. Maar julle het julle sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God.”

Vir elke sondaar, ongeag hoe verskriklik jou sonde, is daar steeds bekeringsmoontlikheid in hierdie lewe. Is jy onder sondebesef? Kom dan, en laat jou sonde afwas. Niks is te erg vir die Here nie.

Die Here Jesus het reeds ingegaan (Hb 6:20) 

God belowe nie iets wat nog eers eendag uitprobeer moet word nie. Dit het reeds gebeur!

Laat dit vir ons ‘n veilige en onbeweeglike lewensanker wees  –  wat ons dag na dag soos ‘n kragkatrol na die volle vervulling toe sleep (6:19).

Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00