2 KOR 5:1-8 : DIE HIERNAMAALS [2]

TYDENS ‘N ERNSTIGE SIEKBED, TOE HY GEDINK HET HY GAAN OP DIE JEUGDIGE OUDERDOM VAN 35 STERF, het die Puritein, Richard Baxter, die gewoonte ontwikkel om ‘n halfuur elke dag oor die hiernamaals te peins. Hy skryf dan later hoe baie hierdie praktyk oor die jare vir hom beteken het.
Selfs al sou ons die ou vader net soms hierin navolg, sal dit ons geloofslewe oneindig baie verryk.

DIT GAAN OOR DIE CHRISTELIKE HOOP

Ons noem die teologiese studie oor die laaste dinge, die wederkoms en die ewige staat, dieeskatologie. Dis ‘n uiters belangrike studieveld. Waarom? Omdat dit die inhoud is van die Christelike hoop. En op meer as een plek sê die Nuwe Testament dat die hoop, saam met die geloof en die liefde, aan die hart lê van egte Christenskap en belewing (1Kor 13:13; 1Ts 1:3; Hb 10:22vv).
Kom ons kyk dus wat God se Woord oor die toekoms sê. Dis gebruiklik om die studie van die eskatologie in twee te verdeel: globale eskatologie (wat te doen het met die toekoms van die hele wêreld en die kerk as geheel), en persoonlike eskatologie (wat te doen het met die individu se toekoms). Gewoonlik is eersgenoemde onder die loep, maar ons gaan fokus op laasgenoemde.

WAT AS EK VOOR DIE WEDERKOMS STERF?

In die eerste instansie moet ons na hierdie vraag kyk. Want tensy die Here baie spoedig kom, gaan een en elkeen van ons sterf voordat dit gebeur.
Ons praat van die staat tussen die dood en die finale opstanding as die tussentoestand. Die regverdiges en die onregverdiges gaan hierdie tyd op verskillende plekke en in verskillende toestande deurbring (vgl. Lk 16:19-31). Maar ons gaan fokus op diegene wat in die Here en daarom salig sterf.
Ons gaan dus praat oor die staat waarin ons afgestorwe broers en susters in Christus op hierdie oomblik is. Ons gaan praat oor die plek waarheen een en elkeen van ons wat waarlik gered is binnekort sal gaan, indien die Here talm om te kom.
Waar is hierdie plek? Allereers moet ons besef dis nie ‘n plek binne ons dimensies van tyd en ruimte nie. Die bybel gebruik veral twee name daarvoor: die hemel en die paradys.
Die hemel is ‘n baie wye en ryk begrip in die Skrif en ons kan nie nou in besonderhede daarop insak nie. Al wat ek nou daaroor wil sê, is dat die Bybel dit aan ons voorhou as die woonplek van God. Dis waar die klem val, en nie, byvoorbeeld, op die lokaliteit daarvan nie. Die hemel is waar God is.
Die paradys is net ‘n Nuwe Testamentiese begrip, waar dit slegs drie keer voorkom (Lk 23:43; 2Kor 12:4; Op 2:7). In eersgenoemde vers sê Jesus vir die misdadiger aan die kruis: "Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees." Ons kan dus met stelligheid sê dat dit die plek is waarheen ontslape kinders van die Here gaan  –  om by Hom te wees. Dis oorspronklik ‘n Persiese woord, en dui op ‘n ommuurde tuin of park. Daar is dus skoonheid, vrede en orde. So gebruik die Septuaginta (‘n voor-Christelike Griekse vertaling van die Ou Testament) dit vir die tuin van Eden.
Wat die tussentoestand betref  –  ons huidige tema  –  verwys die Skrif meermale daarna, maar kom ons kyk nou net na 2Kor 5:1-8.

2 KORINTIËRS 5:1-8

In hierdie paragraaf is die apostel baie seker hy weet wat op hom wag. Oor net een ding is hy onseker  –  gaan hy sterf en die tussentoestand binnegaan, of gaan hy die Here se wederkoms beleef en onmiddellik finaal verheerlik word?
Ook ons weet nie wat die antwoord op hierdie vraag is nie. Daarom het die Here Jesus Sy dissipels aangespoor om altyd gereed te wees, aangesien hulle nie vooraf weet wanneer hulle gaan sterf, of wanneer die wederkoms sal plaasvind nie.
Laat ons dus seker maak ons is elke oomblik reg om die Here te ontmoet. So skryf Johannes dan ook: "Elkeen wat hierdie verwagting in verband met Hom koester, hou homself rein soos Jesus rein is" (1Jh 3:3). En as mens die wederkoms en die hiernamaals ernstig opneem, is dit inderdaad ‘n kragtige aansporing tot ‘n heilige lewe.

2 Korintiërs 5:1 
Die "aardse tentwoning" (OAV) waarvan Paulus hier praat, is sy beeld vir die huidige liggaam. Daarmee beklemtoon hy die broosheid en tydelikheid daarvan. Hierdie beeld word ook gebruik vir die Here Jesus se vernederde liggaam in Jh 1:14. As daar staan dat die Woord mens geword en onder ons kom woon het, sê die Grieks letterlik dat Hy kom tent opslaan het onder ons.
Maar hierdie tent sal vervang word met ‘n onverganklike en permanente woning, deur God self gemaak  –  ‘n nuwe, verheerlikte en ewige liggaam.
As Paulus sê dat hierdie ewige gebou nie met hande gemaak is nie, bedoel hy nie dat ons huidige liggame wél met hande gemaak is nie. Hierdie frase is in die Nuwe Testament ‘n tegniese uitdrukking vir dit wat aards is (vgl. Kol 2:11; Hb 9:11). Laasgenoemde vers verduidelik dan ook wat die Skrif met hierdie beeld wil sê: dit wat met hande gemaak is, behoort tot hierdie wêreld.

2 Korintiërs 5:2 
Paulus vul nou sy beeld aan. Hy beskryf die liggaam nou nie net as ‘n huis nie, maar ook as ‘n kledingstuk. Ons verlang, sê hy, dat ons uiteindelike hemelse huis soos klere vir ons aangetrek sal word.
Die woord "oorklee" (OAV) of "oordek" (NAV), is betekenisvol. Hiermee wil die apostel sê dat ons begeer dat ons verheerlikte liggame sommer dadelik oor ons ou liggame aangetrek sal word soos mens, kom ons sê, ‘n trui bo-oor ‘n hemp aantrek. Presies wat hy hiermee bedoel, verduidelik hy dan in v.3-4.

2 Korintiërs 5:3-4
Ons wil nie graag eers uitgetrek word en vir ‘n tyd lank nakend wees voordat ons met ons verheerlikte liggame beklee word nie. Duidelik sinspeel Paulus hier op die liggaamlose tussentoestand voor die opstanding. As ons dus in hierdie lewe verlangend sug, dan is dit nie ‘n verlange na die naakte toestand nie, maar dis ‘n begeerte om sommer dadelik ons nuwe liggame te ontvang.
Heeltemal anders as die Griekse filosofie van destyds, dink die apostel nie dat die menslike gees op sy gelukkigste is as hy vry van ‘n liggaam is nie. Inteendeel, hy ag so ‘n toestand as naaktheid, as subnormaal, as alles behalwe ideaal.

2 Korintiërs 5:8 
Kom ons spring vir ‘n oomblik ‘n paar verse. In v.8 sê Paulus egter dat, ten spyte van alles wat hy in die eerste paar verse geskryf het, verkies hy nogtans om eerder te sterf en sy verblyf in hierdie liggaam te verlaat. Waarom is die naakte staat sonder ‘n liggaam in die tussentoestand  –  indien die Here talm om te kom  –  vir hom verkieslik bo die tentbestaan van hierdie lewe?Omdat hy dan by die Here sal wees! Anders gestel: om by Christus te wees, sal meer  –  baie, baie meer  –  as opmaak vir ons tydelike verlies aan ‘n liggaam
In Fl 1:23 sê die apostel dat hy verlang om heen te gaan en "met Christus" te wees. In vergelyking met hierdie lewe is dit "verreweg die beste".

2 Korintiërs 5:5-7 
Al leef ons dus nog in hierdie liggaam  –  hierdie tentwoning  –  is ons vol moed. Daar is twee redes waarom ons so vol hoop is. Eerstens is hierdie dinge Gód se plan met ons  –  dit is Sy inisiatief. En tweedens is die inwoning en getuienis van die Heilige Gees ons waarborg dat ons na die Here toe op pad is. Ons lewe deur geloof, nie deur sien nie.

Saamgevat 
Wat Paulus meer as enigiets anders verlang, is om steeds te lewe wanneer die Here Jesus Christus terugkom  –  en om dan onmiddellik sy verheerlikte liggaam te ontvang. Maar selfs al moet hy voor die tyd sterf, is die onnatuurlike en minder as ideale liggaamlose tussentoestand steeds baie beter as hierdie lewe (al is dit in ‘n liggaam)  –  want selfs in die tussentoestand is ons reeds by die Here!

WAT SÊ DIT ONDER MEER VIR ONS

  1. Laat ons erns maak met die Christelike hoop 
    Ek weet nie van julle nie, maar dit wil my party dae neerslagtig stem as ek besef my lewe is besig om uit te loop. Afnemende liggaamskragte, ‘n geheue wat jou al hoe meer in die steek laat en toenemende ontnugtering met dit wat hierdie lewe bied, raak al hoe meer ‘n werklikheid.
    Ek is oortuig daarvan dat daar net een manier is om hierdie werklikhede te hanteer  –  mens moet jou oefen in die Christelike hoop. Jy moet die dinge waaroor ons praat weer en weer oordink.
    Een van die kosbaarste gawes wat die Here vir ons in hierdie lewe gee, is ‘n lewende hoop. Vir die ongelowiges, veral vir die bejaardes, moet elke doodsberig seker klink soos die geknars van die beul se sleutel vir ‘n ter dood veroordeelde. Male sonder tal dank ek die Here dat Hy vir my nie net lewenssin gegee het nie, maar ook sterwenssin. Wat sou ek sonder ‘n ewigheidsperspektief gedoen het? Daarsonder kan ‘n denkende mens tot geen ander slotsom as Albert Camus kom nie: "Die lewe is ‘n siek grap!" En inderdaad is ‘n ongelowige wêreld tot die dood toe kranklik aan sinloosheid.
    Daarenteen, as die dinge waarna ons kyk op die tafels van jou hart geskryf is, sal jy saam met die pionier-sendeling in Burma, Adoniram Judson, kan sê: "Wanneer Christus my roep, sal ek gaan met die uitbundige blydskap van ‘n skoolseun wat vir die somervakansie deur die skoolhek hardloop."
  2. Is Christus die middelpunt van jou hoop? 
    In 1Tm 1:1 kry ons ‘n kort frase wat die hart van ons lewende hoop se inhoud verwoord: "…Christus Jesus ons Hoop". Om eendag by Hom te wees, is waaroor dit gaan.
    Kostelik het Andrew Bonar dit gestel: "Ag Here, mag ek soos Simeon heengaan  – met Christus in my arms" (n.a.v. Lk 2:28-29). Maar ons kan natuurlik ook die beeld omdraai: as die dood my eendag neerfel, sal ek in Christus se arms intuimel.
  3. Maak seker jou hoop is eg 
    As jy nie, soos Paulus, jou vreugde daarin vind dat jy by Christus sal wees nie (ten spyte van die tussentoestand se "naaktheid"), hang daar ‘n vraagteken oor die egtheid van jou hoop. En, onthou, die hoop is bloot vooruitgerigte geloof. As jou hoop dus onder verdenking is, moet ook jou geloof bevraagteken word. En as jou geloof vals is, is jou hoop niks meer as ‘n lugspieëling nie.

SLOTWOORD

Die dood is nie ‘n ewige duisternis wat oor jou neerdaal nie; dis die doodblaas van ‘n kers  –  omdat die dag gebreek het.

 

Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00