MATHEUS 7:13-14

VOLGENS ‘N OPNAME VAN DIE LOS ANGELES TIMES IN 2003, glo daar vir elke persoon wat meen dat hy of sy hel toe sal gaan na die dood, minstens 120 mense dat hulle hemel toe sal gaan. Hierdie optimisme is in totale kontras met wat die Bybel in die algemeen en die Here Jesus in die besonder leer  –  konsekwent en deurgaans.

Nêrens kom hierdie kontras duideliker na vore as in die Here se bergrede nie.

DIE BERGREDE IN ‘N NEUTEDOP

Hierdie uiters belangrike stuk lering van die Here word beheers deur Mt 5:17-20. Jesus sê dat Hy nie gekom het om die Ou Testamentiese morele wet ongeldig te maak nie, maar om dit te vervul. Trouens, wie se getrouheid daaraan nie ver bo dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs uitstyg nie, sal nooit die koninkryk van die hemel binnegaan nie.

Jesus gaan dan voort om te beskryf hoe so ‘n lewe van gehoorsaamheid lyk. Uiteindelik vat Hy dit in 7:12 in die sogenaamde goue reël saam: doen aan ander wat jy wil hê hulle aan jou moet doen!

Die slotgedeelte van die preek (7:13-27) begin dan met ‘n dringende oproep: gaan in deur die nou poort; loop op die smal pad wat na die lewe lei!

DIE MEES FATALE FLATER IN DIE WÊRELD

Hierdie oproep maak dit baie duidelik dat niemand die ewige saligheid outomaties binnegaan nie. Nee, alle mense is van nature op die breë pad wat na die verderf lei. Ons word almal as deel van die gevalle mensheid in Adam gebore. Ons is almal sondaars. En die loon van die sonde is die dood.

Dit verg dus ‘n bewustelike besluit en besliste handeling om af te draai na die smal pad. Nie die hemel nie, maar die hel is ons default-bestemming. Dis waarheen alle mense van nature op pad is  –  en waar die meeste van hulle helaas gaan eindig.

Daar is nie ‘n groter dwaasheid nie as om te aanvaar dat jy sonder meer op pad is na die ewige saligheid. Daar is nie ‘n groter stommiteit nie as om met gekruisde vingers bloot vir die beste te hoop. Waarlik, dis ‘n wonderlike genadegawe om tot die besef te kom dat jy verlore is!

Laat die woorde van die Here Jesus dus op die tafels van jou hart geskryf wees: “… die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min.”

DIE BREË PAD SE EINDPUNT

Baie mense dink dis beskaafd en liefdevol om die bestaan van ‘n ewige hel te ontken. In elk geval, sê hulle, kan moderne en ontwikkelde mense nie meer so iets aanvaar nie.

Maar wat hulle vergeet, is dat die Bybel oor en oor in die allerduidelikste taal oor die ewige verdoemenis praat. Nog meer, niemand in die Bybel praat méér daaroor as Jesus Christus self nie.

Waarlik, dis arrogansie wat ten hemele skrei as ons as skepsele ons aanmatig om beter te wil weet as ons Skepper  –  as ons onsself aanmatig om moreel op hoër grond as Christus te wil staan. Sodra ons egter meer begin begryp van God se volmaakte karakter en geregtigheid, asook van ons eie sondeverdorwenheid in kontras daarmee, raak ons verbaas  –  nie dat sommige verlore gaan nie, maar dat party hoegenaamd gered word.

Die Here Jesus gebruik ‘n eenvoudige woordjie om  die breë pad se eindpunt te beskryf: “verderf”. Letterlik beteken dit vernietiging. Maar nou moet ons nie dink Hy bedoel daarmee bestaansbeëindiging nie. Want die Skrif leer op talle ander plekke dat dit juis nié die geval is nie. Wat Jesus waarskynlik wel bedoel, is dat dit finaal alles wat goed is sal vernietig. Die hel sal ‘n plek van eindelose, bewustelike en onbeskryflike lyding en smarte wees. Daar sal vir ewig geen hoop op enige verligting wees nie.

Sommige mense dink, as daar dan wel ‘n hel is, sal dit net vir ‘n beperkte tyd duur. Dis egter nie wat God se Woord leer nie. In die gelykenis van die skape en bokke sê die Here dat die wat verwerp word “die ewige straf” sal ontvang, maar die regverdiges “die ewige lewe” (Mt 25:46). In dieselfde asem gebruik Hy in beide gevalle presies dieselfde woord vir “ewig”. As die saligheid dus ewig sal duur, geld dit noodwendig ook vir die ewige straf.

Die Bybelse lering oor die ewige saligheid en die ewige verdoemenis staan en val gesamentlik.

Kyk ons na die uitdrukkings wat die res van die Nuwe Testament gebruik om die hel te beskryf, ontvou ‘n skrikaanjaende prentjie: grimmigheid en toorn, lyding en benoudheid (Rm 2:8-9); ‘n gehuil en gekners van tande (Mt 22:13); ‘n ewige verdoemenis (2Ts 1:9); ‘n brandende oond (Mt 13:42); ewige straf (Mt 25:46); ‘n poel van vuur en swael, en pyniging tot in ewigheid (Op 20:10, 15).

As mens die verskrikking en oneindigheid van die hel ontken of afwater, doen jy afbreuk aan die grootsheid van Christus se versoeningswerk. Waarom? As die Here Jesus ware gelowiges red van die ewige oordeel, verkleineer jy noodwendig Sy werk tot die mate wat jy die hel onderspeel, om nie van ‘n ontkenning te praat nie.

BESEF DIE ERNS EN DRINGENDHEID

Die goeie nuus is dat jy  –  as jy nog nie met beslistheid op die smal pad is nie  –  op hierdie oomblik deur die nou poort mag stap.

Maar dan moet jy baie mooi kyk na wat Jesus hier sê. Aan die begin van v.13 gee Hy ‘n bevel: “Gaan … in”. Die vorm in die Grieks dui op ‘n vasbeslote handeling. Ons praat dus nie van ‘n halfhartige en goedkoop besluit nie. Ons praat nie van iets bloot meganies nie. Ons praat nie van ‘n formule of ‘n formaliteit nie. Nee, ons praat van ‘n vaste voorneme en ‘n besliste koersverandering. Ons praat van iets wat uit jou diepste wese kom, van begrip en opregtheid en ‘n vaste voorneme om die res van jou lewe op hierdie smal pad te bly.

Moet dus nie dink dat jy met ‘n oppervlakkige besluitjie kan wegkom nie. As jy nie kans sien vir ‘n radikale en lewenslange toewyding nie, los dit. Om gek te skeer met God sal net jou lot vererger.

Waarom is dit so belangrik om besigheid te bedoel?

Eerstens, die Here sien jou hart, en hoe kan jy verwag Hy moet jou ernstig opneem as jou hele hart nie in jou besluit en handeling sit nie?

En tweedens, hierdie pad is smal, soms baie smal. En partymaal is hy só steil dat dit vir jou voel jy klim vertikaal. Sonder commitment gaan jy sommer gou-gou terugdraai na die breë pad toe.

Die vorm van die Griekse bevel aan die begin van v.13 impliseer ook ‘n onverwylde handeling. Moet dus nie dink jy kan maar uitstel nie. Ek weet dit klink logies, as jy nóú mag afdraai, kan jy dit mos môre, oormôre ook doen. Maar dit werk nie so nie.

“Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding” (2Kor 6:2). Jy sien, die voëltjies kom eet die saad van die Woord (Mt 13:4, 19). Môre is die dringendheid weg  –  daarvoor kan ek vir jou ‘n brief gee. In elk geval, hoe weet jy of daar vir jou ‘n môre gaan wees? Ons is maar ‘n damp wat ‘n oomblik verskyn en gou weer verdwyn (Jk 4:14).

Nee, die stem wat vir jou fluister jy hoef nie haastig te wees nie, is nie God se stem nie.

KOM ONS WEES PRAKTIES

Wat moet ‘n mens doen om deur die nou poort te gaan. Hóé loop jy op die smal pad? Wat beteken hierdie beeldspraak in praktiese terme? 

Die smal pad wat deur min gevind word, is die pad van lewensgetrouheid en -gehoorsaamheid aan die wil van God, soos Jesus dit in hierdie bergrede uiteensit. Dis ‘n lewe van geregtigheid wat veel oorvloediger is as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs van destyds (5:20, OAV). Kortom, dis ‘n lewe van diensbaarheid wat aan ander doen wat jy ook aan jouself gedoen wil hê (7:12).

Maar, sê jy, beteken dit dat ek met goeie werke my saligheid moet verdien?

Hier kom staan die wonder van die evangelie vierkantig voor ‘n mens  –  en dus die Here Jesus Christus, want Hy is die hart van die evangelie.

Geen mens kan Jesus se bergrede naastenby in eie krag uitleef nie  –  in elk geval nie só dat jy die ewige lewe daarmee kan verdien nie. Want dit gaan nie net oor die uiterlike nie, maar veral ook oor die innerlike  –  oor motivering, gesindheid, opregtheid.

As jy egter innerlik herskep is, as die Gees van God jou bekragtig, as die Here Jesus vir jou intree by die Vader, word dit nie net moontlik nie, maar inderdaad ‘n noodwendige lewensrealiteit.

Só gesien, verstaan mens dat die sleutel die wedergeboorte is. ‘n Lewe volgens die bergrede is dus nie die grond van jou redding nie, maar die uiterlike manifestasie van innerlike herskepping. Dis waarom Jesus kan sê dat hy of sy wie se lewe nie méér inhou as formele godsdienstigheid nie, nooit die koninkryk sal ingaan nie. Want so iemand is nog nie wedergebore nie  –  en dís die voorwaarde vir ingang in die koninkryk (Jh 3:3, 5).

Jy sê, dan kan ek mos niks doen nie; ek kan net wag en vir die beste hoop. Nee! Jesus sê jy móét iets doen. Jy moet ingaan deur die nou poort; jy moet volgens die smal pad leef.

Hoe doen ek dít, sê jy?

Die Here sê Hý is die deur (Jh 10:7, 9), en Hý is die weg (Jh 14:6). 

Jy moet Sy woorde en beloftes toe-eien  –  Hy is God se groot Profeet. Jy moet jou vir tyd en ewigheid aan Sy versoeningswerk toevertrou  –  Hy is God se groot Priester. Jy moet jou lewenslank aan Hom toewy  –  Hy is God se groot Koning. En kardinaal belangrik is dit om te verstaan dat jy Christus nie kan versnipper nie. Jy neem Hom aan as én Profeet én Priester én Koning  –  of glad nie.

‘N LOTSBEPALENDE OOMBLIK?

As die hiernamaals vir ewig sal duur, duur hierdie lewe by wyse van spreke net vir ‘n oomblik. Maar die oorweldigende waarheid is dit: wáár ek die ewigheid gaan deurbring, word in hierdie oomblik bepaal. Dít, meer as enigiets anders, verleen aan hierdie lewe ‘n verbysterende gewig. Trouens, gesien in die lig van die ewigheid, is net één ding in hierdie lewe regtig belangrik: volharding op die smal pad onderweg na die ewige saligheid! As mens dit een maal verstaan, verbleek alle ander sake tot dowwe skaduwees  –  ook daardie dinge waaroor ons onsself tog so druk kan maak.

Hierdie lewe is die naaste wat ware Christene ooit aan die hel sal kom. En hierdie lewe is die naaste wat ongelowiges ooit aan die hemel sal kom. Mag ek jou na aanleiding daarvan ‘n vraag vra met al die dringendheid waaroor ek beskik: Is jy seker jy is in Christus? Is hierdie preek nie dalk die naaste wat jy ooit aan die nou poort sal kom nie?

Daarom, gaan in, gaan in, gaan dringend in … !

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00