AMOS 3:9-15

HIERDIE PARAGRAAF VERDEEL IN 3 KLEINER PARAGRAWE, elkeen ingelei deur ‘n duidelik oproep. “Maak dit bekend …” (9); “So sê die Here …” (12); “Luister hierna …” (13).

Hierdie paragrawe het onderskeidelik te doen met die onreg in Israel se maatskaplike lewe; met die gemaksug in hulle persoonlike lewens; en met die eiesinnigheid in hulle godsdienstige lewe.

ONREG IN DIE MAATSKAPLIKE LEWE (9-11)

Amos moet die mense van Asdod (‘n Filistynse stad) en Egipte oproep om op die berge rondom Samaria te kom staan. Vir Israel kan niks seker méér vernederend wees as dat hierdie tradisionele vyande en veragte heidene hulle moet kom beoordeel nie. Húlle, van alle mense, moet met afgryse kom kyk na alles wat in Samaria aangaan. 

Waarna moet die heidene kom kyk?

Israel se sosiale sondes word duidelik aan die hand van 4 woorde uitgespel: daar is “verwarring” en “verdrukking” (9); daar is “geweld” en “verwoesting” (10). Daar is nie wet en orde nie, en die medemens se belange word vertrap. Selfbevrediging, selfhandhawing en selfbevoordeling is aan die orde van die dag.

Amos gebruik nóg ‘n veelseggende begrip: “herberg” (10), of beter vertaal, “opstapel” (OAV). Waarop dit waarskynlik sinspeel, is dat mense allerlei onderduimse maniere gebruik om ander uit te buit, en in die proses meer en meer besittings in hulle huise op te gaar. En die profeet gebruik nie die gewone woord vir huise nie, maar een wat met “paleise” (OAV) of “fortresses” (NIV) vertaal kan word (dieselfde woord as in v.9 en 11). Vir hierdie mense is ‘n gewone, beskeie woning nie meer genoeg nie; dit moet steeds groter en luukser.

Aan die begin van v.10 maak Amos hierdie sprekende stelling: die Israeliete “weet nie hoe om reg te doen nie”. Dis die beskrywing van ‘n volk wat tot die dood toe siek is. Selfs hulle gewetens gee nie meer vir hulle morele leiding nie; hulle kan nie meer onderskei tussen reg en verkeerd nie.

Die “daarom” waarmee v.11 begin, is sprekend. Daar is ‘n geheimenisvolle verband tussen die “verdrukking” en “geweld” wat jy beoefen, en die aggressie van die vyand wat uiteindelik jou “land inneem”, “jou vesting bo-op jou afbreek”, en “jou mooi huise kaalstroop”. Soos die spreekwoord sê: mens sterf soos jy geleef het. Want hier sinspeel Amos op die komende ballingskap. Só sou dit veertig jaar later met Samaria gaan. Selde slaan die blinde sambok dadelik, maar uiteindelik brand hy wel oor jou blaaie.

GEMAKSUG IN DIE HUISE (12)

Die Israeliete se lewens draai om die self, en “rusbanke” en “oorgetrekte gemakstoele”. Hulle leef vir die liggaam. Van die stryd om elke dag te oorleef, van die worsteling met vleeslike begeertes, van dissipline en selfverloëning ter wille van verhewe ideale, weet hierdie mense niks nie.

Wanneer die Assiriërs kom, gaan net ‘n baie klein groepie van hierdie Israeliete behoue bly.

In Eks 22:10-15 word van ‘n diere-oppasser verwag om, indien een van sy kudde deur ‘n wilde dier verskeur word, bewys daarvan te lewer. So nie sal aanvaar word dat hy die dier gesteel het. So ‘n wagter het dus alles in sy vermoë gedoen om ‘n stukkie van die skaap of bok in die hande te kry. Dis waarop Amos hier sinspeel as hy van “twee pootjies” en ‘n “stukkie oor” praat. Dis ál wat gaan oorbly van hierdie selfbehepte mense  –  net ‘n klein-klein en verrinneweerde oorblyfseltjie! Die komende ballingskap gaan absoluut vernietigend wees.

Die idee van die oorblyfsel word weer en weer deur die Ou Testamentiese profete na vore gebring. En dikwels word die geringheid van die oorblyfsel beklemtoon  –  soos hier.

EIEWILLIGHEID IN DIE GODSDIENS (13-15)

As Amos die volk oor hulle baie aktiewe godsdienstige lewe aanspreek, begin hy deur hulle te herinner aan wie hulle is, en wie hulle God is.

Hy noem hulle “huis van Jakob” (OAV). Dis vanwaar hulle kom. Hulle is deur die Here uitgekies om heilig tot Sy eer te leef. Hulle is wonderlik bevoorreg, maar as sodanig ook aanspreeklik.

Laat hulle ook onthou wie hulle God is. Hy is die Here Here, God van die leërskare  –  die sowereine verbondsgod, die almagtige (Hb. Adonai, Jahweh, Elohim sebaoth)!Hierdie opeenstapeling van Godsname wil by Israel tuisbring dat hulle die profeet se waarskuwing baie ernstig moet opneem. Hulle het nie bloot met ‘n eenvoudige boer uit Juda te doen nie; hulle staan voor die lewende God, wat skrikwekkend is in Sy toorn, geweldig in Sy oordele.

Twee dinge word gesê oor die dag as die Here in Sy oordele na hulle toe sal kom:

God sal Sy oordele oor die altare van Bet-El laat spoel en die horings daarvan afbreek (14).

Bet-El het sy oorsprong net ná die skeuring gehad (1Kon 12:25-33). Jerobeam, die eerste koning van die noordelike tienstammeryk, was bang dat sy mense van hom afvallig sou word as hulle gereeld Juda toe moes gaan vir aanbidding. Daarom maak hy vir Israel eie aanbiddingsplekke, waarvan Bet-El, met sy goue kalwerbeeld, een was.

Die “horings van die altare” was uitsteeksels op elke hoek. Daar was ‘n antieke tradisie dat ‘n misdadiger wat aan hierdie horings vasgryp asiel moes kry (vgl. 1Kon 1:50). Maar, sê Amos, op die dag van oordeel sal daar geen vryspraak wees nie.

Die luukse wonings sal vernietig word (15). Ivoorinlegsels was duur versierings net vir die mooi  –  vertonerigheid sonder enige funksionele waarde. En asof dit nie genoeg was nie, het sommige mense meer as een huis gehad, vir die verskillende seisoene van die jaar. Aan die armes is nie gedink nie; net aan eie gerief en vleeslike bevrediging.

WAT SÊ DIT ONDER MEER VIR ONS?

Ons lewe as kerk van Christus voor die oë van die wêreld. 

Ons moet dit nie ligtelik verbygaan dat die Here in hierdie verse heidennasies as getuies  inroep om te kyk na wat in Israel aan die gang is nie.

Eerstens impliseer Hy daarmee dat dit wat onder Sy volk gebeur selfs erger is as wat in húlle kringe plaasvind. Selfs hulle sal geskok wees. Tweedens, as die Here Sy volk uiteindelik oordeel, moet die heidene verstaan dat Hy reg doen.

Dis helaas ‘n feit dat die institusionele kerk soms slegter kan raak as die wêreld: die kruistogte, pouslike dekadensie in die middeleeue, die vervolging van die Anabaptiste, ensovoorts. Tragies is die dag as ongelowiges vir die kerk moet vertel hoe medemenslikheid lyk, as die kerk by die heidene moet leer!

Hierteenoor beklemtoon die Nuwe Testament oor en oor die ononderhandelbare noodsaak van liefde, verdraagsaamheid en diensbaarheid. Sonder liefde is ons niks nie!

Die Here Jesus gee vir die wêreld ‘n norm om te weet wie Sy dissipels is:onderlinge liefde, soos Sý liefde (Jh 13:34-35). Natuurlik is daar ook ander norme, soos waarheid, maar wat verstaan die wêreld daarvan? Daarenteen is die taal van die liefde universeel  –  almal kan dit verstaan.

As ‘n ongelowige ‘n maand lank saam met ons as gemeente sou leef, saam in ons huise, saam as ons skouer skuur met die wêreld  –  wat sal sy bevinding oor ons Christenskap wees: eg of oneg?

Nog ‘n rede waarom Jesus hierdie mandaat en maatstaf aan die ongelowiges gee, is dat hulle Hóm nie sal kan verkwalik oor dit wat ‘n valse kerk aanvang of nalaat nie. As Hy Homself só uitdruklik distansieer van liefdelose huigelaars, kan die wêreld Hóm mos nie verwerp oor die gruwels van so ‘n rowerskip nie  –  al vaar dit ook onder Sy vlag.

Die Here het ‘n vreugde daarin om altyd maar weer ‘n oorblyfsel te red. 

As Amos hier praat van ‘n oorblyfsel wat soos twee pootjies en ‘n stukkie oor gered sal word, praat hy nie net van Israeliete wat ná die ballingskap sou terugkeer nie. Die profete het ook van die Godsvolk van die Messiaanse bedeling as ‘n oorblyfsel gepraat  –  hulle wat vanuit alle nasies gered word.

Jesaja 11:10-16 het onmiskenbare Messiaanse trekke: “In dié tyd sal iemand uit die geslag van Isai ‘n vaandel wees vir die volke … In dié tyd sal die Here ‘n tweede keer sy hand uitsteek om die oorblyfsel van sy volk los te koop … Die Here … sal die ballinge van Israel bymekaarmaak, die verstrooides van Juda laat saamkom van die uithoeke van die aarde af … Daar sal vir die oorblyfsel van sy volk .. ‘n grootpad wees soos daar was toe Israel uit Egipte getrek het.

Ook Jes 35 praat van hierdie “grootpad” in ‘n Messiaanse konteks: “Daar sal ‘n grootpad deur die woestyn loop en dit sal bekendstaan as die gewyde pad. Onrein mense sal nie daarop loop nie, dit sal net wees vir mense wat reg lewe …” (35:8).

Jeremia is ook duidelik Messiaans: “Maar Ek sal self dié van my kudde wat oorgebly het, gaan bymekaarmaak in al die lande waarheen Ek hulle verstrooi het. Ek sal hulle terugbring … Dan sal Ek herders oor hulle aanstel, en dié sal hulle versorg, en hulle sal nie meer bang of verskrik wees nie en hulle sal nie meer wegraak nie … Daar kom ‘n tyd … dat Ek vir Dawid ‘n regverdige spruit sal laat opskiet, ‘n koning wat verstandig sal regeer. Hy sal die reg eerbiedig en regverdig regeer in sy land. In sy tyd sal Juda gered word en sal Israel veilig woon. Sy naam sal wees: Die Here regeer regverdig oor ons.” (Hb:Jahweh Tsidkenu) (23:3-6).

Wat bedoel God se Woord as hy die Nuwe Testamentiese gemeente ‘n “oorblyfsel” noem?

Een, hulle is mense wat genade ontvang het  –  al het hulle die verderf deur en deur verdien.

Twee, hulle is bemindes van die Here, wat soos Eseg 5 se klossie hare in die vou van Sy klere weggesteek is  –  veilig vir tyd en ewigheid.

Drie, hulle is dikwels maar ver in die minderheid  –  veragte uitgeworpenes in hierdie wêreld.

Vier, hulle is dikwels maar verinneweer en flenters soos Amos se paar pootjies en oorvelletjie wat uit die leeu se kloue gegryp is. Jesus Christus se pelgrimskerk was nog selde iets anders as Paulus se beskrywing in 1Kor 1:26-31.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00