AMOS 1:1-2

NA SALOMO SE DOOD HET DIE VERBONDSVOLK GESKEUR. So het twee koninkryke ontstaan. In die suide, met Jerusalem as hoofstad, was die tweestammeryk (Juda en Benjamin)  –  van toe af bekend as Juda. En in die noorde, met Samaria as hoofstad, was die tienstammeryk  –  van toe af bekend as Israel. Terwyl Juda die Messiaanse lyn gedra het en daar nog van tyd tot tyd konings was wat die Here gedien het, was daar in Israel net één pad  –  verval van kwaad tot erger.

Toe Amos as profeet geroep is, was hy ‘n boer in Juda by Tekoa. Hy moes egter na Israel toe gaan om dáár die Here se boodskap te gaan aflewer.

Kyk mens na ‘n goeie kaart van Palestina, sien jy suid van Jerusalem en Betlehem die klein dorpie, Tekoa. Dit lê so ‘n kilometer of drie oos van die groot noord-suid hoofpad wat afloop na Hebron en Berseba. Dis op die rand van die Juda-woestyn bo-op ‘n heuwel geleë (ongeveer 750m bo seevlak). Staan jy op hierdie heuwel en jy kyk noord, sien jy Jerusalem op die horison, ongeveer 15 tot 20 km weg. Kyk jy oos oor die barre en onheilspellende woestynklowe, sien jy die Dooie See. En anderkant die see lê die heuwels van Moab dofblou.

Dis waar Amos geboer het  –  met skaap en wildevye (7:14). Vanuit hierdie eenvoudige bestaan word hy dan as profeet geroep en gestuur. Hy is geensins opgelei vir sy taak nie, maar, ten spyte van sy eenvoud en gebrek aan geleerdheid, is hy besonder skerpsinnig en ingelig. Dit blyk uit sy profesie dat hy diep insae het in die ekonomiese, politieke en godsdienstige toestande van sy tyd. Hierbenewens vertoon sy profesie heelwat raakpunte met die Pentateug. Sekerlik was gereelde omgang met God se Woord een van sy geheime.

Amos se naam beteken die man wat ‘n las dra. En so sou dit in sy lewe uitwerk, want dis duidelik dat die Here ‘n onweerstaanbare dwang in hom geplaas het om as profeet op te tree. Dis nie dat hy eintlik daaroor praat nie. Maar op een of twee plekke in die profesie skemer dit duidelik deur.

In 7:15 sê hy vir die priester van Bet-El, Amasia: “… die Here het my agter die kleinvee weggevat en Hy het vir my gesê: Gaan tree as profeet op teen my volk Israel.” Gewis was dit nie ‘n maklike opgawe nie. Vir ‘n eenvoudige man uit die suide om in die noordelike tienstammeryk te sê wat hý gesê het, moes baie moed gekos het. En in 3:8 laat blyk hy iets van die dwang wat hom opgelê is: “Die leeu het gebrul, wie sal nie bang wees nie? Die Here God het gepraat, wie sal nie as profeet optree nie?”

So werk God altyd. Hy lê ‘n onweerstaanbare dwang op Sy diensknegte. Die teensinnige Moses móés eenvoudig Egipte toe gaan. Jona het tevergeefs probeer wegvlug.  Jeremia het God se roeping soos ‘n vuur in sy gebeente ervaar. En die Here Jesus sê self meermale dat Hy Sy taak móét uitvoer (Lk 2:49; 4:43; Jh 9:4).

IN DIE TYD VAN USSIA VAN JUDA, EN JEROBEAM VAN ISRAEL

Ussia en Jerobeam het beide lank regeer  –  oor die 40 jaar in die eerste deel van die 8ste eeu.

In Sag 14:5 word verwys na ‘n aardbewing in die tyd van Ussia. Die Joodse historikus, Josefus (37-100+ n.C.), beweer dat dit gebeur het toe die koning die reg in eie hande geneem het en in die tempel gaan offer het (2Kron 26:16-21).

En 8:9 praat van ‘n sonsverduistering. Sterrekundiges sê dat ‘n totale verduistering op 15 Junie 763 v.C. moes plaasgevind het.

Dit alles lei ons om te aanvaar dat Amos iewers in die sestigerjare van die agste eeu opgetree het (plus minus 765 v.C.)  –  165 jaar ná die skeuring (930) en 40 jaar voor die Assiriese ballingskap, waarin die noordelike tienstammeryk weggevoer is.

Hoe lank Amos in Israel was, weet ons nie. Dit kon nie te kort gewees het nie, aangesien 7:10b suggereer dat die hele land kennis geneem het van sy profesieë voordat hy vertrek het. Moontlik moet ons in terme van ‘n paar maande dink.

DIE PROFESIE HANDEL OOR ISRAEL

Israel het voorspoed en vrede geniet tydens Jerobeam se bekwame regering.

Polities: In Salomo se tyd het dit laas so goed gegaan met Israel. Die grense is uitgestoot tot waar dit destyds was. Die handelsroetes is beheer. Daar was stabiliteit en welvaart.

Ekonomies: Israel se rykdom het helaas gepaard gegaan met ‘n brandende winsmotief, met korrupsie en uitbuiting van die armes (8:4-6). Die paar rykes was baie ryk; die massa armes baie arm.

Van die rykes het luukse wintershuise én somerhuise (3:15). Hulle het luukse meubels (3:12)  –  beddens van ivoor (6:4). Hulle is gemaksugtig en verwen  –  drink duur wyn en gebruik net die beste olies (6:6). Hulle eet goed  –  lams- en kalfsvleis (6:4). En die kultuur bloei  –  hulle gebruik allerlei instrumente om musiek te maak (6:5).

Vir die armes is daar geen empatie nie. Wie nie sy skuld kan betaal nie, word vir ‘n paar skoene verkoop (2:6). Omkopery (5:12) en bedrog (8:5) is aan die orde van die dag. Mans leef vir hulle werk en sake (8:5); vrouens vir plesier (4:1).

Godsdienstig: Dis ‘n tyd van religieuse hoogbloei. Die godsdienssentra, Betel en Gilgal (4:4; 5:5), dreun van die mense. Maar nie net word Jahweh gedien nie  –  ook gedy die kallerdiens en die Baäldiens. Hulle godsdiens is vol sinkretisme. Dis waarop v.2 subtiel sinspeel, as gesê word dat die Here uit Sion brul en Sy stem uitJerusalem verhef. Die komende oordeel kom nie maar van enige God in die algemeen nie, dit kom van díé God wat in Jerusalem en sy tempel woon  –  die God wat Homself aan hulle vadere geopenbaar het.

Die altare is hoog gelaai. Die geldtrommels loop oor. Die aanbidding is aandoenlik. En moenie dink dat die aanbidders kom omdat hulle gedwing word nie; hulle kom omdat hulle wil en dit geniet (4:5).

Die priester Amasia is toegewyd  –  en baie waardig. Maar dit gaan net oor tradisie en status. Aan die Woord van God het hy nie veel erg nie.

Die mense verlang selfs na die dag van die Here (5:18). Hulle dink dit sal Israel ver bo die nasies verhef  –  en natuurlik nog meer voorspoed bring. Maar hulle maak ‘n fout. Dit sal ‘n dag van verskriklike oordele wees (5:19-20).

Amos is nie beïndruk met die godsdienstige skyn nie. Hy weet dat godsdiens die opium van die volk kan wees. Dit kan vals sekuriteite bring en mense aan die slaap sus. Godsdiens wat die onreg sanksioneer, is erger as geen godsdiens. Sonder empatie met die armes, is alles tevergeefs.

So word die profeet ‘n protesterende stem wat God se aanstoot aan Israel verwoord. Die Here haat en verafsku hulle religieuse feestye. Hy wil hulle offers en lof nie hê nie (5:21-24). Dis oneg. Hulle stel net belang in wat hulle uit Hom kan kry. Die refrein in hoofstuk 4 sê dit alles: “tog het julle julle nie tot My bekeer nie” (5 maal in 4:6-11).

Wat wil God dan hê? Nog ‘n refrein verwoord dit: “Soek My, dan sal julle lewe” (5:4, 6, 14, OAV). Oor die Gewer moet dit gaan, nie oor Sy gawes nie  –  en gepaard met reg en geregtigheid (5:24).

Wat ons geïnspireerde profeet betref, is daar vir Israel maar één hoop: diepgrondige, ootmoedige en opregte bekering. Terug na die God van hul vaders!

DIS ‘N BOODSKAP VAN OORDEEL

Soos ‘n leeu, brul die Here in Sy toorn (3:8). God se oordele sal die weivelde van Karmel laat verdor. Dit is die mooiste en vrugbaarste deel van Israel  –  en die laaste om deur droogte beïnvloed te word. Gaan dit daar sleg, is die res van die land in ‘n haglike toestand!

Inderdaad sou die oordele kom  –  skielik en vernietigend. Jerobeam sterf vreedsaam in 746 na ‘n suksesvolle regering van vier dekades. Hy laat die volk goed en welvarend agter. Maar dis die begin van die einde. Binne 25 jaar sou alles verby wees. In hierdie kort tydjie sit 6 verskillende konings op die troon, die een meer korrup as die ander. En toe kom die Assiriërs. Samaria val in 722 en 27000 Israeliete word weggevoer na Bo-Mesopotamië  –  vanwaar hulle nooit sou terugkeer nie.

ENKELE PUNTE VAN TOEPASSING

Die Britse historikus, Arnold Toynbee (1889-1975), toon in sy 12 volumes, Study of History, hoe nasies en beskawings kom en gaan. Hy sê daar was 21 sulke beskawings deur die 6000 jaar van gedokumenteerde geskiedenis. Hulle het almal reëlmatig verrys en verval. En elke keer was welvaart, en die dekadensie wat dit soos klokslag bring, die begin van die einde.

Wat sê dit van die westerse beskawing? Wat sê dit spesifiek van die Afrikaners? Vir ‘n halfeeu was ons op die kruin. Toe draai die wiel. Wat sê dit van ons materialisme en hebsug? Wat sê dit van ons formalistiese godsdiens? Wat sê dit van ons huidige morele neusduik? Wat sê dit van die diaspora wat ons jongmense oor die wêreld versprei?

Ook vir ons is daar maar één oplossing: ons moet terugkeer na die Woord van God, en veral na die God van die Woord.

Hier is ons aan die hart van die kerk se roeping. Mag die Here ook híérdie gemeente gebruik om ‘n profetiese stem in ons dag en volk te wees!

Laat ons nooit vergeet nie: daar is maar één God  –  die Verbondsgod van ou Israel, die God van Sion en van Jerusalem. Dit is Hý wat Homself in Sy Seun, Jesus Christus geopenbaar het. En hierdie openbaring is vir ons in die Bybel opgeteken.

Dit is so dat ware godsdiens altyd gepaard gaan met reg en geregtigheid  –  uitgeleef en bevorder. Maar nooit mag ons vergeet nie dat dit in die heel eerste instansie oor die Here self gaan. Moralisme is op sigself nie goed genoeg nie. Leersuiwerheid alleen slaag nie die toets nie. Formalisme behaag die Here allermins. Sonder ‘n liefdesverknogtheid aan Jesus Christus en Sy Vader in die hemel, ontaard hierdie dinge spoedig in filantropiese of intellektuele of religieuse fariseïsme.

SLOT

Bid jy gereeld vir die kerk in ons land? En nog belangriker: bid jy gereeld vir jou eie gemeente? Laat die boodskap van Amos  –  waarna ons in die komende weke in diepte wil kyk  –  ons hierin lei.

Laat ons onsself weer en weer op die skaalbakke van God se standaarde plaas. En laat ons gedissiplineerd bid dat ons die ware, lewende God sal ken en dien, dat ons Hom enkelhartig sal liefhê, en dat Hy van ons ‘n profetiese lig sal maak.

Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00