Jesaja 53:3

Die Knegliedere van Jesaja -in besonder hierdie een -is ‘n akkurate profetiese biografie van die Here Jesus se lewe en bediening. Enige biografie is op sigself ‘n enorme stuk werk en as sodanig iets besonders. Maar wat híérdie biografie geheel-en-al uniek maak in die wêreld van lewensbeskrywings, is die feit dat dit 700 jaar vóór die betrokke lewe geskryf is!

   Elke vers in hierdie lied kan dien as ‘n teks vir die wonderlikste Christusprediking. Want sonder enige twyfel slaan die profesie op die Here Jesus Christus, en inderdaad is dit tot in die fynste besonderhede in Sy lewe vervul. Kom ons kyk nou na ‘n enkele gedagte oor die Kneg: “Hy was … ‘n man van lyding wat pyn geken het …” (53:3).

WAAROM WAS HY ‘N MAN VAN SMARTE?

In hierdie wêreld was Hy ‘n vreemdeling.

   Laat ons onthou dat Hy vóór Sy menswording vir alle ewigheid in volmaakte saligheid en gemeenskap as deel van die Drie-enigheid geleef het. In hierdie wêreld, hoewel volkome mens, was Hy egter ‘n vreemdeling. Niemand -selfs nie Sy moeder -het Hom werklik verstaan nie. Dwarsdeur Sy lewe het mense Hom verkeerd gelees en Sy gerigthede probeer dwarsboom. En uiteindelik het bykans almal Hom die rug gekeer om nie van hulle verraad en haat te praat nie. Inderdaad is Hy “verag en deur die mense. So gebeur dit met vreemdelinge.

Sy besorgdheid oor Sy naaste.

Hoeveel maal sê die evangelies nie van Hom dat Hy innig jammer gevoel het vir die mense nie? Die Griekse woord wat meestal hiervoor gebruik word, dui op pyn in jou innerlike mens.

   Hierdie simpatie hang natuurlik saam met ‘n mens se liefde vir die betrokke lydende persoon. Hoe meer jy liefhet, hoe sterker beleef jy dit. Iemand sonder liefde kan kniediep deur smarte waad, sonder om iets te voel. ‘n Liefdelose het ‘n intense belewing van sy eie smarte, maar vir ‘n ander voel hy niks nie. Maar ware liefde het hierdie karaktertrek dat dit die mens wat jy liefhet een maak met jou, sodat sy smarte joune word. Sy pyn verduur jy; sy laste maak jou moeg.

   Jesus het volkome liefgehad! Daarom het Hy nie net jammer gekry nie. Nee, Hy het die ellendiges se pyn soos Sy eie verduur.

Sy voortdurende kontak met sonde.

Meeste van ons het al beleef hoe ontuis mens kan voel tussen ‘n klomp mense wat in hulle lewenswaardes en behepthede radikaal van jou verskil. Kultuurskok kan mens letterlik siek maak. Van die ver van volmaakte Lot lees ons dat die sonde van Sodom dag vir dag ‘n foltering was vir sy opregte gemoed (2Pet 2:8).

   Hoe ontuis moes die Volkome Heilige dus nie gevoel het in ‘n wêreld wat van die oggend tot die aand deurdrenk van sonde is nie?

Die dieptepunt van Getsemane en Golgota.

   Die sterkste woorde in die Griekse taal word gebruik om te probeer beskryf waardeur ons Verlosser in Getsemane gegaan het. Só erg was Sy doodsangs dat Lukas skryf: “Sy sweet het soos bloeddruppels geword” (22:44).

   En wie kan begin verstaan wat Hy op verduur het, toe God se toorn op Hom in gebrandglas het -omdat “hy die sondes van baie op hom geneem het …”? Jesaja sê Hy is “… deur God geslaan en gepynig …” (4). En dalk erger as enigiets: “Dit was die wil van die Here om hom te verbrysel, om hom die pyn te laat ly” (10). Wat kan seerder wees as wanneer die een wat jy die liefste het, jou nie net verwerp nie, maar inderdaad ‘n behae het in jou foltering?

WAAROM MÓÉS HY SMARTE VERDUUR?

Hy móés ‘n Man van smarte wees, omdat Hy ons Hoëpriester geword het en altyd sal bly.Wat is ‘n priester se taak? Hy is ‘n tussenganger tussen God en mense. Hy staan in hulle plek en tree vir hulle by Hom in. Hy offer namens hulle ten einde versoening tussen die Allerheiligste en sondaars te bewerkstellig.

Vandat Hy na die hemel opgevaar het, is ons Hoëpriester voortdurend besig om vir ons by die Vader in te tree (Heb 7:25; 9:24). Dis een rede waarom Hy hier op aarde intiem met ons geidentifiseer het -Hy moes aan eie lyf ervaar waardeur ons gaan. Want in hierdie gevalle wêreld is selfs God se kinders nooit sonder smarte nie -trouens, die meeste van hulle het baie daarvan. Hoe sou Hy dan ons Hoë Priester kon wees en met ons swakhede medelye hê, as Hy nie in alle opsigte versoek is net soos ons nie? (Heb 4:15).

Maar dan, natuurlik, hoewel die Here dwarsdeur Sy lewe gely het, was Hy by uitnemendheid ons Hoëpriester toe Hy Homself op Golgota in ons plek geoffer het. Daar was Hy ons strafdraende Plaasvervanger. Die straf wat óns vir ewig toegekom het, het Hy daar in ons plek verduur. Dis éíntlik waarvoor Hy na hierdie wêreld toe gekom het. Dis waarom Hy onvermydelik ‘n Man van smarte móés wees.

   Laat ons dit nooit vergeet nie: sonder hierdie passiewe gehoorsaamheid van die Here -toe Hy ons sondeskuld op Hom geneem het -was ons steeds hopeloos en uitsigloos in ons sonde.

SY GESINDHEID IN SY SMARTE

As ons hieroor besin, laat ons onthou dat ons geroep word om te lewe soos Hy geleef het. Sý lewenshouding moet ook ons s’n wees.

Dis betekenisvol dat die Here selde oor Sy smarte gepraat het. Ja, dit word dikwels beskryf, maar gekla daaroor, het Hy nooit nie.

Baie betekenisvol is dit ook om raak te sien dat die Here nie toegelaat het dat Sy smarte Sy lewensvreugde steel nie. Hy het nooit ‘n terneergedrukte lewenshouding gehad nie. Hý het nooit gesê dat die lewe ‘n tranedal is nie. Allermins was Hy ‘n morbiede mens.

   Presies dieselfde gesindheid kry ons by Paulus. Ja, hy het baie gely. En, ja, hy het ‘n ernstige lewensingesteldheid gehad. Maar tog kan hy skryf: “In al ons sorge is ek vol moed en oorstelp van blydskap” (2Kor 7:4). Waarlik, hy was ‘n apostel van hoop, verwagting en blydskap.

   Nooit kry ons by die Here ‘n ongeduldige versugting om van Sy lyding en smarte ontslae te raak nie. As Hy benoud is oor die kruisiging wat voorlê, gaan Hy voort: “… wat moet Ek sê? Moet Ek sê: Vader, red My uit hierdie uur? Maar juis hiervoor het Ek gekom, vir hierdie uur. Vader, verheerlik u Naam!” (Jhn 12:27-28).

   Selfs in Getsemane, as Hy in gebed wonder of Hy nie dalk verlos kan word van die lydensbeker nie, sluit Hy Sy gebed af, “Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil” (Mat 26:39).

Soos die Here se smarte vermeerder het, so het Sy gebed toegeneem. In Luk 22:44lees ons dat Hy in Getsemane, soos Hy “in doodsangs” geraak het, steeds “ernstiger” gebid het. Sy smarte was die voedingsbron van Sy gebedslewe.

Dit het alle gelowiges deur die eeue geken.

Nooit het die Here se smarte Hom daarvan weerhou om lief te hê, Sy taak te verrig en Sy roeping te vervul nie. Dink maar aan Sy ure van grootste nood: Hy genees Malgus se oor, vertroos die vroue wat oor Hom huil, gee aandag aan Sy moeder se toekomstige versorging, en lei die misdadiger die ewige lewe binne.

ONS DEELHÊ AAN SY LYDING

Jesus Christus se triomf tydens en na Sy smarte het nie die wetmatigheid opgehef nie, maar veeleerder bevestig, dat die sondegevallenheid van die wêreld deur lyding heen genees moet word. Die wonderlike krag van lyding -so aangrypend gedemonstreer in die Here se lewe -het Hy volledig aan Sy kerk bemaak.

Ja, Sy smartlike versoeningswerk vir ons sonde kon net Hý bewerkstellig. En niks, maar niks hoef en mag daarby gevoeg word nie.

   Maar as dit kom by die inbring van die oes vanuit die nasies, werk die Here middellik -deur Sy dissipels. En deur die eeue het dit met onbeskryflik baie lyding gepaard gegaan. Hier het ons nie bloot ‘n noodwendige gevolg van moeilike omstandighede en groot uitdagings nie. Vir die apostels was hier ‘n diep beginsel ter sprake, naamlik die grootse voorreg van deelname aan die lyding van Christus ter wille van die uitverkorenes (Fil 3:10; Kol 1:24; 2Tim 2:10; 1Pet 4:12-13).

   Laat ons dus ons lyding en ontberinge in ons navolging van die Here Jesus nie te eng sien nie. Ja, ons swaarkry mag die tugtinge van ons hemelse Vader wees, maar as ons daarby as verduideliking vassteek, gaan ons weldra moedeloos raak en begin murmureer. Ja, swaarkry is sekerlik een van die maniere waarop ons van sonde gesuiwer word, maar as ons bloot só daaroor dink, sit dit maklik om in ‘n valse trots.

   Nee, dikwels is ons swaarkry niks anders nie as ons gemeenskap aan die lyding van Christus. Dis wanneer Hy jou omhels en só een maak met Hom dat die heil van Sý smartlike offer deur jou vloei na die ellendiges van hierdie wêreld toe. Meermale is gelowiges se pynkrete lofsange wat díé van die engele in die skadu stel.

   Hierdie voorreg word egter nie gegee aan diegene wat God bloot na goeddunke en volgens eie begeerte dien nie, maar aan hulle wat Christus met alles in hulle gehoorsaam en “nooit roem nie, behalwe in die kruis van ons Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld” (Gal 6:14).

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00