Lukas 13:1-5

Mense is geneig om genade as vanselfsprekend te aanvaar. Dis omdat hulle dink dat God eintlik vergiffenis en guns aan die mens verskuldig is. Hulle reken die mens is nie regtig só strafwaardig nie. Ja, niemand is volmaak nie, maar enige ouer aanvaar dat sy kinders sekere blindekolle en ondeundhede het. Dis tog normaal!

Maar in Luk 13 gebruik Jesus twee tragedies om hierdie saak in die regte perspektief te stel.

NIEMAND IS ONSKULDIG NIE

Soos vandag het daar ook destyds allerlei skokkende rampe plaasgevind. Ook tóé het mense gevra hoe God dit dan kan toelaat -as Hy dan ‘n goeie, liefdevolle en soewereine God is?Terwyl mense in Gallilea geoffer het, het Pilatus hulle laat vermoor -goeie, godsdienstige mense wat nie ‘n vlieg sou skade aandoen nie. En terwyl mense heel onskuldig in die straat afgestap het, het die toring van Siloam ineen getuimel, en agtien is dood. Waarskynlik was dit ordentlike, gewone mense wat van die winkel af gekom het. Hulle het niemand gemolesteer of ‘n bank beroof nie. Só ‘n dood het hulle allermins verdien. Heel moontlik was daar nog onskuldige kinders ook onder hulle.

   Waar was ‘n God van liefde in hierdie tragedies? Dis die vraag waarmee die mense Jesus heel waarskynlik konfronteer.

Let eerstens op wat Jesus níé sê nie.

Hy het nie ‘n filosofiese benadering nie. Hy trek nie Sy skouers op, en sê hulle was op die verkeerde tyd op die verkeerde plek nie. Hy sê nie Hy is vreeslik jammer om dit te hoor, maar dat die soort van ding maar gebeur in die lewe nie.

   Ook maak Jesus nie jakkalsdraaie nie. Ewe min poog Hy om Sy Vader se kastaiings uit die vuur te krap. “Ek weet Ek leer julle van die mossies en die hare wat nie op die grond val sonder God se wil nie. Maar julle moenie alles so letterlik opneem nie.”

  Nee, die Here Jesus kom met ‘n onverwagse, trouens, skokkende respons: As julle jul nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom. En om dit by Sy hoorders tuis te bring, herhaal Hy die stelling (3, 5).

Wat die Here vir Sy omstaanders sê, is dat hulle die verkeerde vrae vra. Eintlik moet hulle vra:

“Waarom het die toring nie op mý kop geval nie?”

  Een van die mens se mees tartende sondes is die mentaliteit: “Ek is onskuldig! Nou ja, ek is nie ‘n engeltjie nie. ‘n Mens bly mos maar ‘n mens. Maar ek weet vir seker dat ‘n God van liefde my nie sal kwaad aandoen nie -nie mý God nie!”

Wat die Here wil tuisbring, is dat alle mense in Adam onder God se toorn verkeer-selfs die mees ordentlikes. En hulle is die dood skuldig. Daar is geen uitsondering nie. En dis nie bloot ‘n Ou Testamentiese perspektief nie. Dis deur en deur ‘n Nuwe Testamentiese beklemtoning (Rom 5:12-21)

DIE ERGSTE UITGIETING VAN GOD SE TOORN

Laas keer is reeds daarop gewys dat die uitstorting van God se toorn in die Openbaringboek selfs die mees skokkende flits van Sy oordeel in die Ou Testament na ‘n Sondagskoolpiekniek laat lyk.Maar in die Nuwe Testament lees ons van ‘n nóg erger uitstorting van God se toorn -baie, baie erger! Ek praat van Golgota!

   Wat het aan die kruis gebeur? Die sondeskuld van miljoene mense is op die één Mens gelaai wat deur die eeue werklik onskuldig was. Dáár het die ewige verdoemenis van ontelbaar baie mense gekonsentreerd op Hom in gebrandglas. Ja, Sy fisiese lyding was onbeskryflik erg. Maar derduisende ander het dit ook verduur. Dis Sy geestelike lyding -die ewige helse smarte, vermenigvuldig met dermiljoene! -waaroor dit eintlik gegaan het. Immers het Hy daar Sy Vader se regverdige toorn oor die sondes van een en elke uitverkorene volkome verduur. Onthou, geen sondebly ongestraf nie. Óf dit word aan die sondaar self gestraf -en ewige smarte in die hel is nie genoeg om dit af te handel nie -óf dit word aan Christus gestraf.

Indien daar ooit ‘n man was wat kon kla oor die behandeling wat hy van God gekry het, was dit sekerlik Jesus van Nasaret. Hy was immers volkome onskuldig.

   As jou sentimentele siel aanstoot neem aan God se toorn in die Ou Testament, moet Golgota vir jou afstootlik wees! As jy gril vir Sodom en Gemorra, moet Golgota jou blind van woede maak! Of hoe?

   Inderdaad sou God Sy Seun onregverdig behandel het, as Jesus nie vrywillig ons oordeel op Homself geneem het nie. Maar gedring deur Sy liefde vir Sy Vader en Sy liefde vir diegene wat die Vader aan Hom toevertrou het, het Hy met ‘n hart van volkome oorgawe onder ons sondeskuld ingeklim (Jhn 10:11, 15, 17, 18; Efe 5:2; Fil 2:6-8).

Só het Hy sonde vir ons geword; só het Hy sonde voor God geword. En die toorn van God het genadeloos -golf na woedende golf -met meedoënlose intensiteit oor Hom gespoel.

   Golgota was ten diepste die Vader se inisiatief. Dis Hý wat Sy Seun daar “gegee” het (Rom 3:25). Letterlik sê die betrokke werkwoord dat die Vader Sy Seun op Golgota voor Homself neergesit het.

   Hoe aangrypend voorsien Jesaja dit nie! “… ons het hom beskou as een wat gestraf word, wat deur God geslaan en gepynig word. Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom … Dit was die wil van die Here om hom te verbrysel, om hom die pyn te laat ly.” (53:4-5, 10).

   Waarlik, die geregtigheid van God het vereis dat nie ligtelik met sonde gewerk word nie!

DIE KROON VAN GOD SE GENADE

Op Golgota sien ons nie net God se toorn in aksie teen menslike sonde nie; ons sien ook die helderste uitdrukking van Sy genade. Ons sien Sy geregtigheid en Sy guns, Sy toorn en Sy liefde, in die mees intieme omhelsing. Want ons kanverseker weet: elke kriesel skuld van elke uitverkorene deur alle eeue is volkome daar betaal! Sal ons tot in ewigheid ophou om verwonderd hieroor te staan? Vir diegene wat vir lewe en dood, vir tyd en ewigheid, deur ‘n opregte geloof waarlik in Hom skuil, het Jesus Christus God se toorn teen ál hulle sondes eens en vir altyd gedra!

GOD SE GENADE RED NIE NET NIE; DIT DAM OOK SY TOORN VIR ‘N TYD LANK OP

Laat ons baie goed verstaan: nie ‘n enkele van God se attribute is uit pas met enige van Sy ander attribute nie. Daarom bestaan daar geen twyfel nie dat God se genade nooit Sy toorn ophef nie. Uiters dam dit dit vir ‘n tyd lank op.

   Maar soos enige dam net sóveel kan vat voor dit breek, gaan ook God se genadetyd verby. Die dag kom onafwendbaar dat Sy toorn op ‘n ongeëwenaarde wyse oor die bewoners van hierdie wêreld sal spoel. Die vuur en swael oor Sodom en Gemorra sal soos ‘n kersliggie daarmee vergelyk.

   Só word dit in die Openbaringboek beskryf: “In daardie tyd sal die mense die dood soek en dit nie vind nie; hulle sal verlang om te sterwe, maar die dood sal hulle ontwyk” (9:6). Al die mense ” … het in die grotte en onder die kranse … weggekruip. Hulle het vir die berge en die kranse gesê: Val op ons en bedek ons vir die oë van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam. Die groot dag waarop Hulle die oordeel sal voltrek, het aangebreek, en wie sal staande kan bly?” (6:15-17).

   Soos witwarm lawa sal God se toorn elke grot en skeur onkeerbaar binnespoel. En elkeen wat volhardend in ongeloof, in sonde, in rebellie geleef het, sal verswelg word. Maar niemand sal sterf en so die oordeel ontkom nie. Trouens, tot in ewigheid sal dit die grootste enkele versugting wees, om tog te kan sterf -maar tevergeefs.

Is dit nie te sterk gestel nie? Is dit nie naiewe bangmaak-stories nie?

   Laat ek dit antwoord met ‘n teenvraag. Leer God se Woord dit, ja of nee? Die Bybel is mos daar vir een en elkeen van ons om te lees, nie waar nie.

   My taak is nie om julle met wensdenkery te streel nie; my taak is om die Woord van God te verkondig -getrou, sonder om by te voeg, sonder om weg te neem.

Sal daar wel iemand vrykom? Ja, ja! Baie!

Wie is hulle? Diegene wat in die voorbrand skuil -daar waar God se toorn reeds vantevore gebrand het. En waar is dit? Golgota, Golgota!

   Diegene wat in die tyd van genade in Christus ingevlug het, sal op daardie dag -en tot in ewigheid -veilig en beskerm en onbedreig wees. Onomkeerbaargeborg! Welgeluksalig vergenoegd! Knus in die Here se omhelsing!

HOE VLUG EK IN CHRISTUS IN?

Die Nuwe Testament het net één antwoord: deur die geloof in Christus alleen! Christus, Christus, Christus! Hy en Hy alleen! Vertrou Hom. Nael jou oë op Hom vas. Werp jou met alles wat jy is en het op Hom. Jy moet Hom en Sy verdienste toe-eien; jy moet jouself aan Hom toevertrou; jy moet jouself aan Hom toewy.

Jy sê jou geloof is te swak. Die Here beloof Hy sal die geknakte riet nie breek nie, die rokende lamppit nie uitblus nie (Mat 12:20). Sy beloftes word nie aan sterk geloof gegee nie, maar aan egte geloof. Trouens, die krag van ware geloof lê juis in sy swakheid, sy afhanklikheid, sy bankrotskap!

Wat moet mens dan doen om gered te word?

   Allereers moet ons saamstem. Stem jy saam dat jy ‘n sondaar is wat hoegenaamd nie aan God se standaarde kan voldoen nie. Stem jy saam dat jou beste godsdienstige en morele pogings jou nooit vir God aanvaarbaar kan maak nie? Stem jy saam dat Christus jou enigste hoop is? Stem jy saam dat die Bybel ‘n oop en ongekwalifiseerde uitnodiging rig aan elke sondaar om hom of haar met God te laat versoen? Stem jy saam dat jy nie maar op jou hande kan sit en wag dat iets gebeur nie -dat jy dus iets moet doen? Stem jy saam dat jy ‘n kwaliteitsbesluit sal moet neem? Stem jy saam dat die Here alle sondaars oproep om hulle te bekeer en die evangelie te glo? Stem jy saam dis huigelagtig om te sê jy vertrou Christus as Verlosser, terwyl jy Hom nie as Koning dien nie? Stem jy dus saam dat integriteit van jou sal vereis om jouself lewenslank aan Christus se regering te onderwerp? Stem jy saam dat niemand die vermoë het om hierdie dinge te glo, te doen en te bly uitleef, as die Here hom nie help nie? Stem jy dus saam dat elke tree vorentoe in biddende afhanklikheid van die Heilige Gees se werk gegee sal moet word?

Hier is dan nou die wonderlikste van alle uitnodigings -die Bybel se vyfde laaste vers: “Die Gees en die bruid sê: ‘Kom!’ En elkeen wat dit hoor, moet sê: ‘Kom!’ En elkeen wat dors het, moet kom; elkeen wat die water van die lewe wil hê, moet dit kom kry, verniet!” (Opg 22:17).

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00