Hebreërs 2:14-15

Doodsvrees is ‘n universele ervaring. Job noem dit die koning van die verskrikkinge (18:14, OAV). Net die gedagte daaraan bring ons tot stilstand. Kry ons nuus van ‘n bekende se afsterwe, is ons geskok. Praat daaroor in ‘n geselskap, en mense raak uiters ongemaklik.

   Meermale praat die Bybel oor die vooruitsig van die dood as sy skaduwee. En inderdaad is dit ‘n donkerte wat ons almal moet in -binnekort (tensy, die wederkoms in ons leeftyd plaasvind). Wat wag aan die anderkant?

   Wat die dood betref, volg meeste mense ‘n volstruistaktiek. Hulle dink nie daaroor nie; hulle praat nie daaroor nie; en as hulle kán, vermy hulle begrafnisse. Maar, natuurlik, dit verander geensins aan die komende realiteit nie.

   Daar is egter ook diegene wat nuuskierig oor die dood is, selfs behep daarmee. Elkeen van hulle het dan ‘n eie filosofie daaroor. En dikwels is dit gebou op sogenaamde “wetenskaplike navorsing” – wat dan niks anders blyk te wees nie as die getuienisse in die sensasiepers van diegene wat sogenaamd teruggekom het.

   Die feit is eenvoudig: niemand het nog ooit terug gekom nie. Sekerlik is daar diegene wat teruggekeer het uit ‘n skyndood. Maar as die elektro-chemiese prosesse in die brein eers opgehou het (so ongeveer 20 minute nadat die hart ophou klop het, verneem ek) kom niemand ooit terug nie.

   Wat wil ek sê? As ons wil weet wat ná die dood met ons gaan gebeur, is ons volkome afhanklik van God se openbaring in Sy Woord!

DIE AARD VAN DIE DOOD

Ons praat van ‘n “natuurlike dood” en ‘n “onnatuurlike dood”. Goed en wel, maar volgens die Skrif is alle menslike dood onnatuurlik! God het die mens geskape om te lewe, nie om te sterf nie. Tog is die dood ‘n universele verskynsel. Dis die gevolg van sonde. Die dood is die loon van die sonde -en totdat die sonde en sy gevolge iets van die verlede is, sal die dood helaas met ons wees.

Die dood is die beëindiging van die eenheid tussen liggaam en gees. Dis “die tyd wanneer die stof na die aarde toe terugkeer soos dit was, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het” (Pre 12:7). Volgens Gen 2:7 het God die mens gevorm van die stof van die aarde, en toe die asem van die lewe in hom ingeblaas – en so het die mens ‘n lewende wese geword. Dit is híérdie skeppingsdaad wat deur die dood ongedaan gemaak word. As sodanig is dit hoogs onnatuurlik en vreesaanjaends

DIE TUSSENTOESTAND

Die dood is nie bestaansbeëindiging nie. Ewe min is dit die einde van ‘n persoonlike en bewustelike lewe.

Ons noem die bestaan tussen die fisieke dood en die opstanding van die liggaam wanneer die Here Jesus terugkeer, die tussentoestand. Die Skrif sê bloedweinig daaroor. Die apostels het as ‘t ware dwarsdeur hierdie toestand gekyk en hulle oë op die opstanding vasgenael -wanneer diegene in Christus se verlossing tot vervolmaking sal kom. Maar ons kan wel drie stellings met dogmatiese stelligheid oor die tussentoestand maak:

Diegene wat deur ‘n ware geloof met Christus verenig is, gaan onmiddellik ná die dood na Hom toe. Waarheen hulle gaan, noem die Bybel die “paradys” (Luk 23:43) en die “hemel” (2Kor 5:1,2).

Gelowiges en ongelowiges het nie dieselfde bestemming nie. Gelowiges gaan na ‘n plek van saligheid, en ongelowiges na ‘n plek van ellende.

Die tussentoestand is ‘n voorlopige interim fase totdat die liggaam en die gees weer verenig word, en ons verlossing finaal afgerond word as die Here Jesus terugkom.

OPSTANDING EN OORDEEL

Beide regverdiges en onregverdiges sal opstaan. “Want daar kom ’n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling” (Jhn 5:28-29; vgl ook Han 24:14-15).

Die opstanding van die regverdiges word aangrypend beskryf in 1Tes 4:13-18. Die apostel skryf dit sodat ons nie onkundig daaroor sal wees en soos die heidene treur as een van ons geliefdes in Christus heengaan nie.

Wat die opstanding van die onregverdiges betref, skets die Woord van God vir ons ‘n skrikwekkende prentjie. Dink jy na oor die uitdrukkings wat die Woord van God gebruik vir die straf waaraan hierdie mense vir ewig onderworpe sal wees, besef jy dat dit voorwaar verskriklik is “om in die hande van die lewende God te val” (Heb 10:31). Vir diesulkes sou dit beter gewees het verreweg beter -as hulle ongebore gebly het.

Grimmigheid en toorn; lyding en benoudheid (Rom 2:8-9).

‘n Gehuil en gekners van tande (Mat 22:13).

‘n Ewige verdoemenis (2Tes 1:9).

‘n Brandende oond (Mat 13:42).

Die ewige straf (Mat 25:46).

Die poel van vuur en swael; pyniging tot in ewigheid (Opg 20:10, 15).

Laat ek dus met al die dringendheid waaroor ek beskik, vir diegene sê wat nog nie met beslistheid in Christus ingevlug het nie: Onthou, niks is so seker soos die feit van die dood nie; en niks is so onseker as wanneer dit gaan gebeur nie.

HIERDIE LEWE EN DIE EWIGHEID

Die gevalle en ongelowige mens sien die dood as die einde van alles. Die Woord van God hou dit egter vir ons voor as in ‘n sin die begin van alles as die oorsteek van die drumpel na die ewige lewe. Dan sal ons oes wat ons in hierdie lewe gesaai het. Dan sal ek en jy ‘n duisend maal verintensifeerd hierdie lewe se verhouding (of non-verhouding) met God ervaar. Dan sal ek en jy presies kry wat ons in hierdie lewe gekies het -om vir God te lewe, en Sy Christus en Sy eer; of om vir onsself en die kompensasies van hierdie wêreld te lewe.

Wanneer ek my laaste asem sal uitblaas, sal die laaste geleentheid om te kies, finaal verby wees. En God sal tot in ewigheid my keuse respekteer. Al is dit bloot ‘n vlietende moment in vergelyking met die ewigheid, bepaal hierdie lewe my ewige bestemming en my ewige staat!

Ons lewe dus in ‘n bedeling van keuses -en die opsies is steeds oop. Het jy al vir Christus gekies? Ek praat nie van ‘n impulsiewe en oppervlakkige gebedjie of ‘n vyf minute formuletjie nie. Ek praat van ‘n kwaliteitsbesluit – een wat die res van jou lewe radikaal en ingrypend sal bepaal.

Anders gestel: is jy gereed om God te ontmoet?

OORWINNING OOR DIE VREES VIR DIE DOOD

Die Hebreërskrywer sê dat Jesus Christus mense bevry van die vrees vir die dood. Dit is dan ook die ervaring van dermiljoene deur die eeue. Dit gebeur wanneer die Heilige Gees die evangeliewaarheid lewend maak in jou hart. Dit gebeur wanneer jy vernuwe word in jou denke. En soos jy dit dan meer en meer in geloof omhels, word jy stadig, maar seker, uit die moeras van vrees gelig.

Op watter gronde verloor ‘n ware Christen sy of haar vrees vir die dood?

Eerstens het Jesus Christus die dood gestroop van sy intimiderende bedreiging.

Die vrees wat die dood inboesem, berus tot ‘n groot mate op die onsekerheid wat dit inhou. Maar waarheid maak vry. Diegene wat in Christus is, ervaar die innerlike getuienis van die Gees dat die evangeliewoord betroubaar is, naamlik dat God se kinders nie ‘n onbekende duisternis binnegaan nie, maar dat hulle na die Vaderhuis toe gaan.

Tweedens het Christus die dood gestroop van sy regsaanspraak op my persoon en lewe.

Ek het in alle opregtheid Sy verdienste in afhanklike geloofsvertroue omhels. En ek het die versekering van Sy algeheel betroubare Woord dat ek geregverdig is, asook die innerlike getuienis van die Gees wat in my roep “Abba, Vader!”

Derdens het Christus die dood gestroop van sy krag om my gevange te hou.

Met Sy opstanding het Hy beslag gelê op die sleutels van die dood en die doderyk. In Sý opstanding sit die waarborg van die opstanding van húlle wat deur ‘n ware geloof met Hom verenig is. Tot so ‘n mate is dit waar dat die Skrif sê dat ek reeds saam met Hom opgestaan het (Efe 2:4-6).

Vierdens het Jesus Christus die dood gestroop van sy roem.

Ja, ons ervaar steeds ‘n diep hartseer as ‘n geliefde tot sterwe kom. Maar ons weet dat ‘n ware Christen se uitgang uit die graf oneindig heerliker is as die ingang daarin. Nie alleen kan die dood my nie vashou nie, dit kan ook nie regkry om my in my huidige gebroke staat te hou nie.

SLOT

Lorraine Boettner gebruik in sy troosryke boek, Immortality, hierdie treffende illustrasie (p.29-30):

  Ek staan op ‘n strand. Hier naby my hys ‘n pragtige skip sy seile. Dan vaar hy uit na die diepsee. Sy boeg breek golf na golf. So staan ek hom en dophou totdat hy naderhand op die horison soos ‘n wit stippeltjie tussen die donkerblou see en die ligblou hemel hang. Dan sê iemand hier langs my: “Hy’s weg, hy’s weg!”

  Weg? Nee, hy het bloot uit my sig verdwyn. Hy is nog net so groot en mooi. Nee, nee, die weggaan en die verdwyning sit in my, nie in hom nie.

  En net as die man langs my klaar gepraat het, roep iemand opgewonde op ‘n verre kus: “Daar kom hy, daar kom hy!” So is dit om te sterf.

Hierdie is ‘n baie gepaste illustrasie. Die woord wat in die Nuwe Testament met “heengaan” vertaal word (Fil 1:23; 2Tes 4:6), beteken letterlik om los te maak. En destyds is dit ook gebruik wanneer ‘n skip van ‘n kaai losgemaak is en sy anker gelig het.

Voorwaar kon Paulus in 1Kor 15:55 namens die Here se dissipels vra: “Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00