Efésiërs 3:14-21

Die Nuwe Testament bevat verskeie apostoliese gebede. Soos die ander, is ook hiérdie een vol kosbare goud, en dis meer as die moeite werd om hierdie myn van Godsopenbaring behoorlik te delf. Dit word dus beoog om die volgende paar weke se prediking hieraan te wy. Kom ons kyk nou eers net na v.14.

‘N TEKSKRITIESE KWESSIE

Vergelyk mens v.14 in verskillende vertalings, sien jy dat hulle verskil. Sommige, soos die OAV, praat van die Vader “van ons Here Jesus Christus.” Meeste vertalings laat die frase egter weg.

   Dit het gewoon te doen met die Griekse grondteks waaruit vertaal is. Die OAV is vertaal uit die Textus Receptus, ‘n Griekse teks van 500 jaar gelede. Sedertdien is geweldig baie opgrawings gedoen, en die talle (veel ouer) manuskripte en fragmente wat gevind is, toon dat die korter weergawe waarskynlik ooreenstem met die oorspronklike teks soos die apostel dit geskryf het. Só aanvaar ons dit, en gee gevolglik geen verdere aandag aan die langer teks nie. In elk geval maak dit bloedweinig verskil aan die betekenis van die vers.

“OM HIERDIE REDE” (OAV)

Ook Efe 3:1 begin presies so. Dáár val die apostel homself egter in die rede. Op sy afdraaipaadjie (3:213) skryf hy dan oor sy roeping en apostelskap. En hier in v.14 kom hy uiteindelik weer terug by dit wat hy aanvanklik in 3:1 wou sê.

Die uitdrukking sê dat Paulus bid op grond van wat hy so pas gesê het – uiteraard iets vóór 3:1. So gesien, word dit duidelik dat hy vir die Efesiërs bid omdat Christus vanuit alle nasies vir Homself ‘n gemeente roep en hulle saam opbou tot ‘n huis waarin God deur Sy Heilige Gees woon (2:11-22). Dis waarom hy as Jood ook vir húlle bid, ‘n gemeente wat hoofsaaklik uit Grieke bestaan.

DIE HÓÉ EN TOT WÍÉ VAN PAULUS SE GEBED

Die apostel sê dat hy sy knieë buig in gebed. Dit bring ons onmiddellik by die kwessie van postuur of liggaamshouding in gebed. Hoe belangrik is dit?

Vir seker kan ons sê, veral op grond van die Nuwe Testamentiese aandrang op aanbidding “in gees en waarheid” (Jhn 4:20-24), dat dit in gebed eerstens oor ‘n mens se hartsgesteldheid gaan. Liggaamshouding is dus nie van primêre belang nie. Mens sou kon staan, sit, lê of kniel. Hiervan is daar dan ook voorbeelde in die Skrif.

Dis egter ook waar dat hartsgesindheid wýs. Dit is uiteraard tot ‘n mate kultuurbepaald, maar in óns samelewing is daar sekere liggaamshoudings wat feitlik vir seker dui op ‘n sekere disrespek. Wat sê ‘n man se hande in sy sakke as hy bid? En as iemand op sy derde rugwerwel lê? Wat van ‘n oopmond kougomkouery?

Dis voorts waar dat jou liggaamshouding soms kan help om jou hartsgesteldheid reg te kry. As ons almal tydens hierdie erediens op ons knieë sou gaan wanneer ons bid, kan ek julle verseker dat talle van ons so aangegryp sal word dat ons beswaarlik die trane sal kan bedwing.

Maar, natuurlik, soiets kan spoedig huigelagtig en afwyserig word.

Uiteindelik is die beginsel dat ons twee uiterstes in ons gebedslewe moet vermy, of dit nou in ons binnekamer is, of in ‘n byeenkoms van gelowiges. Enersyds moet ons voortdurend waak teen formalisme en vertonerigheid. Andersyds skrei alle ligsinnigheid en disrespek ten hemele.

As Paulus sê dat hy “voor” die Vader kniel, gebruik hy ‘n besondere woordjie (Gr. pros). Dis moeilik vertaalbaar, maardie bekendekommentator, R.C.H. Lenski, stel dit só: “… the face-to-face preposition which is used in intimate personal relations.” 1Anchor

Paulus bid tot die “Vader”. Dis betekenisvol.

   Sekerlik mag en moet ons tot die Here Jesus Christus in Sy heerlikheid bid. Daar is dan ook voorbeelde daarvan in die Nuwe Testament. En die Heilige Gees is die derde persoon van die Goddelike Drie-eenheid, hoewel daar beswaarlik ‘n voorbeeld in die Skrif is van gebed tot Hom. Sý hartstog is immers dat Chrístus verheerlik sal word.

   Maar as mens – soos so baie Christene – amper uitsluitlik tot die Here Jesus bid, is daar iets fout in jou verhouding met die Drie-enige God. Nee, die Nuwe Testament leer ons baie duidelik dat ons primêr tot die Vader moet bid – weliswaar op grond van die Seun se verdienste en deur die krag en geloof wat die Heilige Gees gee. Dink maar aan die modelgebed – die Ons Vader. “So moet julle bid,” sê Jesus, “Ons Vader …” (Mat 6:9; vgl ookRom 1:8; 15:5; 13; 1Kor 1:4-7; Efe 1:17; Flm 1:4-6 ).

Die Bybelse openbaring oor God as ons Vader in Christus, is onuitspreeklik heerlik en kosbaar. Die hoogtepunt van die Ou Testament lê daarin dat die lewende God in ‘n verbondsverhouding met nietige en sondige mense tree. Maar in die Nuwe Testament kom daar dan ‘n dramatiese verdere verwikkeling: hierdie lewende God is Sy verbondsvolk se Váder! Ons is nie net Sy volk nie; ons is ook Sy gesin, Sy kinders, Sy erfgename! Waar Hy in die Ou Verbond bykans ontoeganklik was, beveel Hy ons nou om weer en weer in vrymoedigheid deur die geskeurde voorhangsel – wat Hý van bo na onder geskeur het (Mrk 15:38) – die heiligdom te betree (Heb 10:19-22).

In sy bekende en skitterende boek, Knowing God, skryf die vermaarde teoloog, J.I. Packer: “Jy som die lering van die Nuwe Testament in ‘n enkele frase op, as jy sê dis ‘n openbaring van die Vaderskap van die heilige Skepper. Net so som jy die wese van Nuwe Testamentiese godsdiens op, as jy dit beskryf as die kennis van God as jou heilige Vader. As jy wil beoordeel hoe goed iemand die Christelike geloof verstaan, vind dan uit hoeveel hy daarvan maak dat hy God se kind is, en God sy Vader … want alles wat Christus geleer het; alles wat die Nuwe Testament núút maak, en beter as die Oue; alles wat die Christelike geloof onderskei van die Joodse — word saamgevat in die kennis van die Vaderskap van God.” (p.224, 1975 uitgawe).

Só het Martin Luther dit gestel: “As ek maar net régtig kon glo dat God, die Skepper van hemel en aarde, my Vader is – sou ek nooit vergeet het nie dat Christus my broer is, dat alles aan my behoort, en dat engele deur my Vader uitgestuur is om my te dien.”

WAT SÊ DIT VIR ONS?

Die wêreldwye eenheid van Christus se liggaam styg bokant ons kulturele en nasionale identiteite uit.

  Paulus was nooit skaam vir sy Joodsheid nie. En hy het ‘n baie, baie diep hartstog gehad vir die bekering van die Jode (Rom 9:1-5). Maar hy het nooit toegelaat dat dit hom daarvan weerhou om ook die heidene lief te hê nie. Trouens, hy beskou homself in die eerste plek as ‘n apostel vir die heidene. En hoe het hy homself nie afgesloof sodat ook die Grieke en Romeine die evangelie sou hoor nie!

   Wat het agter dit alles gesit? Sonder twyfel sy passie vir die Here Jesus se evangelie, koninkryk en kerk. En hy was van harte oortuig dat Christus se eer ten nouste gekoppel is aan die universele aard en eenheid van Sy gemeente.

   Hoeveel vreugde sou Paulus nie geput het uit vandag se wêreldwye omvang van die Christelike kerk nie? Ja, die kerk in die westerse wêreld is in die moeilikheid – omdat hy oor die afgelope eeu of twee sy ore uitgeleen het vir onbybelse en mensgesentreerde teologie. Maar twee-derdes van die kerk is vandag te vind in die derde wêreld. Honderd miljoen Christene in China! Korea wat net deur Amerika oortref word wat buitelandse sendingwerk betref! Suid-Amerika! Afrika!

Geen omstandighede kan ons daarvan weerhou om met ons gebede die hele wêreld te bereik nie.

  Paulus is ‘n gevangene as hy hier skryf. Hoe graag sou hy nie persoonlik weer die Efesiërs wou besoek en bemoedig nie! Maar sy boeie kan hom nie daarvan weerhou om vir hulle te bid nie. En moenie dink dis ‘n minderwaardige bediening nie!

   Ons idees oor hoe ons die Here en Sy liggaam moet dien, is dikwels te eng. Die van julle wat aan ‘n rolstoel of bed vasgekluister is; die van julle wat dag na dag in ‘n ouetehuiskamertjie sit – besef julle dat julle die ganse aarde, asook die dekades wat kom, met julle gebede kan bestryk? Onthou, nooit slaan die Here Sy kinders se opregte en Skrifgetroue gebede in die wind nie. Weliswaar verhoor Hy dikwels nie dadelik nie – maar elkeen van ons ware gebede is ingeweef in die uitwerk van Sy raadsplan.

Let op hoe belangrik Paulus gebed ag.

  Die apostel volstaan nie met die wonderlike lering wat hy vir die Efesiërs gee nie; hy bid ook vir hulle. En nie net een keer nie. Kyk net sy aangrypende gebed in 1:15vv. Tewens, dáár sê hy dat hy nie ophou om vir hulle te bid nie (1:16).

   Nog meer: hy pleit by die Efesiërs om ook vir hóm te bid. En let op wat versoek hy – hý van alle mense: dat hy die geheimenisse van die evangelie in diepte sal verstaan, en met vrymoedigheid sal verkondig (6:18-20). Vir Paulus was gebed ‘n sleutel!

Laat ons die sensitiewe balans tussen eerbied en vrymoedigheid in ons verhouding met God raaksien – ook in ons gebede.

  Daar is twee afgronde aan weerskante van die smal gebedspad: aan die een kant ‘n terughoudende beskroomdheid, en aan die ander kant ‘n voor-opdie-wa, oneerbiedige en platvloerse vrypostigheid.

   Enersyds bid Paulus tot sy Vader – wat vrymoedigheid impliseer. Andersyds buig hy sy knieë – wat van ‘n diep ontsag praat.

   Ons kry dieselfde balans in die modelgebed: “Ons Vader” … “wat in die hemel is.”

Laat ons dit as ‘n saak van hoogste prioriteit beskou om die Drie-enige God presies te ken soos Hy Homself aan ons geopenbaar het.

  Mag die Here in Sy genade ons daarvan bewaar om vir ons ‘n God volgens ons eie beeld te skep. Daar is ontelbaar baie kerkmense wat effektief skuldig is aan afgodery. Dink byvoorbeeld aan die epidemiese afmetings wat mensgesentreerdheid aanneem – asof die Here daar is om na óns pype te dans.

   Om God te ken, is onteenseglik ons hoogste roeping. Maar dan moet ons nederig en leergierig voor Sy selfopenbaring buig. Vir eiesinnigheid en selektiewe vooroordele is daar geen ruimte nie.

   En laat ons altyd onthou, ons kan God slegs in Christus ken – Sy hoogste en finale selfopenbaring (Jhn 1:1-18; Heb 1:1-3). Maar hieroor volgende keer.

VOETNOTAS

Anchor1. The interpretation of St. Paul’s Epistles to the Galatians, to the Ephesians and to the Philippians, p.490.

Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00