Romeine 1:17

 

Niks in die Bybel is onbelangrik nie. Maar sommige Skrifwaarhede is van sulke wesentlike belang dat dit werklik ‘n vraag is of jy hoegenaamd ‘n Christen is as dit nie aan die hart van jou alleroortuigings lê nie.

Gevolglik vind ek dit baie ontstellend as ek regdeur ons land by goeie en getroue kerkmense kom en agter kom dat sovele van hulle geen snars van talle van hierdie waarhede begryp nie.

Daarom wil ek nogeens vandag met julle praat oor ‘n evangeliewaarheid wat nie net aan die hart lê van ons allerheiligste geloof nie, maar wat ook ‘n bron van onuitputlike troos is vir elkeen wat vir lewe en dood in Jesus Christus skuil. Ons het al dikwels hieroor besin, en vir meeste van julle gaan ek niks nuut sê nie – maar ek sidder by die gedagte dat ek eendag, as ek voor die Here moet verantwoording doen, dalk die verwyt uit Sy mond mag hoor dat ek nagelaat het om dit oor en oor op julle harte te druk.

Ek praat van regverdiging deur die geloof alleen. Dis ‘n waarheid waarvan Luther gesê het dat die kerk daarby staan of val. En inderdaad is daar beswaarlik ‘n meer betroubare lakmoestoets om die egtheid van ‘n gemeente vas te stel, al dan nie.

Meer nog: ek weet nie van ‘n waarheid wat méér ingrypende en praktiese effekte op ‘n mens se lewe het, as hierdie nie. Daarom, maak seker jy verstaan dit, omhels dit in die geloof, oordink dit weer en weer, en rig jou lewe daarvolgens in.

DIE GEREGTIGHEID VAN GOD

Martin Luther was ‘n Rooms-Katolieke priester en professor aan die universiteit van Wittenberg. Onder meer moes hy klasgee oor die brief aan die Romeine. Maar hy kon nie agter die kap van die apostel se byl kom nie. Wel het hy verstaan dat 1:16-17 die tema van die hele boek is, en as sodanig die sleutel tot die verstaan daarvan. Oor en oor het hy die twee verse gelees en elke keer gestruikel oor die uitdrukking in v.17: "die geregtigheid van God" (OAV, lett.). Deur die middeleeue het die Katolieke kerk geleer dat die woorde oor die karaktertrek van die Here praat, naamlik dat Hy ‘n God van geregtigheid is en toorn oor diesonde van mense.
   As daar één kwessie was wat in Luther se hart gebrand het, was dit Job se vraag: hoe kan ‘n mens regverdig voor sy Maker staan? (Job 4:17; 9:2). Hy skryf daarom in sy outo-biografie dat hy mettertyd die uitdrukking begin haat het, en al hoe meer kwaad geword het vir God. Want vir baie jare het hy met ‘n intense sondebesef geworstel, magteloos om ‘n heilige lewe te lei. Die laaste ding wat hy wou hoor, allermins van hierdie boek wat daarop aanspraak maak dat dit die geheim van ewige verlossing dra, was dat hy te doen het met ‘n God wat algeheel onverdraagsaam is teenoor sondaars.
   Een dag – waarskynlik in die herfs van 1514 – het die priester-professor nogeens hierdie verse oor en oor gelees. En toe skielik, daar in die toring van die Augustiniaanse klooster in W ittenberg, tref dit hom soos ‘n donderslag: in die Grieks kan hierdie uitdrukking óók beteken dat God die oorsprong van geregtigheid is – dat Hy geregtigheid gee. Anchor1
Opeens het die boodskap van die Romeineboek vir Luther oopgeval. Later skryf hy, "Toe het ek wedergebore gevoel soos ‘n nuwe mens, en ek het deur oop deure God se Paradys binnegestap."
  Só begin die sestiende eeuse Reformasie dan. Niks sou ooit weer dieselfde wees nie. Opeens is Europa se vensters oopgestoot om die sonskyn van heilswaarheid orals te laat instroom en die duisternis van die Middeleeue te verdring. In die volgende jare sou dit lei tot die redding van duisende der duisende.
WAT HET LUTHER GESIEN?

Om dit te verstaan, gou-gou ‘n dogmatieklessie.
   Adam het as hoof van die ganse mensheid opgetree toe hy in sonde geval het. Die effek van sy sonde op sy nageslag word die erfsonde genoem. Één manier om hierdie effek te beskryf, is om te sê dat die mens ‘n diep en omvangryke verlies aan geregtigheid gelei het. Dit het twee komponente.
   Eerstens het die mens sy geregtigheidsaard verloor. Hy het nou ‘n sondige natuur (sonde is die teenoorgestelde van geregtigheid). Ons noem dit ook die erfsmet. Almal ken dit proefondervindelik.
   Tweedens het die mens sy juridiese geregtigheidstand voor God verloor. Ons noem dit ook die erfskuld – want elke mens is nou strafwaardig voor God, selfs nog voordat hy of sy ‘n enkele sonde gepleeg het. Die mensheid, as mensheid, is in Adam, en as sodanig doemwaardig.
   Hierdie skuld word natuurlik al hoe meer soos mens dag na dag self ook sondig.
Christus het as "tweede mens", as "laaste Adam" (1Kor 15:45, 47) – en as Hoof van God se nuwe mensheid – gekom om die effekte van die sondeval vir Sy mense op te hef (Rom 5:12-21). Wanneer ‘n sondaar in alle opregtheid en erns sy volle geloofsvertroue in Christus stel, word hy of sy by wyse van spreke uit Adam uitgehaal en in Christus oorgeplant. Soos wat Adam se sonde aan hom toegereken, oftewel gedebiteer is, so word Christus se verdienste nou aan hom toegereken, oftewel gekrediteer. 2Anchor
Ons kan nie nou praat oor hoe die Here Jesus se heiligmakende werk ons verlies aan ‘n geregtigheidsaard aanspreek nie. Ons teks handel nie daaroor nie. In elk geval is dit nie ons eerste en diepste probleem nie. Nee, ons verlies aan ‘n geregtigheidstand voor God is ons grootste krisis!
Om te verstaan hoe Christus die probleem van ons verlies aan ‘n geregtigheidstand voor God aanspreek, moet ons vir ‘n oomblik oor die aard van sonde praat (ons eie sonde en ons sonde in Adam).
Alle sonde val in een van twee klasse: dit wat mens doen, en dit wat jy nalaat. 3Anchor Ons oortree God se voorskrifte, én ons misluk om aan Sy standaarde te voldoen. My sondes van oortreding is één ding, maar wat van al die dinge wat die Here beveel, wat ek nie doen nie? Ek haat Hom nie meer nie – en dis wonderlik – maar wat daarvan dat ek Hom nie liefhet met my hele hart en verstand en krag nie?
Meeste van ons is deeglik bewus daarvan dat Christus met Sy vernedering en bloed betaal het vir alle sonde wat Sy mense gedoen het, doen, en sal doen. Die straf wat Hy verduur het, het Hy as my Plaasvervanger gedoen – in my plek. My skuld is aan Hom toegereken – dis oorgeboek na Sy rekening, Hy is daarmee gedebiteer. En toe Hy dit betaal het, was dit die einde van my skuld!
Maar hoeveel van ons besef dat hierdie vryspraak op sigself nie genoeg is nie? 4
  As ons net vryspraak ontvang het, was ons weer waar Adam voor die sondeval was – sonder skuld. Maar was dit genoeg? Nee! Hy moes nog deur aktiewe gehoorsaamheid die loon verdien! Deur positiewe gehoorsaamheid moes hy toegang tot die Boom van die Lewe verkry.
   Nee, dis nie genoeg om God se gebooie nie te oortree nie, ons moet hulle hóú! Daar is nie net straf om te ontkom nie; daar is loon om te verwerf! Wil jy die ewige lewe beërf, moet jy God volkome gehoorsaam. En dis ons grootste probleem!
Ook hierdie onoorkombare dilemma van die sondaarmens word deur Christus aangespreek. Hý het God volkome gehoorsaam – van Sy eerste lewenslig af, tot en met Sy laaste asemteug. Nie ‘n enkele sondige gedagte, begeerte of motief nie! En tot in die fynste besonderhede het Hy alles, presies alles, gedoen wat Sy Vader wou. 5
  Hiérdie gehoorsaamheid word toegereken aan elkeen wat waarlik glo! Christus se volkome gehoorsaamheid word oorgeboek na sy of haar rekening toe! Stel jou geloofsvertroue in die verdienste van die Plaasvervanger, en jy word met Sy volmaakte geregtigheid gekrediteer!
   Dís waarvan Rom 1:17 praat. Dís die geregtigheid wat God gee. Dís wat Luther gesien het. Dís die essensie van regverdiging deur die geloof alleen.
WAAROP KOM DIT NEER?

As iemand anders jou skuld betaal het, wat skuld jy? Niks nie!
   En as jy iets moet doen, maar ‘n plaasvervanger doen dit in jou plek – moet jy dit dan ook nog doen? Natuurlik nie!
   Besef jy wat dit beteken? In God se boeke, by wyse van spreke, het jy wat in Christus is die status van iemand wat nog nooit gesondig het nie – want al jou skuld is betaal. Nog méér: in God se boeke het jy die status van iemand wat die wet van God volkome onderhou – want God het aan jou geregtigheid gegee, Christus se geregtigheid.
Let op, ek sê dit geld in God se boeke. Onthou, hierdie is ‘n juridieseaangeleentheid. Paulus gebruik deurgaans wets- en boekhoutaal. Hierdie is dus ‘n objektiewe saak, nie ‘n subjektiewe nie. Dit gebeur buite jou (in God se boeke!), nie ín jou nie. Dit is nie ‘n ervaring nie; dit is iets wat jy in die geloof moet vat – omdat God se evangelie dit belowe.
   Om weg van onsself te kyk, en ons oë op Christus en Sy verdienste vas te nael, is een van die eerste en belangrikste lesse wat ‘n Christen moet leer. Dis die essensie van geloof (onthou julle die koperslang in Num 21:5-9 en Jhn 3:14-15?).
   Ontelbaar baie Christene staan op een plek en rondmaal, omdat hulle introspektief is en gedurig met dermrygery besig is. Dis selfgesentreerdheid. En dis sonde – onder meer die sonde van ongeloof. Jy glo God se beloftes nie! Asof Hy ‘n leuenaar is!
Dit wat Adam moes, maar nie kon nie, dit het die Laaste Adam reggekry. Hy het Sy Vader enduit en volkome gehoorsaam. En die van ons wat deur ‘n ware geloof met Hom verenig is, ontvang presies dieselfde loon as ons Verbondshoof.
   Daarom is daar in die Bybel beswaarlik ‘n heerliker en meer betekenisvolle belofte as dié van Opg 22:2: die boom van die lewe!
   Die gerubs wat moet toesien dat Adam se nageslag nie ‘n voet in die tuin van Eden mag sit nie, word ‘n verwelkomingserewag vir elkeen wat in die geloof in Christus ingevlug het en volhardend by Hom skuil! (Gen 3:24)
Die bekende Amerikaanse kerkleier en teoloog, Gresham Machen, hetverstaan. Op 1 Januarie 1937 is sy laaste sterfbedwoord: "Ek is so dankbaar vir die aktiewe gehoorsaamheid van Christus. Daarsonder geen hoop nie."
VOETNOTAS

Anchor1. ‘n Subjektiewe, en nie ‘n objektiewe genitief soos die kerk van die vorige eeue geleer het nie.
Anchor2. Die begrip "toerekening" in Grieks (11 keer in Rm 4, OAV) dui op ‘n inskrywing in ‘n rekeningeboek. Ons kan dus ook vertaal met debiteerof krediteer. Vergelyk ook die NIV.
Anchor3. Engels sê dit mooi: sins of comission, and sins of omission.
Anchor4. Die NAV se gebruik van die woord "vryspraak" vir die Nuwe Testamentiese idee van regverdigverklaring (soos in ons teks), is nie net teologies naief nie, maar misleidend. Die idee is nie bloot negatief nie; dis eerstens heerlik positief.
Anchor5. Toe die Vader die Seun uit die dood opgewek het, was dit Sy verklaring dat die Here Jesus Hom volkome gehoorsaam het – dat Hy geen sonde gedoen het, en dus nie in eie hoedanigheid die dood verdien nie.

 

Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00