UIT DIE GESKIEDENIS [1]
Wie die lesse van die geskiedenis ignoreer, is gedoem om in die slaggate van die vadere te val
‘N TRAGEDIE SONDER WEERGA

 

Die losbandige en wellustige uitspattigheid van die konings het na die aristokrasie oorgespoel, en van hulle af weer na die gewone mense. Die godsdiens was deurtrek van korrupsie met kloosters wat neste was van sedeloosheid. Algehele onkunde was wydverspreid. Net die adel was effens geletterd. Selfs kon baie van die priesters nie lees of skryf nie. Anargie was orals en die verrotting van die samelewing weersinwekkend. Die samelewing het uitmekaar geval. Die kerk was onreformeerbaar. Enige verandering sou van buite af moes kom – of liewer, van bo af. Só was Frankryk aan die begin van die 1500’s.

Toe kom Martin Luther. En protestantse idees begin van Duitsland af oorspoel. Bietjie later begin Johannes Calvyn in Parys werk. Maar gou-gou moet hy vir sy lewe vlug. Hoewel hy nooit weer na Frankryk sou terugkeer nie, sou niemand die Franse reformasie méér beïnvloed as hy nie. In die Here se genade was hy die man wat die Hugenote – want so is die Franse Christene genoem – se geloof onder woorde gebring het. En in Geneve, Calvyn se werksplek, is die Hugenote se predikante opgelei. Calvyn het vir sy broers en susters oorkant die grens laat weet, "Stuur vir ons stokke, en ons stuur vir julle pyle terug."

Binne enkele jare is 88 predikers uit Geneve na Frankryk gestuur (en dan is daar werklik nog mense wat sê dat Calvyn nie ‘n visie vir sending gehad het nie!). Hierdie manne moes in die nag reis, dikwels langs obskure paadjies. Bedags moes hulle wegkruip – in solders, agter vals mure, in hooimiedens. Tog het baie nooit hulle bestemmings bereik nie. Jare se opleiding het meermale, voordat vrugbare werk gedoen kon word, op ‘n brandstapel geëindig. Diegene wat wel hulle bestemmings bereik het, het hulle by groepies ondergrondse Bybelgelowiges gevoeg – wat uiteraard maar té dankbaar was vir opgeleide mense om hulle dieper in God se Woord, waarhede en weë in te lei. Hierdie gemeentes het onder die seënende hand van die Here verstommend gedy, ten spyte van die feit dat alles teen hulle getel het. Die enkele protestantse gemeentes in 1555 het binne 8 jaar tot 2150 vermeerder. ‘n Konserwatiewe skatting wil dat 3 miljoen van Frankryk se 20 miljoen mense vroeg in die 1560’s reeds lidmate van hierdie gemeentes was. Sommige historici skat die syfer nóg hoër.

Frankryk het begin gloei met die lig en vrymaking en ondernemingsgees van die Godgesentreerde geloof. Kort voor lank het die Hugenote bekend begin raak vir hulle hardwerkendheid en onkreukbare morele waardes. ‘n Spreekwoord het in die samelewing ontstaan: So eerlik soos ‘n Hugenoot! Baie van hulle was vakmanne wat net die beste werk gelewer het en deur almal vertrou is vir hulle integriteit.

Wat die Puriteine in Engeland was, en die Covenanters in Skotland, was die Hugenote in Frankryk. Dat die Woordgefundeerde, Godgesentreerde en Christusgefokusde geloof soos klokslag hierdie kwaliteit mens voortbring, is waarlik ‘n getuienis vir die veredelende krag van die ware evangelie.

Só vinnig het die reformatoriese geloof regoor die land gespoel, dat dit begin lyk het of die ganse Franse volk spoedig voor die evangelie en sy verheffende effekte sou swig. Maar die vervolging, wat van die begin af fel was, het toegeneem in intensiteit. Sondag, 24 Augustus 1572, staan bekend as St. Bartlomeasdag. Gewetenloos is groot getalle protestante in Parys uitgemoor. En in die volgende dae het die slagting in die res van Frankryk voortgeduur. Die bekende historikus, Philip Schaff, skat dat 30 000 protestante in die bloedige paar dae gesterf het.

Dit het meegebring dat ‘n paar honderdduisend Franse uit die land gevlug het – tot so ver as Amerika. Uiteindelik – weliswaar eers ‘n eeu later – het ‘n klomp van hulle ook aan die Kaap geland en ons volkslewe wonderlik verryk.

Die verlies vir Frankryk was onherstelbaar. Die groot historikus, Lecky, ‘n klipharde ongelowige, skryf: "The destruction of the Huguenots … was the destruction of the most solid, the most modest, the most virtuous, the most generally enlightened element in the French nation, and it prepared the way for the inevitable degradation of the national character, and the last serious bulwark was removed that might have broken the force of that torrent of skepticism and vice which, a century later, laid prostrate, in merited ruin, both the altar and the throne."

Warburton skryf: "The best blood of France deluged the battlefield, the brightest genius of France was suffered to lie neglected and starving in prison, and the noblest characters which France ever possessed were hunted like beasts …".

Smiles, in sy "Huguenots in France", skryf: "It is curious to speculate on the influence which the religion of Calvin, himself a Frenchman, might have exercised on the history of France, as well as on the individual character of the Frenchman, had the balance of forces carried the nation bodily over to Protestantism, as was very nearly the case …"

Vandag weet ons dat dit in God se raadsplan anders uitgewerk het. En ons weet dat Frankryk sedertdien net dieper en dieper in ‘n blinde heidendom ingesink het. Minder as 1% van die bevolking is vandag evangeliese Christene.

In Suid-Afrika beleef ons geen noemenswaardige vervolging nie. Maar die magte van die bose se aanslag teen die ware evangelie is ewe fel, weliswaar op ‘n ander manier. Hoe gaan historici oor ‘n honderd jaar vandag beoordeel? Wat sal hulle van ons sê, ons wat ons self Woordgefundeerde, Godgesentreerde en Christusgefokusde Christene noem? Dat ons heroïes ons staan gestaan het, of dat ons soos paddas in ‘n pot was? Wat gaan ons kinders en kleinkinders by ons erf?

Nico van der Walt

 

Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier

Posbus 856, Ceres, 6835

T: 023 312 1687; 082 848 9396

nico.vanderwalt@reformed.org.za

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00