DIE GEES VAN ONS TYD 

 

‘n Nuwe begrip het die afgelope paar jaar verskyn en kry al hoe meer aandag in die media. Die koerante is vol daarvan. Postmodernisme is die gees van die tyd!
 
Dat dit iets is waarvan ons deeglik moet kennis neem, is gewis. Moenie dink dis net ‘n vinnig-verbygaande gier in filosofiese kringe nie. Nee, Postmodernisme is met ons. Ons kinders kry dit by die skole in, TV en tydskrifte drup daarvan, dis besig om ons samelewing onherroeplik te verander. En Postmodernisme het homself arrogant in die gestoeltes van kerk en teologie kom sitmaak.
Waaroor gaan dit, as ons praat van Postmodernisme?

 
DIE AUFKLÄRUNG
 
Voordat mens na Postmodernisme kan kyk, moet jy sekerlik eers verstaan wat die Modernisme is waarvan Postmodernisme die post is. Die moderne wêreld is tydens die Aufklärung, oftewel die Verligting van die vroeë agtiende eeu gebore. Die uitstaande filosoof van hierdie tyd was ‘n Duitse professor aan die Universiteit van Königsberg, Immanuel Kant (1724-1804). Geen ander denker het die lewens- en wêreldbeskouing van die negentiende en twintigste eeue meer ingrypend beïnvloed as hierdie man nie. In 1784 skryf hy ‘n artikel waarin hy die vraag vra, wat is die Aufklärung? Eenvoudig gestel kom sy antwoord hierop neer: dis die mens se mondigwording! Uiteindelik, sê hy, het die mens geleer om vir homself te dink – onafhanklik van die Bybel, of die kerk, of die staat se voorskrifte.
 
Kant het geleer dat alle kennis slegs gebaseer is op sintuiglike waarneming (empirisisme), maar dat die rede dit dan moet vertolk, verwerk en orden (rasionalisme). Dit het gelei tot die wydverspreide mite van totaal objektiewe wetenskap en ‘n diep vooroordeel teen die bonatuurlike. Groot dele van die Bybel, soos die maagdelike geboorte van Christus, wonderwerke, Christus se opstanding, ensovoorts, is dus onaanvaarbaar. En, natuurlik, die Goddelike oorsprong en gesag van die Woord het Kant se toets ook nie geslaag nie.

Die Modernisme beskou die rede dus as outonoom. Dis nie onderworpe aan ‘n gesag wat van buite af kom nie – daarom ook nie aan God se Woord nie.

 
MODERNISTIESE TEOLOGIE
 
Soos maar altyd was daar destyds ook ‘n klomp teoloë wat in hulle sug om iets nuuts te sê agter die gees van die tyd aangedraf het. Liberale teologie steek dus kort na Kant se dood sy kop in Duitsland uit. Gou-gou is dit mode om die Bybel aan allerlei wetenskaplike en historiese ondersoeke te onderwerp. Navorsing poog om die sogenaamde historiese Jesus op te diep uit die Nuwe Testament se verpakkingsmateriaal – subjektiewe belewinge, volkslegendes, aandikkings en naakte leuens. Die evangelie moet gedemitologiseer word. Talle en talle navorsingstukke sien die lig. Daar is egter één probleem – nie een stem met ‘n ander saam nie.

 
REAKSIESTROMINGE
 
Reaksie teen teologiese Liberalisme bly nie uit nie.
 
Bekendste hiervan is seker die Neo-Ortodoksie – met teoloë soos Karl Barth (1886-1968) en Emil Brunner (1889-1966) aan die spits. Een van Barth se beskouinge is dat die Bybel nie die Woord van God is nie, maar dat dit die Woord van God word – wanneer dit subjektief tot jou spreek. Openbaring is dus ‘n gebeurtenis, ‘n ontmoeting. Hierdie reaksie teen rasionalisme maak natuurlik opnuut voorsiening vir godsdienstige verinniging en belewing. Probleem is net dat dit die objektiewe waarheid van die Bybel by die agterdeur uitvee. Barth verwerp dan ook die idee dat die Christelike geloof ‘n reeks proposisionele waarhede is. Vir hom is teologie nie ‘n ondersoek van vasgelegde openbaring nie, maar ‘n gesprek, ‘n proses, ‘n aktiewe stryd. Die Christelike geloof, sê hy, is die dinamika wat ontstaan as mens deur die evangelie gegryp word, aan die een kant, en gekonfronteer word met ‘n sondige wêreld waarin jy dit moet uitleef, aan die ander kant. Hoewel Barthianisme sy waarheidsmomente het, maak dit helaas die deur wyd oop vir individualisme ("dit gaan oor mý wandel met die Here!"), subjektivisme ("in my Christenskap is niks belangriker as belewing nie!") en relativisme ("dis OK as jy dit nie kan aanvaar nie, maar vir mý is dit waarheid!").
 
‘n Ander invloedryke reaksie teen Teologiese Liberalisme vind ons in diepragmatisme van sekere sektore van Amerikaanse Evangelicalism ("as dit werk, is dit in orde!"). Die mensgesentreerde argument teen modernisme is dus: "Al kan ons nie die Bybel bewys nie, kyk net watter wonderlike effekte het die evangelie in menselewens. Dit maak van die wêreld ‘n beter plek!"
 
Hand-om-die-lyf hiermee loop natuurlik die wêreldwye Charismatiese Beweging, met sy eiesoortige pragmatisme en belewingsbeheptheid.
 
En in hulle reaksie teen die teologiese Liberalisme van die Modernisme dra elkeen van hierdie strominge hulle eie klippe aan vir die fondamente van Postmodernisme binne die kerk.

 
DIE SONSONDERGANG VAN MODERNISME
 
Verskeie faktore het in die twintigste eeu bygedra tot ondermyning van die Modernisme.
 
Eerstens was daar ontwikkelinge in die natuurwetenskappe wat begin toon het dat Immanuel Kant se uitgangspunte nie water hou nie. Belangrikste hiervan is waarskynlik Einstein se relatiwiteitsteorie.

Tweedens is die Modernisme se optimisme oor menslike vooruitgang gestuit deur twee wêreldoorloë, asook tegnologiese ontwikkelinge wat oënskynlik ernstige bedreiging inhou vir ons voortbestaan. Die mens se rede en wetenskap was besig om monsters te skep wat tot sy uitdelging kon lei: die kernbom, industrialisasie, gepaardgaande ekologiese vernietiging, ensovoorts.
 
Derdens het die groot politieke kragte – Nazisme en Kommunisme – ‘n diep wantroue veroorsaak in ideologie en dogmatiese aansprake. Op ‘n kleiner skaal is dieselfde dinamika tans in Suid-Afrika sigbaar. Apartheid se ineenstorting het ‘n onrusbarende politieke en oortuigingsapatie by veral ons jongmense meegebring. Die Afrikaanse Kerke, wat Apartheid Bybels probeer regverdig het, verkeer in ‘n ernstige gesagskrisis. En die dae is verby dat ‘n dominee sonder meer geglo word, bloot omdat hy ‘n "gesant van die Here" sou wees.
 
‘n Heel nuwe wêreld het dus in die laaste kwart van die twintigste eeu opgedaag, veral die laaste tien jaar. Teenoor die Modernisme se aandrang dat die enigste werklikheid dit is wat ons sintuiglik kan waarneem, het ‘n nuwe beheptheid met die religieuse na vore getree. New Age, Oosterse mistisisme en die okkulte is in. ‘n Terugkeer na die aarde maak dikwels meer emosies wakker as die ambisie om wetenskaplik en tegnologies te ontwikkel. Mense raak toenemend siek en sat vir die dryf van die kapitalisme. Hordes jongmense het net nie meer ideale nie, om nie eers van sterk oortuigings te praat nie.
 
Modernisme se beklemtoning van die rede moes oor die afgelope dekade of twee plek maak vir emosie, belewing en gevoel. Mense sê nie meer iets "is" so nie; hulle sê hulle "voel" so of so oor ‘n saak.

 
FILOSOFIESE OORSPRONGE
 
Postmodernisme is gesneller deur ontwikkelinge in die literatuurkritiek. Daar word só geredeneer: ‘n spreker of skrywer se woorde is bloot uitdrukkings van sy innerlike belewinge en beteken baie meer as wat hy bedoel – of selfs kan verstaan. Wie kán in elk geval presies onder woorde bring wat hy wil sê? Die hoorder of leser moet dus maar sy eie betekenis aan die betrokke woorde heg. Eintlik gebeur dit vanself. En dís ‘n intens persoonlike en interne saak. Elkeen doen dit op sy eie manier.
 
Dit bring dus mee dat betekenis in die finale analise in die hoorder of leser is, nie in die woord self nie. Daar is dus net soveel betekenisse as wat daar vertolkers is. En daar is geen objektiewe standaard om dit aan te meet nie.

 
Hieruit volg nou die drie pilare van Postmodernisme:
Dekonstruksionisme: alles is relatief
 
As definisie en waarheid nie absoluut is nie, beteken dit dat dit voortdurend aangepas kan word sonder enige vrees vir teenspraak. En as daar nie so iets soos absolute waarheid is nie, kan daar ook nie iets soos die leuen wees nie.Dit gaan alles oor vertolking.
 
Vir die postmodernis is waardes soos vaste oortuigings en konsekwentheidfundamentalisties – en dus verkeerd. Dit beteken dat elke mens meer as een "persoonlikheid" kan hê – godsdienstig, seksueel, professioneel, polities, ensovoorts. En nie een hiervan hoef in pas met die ander te wees nie.
 
Dis waarom van "dekonstruksionisme" gepraat word. Konstruksie is om aan mekaar te sit, dekonstruksie om uit mekaar te haal. En vir die postmodernis maak dit nie saak as dieselfde mens meer as een rol speel nie. As hy Vrydagaand sedeloos optree, kan hy Sondag rustig in die kerk sit sonder gewetenswroeging. Die een kompartement van sy lewe hoef nie betrekking te hê op die ander nie. Wie het gesê daar moet konsekwentheid in sy lewe wees?

 
Pluralisme: die waarheidsvraag
 
Pluralisme sê dat absolute waarheid nie kenbaar is nie en dat twyfel normaal is. Daarom is godsdienstige waardes ‘n kwessie van eie keuse. Objektiewe, universele en onveranderlike ortodoksie bestaan nie. Dus is daar nie iets soos kettery nie. Die enigste kettery is om enigiets kettery te noem. Geen godsdienstige beskouing durf homself as die enigste legitieme siening aanmatig nie. En nog minder kan dit ander beskouings as verkeerd afmaak.
 
Persoonlike keuse is dus alles. Ons leef in die era van doen-dit-self godsdiens. Elkeen maak sy eie god op – soos dit hom pas. En niemand hoef een van die bestaande opsies te kies nie. Elkeen kan sy eie filosofiese en godsdienstige sisteem opbou deur waar jy ook al wil ‘n handvol te gaan haal. Geïnstitusionaliseerde en vasgelegde ortodoksie is uit; tuisgemaakte, saamgeflanste en persoonlike spiritualiteit is in. Elkeen selekteer na hartelus vanuit die eeu-oue en wêreldwye verskeidenheid.
 
En terwyl alle opsies ewe legitiem is, is die maatstaf wat saak maak dié van opwinding. Die Postmodernisme is in die eerste instansie ‘n kultuur op soek na belewing, eerder as na waarheid (waarin dit in elk geval nie glo nie).

 
Relativisme: wat is reg en verkeerd?
 
Wat die etiek betref, het elkeen die reg om sy eie morele standaarde te kies. Aangesien daar geen objektiewe en algemeen geldende norme is nie, moet elkeen in elke betrokke situasie self kies wat vir hóm reg of verkeerd is.
 
Die postmoderne wêreld het beswaarlik nog ‘n samelewingskonsensus oor reg en verkeerd. Weliswaar word baie gedebatteer daaroor. Maar meestal is dit net ‘n uitpak van elkeen se gevoelens oor die saak. Jy het jou opinie en ek myne – en dis in orde so. Sélf is die middelpunt van moraliteit; etiek is geprivatiseer. Al wat aanstoot gee, is enige aanspraak op gesagvolle absolutes.
 
‘n Tipiese benadering sal dus só klink: "As dit vir jóú waar en reg is, is dit OK met my. Moet dit net nie op my afdwing nie. Vir mý is dit en dat waar en reg. Ons is elkeen vry om sy eie gevoel oor die saak te hê. En as ons mekaar duld, kan ons in vrede saamleef en saamwerk."

 
SAAMGEVAT
 
Volgens Postmodernisme is daar nie regtig iets soos objektiewe, vasstaande en universele waarheid nie – alles is subjektief-persoonlike en relatiewe belewing.
 
Dus: as iets vir jóú waar is, dan is dit waar. En dis goed so. Aanvaar net dat iets ánders vir jou buurman waar kan wees. Glo dus wat jy wil. Moet net nie dogmaties (of fundamentalisties) daaroor raak nie. Enige oortuiging is dus in orde – solank jy net nie sê dat ‘n ander verkeerd is nie. Dís die enigste oortuiging wat verkeerd is.
 
Met die aandrang op absolute waarheid het Postmodernisme min geduld. Want dit bedreig mense se keusevryheid. Soos in die Modernisme is die mens ook hier die middelpunt en outonoom. Hy is sy eie norm – ‘n wet vir homself. Hy is sy eie god! En hier is ons terug by die oer-oue hart van sonde. Vat hieraan, en skielik is Postmodernisme glad nie meer so verdraagsaam nie.

 
SLOTSOM
 
Tot die mate wat kerk en teologie Postmodernisme aan boord neem, sal dit ten minste twee gevolge hê:
Eerstens sal die kerk algaande sy greep op objektiewe, geopenbaarde waarheid verloor; moreel al hoe meer akkommoderend raak; en ophou om die evangelie van Christus as enigste Middelaar uit te dra. Spoedig sal die kerk sy geloof versaak, sy identiteit verloor en sy roeping verbeur.
 
Tweedens sal die kerk beleef waarvan die Prediker praat. Hierdie filosofie van twyfel, wat alles versubjektiveer en relativeer, moet noodwendig lei tot sinloosheid – en uiteindelik tot agnostisime. As niks vas is nie, waar sal ons uitvind óf daar ‘n God is? Hoe sal ons weet wie of wat Hy is? En as ons dit nie weet nie, is alles, letterlik alles, futiel – ‘n waardelose gejaag na wind!
 
Ter plaatse is die aanslag teen die evangelie tans nie vervolging nie, maar relativering. Is Christus die enigste weg tot die Vader? Wie is ons om te sê ander is verkeerd? Maar voor ons ons oë uitvee, kan dit maklik in vervolging omsit – teen diegene wat kompromieloos aandring op die absolute en unieke aard van die Christelike geloof.

Vir meer inligting oor die eienaar van der Walt, kliek hier

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00