Datum: 2010-03-07

Outeur: Dr Chris Saayman

Skriflesing: Efesiërs 1: 15-23

Titel: EFESIËRS - REEKS NO 2 : Verligte oë

TAFELBERG GEMEENTE : 7 Maart 2010 EFESIËRS – REEKS NO 2 Tema: Verligte oë Skrif: Efesiërs 1: 15-23 Hoe weet ‘n mens of iemand ‘n Christen geword het? Hoe het Paulus geweet dat die Efesiërs egte Christene geword het? (v 15). Daar is 2 goed wat ‘n ware Christen se identiteit verklap – wat hy nie kan wegsteek nie: 1) Heldere geloofsverskuiwing ná die Here Jesus Christus toe en 2) Skielike liefde & verknogtheid aan ander mense wat oorborrel vd Here. Wanneer die HGees kom woning maak by ‘n mens, dan laat Hy hierdie 2 kenmerke sterk na vore kom en niemand wat jou ken, hoef langer te wonder óf jy werklik weergebore is nie. Só het die Apostel geweet sy lesers is ware Christene. Hy sê dit self in vers 15! En wat is die eerste ding wat hy doen, toe hy te wete kom dat hulle werklik tot redding gekom het? Hy bid vir hulle. Vers 16 e.v. Wonderlik as iemand vir jou bid, nie waar nie? Dit beteken hy/sy dra jou welstand op die hart & bring dit voor die Here in gebed – sonder om self enige wins te verkry. Dit is wat ons vir mekaar moet doen en wat ons moet doen vir mense wat pas tot redding gekom het. Dra hulle welstand op die hart & bring dit voor die Here. Wat bid Paulus vir die gelowiges in Efese? Hy dank God. Want hulle redding is aan HOM te danke. Wanneer iemand tot bekering kom, word hý/sý nie gelukgewens nie! Die gelówige word nie bedank nie! Onthou vorige gedeelte: Dit is aan God te danke dat jou oë oopgaan, want dit is Hy wat jou gekies het. Aan Hom kom die dank toe. Indien dit van enige mens se besluit sou moes afhang, sou ALMAL reddeloos verlore gebly het tot in ewigheid! NIEMAND soek die Here nie (Ps 14:3). Wat Paulus dus doen, is om die Here te dank vir die gelowiges in Efese! En al was hy geografies ver van hulle af, bou hy hulle geestelike lewe op deur met die Here oor hulle te praat. Die eerste manier hoe hulle geestelik gevoed/versterk/onderhou word, was nie deur Paulus se daar-wees bý hulle/ sy brief aan hulle nie, maar sy gebedsintersessie vanoor ‘n afstand. Sy gebed vir hulle – al was hulle nie eens daarvan bewus nie – het vir hulle meer gebaat as enigiets anders! Hoe ontsaglik effektief is gebed!! Wat presies bid die Apostel vir die kinders vd Here in Efese? Heeltemal ander inhoude as wat ons byvoorbeeld vir ander sou bid. Ons moet by hom leer/afkyk! Onthou: dit wat Paulus – as Apostel – bid, is werklik dít wat op die HERE se hart is. Hy bid met Apostoliese gesag. Vergelyk dit met die dinge wat óns sou dink primêr belangrik is vir nuwe Christene. Wat sou ons dink is primêr belangrik vir nuwe Christene? Dinge soos: regte gemeente vind, geestelik groei deur dit te doen en dat te doen, nie meer so maak nie maar so maak, inskakel by sel/bybelstudiegroep, geheim van ‘n Geesvervulde lewe snap ens. Kyk na hierdie gebed van Paulus en u sal sien wat op sy hart is vir die Christene in Efese: Vers 17: Hulle ken alreeds die Here, maar hulle moet Hom BETER leer ken. Dis die belangrikste van alles. Nie ervaar nie, maar KEN. Onthou: die kern vd Christelike Geloof is om God persoonlik te ken. Uniek. Die Christelike Geloof is nie ‘n filosofie (soos Boeddisme) of ‘n stel reëls wat nagevolg moet word nie. Dit is ‘n verhouding met die lewende God van hemel & aarde. Geestelike groei: KEN Hom beter & beter. Kennis/denke/verstand/intellek is van kritieke belang in die Christelike Geloof. Daar is deesdae strominge in die kerk wat sê dat ons die Here moet ken deur die verstand op ‘n manier uit te sny en eerder gebruik te maak van meditasie/kontemplasie/stilte/mantra’s opsê. Dit is ‘n wegbeweeg van bybelse Christendom. Paulus leer nié die Efesiërs om te mediteer of met sagte musiek kruisbeen te sit en op God te fokus nie. Hy sê ook nie hulle moet méér wáárhede ken nie. Ook nie meer óór Hom weet nie. Hulle moet HOM beter ken. Die manier om Hom beter te ken is om meer & meer wysheid/begrip/openbaringskennis te kry van die Waarhede in die Woord. Ons sal nou-nou sien dat daar 2 groot waarhede is wat ‘n Christen moet verstaan/greep op kry/sien/snap. Jy moet dit só sien/verstaan, dat jy dit liefkry en dit oortuigings in jou hart word. Geestelike groei kom deur beter begrip/verstaan van die Waarheid. O.l.v. die HGees begin jy dit SIEN. Jou geestelike oë word verlig. Eerstens werk die Gees deur ons verstand/denke. Dít voed Hy met die Waarheid soos wat ons onsself doelbewus blootstel aan die Woord en goeie lering. Jy vul jou denke met Skrifwaarhede – die Gees help jou om dit te SIEN – en dit word oortuigings. So leer jy die Here beter ken. Die rol van die leraar is om voldoende lering te gee. Die verantwoordelikheid van elke Christen is om dit op te slurp. En te bid dat die Gees dit sal gebruik om jou geestelike oë te verlig sodat jy die Waarheid kan SIEN en dit ingroei in jou lewe en dit vaste oortuigings word. Wat is die 2 groot waarhede waartoe ‘n kind vd Here se geestelike oë oopgemaak moet word om dit te sien? 1. Jy moet sien waarheen jy op pad is en 2. jy moet verstaan watter geweldige krag in jou lewe werksaam is. Paulus weet: indien jy hierdie 2 goed só kan “sien” dat dit oortuigings van jou hart word, sal niks/niemand jou ooit onderkry nie. Jy sal as Christen staande bly tot die einde toe. Jy sal nooit handdoek ingooi nie. Jy moet hierdie 2 waarhede inneem in jou verstand en bid dat die Gees jou oë verlig om dit te SIEN totdat dit wortelskiet in jou hart. Dan sal jy geestelik groei en die Here beter ken. 1. Weet waarheen jy op pad is: Die Here het jou geroep om Sy kind te wees. Daar het ‘n Roeping uitgegaan na jou toe. Daarom het jy nou ‘n enorme toekoms. Sy roeping lewer resultate, dit produseer iets in ons lewe. Wat? Ons gaan baie ryk erf. Ons het hoop vir die toekoms. In die Bybel beteken “hoop” nie iets waarna jy vurig verlang nie. Dit beteken: iets waarvan jy absoluut doodseker is dat jy dit sal kry, maar dat jy dit nog nie het nie. Dit lê in die toekoms. Wat is hierdie hoop? Die erfenis (v18)? Dit is die toekomstige wêreld. Nuwe aarde. Geen oog het nog ooit gesien en geen oor het nog ooit gehoor en in geen mens se verbeelding het dit nog ooit opgekom wát God voorberei het vir dié wat Hom liefhet nie! (1 Kor 2:9). As die Here jou geroep het om Sy kind te wees, HET jy eintlik alreeds die nuwe aarde/hemelse stad. Dis net ‘n kwessie van tyd. Want die Here Jesus sal nie één van Sy kinders langs die pad verloor nie (Joh 6:39). As Hy iemand eenmaal geroep het, trek Hy dit nooit weer terug nie (Rom 11:29). Daar is niks wat ‘n Christen so dra/laat moed hou/voed/steun/versterk soos die sekerheid van waarheen jy op pad is nie! Jy wil nooit weer teruggaan na jou vorige lewe nie. Jy wil nie weer teruggaan na die varkpeule vd wêreld nie. Goed soos materialisme kan nie ‘n houvas op jou kry nie. As jy weet waarheen jy op pad is, staan jy vandág vas! 2. Weet watter geweldige krag in jou lewe werksaam is: Vv 19-22 is seker van die mees verbysterende verse in die hele Bybel. Dit is voorwaar iets waavoor ‘n mens se geestelike oë verlig moet word om jou eie te kan maak. Kom ek verduidelik dit só uit vv 19-22: God die Vader het geweldige krag uitgeoefen toe Hy vir Jesus uit die dood laat opstaan het. Ja, méér as by die skepping! En Hy het geweldige krag uitgeoefen toe Hy vir Jesus van die aarde af by Homself opgeneem het en aan Sy regterhand laat sit het. Ons Here Jesus beklee nou die hoogste posisie denkbaar. Hy is verhewe BO enige denkbare mag/krag/gesag/heerskappy – nou & in die toekoms. God die Vader het vir Jesus letterlik bó alles verhef. Ook in die kerk is Hý die Hoof en die kerk/gemeente is Sy aardse lyf/liggaam. Terloops, dis waarom Jesus vir Paulus op Damaskuspad gesê het: “As jy die Christene vervolg, vervolg jy MY” (Hand 9:4). Die verbysterende ding wat die Apostel nou sê is dat God die Vader in die lewe van élke gelowige presies dieselfde krag uitoefen as wat Hy in Christus uitgeoefen het toe Hy Hom uit die dood opgewek het/ Hom aan Sy regterhand laat sit het/ Hom bó alle magte & kragte verhef het! Dit is asof God aanhou om daardie krag uit te oefen – dit het nie 2000 jaar gelede – met Christus se opstanding – gestop nie! Maar nou oefen Hy die krag in élke kind vd Here uit – nie om uit die dood op te staan nie, maar om die kind vd Here staande te hou. Wat Paulus eintlik hier sê is dat God presies dieselfde krag wat Hy gewerk het in Christus se opstanding uit die dood, in ‘n mens moet werk om jou enigsins tot geloof te bring …. én jou daar te hou! Want onthou, dit is onmoontlik vir enige mens om uit eie vermoë tot geloof & bekering te kom – én onmoontlik om as kind vd Here lewenslank te volhard. Dit staan in Efes 2 (vlge week se studie). Wég met die onbybelse prediking wat voorgee dat enige mens sommer maklik tot geloof kan kom – moet dit net kies en net ‘n besluitjie neem en siedaar! Asof geloof ‘n eenvoudige dingetjie is wat énigeen kan doen net wanneer hy die dag daarvoor lus kry. Dit gaan oor lus-raak. Nee!! Die Bybel leer dat die mens van nature geestelik dood is en magteloos is om na die Here toe te draai (vgl 1 Kor 2:14/ Joh 8:43). Indien dit van die méns se vermoë/lus-wees moes afhang sou ALMAL konsekwent wégdraai van die Here af. Dit wat ‘n mens laat omdraai, is wanneer God uit genade in jou dieselfde krag werk as wat Hy in Christus gewerk het by Sy opstanding uit die dood. Presies dieselfde krag. Daarom dat ‘n ware Christen altyd daaroor verstom & verslae is dát hy/sy enigsins ‘n Christen ís! ‘n Ware Christen het die houding van: “dit kan nie wees dat ék by die Here uitgekom het nie!” Altyd verwondering/danksegging/lofprysing vir God se wonderbare krag & Sy verkiesing. Wat belangrik is om raak te sien is dat God voortgaande/voortdurend besig is om in elke gelowige te werk met dieselfde krag as waarmee Hy Christus uit die dood opgewek het. Hy is voortdurend/aanhoudend daarmee besig (teenwoordige tydsvorm – v 19). Dít is wat ‘n ware gelowige behoue laat bly! Dit is wat maak dat ‘n kind v God nie hóéf in te gee voor die vyand nie. Want Jesus is verhewe bó álle magte/kragte/gesagte/heerskappye. En die krag wat Hom daar geplaas het, werk in jou & my!! Daardie krag kanselleer die kragte wat ons wil aftrek en lig ons óór daardie aftrekkende kragte. Byna soos ‘n vuurpyl wat swaartekrag oorwin en in die lug kan opstyg sonder om neergetrek te word na die grond. God se krag oorwin die neertrekkende kragte wat daagliks in ons lewens wil inwerk en ons aftrek. En onthou vv 22&23: Jesus is die Hoof van die kerk (alle ware gelowiges) wat Sy aardse liggaam is en alles wat in die Hoof is, vloei na die liggaam toe. As die Hoof bó alle magte & kragte sit – dan sit die liggaam ook daar!! As die Hoof se voet op die slang se kop is, waarom moet die liggaam dan onder die slang swig? Dink aan ‘n goeie skoolhoof: vloei sy kwaliteite/invloed nie deur na die hele skool nie? Goeie nuus: Ons hoef niks te doen om hierdie krag in plek te hou nie. God doen dit. Ons moet dit glo en leer om dit hardop te bely in alle omstandighede. Leer vanoggend ‘n groot waarheid: Wanneer jy in ‘n stryd is, bely die Waarheid vd Woord hardop. Spreek die Woord hardop uit. Byvoorbeeld: “Vlgs Efes 1:19-21 oefen God dieselfde krag in my uit as wat Hy in Christus uitgeoefen het toe Hy Hom uit die dood opgewek het. Hy sit hoog bo elke mag/gesag/krag/heerskappy. God het alles aan Hom onderwerp. Hierdie swakheid/versoeking/probleem is ook aan Hom onderwerp. Ek is meer as ‘n oorwinnaar omdat God opstandingskrag in my werk.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00