Geskryf deur Ds Gert Coetzer

“Mammie, hoe voel dit as mens doodgaan?” Dit is die vraag wat ‘n seuntjie verskeie kere aan sy moeder gestel het. Sy het in haar hart gebid vir die regte antwoord, en toe kry sy dit.

Toe hy weer eendag vra, was sy gereed met die antwoord en sy vra hom: “Onthou jy altyd as ons vir oupa en ouma gaan kuier en ons bly tot laat die aand, dan raak jy daar by oupa-hulle aan die slap maar word die volgende oggend in jou eie bed tuis wakker? Jou pappie het jou daar in sy arms geneem, motor toe gedra en jou hier by die huis in jou eie bed kom neerle. Jy het dit nie eers geweet nie, totdat jy die volgende oggend wakker word.”

“So is dit ook om dood te gaan. ‘n Mens raak hier aan die slaap, Jesus neem jou in sy sterk arms en deurboorde hande en dra jou na jou ewige huis, en daar word jy wakker.” Die seun was tevrede met sy moeder se antwoord – is u?

Leser, let op, vir die wedergeborene sal die oorgaan uit hierdie lewe in die hiernamaals geskied in die arms van Jesus. (1 Thes 4:16-18). In Joh 14:2 se Jesus: “Ek gaan om vir julle plek te berei.” v 3 “En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na my toe neem sodat julle ook kan wees waar Ek is.”

O kind van die Here, is dit nie wonderlik om te weet Jesus kom my self haal en Hy sal my veilig oordra na die plek wat Hy vir my berei het nie? O, net die liefde en die krag van God kan en sal so-iets doen!! Sal u deel daarin? Sal Hy u ook kom haal? O, sal dit nie heerlik wees daar te woon!! Let op in Joh 14:3b se Jesus dat ons kan wees waar Hy is. Ons weet nie veel van die plek nie, maar dat Hy daar sal wees, en dis genoeg. Daar sal ons aan Hom gelyk word. Johannes se in 1 Joh 3:2 dat : “… as Hy verskyn ons aan Hom gelyk sal wees omdat ons Hom sal sien soos Hy is.” Dawid se in Ps 17:15 “maar ek sal u aangesig in geregtigheid aanskou; ek sal versadig word met u beeld as ek wakker word.” Die engelse vertaling se: “I shall be satisfied with Thy likeness.” Ek sal volkome tevrede gestel word deur aan Hom gelyk te wees!! Is dit waarheen u en ek op pad is langs die weg van heiligmaking?

Leser, is u gereed om hier aan die “slaap” te raak en anderkant “wakker” te word? U sal dit net wees as u hier sterwe aan self deur u self elke dag te verloen, die kruis op te neem en Jesus te volg.

Mag Sy Gees u bystaan.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00