Spreek in Tale – Wat se die Bybel?

Pastoor Jannie Viljoen

 

VOORWOORD.
Gelowiges stem meestal oor een feit saam, en dit is dat “gevoel” nie ‘n goeie kriteria vir geloof is nie. Geestelike ervaringe sonder Skriftuurlike ondersteuning is meestal mensgemaakte idees, geformuleer deur persoonlike gedagtes, emosies en gevoelens. Iets wat ‘reg voel’ is ook nie noodwendig altyd reg nie omdat ons emosies baie keer ‘op’ of ‘af’ is, afhangende van ons omstandighede. Die enigste betroubare bron, wat ons geloof betref, is die Woord van God.

 

Dit is daarom van die uiterste belang dat ons, wat dié praktyk betref, nl. die spreek in tale, ál die Skrifte wat betrekking het op hierdie saak, noukeurig ondersoek deur ‘n absolute, intensiewe, deurdringende Bybelstudie te doen.

 

Soos reeds genoem is, moet elke geestelike ervaring ondersteun en bekragtig word deur die Skrif. Alle geestelike ervaringe móét onderwerp word aan Skrif-beoordeling (1 Joh. 4: 1). God se Woord en God se Woord alleen is ons beskerming teen geestelike misleiding (Gal. 1:8; 2 Cor. 11:13 – 15). Dit is dus nie alleen nodig dat ons al die Skrifte wat betrekking het op “tale” ondersoek om dit met mekaar te vergelyk nie, maar ook moet hierdie Skrifte binne die konteks en tydsverloop waarin hulle voorkom,  geïnterpreteer word. Ons moet ook in gedagte hou dat geen profesie van die Skrif ‘n saak van eie uitlegging is nie (2 Petrus 1: 20).

 

Die beste en veiligste manier om moeilike Skrifgedeeltes te interpreteer, en dit is wat ons natuurlik ook in hierdie Bybelstudie gaan doen, is om eerstens na die konteks waarin die Skrifte voorkom te kyk; om op te let na die historiese agtergrond van die betrokke Skrifte, en dit verder ook met al die ander Skrifte in die Bybel, wat met dié onderwerp verband hou, te vergelyk, want God se Woord gaan Homself nie weerspreek nie. “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot tergwysing, tot onderwysing in die geregtigheid” (2 Tim. 3:16). Dit is daarom nie ‘n geval van gevoelens, indrukke, of selfs ervaringe nie, maar slegs suiwer Bybelse uitleg.

 

Suiwer Bybelse uitleg, gepaard met gebed, sal dus die standaard wees waarvolgens ons hierdie Bybelstudie met betrekking tot “tale” gaan aanpak.

 

INLEIDING.

 

Voordat ons begin met die Bybelstudie oor “spreek in tale,” het ons eers nodig om te kyk na ‘n ander lering uit die Skrif wat ons grootliks sal help om die lering rondom tale beter te verstaan, naamlik die ‘Doping in (of met) die Heilige Gees.’

 

Die enigste Bybelse lering rondom Doping in, of met die Heilige Gees word gevind in 1 Kor. 12: 13, waar dit gaan oor die eenheid van die Liggaam van Christus: “…want net soos die liggaam een is en baie lede het, en al die lede van die een liggaam, al is hulle baie, een liggaam is, so ook Christus,   …want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam,  of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge…” Met ander woorde, wanneer ons by bekering deur die Heilige Gees by die res van die Liggaam van Christus gevoeg word om van een Gees deurdronge te wees … noem die Bybel dit die “Doop in, of met, die Heilige Gees.”

 

Paulus stel dit ook baie duidelik in Efesiërs 4:5 dat daar nét één Heilige Gees doop is. Dat Paulus hier in Efesiërs verwys na die Heilige Gees doop is duidelik uit die konteks van hierdie gedeelte: “… een Here, een geloof, een doop” (Ef. 4:5). Paulus praat nie hier van die ‘water-doop’ nie, maar van geestelike beginsels, soos die eenheid van die geloof, en deur een Gees gedoop tot een liggaam…deur een Gees deurdronge (1Kor. 12: 13).

 

In Handelinge 2:38, nadat Petrus gepreek, en ‘n oproep tot bekering gedoen het, was die mense ‘diep in die hart getref ’ (vers 37), en hulle het aan Petrus en die res van die apostels gevra: “… wat moet ons doen,  broeders?”  Petrus het hulle daarop geantwoord:  “Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word…” (vers 38). Hierdie was die Groot Opdrag wat deur Jesus aan sy dissipels gegee is in Matt. 28:19. Verder het Petrus aan die mense gesê:  “… en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang”  (vers 38).  

 

Let daarop dat die gawe (enkelvoud) waarvan Petrus hier praat, wat hulle en almal wat tot geloof in Jesus kom (vers 39) sal ontvang, die Heilige Gees is.   Die oomblik wanneer ‘n persoon Christus aanneem ontvang hy die Heilige Gees (Joh. 7: 39), wat aan hom wedergeboorte skenk (Joh. 3: 3), en hom daardeur ‘doop’ tot een liggaam (1 Kor. 12:13). Die Heilige Gees is dus die gawe waarvan Petrus hier praat.

 

Die Skriftuurlike lering aangaande die doop met die Heilige Gees is dus dat, die oomblik wanneer ‘n persoon hom na Christus keer vir redding en Hom aanneem as Verlosser (Joh. 1: 12a), die Heilige Gees hom ‘n kind van God maak (Joh. 1: 13) deur die wedergeboorte (Joh. 3: 3), en gelyktydig hiermee doop/voeg (1 Kor.12: 13) die Heilige Gees die nuwe bekeerling dan by die geestelike Liggaam van Christus, die Kerk, waar hy dan een word met alle ander gelowiges in Christus: “…want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge” (1Kor. 12: 13).

 

Hiérdie, naamlik die plaasvind van die wedergeboorte (Joh. 3:3) en die toevoeging tot die liggaam van Christus (1 Kor. 12:13), is die “GAWE (enkelvoud) VAN DIE HEILIGE GEES” waarna Petrus verwys in Hand. 2: 38, 39. Die lering dat doping in die Heilige Gees ‘n “ontvang” van die Heilige Gees is ná ‘n persoon se bekering en wedergeboorte, en dat die bewys van hierdie “doping” die spreek in “ekstatiese” of “hemelse” tale is, en dat dit iets is waarna ons ernstig moet streef, het geen Skriftuurlike gronde nie.

 

Deur middel van hierdie Bybelstudie sal ons sien dat die Woord van God nêrens verwys na ‘n ander tipe doop in die Heilige Gees, as wedergeboorte en plasing in die Liggaam van Christus nie.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

HOOFSTUK 1.

 

Om die Bybel se lering oor die onderwerp, nl. “spreek in tale,” te verstaan,  kan ons begin deur eerstens te kyk na al die gebeurtenisse in die Boek Handelinge, waarin daar melding gemaak word van “tale.”

 

1.   HANDELINGE 2: 1 – 11.

 

“En toe die dag van die pinksterfees aangebreek het, was hulle almal eendragtig bymekaar.  En daar kom skielik uit die hemel ‘n geluid soos van ‘n geweldige rukwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het. Toe is deur hulle tonge gesien soos van vuur, wat hulleself verdeel en op elkeen van hulle gaan sit. En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek. En daar het in Jesrusalem Jode gewoon, godsdienstige manne uit elke nasie wat onder die hemel is. En toe hierdie geluid kom, het die menigte saamgestroom en was in die war, want elkeen het gehoor hoe hulle in sy eie taal spreek; en hulle was almal verbaas en verwonderd en sê vir mekaar: Is almal wat daar spreek, dan nie Gallileërs nie? En hoe hoor ons hulle, elkeen in ons eie taal waarin ons gebore is? Parthers, en Meders en Elamiete en die inwoners van Mesopotamië, Judea en Kappadócië, Pontus en Asië, Frigië en Pamfilië, Egipte en die streke van Libië by Cirene en Romeine wat hier vertoef, Jode en Jodegenote, Kretense en Arabiere – ons hoor hulle in ons eie taal oor die groot dade van God spreek.”

 

Wat bogenoemde Skrifgedeelte betref, is dit belangrik dat ons die volgende in gedagte hou:

 

1.1.  Nêrens word genoem dat iemand die verskillende tale waarin die dissipels gepraat het, vertaal het nie. Die Jode, en Jodegenote wat hier byeen was uit 16 verskillende taalgroepe, het die evangelie in hul eie moedertale gehoor. (Hand. 2: 8 – 11).

 

1.2.   Die tonge van vuur en die geluid soos van ‘n geweldige rukwind was uniek aan hierdie gebeurtenis. By ‘n ander geleentheid in Handelinge 4 vers 31 is die plek waar die dissipels saamgebid het geskud en is hulle weereens met die Heilige Gees vervul, maar die geluid van ‘n rukwind en die tonge van vuur is nooit weer herhaal nie. Alhoewel die dissipels weer ‘n vervulling met die Heilige Gees ondervind het in Hand. 4:31, net soos in Handelinge 2, word daar by hierdie geleentheid geen melding gemaak van ‘n rukwind, tonge van vuur of spreek in  tale nie, maar slegs dat die plek waar hulle bymekaar was geskud is en dat hulle “… die woord van God met vrymoedigheid gespreek (het).”

 

1.3.   Verder moet ons in gedagte hou dat hierdie selfde dissipels alreeds die Heilige Gees ontvang het voor die uitstorting van die Heilige Gees op die Pinksterfees.   Net na die opstanding, toe Jesus aan die dissipels verskyn het in die bo-kamer, het Hy op hulle geblaas en gesê: “ONTVANG DIE HEILIGE GEES” (Joh. 20: 22).

 

Uit bostaande gebeurtenis in Handelinge Twee, en ook deur die gebeurtenis in die bo-kamer in Joh.20: 22 in gedagte te hou, kan ons dus sien dat dit wat gebeur het tydens die Pinksterfees in Handelinge 2 absoluut uniek was aan die begin van die dissipels se bediening waar hulle deur die Heilige Gees bemagtig of toegerus is om die evangelie te verkondig in al die verskillende tale van dié wat daar teenwoordig was (vers 5) – wêreldse tale wat hulle nie voorheen aangeleer het nie, maar nou, onder die krag (of vervulling) van die Heilige Gees kon uitspreek ter wille van die verkondiging van die evangelie aan al die verskillende taalgroepe daar teenwoordig.   

 

Deur al hierdie Skriftuurlike feite in ag te neem kan ons dus nou duidelik sien dat Handelinge Twee nie die geleentheid was waar die dissipels die Heilige Gees ontvang het nie – dit het alreeds gebeur in Joh. 20: 22. Hier in Handelinge Twee is hulle egter deur die Heilige Gees ‘bemagtig’ om die evangelie te verkondig in die verskillende tale wat hulle nie voorheen kon praat nie. Hulle is later weer op dieselfde wyse deur die Heilige Gees vervul in Hand. 4:31 sodat hulle die evangelie met “krag” kon verkondig, maar egter sonder die teenwoordigheid van die geluid van ‘n rukwind en vuurtonge. Daar word slegs melding gemaak van ‘n skudding. Hier word ook nie melding gemaak van verskillende tale nie. “En toe hulle gebid het, is die plek geskud waar hulle saam was, en hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het die woord van God met vrymoedigheid gespreek”  (Hand. 4:31).

 

Johannes 20:22, waar die Woord vir ons duidelik aanteken dat die dissipels die Heilige Gees ontvang het voor Jesus se opvaarding in Handelinge 1 na die Hemel, maak dit duidelik dat die gebeure in Handelinge 2, en die herhaling van dieselfde manifestasie in Handelinge 4, nie die ontvangs van die Heilige Gees was nie, (want ‘n mens ontvang nie die Heilige Gees meer as een keer nie) maar slegs ‘n vervulling of bemagtiging met die Heilige Gees om met die Groot Opdrag te begin.

 

Wat die spreek in tale dus betref het ons nou deur middel van bogenoemde Bybelstudie gesien dat geen aanspraak op grond van die Skrif in Handelinge gemaak kan word dat die dissipels by die Pinksterfees die Heilige Gees ontvang het, om sodoende in “hemelse” of “ekstatiese” tale te praat nie.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

2.     HANDELINGE 10:44 – 47.  

 

“En toe Petrus nog besig was om hierdie woorde te spreek, het die Heilige Gees op almal geval wat die woord gehoor het (d.w.s. hulle het tot redding gekom), en die gelowiges uit die besnydenis (die Jode wat tot bekering gekom het), almal wat saam met Petrus gekom het, was verbaas dat die gawe van die Heilige Gees ook op die heidene uitgestort is (dit is dat die nie-Jode kon dus ook gered word en gevoeg word by die liggaam van Christus). Want hulle (die Jode), het gehoor hoe hulle (die nie-Jode) in tale spreek en God groot maak. Toe het Petrus begin spreek: ‘Niemand kan tog die water weer, dat hierdie mense, wat net soos ons die Heilige Gees ontvang het, (dit is dat hulle gered is op grond van hul bekering nadat hulle die evangelie gehoor het – vers 44), nie gedoop word nie. En hy het beveel dat hulle gedoop word in die naam van die Here.”

 

Kom ons kyk van naderby wat hier gebeur het: – Toe Petrus die evangelie verkondig het aan hierdie heidene (nie-Jode), het hulle dit aangeneem en geglo in Jesus as die Mesias, Sy kruisiging en Sy opstanding (Hand. 10: 39 – 41), en is hulle op grond van hul geloof wedergebore deur die Heilige Gees en in die Geestelike Liggaam van Christus, saam met die Joodse gelowiges, gevoeg of “gedoop.” Petrus bevestig dit wanneer hy in Handelinge 11:15 – 18 aan die Jode in Jerusalem vertel van hierdie gebeurtenis:

 

“… en toe ek begin spreek, het die Heilige Gees op hulle geval soos ook op ons in die begin, (die heidene het die boodskap gehoor en tot geloof gekom – Hand. 11:1) en ek het die woord van die Here onthou, toe Hy gesê het:  Johannes het met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word (gevoeg word by die Geestelike liggaam van Christus – 1 Kor. 12:13).  As God dan aan hulle (die nie-Jode/heidene) dieselfde gawe gegee het (wedergeboorte – Joh. 3:3 en byvoeg tot die liggaam van Christus – 1 Kor. 12:13) as aan ons (die Jode) wat in die Here Jesus Christus geglo het, wie was ek dan (as ‘n Jood), dat ek God kon verhinder? (M.a.w. wie was ek dan as ‘n Jood om te dink dat nie-Jode nie tot bekering kan kom en deel van die Liggaam van Christus kan wees nie?). En toe hulle (die Joodse gelowiges) dit hoor, het hulle geswyg en God verheerlik en gesê:  So het God dan ook aan die heidene (nie-Jode) die bekering tot die lewe geskenk.”

 

In bogenoemde skrifgedeelte vertel Petrus van die bekering en byvoeging van die ‘heidense-gelowiges’ met die Joodse gelowiges in die geestelike liggaam van Christus (Hand. 10: 44 –47).  Dit was iets wat die Jode hulself nooit sou kon voorstel nie, want hulle gebruike en wette het hulle eenvoudig nie toegelaat om met die heidene te meng nie. Die Joodse gelowiges wat by Petrus was, was verbaas om te hoor dat die heidene ook tot bekering kon kom (Hand. 10: 45), want hulle het gehoor hoe hulle (die ‘heidense gelowiges’) in tale spreek en God groot maak (vers 46). Die feit is hier dat die Joodse gelowiges gehoor het hoe die “heidense” gelowiges in hul eie tale die gootheid en heerlikheid van God se reddened genade prys en verkondig.

 

Hierdie gebeurtenis het plaasgevind ongeveer 8 jaar na die uitstorting van die Heilige Gees op die Pinksterfees in Handelinge 2, en ook hier word daar geen melding gemaak dat die gelowiges met die Heilige Gees gedoop is as ‘n opvolg-gebeurtenis na bekering wat gepaard gegaan het met praat in onverstaanbare ekstatiese of hemelse tale nie.

 

2.   HANDELINGE 19.

 

Die laaste gebeurtenis in Handelinge waar melding gemaak word van tale, het plaasgevind gedurende Paulus se derde sendingreis, ongeveer 12 tot 14 jaar na die pinksterfees:

 

“… en nadat hy ‘n tyd lank in Antiochië vertoef het, het hy vertrek en agtereenvolgens die land Galasië en Frigië deurgereis en al die dissipels versterk. En ‘n sekere Jood met die naam van Apollos, wat in Alexandrië gebore was, ‘n welsprekende man, het in Efese aangekom en hy was magtig in die skrifte van die Here;  en vurig van gees, het hy gespreek en die dinge aangaande die Here noukeurig geleer, alhoewel hy net van die doop van Johannes geweet het.   En hy het vrymoediglik in die sinagoge begin spreek;  maar nadat Aquila en Pricilla hom gehoor het, het hulle hom by hulle geneem en hom noukeuriger die weg van God uitgelê…”  (Hand. 18: 23 – 26).

 

”…en terwyl Apollos in Korinte was, het Paulus die boonste landstreke deurgereis en in Efese gekom;  en daar het hy sommige dissipels gevind en hulle gevra:  Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle gelowig geword het:  En hulle antwoord hom:  Ons het nie eens gehoor dat daar ‘n Heilige Gees is nie. En hy vra hulle: Met watter doop is julle dan gedoop? en hulle antwoord:  Met die doop van Johannes. Daarop sê Paulus; Johannes het met die doop van bekering gedoop en aan die volk gesê dat hulle moes glo in die Een wat na hom kom, dit is in Christus Jesus. En toe hulle dit hoor, is hulle (in water) gedoop in die Naam van die Here Jesus. En Paulus het hulle die hande opgelê, en die Heilige Gees het op hulle gekom, en hulle het met tale gespreek en geprofeteer” (Hand. 19: 1 – 6).

 

Bogenoemde twee gebeurtenisse, die een voor en die ander na Paulus se aankoms in Efese, is hier vir ons aangeteken in Handelinge 18 en 19. Die eerste gebeurtenis aangaande Apollos lê vir ons die fondasie vir die regte interpretasie van die tweede insident.

 

Apollos was ‘n Jood, gebore in Alexandria. Hy was ‘n belangrike, welsprekende man wat goed onderrig was in die Ou Testamentiese geskrifte.   Hoewel die leringe van Jesus welbekend was aan hom, was hy nog steeds ‘n dissipel van Johannes die Doper en was onbewus van die dood, begrafnis en opstanding van die Here Jesus en het nie geweet van die gawe van die Heilige Gees (d.i. die Geestelike wedergeboorte) nie. Ons weet nie veel meer van hom nie behalwe dat twee Joodse gelowiges, Precilla en Aquila, nadat hulle hom gehoor praat het in die sinagoge, hom saam met hulle huis toe genooi het waar hulle hom noukeuriger onderrig het aangaande die dinge van God.

 

Hierdie insident met Apollos gee vir ons ‘n beter perspektief op die volgende insident waar Paulus in Efese aankom en nog twaalf dissipels van Johannes die Doper teëkom. Toe hulle hulself dus aan Paulus voorstel as dissipels was hy natuurlik onseker omtrent dit, en vra daarom of hulle die Heilige Gees ontvang het toe hulle gelowig geword het (Hand. 19: 2a), want ‘n mens kan nie ‘n gelowige wees sonder die inwoning van die Heilige Gees nie (Rom. 8: 9). Hierdie dissipels antwoord toe dat hulle nie eers geweet het daar is ‘n Heilige Gees nie (vers 2b). Paulus sit toe twee en twee bymekaar en besef dat hierdie dissipels van Johannes die Doper nog nie gered is nie, omdat hulle, net soos Apollos nie geweet van die dood en opstanding van Jesus nie. Hulle was nog nie weergebore nie en ook nie deur die Heilige Gees by die res van die geestelike liggaam gevoeg nie. Hulle het nie eers geweet van die Heilige Gees nie, hulle was nog volgelinge van Johannes die Doper!  

 

Nadat Paulus die evangelie aan hulle verduidelik het, het hulle in Jesus geglo en is gered.  Die oomblik dat hulle in Jesus geglo het, het die Heilige Gees in hul lewens gekom (Joh. 7:39), aan hulle wedergeboorte geskenk (Joh. 3: 3) en is hulle in die Heilige Gees gedoop, d.w.s. in die geestelike liggaam van Christus gevoeg (1Kor. 12: 13). Hulle is toe in water gedoop (Matt. 28: 19), en daarna het Paulus vir hulle die hande opgelê en het hulle met tale gespreek en geprofeteer (Sien ook Rom. 6: 3 – 4).

 

Die feit dat die Heilige Gees op hulle gekom, en hulle in tale gepraat en geprofeteer het, moet in dieselfde konteks gesien word as die gebeure in Hand. 2 met die Pinksterfees.  Hou in gedagte: die disipels wat alreeds die Heilige Gees ontvang het (Joh. 20: 22), is later, met die pinksterfees, deur die Heilige Gees in staat gestel om die evangelie in verskillende wêreldse tale te verkondig (Hand. 2).  Dieselfde ding gebeur nou in Hand.19 met hierdie 12 dissipels van Johannes die Doper nadat hulle tot geloof in Jesus gekom het.   Nadat Paulus sy hande op hulle gelê het, het die Heilige Gees hulle die vermoë gegee om (hier in Efese) waarvan die inwoners grotendeels nie-Jode was, die evangelie te kon verkondig in die verskillende tale van die betrokke inwoners. Dat hulle geprofeteer het, moet verstaan word binne die Nuwe Testamentiese konteks wat beteken dat hulle die evangelie verkondig het.  Om te profeteer volgens die Nuwe Testament beteken nie om die toekoms te voorspel nie, (dit is fortuin-vertel en word deur God verbied)… dit beteken om die evangelie te verkondig, te verduidelik, of om sekere aspekte rondom die Skrifte duidelik uit te lig.

 

Dit is belangrik dat ons begryp dat ‘n gelowige die Heilige Gees ontvang by bekering (Joh. 7: 39), omdat ‘n gelowige nie ‘n Christen kan wees sonder die inwoning van die Heilige Gees nie (Rom.8: 9). Wanneer ‘n Christen verkeerdelik glo dat hy nie die Heilige Gees ontvang het nie, kan dit gebeur dat hy in sy soeke na die Heilige Gees homself oopstel om ‘n ander gees te ontvang ter wille daarvan om ‘n bonatuurlike ervaring te beleef.

 

“…want as iemand kom en ‘n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ‘n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ‘n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit welgeval”  (2 Kor. 11:4).

 

 

HOOFSTUK  2.

 

Kom ons ondersoek nou Paulus se lering in 1 Kor. 14 aangaande die spreek in tale. As ons deur hierdie hoofstuk lees, dan kom dit voor asof daar ‘n paar moeilik verstaanbare teenstellings voorkom, maar wanneer ‘n mens deur middel van ‘n Bybelstudie hierdie ‘moeilike’ hoofstuk intensief bestudeer, dan blyk alles eintlik baie duidelik te wees.

 

Om die kwessie rondom tale in Korintiërs duidelik te kan verstaan moet ons eerstens kyk na die historiese agtergrond waarin die kerk van Korinte haarself in daardie tyd bevind het. Korinte was ‘n groot handelstad omdat baie verskillende kultuur- en taalgroepe van oral-oor die wêreld hier bymekaar gekom het om met mekaar besigheid te doen. Die kerk het dus meestal bestaan uit nie-Joodse gelowiges. Die stad self het in Paulus se tyd ongeveer 250 000 inwoners gehad plus ‘n verdere 400 000 slawe. In vele opsigte kon Korinte dus gesien word as die hoofstad van Griekeland. Die Christelike kerk hier het dan ook bestaan uit mense van nie net verskillende kulture nie, maar ook van verskillende taalgroepe.

 

Met dit in gedagte kan ons nou kyk na Paulus se lering in 1 Kor. 14. In vers 1 sê Paulus: “Jaag die liefde na en beywer julle met die oog op die geestelike gawes, maar veral om te profeteer. (Profeteer: om verskuilde leringe in die Skrif uit te lig). Let op wat Paulus nou sê direk hierna in vers 2:  “… want hy wat in ‘n taal spreek, spreek nie tot mense nie, maar tot God;  want niemand verstaan dit nie, maar deur die Gees spreek hy verborgenhede.”

 

Wanneer ons die bogenoemde, onderstreepte woorde uit die Skrifgedeelte uithaal en dit apart interpreter, kan dit klink asof hierdie gelowiges nie met mense in wêreldse tale praat nie maar in geheime hemelse tale met God alleen oor dinge wat net God verstaan. Die persoon self verstaan dit ook nie. Dit kan ons egter nie doen nie – dat ons woorde uit ‘n Skrifgedeelte uithaal en dit buite konteks interpreteer nie. So het groot geestelike dwalinge al ontstaan wat duisende mense mislei het. Kom ons hou dié woorde binne die Skrifgedeelte en kyk na die volgende interpretasie.

 

Terwyl ons na vers 2 kyk (met die historiese agtergrond in gedagte) kan ons duidelik verstaan dat hierdie persoon in ‘n taal praat wat nie deur ander in die kerk verstaan word nie, maar wat nogtans ‘n taal is wat iewers anders in die wêreld gepraat word omdat dit gestaaf word deur vers 10 wat sê: “Daar is wie weet hoeveel soorte tale in die wêreld en geeneen daarvan is sonder klank nie” (nie onverstaanbaar nie). Die persoon praat dus nie in ‘n ‘misterieuse, hemelse taal’ nie – hy praat in ‘n vreemde wêreldse taal ‘verborgenhede’ (omdat niemand kan verstaan wat hy sê nie), nét hy alleen en God kan verstaan wat hy sê. Vers 4 sê duidelik “… hy stig net homself” (net hyself en God verstaan wat hy sê).

 

Dit is nodig dat ons verstaan dat Paulus eintlik aan hierdie kerk wat bestaan het uit lede van verskillende kulturele en taalgroepe sê, dat dit beter is om te profeteer (die Woord te verkondig) in ‘n taal wat almal verstaan, want dan kan almal daaruit leer (vers 3 en 4b), as om in ‘n vreemde wêreldse taal te praat of te bid terwyl niemand jou kan verstaan nie (vers 9). As iemand in ‘n taal praat wat niemand kan verstaan nie, behalwe net hyself, moet hy eerder vir God vra om hom in staat te stel om dit wat hy sê te vertaal sodat almal kan verstaan wat hy sê. As hy dit egter nie kan vertaal nie, en daar is ook nie iemand anders in die kerk wat kan vertaal wat hy sê nie, moet hy eerder stilbly (vers 28) en met homself en met God praat.

 

“Korinte was ‘n meertalige stad en in die kerk was daar dié probleem. Sommige gelowiges wat by die kerk aangesluit het, en ‘n onbekende taal gepraat het, wou die Here loof of oor Hom getuig, of bid, daarom die versoek dat hy dit eerder moet interpreteer, of vertaal, soos sommige vertalings dit aanhaal. As hy dus in staat was om self direk sy woorde te kon vertaal, kon hy sommer direk in die ander taal, wat almal kon verstaan, praat en was dit dus onnodig om eers in sy eie onbekende taal te praat. Let egter daarop dat daar geen voorbeeld is van iemand wat ‘n boodskap in ‘n vreemde taal gegee het, en dan dit self vertaal het nie.”

(The Gift of Tongues in the Early Church by S.R. Hewitt, The News Ltd, Kaikohe, N.Z. 1979. P. 8).

 

In verse 15 tot 25 gaan Paulus voort om hierdie kerk aan te moedig om mekaar in gedagte te hou en ‘n taal te gebruik wat almal kan verstaan wanneer hulle bid, sing en profeteer.  Wanneer daar wel in ‘n vreemde taal gepraat word wat nie deur ander in die kerk verstaan word nie (vers 27a) mag net een op ‘n slag praat en daar moet iemand wees wat dit kan vertaal (vers 27b). As daar niemand is wat kan verstaan wat die persoon sê, en dit ook nie kan tolk aan die ander daar teenwoordig nie, moet die persoon eerder stil bly en God in stilte aanbid (vers 28b) en homself daardeur stig (vers 4a).

 

In vers 18 van 1 Kor. 14 maak Paulus die volgende verklaring: “Ek dank my God dat ek meer in tale spreek as julle almal”. Paulus sê nie hier dat hy meer tyd daaraan spandeer om in tale te spreek as al die ander nie, maar hy bedoel dat hy in meer tale magtig is as al die ander daar teenwoordig. Die Knox Vertaling van hierdie Skrifgedeelte is ‘n meer korrekte vertaling en lees as volg: “Thank God I can speak in any of the tonques that you use.”  Die Griekse Vertaling sê “…meer tale as enige een van julle”. Hierdie verklaring van Paulus verwerp enige idee van ‘onverstaanbare, hemelse klanke’ in die kerk van Korinte en laat geen twyfel dat die tale hier ter sprake bekende tale was wat gebruik is deur verskillende kultuur- en taalgroepe binne die kerk nie.   Paulus sê uitdruklik dat hy die vermoë besit – of dit ‘n gawe van God is, en of dit is as gevolg van geleerdheid is – die Bybel sê nie – om meer tale te besig en te verstaan as wat in daardie kerk gebruik word.

 

Wanneer Paulus in 1 Kor. 14:14 sê: “Want as ek in ‘n taal bid, dan bid my gees, maar my verstand is onvrugbaar,” bedoel hy nie dat die verstand “afgeskakel” is en dat die persoon se gees in ‘n “hemelse” of “ekstatiese” taal bid nie. Hier praat Paulus van die mens se “gees,” en nie die Heilige Gees nie. Die mens se gees kan nie die gawes van die Heilige Gees voortbring nie, net die Heilige Gees kan dit doen. Paulus bedoel nie hier dat sy gees in ‘n “taal” bid nie. Die “gees” van die mens word baie keer in die Skrif as die setel van die emosies of passie van die mens aangedui (Matt. 5:3; Luk. 1:17; 10:21; Hand. 18:25; Rom. 12:11; Mark. 8:12; Joh, 11:33). So, wat Paulus hier bedoel, is dat wanneer hy in ‘n taal (bv. Grieks) bid wat ander nie verstaan of ken nie, al bid hy met erns en opregtheid in sy gees, dan sal dit wat hy in sy verstand weet en verstaan, onvrugbaar wees of geen betekenis hê vir hulle wat nie sy taal ken nie. Paulus sê dat in hierdie geval is die verstand “onvrugbaar.” Die woord “onvrugbaar” bedoel nie dit is “afgeskakel” nie. Nee, Paulus bedoel dat dit wat hy in sy verstand weet wanneer hy bid, vir hulle wat nie sy taal verstaan nie, dit van geen “vrug” of betekenis sal wees nie.

 

Soos dus nou gesien uit bostaande Bybelstudie kan 1 Korintiërs 14 geensins dien as Skriftuurlike grond vir die spreek van tale in ‘ekstatiese’ of ‘hemelse’ uitinge, asof deur die Heilige Gees gegee deur ‘n sogenaamde doop in die Heilige Gees nie.  Let veral ook daarop dat daar nêrens in Korintiërs melding gemaak word daarvan dat tale voortgebring word deur doping in die Heilige Gees nie,  maar eerder waarsku Paulus teen die gevaar van dwaallering, want daardeur kan hulle ‘n vreemde gees ontvang (2 Kor. 11: 4, 14); en dit bring ons by ‘n belangrike punt wat alreeds verduidelik is.   Let spesifiek daarop dat gelowiges volgens lering uit die Skrifte met bekering die Heilige Gees ontvang en in die liggaam van Christus gedoop word (Joh. 7: 39 / Joh. 3: 3 / 1Kor.12:  13).  Wanneer die Heilige Gees gelowiges ‘bemagtig’ of “toegerus” het om in die gawe van tale te praat het dit onverwags gebeur. Daar was nie sprake daarvan of tyd daarvoor om hul verstand of denke leeg te maak nie.   Sommige gelowiges ‘soek’ vandag as gevolg van die verkeerde interpretasie van Skrifte, verkeerdelik na die Heilige Gees ná bekering en gaan dan baie keer deur ‘n proses waar hulle hul verstand of denke leeg moet maak om sodoende ‘tale’ te kan ontvang wat dan as ‘n sogenaamde ‘bewys van bekering dien’.   (Sien hoofstuk 3 in hierdie verband).

 

Nog ‘n interesante gedagte is dat as dit so was dat ekstatiese tale ‘n bewys van doop in die Heilige Gees was, miljoene doofstom mense dit nooit sou kon ervaar nie, en daarom uitgesluit sou wees van hierdie ‘gawe’.

 

Ons kan ook net kortliks kyk na 1 Korintiërs 13: 1. Is dit korrek wanneer sommige mense leer dat die ‘tale van engele’ waarvan 1 Kor.13:1 hier praat, eintlik verwys na die spreek in “ekstatiese” of “hemelse” tale?  In hierdie Skrif sê Paulus:   “Al sou ek die tale van mense en engele spreek, en ek het nie die liefde nie, dan het ek ‘n klinkende metaal of ‘n luidende simbaal geword.”   Wat ons hier moet verstaan is dat Paulus nie sê dat iemand in engele-tale praat of sal praat nie;  hy verduidelik net dat selfs al het ons oor die kwali-teite van engele beskik, dit niks sou wees sonder die liefde nie.   In Hoofstuk 13: 2 sê hy: “En al sou ek die gawe van profesië hê en al die geheimenisse weet en al die kennis hê, en al sou ek al die geloof hê…”.   Paulus bedoel nie dat iemand oor al hierdie kwaliteite beskik nie… hy bedoel maar net dat liefde die belangrikste kwaliteit in ‘n Christen se lewe is. Ons lees ook in 1 Korintiërs 13: 8 dat “… tale… sal ophou.”   M.a.w., as dit so was dat tale ‘n hemelse taal was, sou Paulus nie aangedui het dat dit sal ophou nie.

 

Om uit eersgenoemde drie insidente uit Handelinge en ook uit Paulus se leringe in 1Kor. 13 en 14 te probeer bewys dat tale, soos ons dit in die Bybel kry, ‘n ekstatiese of hemelse uiting van deurmekaar klanke is, gegee deur die Heilige Gees na bekering deur ‘n sogenaamde doop in die Heilige Gees, is nie net teologies onaanvaarbaar nie, maar ook is dit ‘n swak interpretasie van die Skrifte wat meerendeels lei na vreemde en onBybelse praktyke.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

HOOFSTUK 3.

 

Die volgende vraag op hande is natuurlik nou: Is daar ‘n indikasie in die Woord van God waar ‘onverstaanbare’ klanke in die vorm van ‘ekstatiese uitinge’ genoem word?  Die eerste Skrif wat miskien na iets van hierdie aard kan verwys word gevind in Jesaja 8: 19: “En as hulle vir julle sê:  Raadpleeg die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê, wat piep en mompel…” Hier vind ons dat die demone binne in hierdie waarsêers onverstaanbare geluide by hulle monde laat uitkom.  

 

In heidense gelowe kry ons van die mees prominente manifestasies by die inisiasie rituele waar die betrokkenes in ‘n beswyming gaan om sodoende kontak te maak met die geesteswêreld. Hierdie praktyke eindig gewoonlik dan in besetenheid (beset deur bose geeste)… waar die bose gees dan onintelligente geluide maak deur die mond van die ‘aanbidder’. Hierdie tipe ‘spreek in tale’ word ook beoefen deur sekere Moslem sektes, Eskimo’s en Tibetaanse monnike. Gedurende sekere Hindu rituele kry ons ook die verskynsel van ekstatiese uitinge.  Hierdie praktyke word ook gekry in sommige Afrika gelowe waar die beoefenaar sy denke leegmaak om sodoende sy selfbeheersing af te gee aan die geesteswêreld.  Nêrens leer die Skrif ons dat die Heilige Gees deur ‘n persoon werk wat sy denke geneutraliseer het sodat hy ‘n ‘willose marionet’ in die hande van die Here is nie. Dit is egter die manier waarop bose geeste te werk gaan. 2 Tim. 1: 7 leer dat God aan ons selfbeheersing gegee het.

 

Die tweede Skrif wat heel moontlik verwys na ekstatiese uitinge is 1Kor. 12: 3 “…Daarom maak ek julle bekend dat niemand wat deur die Gees van God spreek, Jesus ‘n vervloeking noem nie; en niemand kan sê dat Jesus die Here is nie behalwe deur die Heilige Gees.”  Die gelowiges in die kerk van Korinte het ‘n sterk heidense agtergrond gehad (vers 2). In die stad Korinte self was daar ongeveer 12 heidense tempels. Die mees gesogte tempel was die van Aphrodites, die godin van liefde in wie se tempel daar oor ‘n duisend prositute gedien het. Hierdie geloof was bekend vir sy ekstatiese ervaringe deur semi-trans toestande van die bewussyn. Dan was daar ook die tempel van ‘Esclepius’, die god van genesing. In die middel van die stad was die tempel van Apollos. Volgens die geskiedenis was die stad van Korinte die hoof-sentrum vir openlike immoraliteit in Paulus se tyd. Geen wonder dat Paulus in sy briewe aan hierdie kerk so baie morele kwessies moes aanspreek nie. In stede daarvan dat hulle geestelik moes wees was hulle nog steeds vleeslik. Hulle het ‘n verdraagsaamheid gehad teenoor seksuele sondes, partyskappe, huweliks-vraagstukke en natuurlik die ”tale” kwessie.

 

In vers 2 van hoofstuk 12 wys Paulus daarop dat baie van hierdie gelowiges van die Korinte kerk nie so lank gelede uit hierdie heidense praktyke gered is nie.  Dit blyk egter dat baie van hulle nog steeds van hierdie praktyke beoefen het (1 Kor. 3: 1). Dit is moontlik dat somminge gelowiges hierdie heidense praktyke van ekstatiese uitinge in die kerk kon inbring en as gevolg van die bonatuurlike dimensie daaraan verbonde,  en ook as gevolg van hul gebrek aan onderskeiding tussen die werk van die Heilige Gees en die werk van bose geeste, dit kon toeskryf aan die Bybelse gawe van spreek in tale. Dit is daarom dat Paulus hulle vermaan en sê: “En wat die geestelike gawes betref, broeders, wil ek nie hê dat julle onkundig moet wees nie. Julle weet dat julle heidene was, weggevoer na die stomme afgode net soos julle ook al gelei is. Daarom maak ek julle bekend dat niemand wat deur die Gees van God spreek, Jesus ‘n vervloeking noem nie; en niemand kan sê dat Jesus die Here is nie, behalwe deur die Heilige Gees” (1Kor. 12: 1 – 3.). In plaas daarvan om hierdie sogenaamde ekstatiese uitinge aan te moedig as ‘n Bybelse praktyk, het Paulus hulle eerder sterk daarteen vermaan.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

HOOFSTUK 4.

 

Ons het dus nou gesien dat die ‘tale’ in Handelinge gewone menslike, verstaanbare, wêreldse tale is. So ook in Korintiërs – inaggenome dat Paulus die uiting van ekstatiese, onverstaanbare klanke ook aangespreek het deur daarteen te waarsku as komende van uit hul heidense agtergrond. Ons het ook in hoofstuk 3 gesien dat ‘ekstatiese uitinge’ gepraktiseer word in al die heidense gelowe van ons dag. Hierdie selfde praktyk van “ekstatiese tale” kom ook in die Charismatiese Roomse Katolieke beweging voor al hou hulle aan om die on-Bybelse Heilige Mis (nagmaal) te vier, hul on-Bybelse gebede tot die ‘heiliges’ en  terwyl hulle ook daarop aanspraak maak dat “praat in tale” hul aanbidding van Moeder Maria soveel meer betekenisvol maak.

 

Die Skrif leer ons egter dat, “… wanneer Hy, die Gees van die Waarheid kom, sal Hy ons in die volle waarheid lei” (Joh. 16: 13).   Nêrens lei die Heilige Gees ons in die Bybel om ‘n “Moeder Maria” te aanbid nie. Duisende Katolieke wat Moeder Maria in tale aanbid word nie deur die Heilige Gees gelei om dit te doen nie. ‘n Misleidende gees manifesteer, op grond van verdraaide leringe, as die Heilige Gees en lei hierdie Katolieke om in “tale” te praat (2 Kor 11: 14).

 

As ons verstaan dat “ekstatiese uitinge” nie Skriftuurlik gegrond kan word nie, dat juis heidense gelowiges hierdie praktyke beoefen, en dat daar geen ander gawe (enkelfoud) van die Heilige Gees as die Heilige Gees Self is nie (moet nie verwar word met geestelike gawes – meervoud nie), wat aan ons wedergeboorte skenk (Joh. 3: 3) en ons doop in die liggaam van Christus in nie (1Kor. 12:13), dan moet ons insien dat “ekstatiese tale” ‘n ander bron het.

 

In die eerste plek, en ek glo dit is meestal die geval, word ekstatiese tale deur die persoon self voortgebring in baie Charismatiese of Pinkster kerke omdat dit van die persoon verwag word volgens die leringe van daardie kerke. ‘n Gelowige is baie keer onder druk van die kerk se lering wat hom laat glo dat “spreek in tale” ‘n bewys is van bekering en doping in die Heilige Gees.  Omdat iemand dan nie minder geestelik wil wees as hul mede-gelowiges nie, leer hy om hy hierdie klanke na te maak om dan in sogenaamde “tale” te spreek.

 

Maar in die tweede plek is daar ‘n meer sinistere oorsprong in die sogenaamde ‘spreek in tale’. Die Skrifte waarsku ons duidelik, veral wanneer ons begin soek na tekens en wonders, dat ons verlei kan word deur bose geeste wat hulle voordoen asof hulle besig is met die werk van God (2Tess. 2: 9). Die gevaar is dat ‘n persoon homself kan oopmaak vir hierdie misleidende bose geeste, wat hulself voordoen as die Heilige Gees. Gedurende ‘n onderhoud op ‘n sogenaamde Christen TV kanaal, het ‘n persoon sy getuienis gelewer van wat met hom gebeur het toe ‘n Hindoe hoëpriester hande op hom gelê het:

 

“Hy het my weer aangeraak met sy hand op my kop. Na dit het die mees fantastiese kleure rondom my verskyn en dit was asof ek uit my liggaam gestap het en daarop afgekyk het… ek het in tale begin praat…… op daardie oomblik het ek besluit om op te hou om alles wat gebeur te evalueer… ek was gevul met ‘n gewaarwording van absolute liefde soos ek nog nooit voorheen beleef het nie…”

(The seduction of Christianity by Dave Hunt, Harvest House Publisher, Oregon, 1985. P 58.)

 

Die Heilige Gees sal nooit, nooit deur ‘n afgod aanbidder (Hindoe priester)! werk nie!   Hierdie gees wat al hierdie fantastiese kleure, gevoel van liefde en tale kon voortbring was ‘n bose gees.

 

SAMEVATTING.

 

Die doop in die Heilige Gees moet nie verwar word met die vervulling in die Heilige Gees nie. Die doop in die Heilige Gees is ‘n eenmalige gebeurtenis wanner die persoon met sy bekering wedergebore word en in die liggaam van Christus ingedoop word deur die Heilige Gees. Die vervulling met die Heilige Gees het te doen met diens en vermoëns. Ons moet veral onthou dat dit nie met die Pinksterfees was dat die dissipels die Heilige Gees ontvang het nie, maar ná die opstanding in Joh. 20: 19 – 22:

 

“En toe dit aand was op daardie eerste dag van die week en die deure waar die dissipels vergader het uit vrees vir die Jode, gesluit was, het Jesus gekom en in hul midde gestaan en aan hulle gesê:  Vrede vir julle! En nadat Hy dit gesê het, wys Hy hulle sy hande en sy sy. En die dissipels was bly toe hulle die Here sien. Jesus sê toe weer vir hulle: Vrede vir julle! Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook. En nadat Hy dit gesê het, blaas Hy op hulle en sê vir hulle:  Ontvang die Heilige Gees.”

 

Hierdie gebeurtenis in Johannes maak dit duidelik dat die dissipels nie die Heilige Gees op Pinksterdag ontvang het nie. In Hand. 2, met Pinkster, is die dissipels wat alreeds die Heilige Gees ontvang het, vervul of bemagtig met die Heilige Gees;  aanvanklik in Hand. 2:4, maar onderskeidelik weer in Hand. 4:31, en beide kere was dit terwille van krag en vrymoedigheid om die evangelie te verkondig. Henry M. Morris sê:

 

“…die vervulling met die Heilige Gees (wat onderskei moet word van die eenmalige doop in die Heilige Gees) is nie ‘n eenmalige gebeurtenis nie, maar kan herhaal word, en wat meer is dit kan herhaal word vir verskillende redes. In die eerste plek (Hand. 2: 4) is die dissipels wonderbaarlik in staat gestel om die Woord te preek in verskillende wêreldse tale;  By die tweede geleentheid (Hand. 4: 31) word slegs genoem dat hulle die Woord met vrymoedigheid gepreek het.

(The Bible Has the Answer, Baker Book House, Grand Rapids, Michigan, 1971. P. 150).

 

In bogenoemde twee gevalle het die inwoning van die Heilige Gees die dissipels in staat gestel om spesifieke take te verrig volgens die plan en doel van God. Die vervulling van die Heilige Gees is nie net vir spesifieke werke van God nie; maar die vervulling of leiding van die Heilige Gees sal ook ge-sien word in die lewe van die gelowige. Dit sal manifesteer in sy daaglikse lewe as die “vrug” van die Heilige Gees. ‘n Werklike Geesvervulde Christen se karakter sal getuig van liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, bedagsaamheid en selfbeheersing (Gal. 5: 22 – 23).

 

Die gedagte:  “vervul met die Heilige Gees” kan beter verstaan word as ‘n mens die woord “beheer” deur die Heilige Gees gebruik. Dit beteken nie dat die mens ‘n onbeheerste “robot” in die hand van die Here is nie. Dit is eerder ‘n geval waar die persoon ‘n bewustelike besluit maak om homself onder beheer van die Heilige Gees te hou in elke en alle omstandighede. Dit is ‘n lewe van gehoorsaamheid aan die waarheid en uitleef van God se Woord (Joh. 17: 17). Dit is alleenlik moontlik waneer die vlees-lewe gekruisig word op’n daaglikse basis. Dit was ook die verstandhouding van Jesus onder sy hemelse Vader:” … nie My wil nie… maar U wil…” (Luk. 22: 42).

 

Daar is twee maniere waarop iemand uit hierdie “spreek-in-ekstatiese-tale” dwaling kan kom. Eerstens, as jy dit vir jouself aangeleer het kan jy dit voor die Here gaan bely as ‘n sonde en hou dan op om dit te doen. Dit sal aanhoudend probeer terugkom maar weier eenvoudig om daarmee aan te gaan en konsentreer daarop om normaal te bid. Dit sal uiteindelik weggaan (Jak. 4: 7).

 

Tweedens, as jy ‘n wedergebore Christen is wat jouself blootgestel het aan “ekstatiese” tale deurdat jy jou denke leeggemaak het en so bewustelik (maar onder misleiding) die “Heilige Gees” genooi het om in jou in te kom met die resultaat dat jy ‘n wonderlike ervaring gehad het, gepaardgaande daarmee dat jy in “tale” begin praat het, is dit die beste om ‘n Skriftuurlike leraar of ‘n Geesvervulde Christen te gaan spreek waar dit getoets kan word in die Naam van Jesus Christus, jy dit kan bely, julle saam daaroor kan bid en jy bevryding kan kry daarvan.

 

Mag die Here u help om al hierdie dinge waarlik te verstaan.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

‘n KORT GESKIEDENIS VAN “EKSTATIESE” TALE.

 

Die filosoof, Plato, verwys in sy geskrifte dat “ekstatiese uitinge” gebruik is 1000 jaar voor Christus deur heidense gelowiges tydens gebeds-rituele. Chrysostom (345 – 407 N.C.), verwerp ‘n beweging in Constantinopel, wie se lede uitgebars het in onidentifiseerbare geluide (Smith’s Dictionary of the Bible, Volume 4. P. 3310). Die enigste noemenswaardige groep wat gedurende die eerste helfte van die kerkgeskiedenis aanspraak gemaak het op “ekstatiese uitinge” of “tale” was die volgelinge van Montanus. Hy was ‘n tweede-eeuse ‘wegbreker’ van die gevestigde kerk. Montanisme is destyds verwerp deur die vroeë kerk as ‘n ernstige afdwaling van die Christelike geloof.

 

Dit was eers gedurende die 17de eeu dat enige noemenswaardige “ekstatiese tale” sprekende groepe kop uitgesteek het binne die Christelike geloof. Die Janseniste, ‘n Rooms Katolieke groep, het daarop aanspraak gemaak dat hulle in staat was om in “tale” te kan praat. Nog ‘n groep, gelei deur ‘n Mev. Ann Lee, ook genoem Moeder Lee, het ‘n sekte gevorm wat ‘Shakers’ genoem is gedurende die middel 1700’s. Hulle het ook daarop aanspraak gemaak om in “tale” te kon praat en Moeder Lee het haarself aangesien as die vroulike eweknie van Jesus Christus.

 

Die stigter van die Mormone, Joseph Smith, het tale in sy kerk ingestel gedurende 1833 en het dit later verklaar as ‘n amptelike Mormoonse lering.   Joseph Smith het geleer dat ‘n engel aan hom verskyn het met ‘n kis waarin ‘n aantal goue plate was wat sekere geskrifte bevat het. Hy was blykbaar die enigste een wat hierdie geskrifte kon lees en vertaal. Hierdie geskrifte is deur hom later saamgevat as die Geheime Mormoonse Bybel.  Hierdie Mormoonse leringe is heeltemaal onBybels en teenstrydig met enige iets wat die Bybel leer. Soos te verwagte glo die Mormone dat alle ander kerke vals leringe aanhang en onder die vloek van God is.

 

Nog ‘n “spreek in tale” groep het ontstaan gedurende die vroeë 19de eeu onder leiding van ‘n Skotse Presbeteriaan, genaamd Edward Irving, wat geskors is uit die Presbeteriaanse kerk. Hulle het nie alleen in “tale” gepraat nie, maar ook aanspraak gemaak op “profetiese” gawes. John McArthur Junior gee vir ons die volgende inligting oor hierdie beweging:

 

“Irving se profete het mekaar dikwels weerspreek, hulle profesië was vals en hul samekomste het getuig van vergrype en brassery.   Hierdie beweging is verder gediskrediteer toe sommige van hul profete valse profesië erken het, en ander hul gawes toegeskryf het aan bose geeste. Hierdie groep het uiteindelik ontwikkel as die Katolieke Apostoliese kerk waaruit baie valse leringe voortgevloei het, insluitend die ontstaan van 12 apostoliese ampte.”

(Charimatic Chaos, Zondervan Publishing House, Michigan, 1992. P. 286).

 

Moderne “taalsprekende” groepe verwys dikwels na Charles Parnham as die vader van die moderne “tale” beweging. Parnham was ‘n jong leraar wat gedurende die begin van die 20ste eeu ‘handoplegging’ gepraktiseer het met die resultaat van “spreek in tale as ‘n bewys van die doping in die Heilige Gees”. Een van sy studente, ‘n kleurling genaamd Seymor, het oppad na Los Angeles besoek afgelê by die Pillar of Fire Bible School in Denver, Calorado. Gedurende ‘n gebedsbyeenkoms het die stigter van die skool hom gevra om te bid. Sy het later vertel:

 

“Hy was taamlik aangevuur, maar voordat hy klaar gebid het, het ek die gevoel gekry van slange en ander slymerige kreature om my. Ook van die ander studente het reguit gesê hulle was oortuig daarvan dat hy van die duiwel besete is.”

(Charismatics and Glossolalia by H.E. Will, Pilgrim Press, Michigan, 1978. P. 18).

 

By sy aankom in Los Angeles, het Seymor ‘n sendingstasie in Azusa Straat begin vir die hou van sy byeenkomste. Kort voor lank het die nuus die rondte gedoen dat God ‘n Kleurling opgerig het om die Pinkstergawes terug te bring in die kerk en dat die mense weer die doop in die Heilige Gees ontvang, met die resultaat van “praat in tale.” Charles Parham het, toe hy hiervan hoor, na Los Angeles gereis met die doel om die Azusa Straat sending oor te neem.  Seymor se volgelinge het hom egter fisies uit die kerk verwyder en Parham het toe sy eie “Tale-Kerk” in opposisie met Seymor gestig. Albei het toe daarop aanspraak gemaak dat die ander een “die duiwel se tale” het (Conversations on “The Tongues”. P. 52).

 

Die naasgrootste tale-groep was gestig deur A.T. Tomlinson in 1907, en het hulself die Kerk van God genoem. Hierdie groep het later verdeel in kleiner, onafhanklike ‘tale-groepe’. Gedurende 1914 is die grootste Pinkster denominasie gestig, naamlik “The General Council of the Assemblies of God” in Amerika. In Europa is die eerste ‘tale-groepe’ geïdentifiseer in Engeland met die Keswick konferensie waar twee Amerikaanse herlewingspredikers, P. Smith en C. Beardman, die Pinksterbeweging aan die gang gesit het dwarsoor Europa.

 

Duisende Charismatiese Katolieke maak vandag, met hul onBybelse gebede aan Maria en heiliges, hul onskriftuurlike deelname in die Heilige Mis (nagmaal) en al hul ander dwaalleringe, ook aanspraak op die gawe van “praat in tale.”

 

Tereg kan ons vra, nadat ons gekyk het na die geskiedenis van “ekstatiese tale”, en nadat ons ‘n deurdringende Bybelstudie daaroor gedoen het: “Watter gees is hier aan die werk?”  Indien ons die Bybelse waarheid aanvaar dat die Heilige Gees NOOIT valse en onBybelse manifestasies sal teweegbring nie, moet ons erken dat die “ekstatiese tale” wat vandag deur die Charismatiese kerkgroepe beoefen word, nie die werk van die Heilige Gees kan wees nie!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00