n Valse Christen se Getuienis
Op die 14de Desember 2009 het ek my hart vir die Here gegee en ek is weergebore

…….Voor dit het ek gedink ek was weergebore…….

 

Ek was ʼn soet kind gewees.  Ek het nooit betrokke geraak by enige slegte dinge (soos bv. dwelms) nie, ook nie gerook of gedrink nie, en het goed gedoen op skool.  Ek het kerk toe gegaan, en was die laaste 11 jaar baie betrokke in ons kerk – so ver moontlik alle dienste en byeenkomste bygewoon, ek was op die vroue bestuur gewees, kleuterkerk gegee, voorsang gedoen, ens.  Ek het gedink ek is weergebore omdat ek besig was met die dinge van die Here en die Here gedien het deur my werke.

 

Marius van Just het my getuienis gevra toe ons besig was met ʼn reeks oor heiligmaking.  Dit was die eerste keer ooit wat iemand my getuienis gevra het.  Toe het ek vertel hoe my toekomstige man, Hanno, my vertel het dat ʼn mens nie deur jou werke in die hemel kom nie, maar dat jy jou moet bekeer, en dat Ek een aand gebid het en die Here in my hart ingenooi het, en gedink het ek was bekeer.  Ek het 11 jaar terug aansoek gedoen om lidmaatskap in die EG Kerk, nadat ek al ʼn paar maande besoek het.  Ek moes nie eers my getuienis voor die kerkraad gegee nie, want die Dominee het gesê dat ek so betrokke was in die gemeente dat hy sommer kon sien ek is reg.

 

In die volgende 11 jaar het ek verskeie kere van kansels af gehoor dat jy moet seker wees van ʼn dag en ʼn oomblik toe jy wedergebore is.  Ek kon nie dink aan ʼn datum toe ek my bekeer het nie.  Vir my was dit eerder ʼn proses van meer en meer werke doen vir die Here.  So ek het partykeer gewonder of ek wedergebore is, en dit het my effens bekommer.  Ander kere het ek weer van kansels af gehoor dat jy net die Here in jou hart moet innooi en die Here moet dien om kind van die Here te wees.  Dit het my weer gerusgestel dat ek wedergebore is, want ek het baie dinge vir die Here gedoen.

 

Nadat ek my getuienis met Marius gedeel het, het ek besef dat ek nie weergebore is nie, maar dat ek net goeie werke doen (Joh. 3:3  Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.).  Ek het besef dat ek nooit werklik berou gehad het oor my sondes nie, nooit werklik besef het ek is op pad hel toe nie (Rom. 6:23  Want die loon van die sonde is die dood …).  Ek het altyd gedink ek is op pad hemel toe  (Spr. 14:12  Daar is ʼn weg wat vir ʼn mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood.).  Ek moes erken dat ek nooit ʼn persoonlike verhouding met die Here gehad het nie, amper nooit stiltetyd gehou het nie, nie genoeg Bybel gelees het nie.  Ek het besef dat my lewe nooit werklik verander het nie, dat ek nooit ʼn nuwe mens geword het nie.  Ek het nooit geestelik gegroei nie.  Ek het al my tyd spandeer op my goeie werke, en dit as my stiltetyd vir die dag beskou. Ek het besef die Here gaan my wegstuur want Hy het my nooit geken nie (Matt 7:23  En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!). Ek het die Here nooit Koning van my lewe gemaak nie, ek het in beheer gebly.

 

Ek het met diepe berou al my sondes voor die Here neergelê en Hom gevra om my te vergewe, en Hom gevra om in my te kom woon en my ʼn nuwe mens te maak.  Dit was my werklike begeerte.  Die Here het dit gedoen en dit bevestig (Psa. 40:3  En Hy het ʼn nuwe lied in my mond gegee, ʼn lofsang tot eer van onse God. Baie sal dit sien en vrees en op die HERE vertrou.).  Nou weet ek dat ek ʼn kind van die Here is, ek twyfel nie meer nie.

 

Mag hierdie getuienis tot seën wees vir iemand wat ook twyfel of hy/sy werklik wedergebore is, of dink dat sy/haar werke genoeg is.

 

2 Februarie 2011, die dag toe ek myself geheel en al oorgegee het aan die Here.

 

Op die 14de Desember 2009 het ek besef ek is verlore (al het ek die Here gedien deur oorvloedige werke), en die Here het my siel kom red deur Sy genade.

 

Van toe af het ek ʼn lewende, persoonlike verhouding met die Here.

 

In die laaste paar maande het die Here my kom wys dat ek sekere “pilare van sekuriteit” in my lewe het, areas waar ek op myself vertrou en nie op die Here vertrou nie.  Bv. finansies: die Here gee en Hy kan ook wegneem, en Hy moes ons geld vir ʼn tyd wegneem om my te wys dat ek nie afhanklik is van Hom vir alles wat ek het nie, maar dat ek alles nog in my eie krag doen.  In hierdie tyd van finansiële krisis het die Here my kom leer om op Hom te vertrou vir letterlik ons daaglikse brood.  Die Here het wonderbaarlik voorsien op maniere wat ons nie eers kan verstaan nie, en Hy het my gedurende hierdie tyd gedurig bemoedig in Sy Woord dat ek net op Hom moet vertrou.  Daar is ook ander areas van my lewe (my pilare) wat Hy onder my “uitslaan”, om my te wys dat ek daardie dinge nog nie aan Hom oorgegee het om te beheer nie.  Ek was nog die stuurman daarvan.  Bv. my huwelik, my kinders.

 

Ek is baie bevoorreg om in ʼn kerk te wees wat heiligmaking verkondig (die Vrye Baptiste Kerk, Strand): 1Pet1:15-16  “Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.” Van my redding af, strewe ek na heiligmaking, wat die wil van God vir elkeen van ons is: Joh 3:30  “Hy moet meer word, maar ek minder.” Die oggend van die 2de Februarie 2011 het ek gevoel ek kan niks meer reg doen nie, dat ek die Here gedurig teleurstel, dat ek nie oorwinning kry oor sekere dinge in my lewe nie.  Ek was moedeloos vir myself.  Maar die Here het daardie oggend in my stiltetyd vir my kom sê in Matt 14:27  “…Hou goeie moed, dit is Ek! Moenie vrees nie.” En verder in Matt 14:30-31  “…toe hy begin sink, roep hy uit en sê: Here, red my!

 

En Jesus het dadelik sy hand uitgesteek en hom gegryp…” Daardie oggend in ons vrouebiduur het Madelein gepraat oor heiligmaking, en hoe mens nie jou kans moet laat verbygaan om na Jesus uit te roep terwyl Hy verby jou gaan nie, sodat Hy jou volkome kan genees van jou inwonende sondige natuur.  Daar het die Here my oortuig dat ek my ongeloof en vrese moet laat staan en my lewe volkome aan Hom moet oorgee, want ek sal nooit oorwinning kry oor sekere dinge nie, tensy die Heilige Gees totaal in beheer is van my lewe nie.  Ek het besef ek glo al die ander beloftes wat die Here my al gegee het in Sy Woord, hoekom dan nie die een waar Hy sê: Luk 11:13  “As julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?” Ek het besef nou is die tyd om die stap in geloof te neem.  Ek het my alles (my finansies, my huwelik, my kinders ens.) voor die Here neergelê en Hom gevra om my te kom vul met Sy Heilige Gees.  En Hy het dit vir my gedoen.  Hy het dit vir my kom bevestig in my stiltetyd: Matt 15:28  “…o Vrou, groot is jou geloof; laat dit vir jou wees soos jy wil hê…”

 

Nou is ek nie meer in beheer van my lewe nie, maar die Heilige Gees is.  Hy wys my nou waar ek nog donker hoekies in my hart het wat moet skoon kom sodat my hele lewe Hom kan verheerlik.  So sien ek nou bv. hoe vinnig ek geïrriteerd raak.  Jesus was ʼn voorbeeld van sagmoedigheid en lydsaamheid.  So het ek die Here kom vra om my te verlos van alles wat nie tot Sy eer is nie, sodat ek soos Jesus kan wees.  Gal 4:19b  “…totdat Christus in julle ʼn gestalte verkry.”

 

Sy doel vir elkeen van ons is dat ons weergebore sal word, geheilig sal word, en dat ons vir Hom sal werk om die evangelie uit te dra: Matt 28:19  “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”

 

Mag die Here ons elkeen genadig wees, en ons bring op die punt waar ons volkome oorgegee is aan Hom.

 

Amen.Die stryd is fel en die las maak seer,

En dikwels sug u: “ek kan tog nie meer,”

Hou nog ‘n bietjie, want die ou kruis,

Lei gewis na die stad en die Vader se Huis.

Op ‘n harde steen aan ‘n woud se rand,

Sit ‘n moee grysaard met staf in die hand,

Hy kan nie meer verder, hy is so mat,

Omdat hy soveel swaar te verdure had.

So sit hy en peins oor sy lewe en las,

En oor dae toe alles nog sonskyn was.

Dan styg daar ‘n weemoed op in sy hart

Om weer te vlug vir die aardse smart,

En wyl daar ‘n storm in sy binneste loei,

Begin die trane oor sy wange vloei.

Maar eerlank begin hy hom weer te berus,

Want hy word van sy goddelike kindskap bewus

Bestyg hy die rand na sy huis teen die hang,

Daar le hy moeg van swerwe te rus,

Met ‘n hart wat smag na die hemelse kus

En daar in ‘n droom het hy eers verstaan

Dat die kruis hom die weg na die ewigheid baan.

Hy sien homself in pelgrimsgewaad,

Terwyl hy swoeg van vroeg tot laat,

Met ‘n grote kruis wat swaar op hom rus,

Stayp hy aan deur die stof van sy las bewus.

Eers is hy moedig, die doel wink van ver,

Skoon glinster die stad soos ‘n goue ster;

Maar fel brand die son en die kruis is so swaar,

En skielik word hy van ‘n rusplek gewaar.

Daar staan ‘n huisie so lief en skoon,

“O, sal dit nie heerlik wees daar te woon?”

Maar toe hy nou verder op reis wou gaan

Sien hy ‘n saag teen die huisie staan.

Toe dink hy, “maar nee, die kruis is te lank,

En hier is ‘n saag om die Heer voor te dank.”

Weer hervat hy die reis met ‘n ligter kruis,

En sy oe gevestig op die Vader se huis,

Weldra sien hy ook die stad voor hom staan,

En hy dink, “ag hoe heerlik om daarin te gaan.”

Maar daar tussen hom en die heerlike stad

Loop ‘n siedende stroom wat geen brug daaroor had.

Maar hoe hy ook soek om ‘n oorgang te kry,

Gewaar hy geen plek om die stroom te oorskry,

Daar val dit hom by van die kruis op sy rug

Dit dien hom waarskynlik net mooi vir ‘n brug.

Hy plaas dit versigtig dwarsoor die stroom,

Maar o wee, wat gebeur? Hy het nimmer kon droom

Dat die kruis eenmaal dien as ‘n brug

Hulploos staar hy die lewe terug,

En hy roep! “Ag, hoe kon ek dit waag,

Om ‘n stuk van die brug af te saag?”

Maar terwyl hy so bitterlik staan en ween,

Kom ‘n ander pelgrim ook daarheen,

Hy kom by die stroom, sy kruis pas net goed

En hy gaan na die stad met ‘n bly gemoed.

Toe dink ons pelgrim, “Ek gaan ook probeer

Om oor hierdie kruis na die stad terug te keer.

Maar toe hy begin, het sy bruggie gekraak,

En met vreeslike angs het hy toe ontwaak.

Dit was maar ‘n droom, maar nou weet hy gewis

Dat die kruis wat so swaar op skouers hier rus

Hom daarbo sal beloon met ‘n liefklike vrug.

As hy dit kan gebruik as ‘n oorgangsbrug.

En nou, liewe pelgrim op die ewige reis,

Hoe swaar is jou las en hoe groot is jou kruis?

Dink aan die grysaard, en leer uit die droom,

Dat die kruis van die lewe word eendag ‘n kroon

En hoe groter die kruis, hoe sterker die brug,

As jy eenmaal oor die doodsjordaan vlug.

 

All Nations Gospel Publishers – P.O.Box 2191 Pretoria RSA

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00