JAKOBUS-REEKS NR 7

Jakobus 3: 13-18 / Galasiërs 5: 16-23
Tema: Wysheid in werksklere

 

‘n Baie kragtige en diepsinnige Skrifgedeelte – só aktueel, dit kon gister geskryf gewees het. Parallel = Galasiërs 5 wat handel oor die werke van die vlees/gevalle menslike natuur in kontras tot die vrug van die Gees. Groot tema: wysheid. In lyn met boek Spreuke. Wysheid = om die Here reg te ken & te verstaan in plaas daarvan om sélf “here” te wees – wat uitmond in ‘n praktiese lewensgesindheid. Dit is ‘n “ken van die Here” wat jou hele lewe binnedring en herskep. Niks anders as om beheers/vervul te wees deur die Gees – daarom die parallel met Galasiërs 5.

Weer eens lýk dit of Jakobus sommer net willekeuriglik ‘n nuwe tema aan die orde stel, maar eintlik sluit hy aan by die einde van die vorige paragraaf wat oor die tong handel. Onthou u nog hoe het hy dáárdie paragraaf afgesluit? Hy het gepraat oor die fontein/innerlike hart van waaruit die tong praat wat hy praat! Wat Jakobus nou doen, is om verder oor die fontein/bron te praat. Eintlik TWEE verskillende fonteine, want onthou: die tong manifesteer in twee verskillende rigtings – dit hang af uit watter fontein die tong sy voeding ontvang! Die twee fonteine noem Jakobus “twee teenoorstaande soorte wyshede”: Aardse wysheid en Wysheid van Bo.

Hierdie paragraaf doen eintlik niks anders nie as om twee soorte mense te teken. Die ganse mensdom is in slegs twee groepe verdeel – vanuit hemelse perspektief: a) diegene wat dink dat die Heilige Gees hul besit en b) diegene vir wie die Gees wel besit. Jakobus beskryf hierdie twee soorte mense vanuit die begrip “wysheid”. Hy sê eksplisiet: Baie mense dink/hoop dat hulle die wysheid besit (kennis van die Here), maar die uiteindelike toets is lewenswyse/gesindhede. Dit wat innerlik is, sal onvermydelik buitentoe kom. Die innerlike hemelse wysheid sal werksklere aantrek. Dit sal buite begin werk sodat almal die mooiheid/lieflikheid (v 13: “goeie gedrag” beteken letterlik “lieflike”) daarvan kan sien & hoor. Aantreklikheid wat almal kan sien. ‘n Lewe wat iets weerspieël van die skoonheid van heiligheid. Die hele punt is: alles moet innerlik begin. In die innerlike karakter. Dit is WYSHEID van BO. Net so ook in die boek Spreuke. Dit het niks te make met IK of kennis of verstand nie. ‘n Klein kind van 5 jaar kan Wysheid besit. ‘n Geleerde professor kan geen Wysheid hê – by wyse van kontras. ‘n “Verstandige” mens (v13), is volgens Jakobus iemand wat wel die nodige evangeliese kennis het, maar by wie die kennis die praktiese lewenswandel/gesindhede/verhoudings herskep & verander.

Dit is die groot verskil tussen die Evangelieboodskap van die Bybel en alle ander nie-christelike godsdienste (bv Islam/Boedisme/New Age): alle godsdiens is aangeplak van buite af. Jy kan ‘n fantastiese Boeddis/New Ager wees sónder dat ‘n innerlike verandering nodig is. Maar jy kan nie uiterlik ‘n Christen wees, sonder dat ‘n innerlike hartsverandering dit voorafgaan nie! By die nie-christelike godsdienste maak dit ook nie saak nie, want die uiterlike regdoen van dinge (moralisme) is goed genoeg. Tewens, by die nie-christelike godsdienste kán die mens op geen manier innerlik verander word nie. Daarom word alles uiterlik aangeplak soos grimering. Slegs die bonatuurlike sake soos Christus Jesus se opstandingskrag & en die volheid van Gees van Pinkster, kan die mens regtig innerlik verander. Daarom is die essensie van die Christelike Geloof glad nie die nakom van uiterlike reëls en regulasies (moralisme) nie. Uiterlike dinge kom alles vanself nádat die mens die Wysheid ontvang het. Nádat die opgestane Christus kom inwoon het, dán kom die innerlike transformasie. Die Wysheid trek dan sélf werksklere aan en kom uiterlik na vore. Daarom die parallel met Galasiërs 5:22: die VRUG van die Gees… Dit is iets wat spontaan na vore kom nádat die fondasie reg gelê is. By die nie-christelike godsdiens is daar geen ware innerlike fondasie nie, daarom moet die vrug self opgewerk word. Besef u wat moet ons ongelooflike dankbaarheid nie wees vir wat ons Here Jesus kom doen het nie en vir Iemand soos die Heilige Gees wat regtig (deur die geloof) inwoon en binne-af nuutmaak. Dis genoeg om ons te laat huppel en sing vir 20 jaar aanmekaar. Loof die Here dat ons Wysheid mag besit! ‘n Innerlike verandering wat praktiese gevolge het! Loof die Here vir die boodskap van Jakobus!

Vers 13: alles in die Christelike lewe draai soos ‘n wiel om ‘n as, rondom ‘n innerlike gees/karakter wat alle uiterlike dinge bepaal. Die kern van hierdie innerlike gees is nederigheid/ootmoed. Dit is nogal ‘n verrassing, want ‘n mens sou verwag dit sou liefde wees. Jakobus sê, nee, dis ootmoed. Dit is ‘n gesindheid van gebrokenheid en selfverloëning. Dit is ‘n hartklop van: “nie ék nie, maar Christus”. Dit is die teenoorgestelde as die natuurlike menslike ingesteldheid van SELF VOOROP – wat só nadelig is vir alle verhoudings. Daarom begin die Here Sy saligsprekinge (Mat 5:3): “salig is díé wat arm van gees is.” Natuurlik word ‘n mens in beginsel arm van gees wanneer jy tot ware geloof & omkering kom. Anders sou bekering nie moontlik wees nie. Dit blý die basiese gesindheid. ‘n Totale verloëning / opsê van eie waan & eie geregtigheid & eie belangrikheid. Heeltemal die teenoorgestelde van selfsugtige ambisie/afguns/jaloesie – wat wil hê wat ander het en wat self al die gawes begeer. Ootmoed beteken om te BUIG. ‘n Ootmoedige gees kan om verskoning vra terwyl die ánder persoon verkeerd is! Dink wat ‘n hemelse gees daal in verhoudings neer wanneer slegs één party die gesindheid van Christus openbaar!

Verstaan u waarom uiterlike aangeplakte geestelikheid niks beteken nie. Wat help dit jy lewe uiterlik wonderlik. Ken die regte stappies. Maar innerlik nie verlos en bevry nie. Vol van die vlees en ou Adamnatuur. Verdeeld en verskeurd in die innerlike mens. Byvoorbeeld: Ananias & Saffira – sonde van voorgee. Kleed van vroomheid oor ‘n verrotte hart aangetrek.

Dit is die tipe konflik waarin die ware Christelike lewe gewikkel is. Konflik: wanneer dít waarvan jy deur en deur verlos is deur Jesus se kruisverlossing, wéér aan die deur kom klop. Wanneer jy ‘n nuwe hart/innerlike/karakter ontvang het, maar die ou adamnatuur kom wys weer tande. Dan bóts dit wat nuut is, met dit wat oud is. Innerlike krisisse en worstelinge wat baie min mense verstaan (Romeine 7). Jakobus teken ‘n prentjie van die twee soorte wyshede wat ‘n stryd voer om die Christen se hart te beset. EEN: Van die hemel / van Bo. ANDER: Aards, ongeestelik, duiwels. Dis baie moontlik vir ‘n mens wat Goddelike wysheid het, om steeds stryd te voer teen die waarheid. Die ou aardse duiwelse wysheid (waarmee ons gebore is) voer stryd teen die hemelse wysheid.

Jakobus sê ‘n mens kan die aardse wysheid maklik uitken aan die vrug wat dit voortbring: AARDS: aandag op die wêreldse. Draai net om hierdie lewe. ONGEESTELIK: voer jou nie na die Here nie. WANORDE: neem vrede weg. Bring skeiding tussen mense. Kyk maar: verbrokkeling in verhoudings is die gevolg van aardse wysheid – dit het niks te make met persoonlikheidsverskille en omstandighede nie!

Vergelyk daarteenoor Jesus se gees: Filippense 2: 6-8. Wysheid van Bo is niks anders nie as die vrug van die Gees (Gal 5:22). Dit is van BO – onmoontlik om na te boots. Onmoontlik vir die gevalle menslike natuur om na te boots. Hoe begin die innerlike karakter lyk? Reinheid: integriteit, standvastig, nie meer rondgeslinger, helderheid in die binneste, skuldgevoelens is weg, heilige lewenswandel. Heeltemal ánder verhouding met mense as voorheen. Vredeliewend. Nie hard & rigied. Vergewe al mág jy verdoem. Staan nie op eie standpunte. Hoor ‘n ander se hartklop. Konsidererend. Tegemoetkomend: nie vasgeval in onbuigsame idees. Grieks: nederige geduld met ander se opinies. Kan omgehaal word. Verder (belangrik): “full of mercy”. Kry maklik jammer. Empatie: verplaas in ander se skoene. Erbarming teenoor ander. Calvyn gee byna sy hele inkomste elke maand weg. Verder: onkreukbare opregtheid. Geen bybedoelings. Deur en deur eg.

Gevolg: ‘n oes van geregtigheid (v 18). NAV nie korrek vertaal: Dit is nie die Wysheid wat jou in die regte verhouding met God bring nie – asof dit ‘n lewenslange gespook is om by reg-wees-met-God uit te kom nie. Die Wysheid is die vrug/gevolg van die reg-wees met God. En dit lewer ‘n oes op: Blydskap: sinvolle lewe voor die Here/ ‘n lewe wat die Here behaag en wat wys hoe mooi/lieflik dit is om met God reg te wees deur Jesus Christus se kruisoffer. Opgesom in een woord, sê Jakobus, VREDE. Hierdie “vrug van Bo” het ‘n bedding waaruit dit groei: waar mense in fellowship/vrede saamleef en alles in hul vermoë doen om die vrede te koester. Gemeente waar dit goed gaan. Vers 18: waar vredeliewende mense in vrede saamleef. Die harmonie tussen gelowiges is die bedding waarin die Heilige Gees die Wysheid-van-Bo kweek. Ten alle koste moet dit gekoester word – in die gemeente asook in ons gesinne.

Op grond van die reg wat hierdie Skrifgedeelte my bied, wil ek u uitdaag om vanaand nog verhoudinge te gaan regmaak – omdat u hemelse Wysheid het.
Dalk ‘n oproep maak.
Dalk ‘n brief skryf.
Dalk iets doen aan daardie muur wat al jare lank tussen u en iemand anders staan.
Dalk gaan voete was.
Dalk iets oopmaak wat u al jare lank sorgvuldig dighou.
Ten alle koste moet ons vrede skep en bewaar.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00