JAKOBUS-REEKS NR 5

Jakobus 2: 14-26
Tema: Dade wat klink

 

Lidmate word soms ontsteld wanneer leraars uit die Skrif aandui dat nie álle kerklidmate geredde kinders van God is nie en dat vele onder ‘n narkoseslaap valslik gerus is. Dit word soms “negatiewe prediking” genoem. Wel, sulke lidmate kan dankbaar wees dat Jakobus nie hul leraar is nie. Hy praat só reguit, dat dit byna klink asof hy die res van die Bybel se lering oor verlossing-uit-genade-alleen weerspreek. Iemand soos die 16de eeuse kerkhervormer Maarten Luther het aanvanklik inderdaad gedink dat Jakobus ‘n verlossing-deur-goeie-werke leer en dit ‘n “strooibrief” genoem. Later het Luther egter besef wát Jakobus eintlik sê en die brief weer ten volle aanvaar as deel van die NT kanon.

Ons het Jakobus nou al leer ken as ‘n man wat skerp vergelykings maak om sy punt te maak. Só skerp dat hy eintlik baie kras oorkom. Ons moet egter in gedagte hou met watter oorhoofse doel Jakobus die brief skryf. Hy wil sy lesers se dubbelslagtigheid/hartigheid blootlê. Sy lesers se probleem was dat hulle iets ánders gelééf het as wat hulle bely het. Met dit in gedagte kan ‘n mens nou verstaan waarom hy in 2: 14-26 skryf wat hy skryf en dat hy daarop klem lê dat ware geloof sigbaar sál word in die praktyk, net soos ‘n lewende liggaam sál asemhaal. Indien ‘n liggaam nie asemhaal nie, is hy sonder twyfel dood. Want was sommige van sy lesers se probleem nie dalk dat hulle met ‘n vervalsing gesit het nie? En daar is net een manier hoe die goeie chirurg dit kan blootlê en dit is om diep te sny!

In die gelese gedeelte spits Jakobus hom toe op diegene “wat beweer dat hulle glo” (v 14). Dit gaan dus nou oor die onkruid tussen die koring, maar wat net soos die koring lyk. (Mat 13). Dit gaan oor mense wat baie getuig oor hulle geloof, maar hulle dade/lewenswandel stem nie daarmee ooreen nie. Dit is waarom dit so belangrik is om te verstaan wát presies “geloof” is. Wat word daarmee bedoel? Vandag is dit nog net so aktueel soos 2000 jaar gelede toe Jakobus geskryf het. Wat presies is geloof en hoe pas dade/werke in die prentjie in?

Daar is omtrent baie onbybelse sieninge oor wat geloof is, onder mense in omloop. Gewoonlik baie vaag: Glo daar is ‘n God. Glo dat Jesus gesterf het. Glo die Bybel is waar. Of: wensdenkery: alles sal goed verloop indien ek net hard glo dit sal. ‘n Mens vind dit onder die boere: moet net optimisties gló dat dit sal reën. Ander mense reken dat hulle ware gelowiges is omdat die Here hulle gebede verhoor of een of ander wonderwerk gedoen het. “Ek móét mos ‘n ware gelowige wees, want kyk net wat het Hy al vir my gedoen!” Min wetende dat die Here Jesus ook duiwels se gebede verhoor het – byvoorbeeld Legio – en tog is hulle nie kinders van God nie!

Jakobus lê hierdie dwaalleer bloot. Hy stel dit só sterk dat dit byna klink asof hyself dwaalleer verkondig. Asof hy sê: Geloof red jou. Dade red jou. Baie mense dink vandag nog dat dit geloof is wat red of dade wat red. Die waarheid is dat dit slégs die bloed van Christus is wat red (1 Joh 2:2). Die waarheid is dat geloof hoegenaamd nie red nie, wat nog te sê dade! Dit is slégs Christus se kruisdood wat red. (Sien die onvergelyklike Efes 2:5). Ja, ons ontvang wel daardie kruisverlossing met die leë hand van die geloof – hoe ánders kan ons dit ontvang?- maar die “ontvang” maak geen bydrae tot die redding nie! Meer volmaak as wat Jesus ons op die kruis gered het, kan ons nie gered wees nie! Die enigste reaksie daarop is om dit met geloofshande te ontvang! Om God te gló wanneer Hy in Sy Woord sê/beloof dat Hy jou gered het met Jesus se kruisdood! Glo/omhels Sy belofte! (Sien 1 Joh 5: 9-13).

Waarom klink dit dan asof Jakobus sê dat dit “geloof-plus-dade” is wat red? Hy sê dit tog in soveel woorde! Hy sê tog dat Abraham vrygespreek is o.g.v. wat hy gedoen het (v 21) en dieselfde met Ragab (v.25). En tog sê hy weer in vers 23 dat Abraham God se belofte geglo het en dat hy só gered is! Dit klink of Jakobus homself weerspreek. Hoe moet ons dit verstaan? Wel, hy wil ‘n duidelike punt maak. Daar is ‘n groot verskil tussen die demone se geloof en Abraham s’n! En so wil Jakabus hê dat ons moet baie duidelik moet kan onderskei tussen ‘n ware en valse Christen. Ons het mos nou al vir Jakobus leer ken as ‘n man wat nie doekies omdraai nie. Daarom sê hy: jy kan nie sover kom om jou dubbelhartigheid af te skud en ‘n man/vrou van één hart te word, indien jy nog onduidelikheid het oor wat die ware geloof is nie. Jy moet duidelik weet wat die ware Jakob is en sorg dat jy dit het!

En wát is die verskil tussen die egte en valse? By ‘n valse geloof bly dit net by praatjies/belydenisse en getuienisse. Maar die ware geloof beïnvloed die praktiese lewenswandel. Nee, jy word nie gered o.g.v. jou dade/werke/lewenswandel nie. Jy word gered slegs deur Jesus se verdienste op Golgota. Maar, indien jy vasgesement is aan Christus, sál jou dade dit duidelik bewys. Dán is dit onmoontlik om ‘n geheime agent te bly en om jou geestelike lewe “persoonlik” te hou. Dit is onmoontlik om nie dinamies te ontplof vir die koninkryk van die hemele nie! Dit is die spontane gevolg van ‘n mens wat ingeprop is by die lewende Christus.

Omdat Jakobus so ‘n praktiese mens is, gee hy weer eens voorbeelde: 2 voorbeelde van ‘n valse geloof en 2 voorbeelde van die ware Jakob.

Eerste voorbeeld van valse geloof: Vers 15: Gemakstoel geloof. Dit is die mens met ‘n fantastiese belydenis, maar in die praktyk gee hy/sy nie om vir mense-in-nood nie. Sit in gemaksone terwyl ander mense swaarkry. “Al wat jy nodig het is warm klere en ‘n bord kos”. M.a.w. valse geloof se ware aard kom na vore wanneer die nood van ander mense ter sprake kom. Dán kies ek vir myself en my gerief & gemak. Daarteenoor die voorbeeld van ware geloof: Ragab (v25), die prostituut, wat haar lewe gewaag het om God se boodskappers weg te steek. Sy het letterlik haarself vergeet – selfs haar eie lewe, wanneer dit by ander se nood kom. Dit het bewys dat God se beloftes werklik die voorwerp van haar geloofsvertroue was.

Tweede voorbeeld van valse geloof: Net so reguit en op die man af soos Jakobus is: dis dieselfde geloof as wat die satan en demone het. (Vers 19). Watse soort geloof het die satan. “Ek het glad nie geweet die duiwel glo nie!” O ja! Watse soort geloof het hy dan? Volgens Jakobus glo die satan 100% dat God bestaan. En dat daar slegs één ware God is. En hy sidder voor God. Hy glo dus elke teksvers in die Bybel. Hy glo dat Jesus gesterf het vir Sy skape. Hy besit al die kopkennis. Hy glo alles is die waarheid. Hy het selfs ‘n belydenis dat Jesus werklik die Seun van God is. Dink aan die voorbeelde in die Skrif van bose geeste wat mense beset het en hoe hulle – wanneer Jesus nader kom – uitroep: “U is die Christus!”.

Vraag is: Waarom klassifiseer Jakobus dan satan se geloof as vals? Dit klink dan so goed. Die probleem is dat daar weer eens geen aksie kom nie. Satan wéét alles, glo alles is die waarheid, maar dit lei tot niks. Daar is by hom geen daadwerklike toekeer tot die Here nie. Hy plaas nie sy vertroue vir redding op Christus nie. Sy kennis lei dus tot niks. PRAAT sê niks. Dit is ‘n 1000 maal beter om min te praat, maar ‘n LEWE te hê wat baie praat en vertel. Sien 1 Kor 4:20.

Ek het koue rillings gekry toe ek eenkeer gelees het hoe die stigter van die satanistekerk – Anton la Vey – ‘n satanis geword het. Hy was voorheen ‘n lidmaat van die Presbiteriaanse Kerk in die VSA. Later het hy die Bybel en die ware lewende God verwerp en die satanskerk gestig. ‘n Mens wonder onwillekeurig wat in sy lewe gebeur het dat daar só ‘n geweldige omwenteling gekom het. Hy vertel self wat gebeur het. Hy vertel dat hy as kind ‘n ouderling in hulle Presbiteriaanse gemeente geken het wat hom baie verwar het. Díé man het Sondae die kerkorrel tydens die eredienste gespeel. Maar Saterdagaande het hy die traporreltjie in die kroeg gespeel, waar die dronkaards en owerspeliges baljaar. Op Anton se kindergemoed het hierdie ouderling se dubbelslagtigheid só ‘n indruk gemaak, dat hy begin het om heeltemal te twyfel aan die egtheid van die evangelie!

Daarteenoor die 2de voorbeeld van ware geloof: Abraham. Vasgesement aan die lewende God. Stille lewe van gehoorsaamheid. Sóveel stralende liefde & hoop op die Here se belofte dat hy bereid was om vir Isak te offer. Gehoorsaamheid wat bereid is om end-uit die pad te loop. Hy het geglo dat, selfs al sou hy vir Isak doodsteek en hom uitbrand op die altaar, die Here hom weer kon lewendmaak. Dit klink ‘n bietjie anders as die demone se geloof, nie waar nie!? God self was Abraham se lewe.

Jakobus se argument is duidelik: ware geloof bly nie net by praatjies & belydenisse nie, maar dit beïnvloed die lewenswandel & praktiese optrede in twee rigtings: Godwaarts en menswaarts. Natuurlik ontvang ‘n mens jou redding d.m.v. die geloof – die leë hand van die siel. Gratis. Die geloof is ook geen goeie werk wat beloon word nie. Die redding is slegs uit vrye genade. MAAR: die gevólg hiervan is dat jou praktiese lewe verander. Daar kom ‘n lewendword uit die dood. Wakkerword uit narkotiese slaap. ‘n Lewenswandel wat iets van die vrug van die Gees begin vertoon.

Hierdie waarheid is ‘n saak van groot blydskap en troos vir die ware kind van God. Gestel iemand hoor Jakobus se woorde en daardie persoon ontdek dat sy/haar lewe werklik iets van ‘n stuk geloofsvrug openbaar. Die persoon kan dit uit sy/haar lewe sien. Dink net watter tinteling en blydskap dit tot gevolg het. Jy sien die duidelike voetspore van die Heilige Gees se inwerking in jou lewe. Voetspore soos: die hartlike vertroue op die Here Jesus se verlossingswerk. Die daaglikse verlange om met Christus om te gaan. Die genot van selfverloëning. Die drang om Hóm bly te maak. Die wegvlug van alles wat in stryd is met die Woord. Die liefde vir ander gelowiges. Die innerlike oortuiging van sonde en oorwinning daaroor. Jy sien al hierdie praktiese vrugte van die ware geloof in jou eie lewe raak – en dit maak jou bly & opgewonde en versterk jou sekerheid wat jy in elk geval uit die Woord besit. 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00