JAKOBUS-REEKS NR 10
Jakobus 5: 13-20
Tema: Plofbare Atoomkrag

Vandag vier die Christelike Kerk wêreldwyd Pinksterfees – dit beteken dat daar nagedink word oor die betekenis & seën van die koms van die Heilige Gees – 50 dae (“pinkster” beteken 50) ná ons Here Jesus se opstanding. Die laaste 8 verse van Jakobus breek vir ons iets oop van die geseënde werk van die Heilige Gees in die plaaslike gemeente en wys vir ons op ‘n aspek van Sy werk wat ons dalk nie altyd assosieër met Pinkster nie, naamlik die gawe van gebed, die krag van gebed en die genesing & heling wat die Gees daardeur in die boesem van ‘n gemeente gee. Uit die mens sélf is dit nie moontlik om aan gebed waarde te heg nie. Die gevalle menslike natuur is ook nie lief vir gebed nie. Dit is ook menslik onmoontlik om liggaamlike & geestelike genesing te bewerkstellig. Dit is alles wonderbaarlike & bonatuurlike gawes van die Heilige Gees se inwoning in die gemeente. En kyk net in watter skone & eenvoudige taal praat Jakobus nie van hierdie groot sake nie.

Jakobus sê: julle moet die plofbare atoomkrag, wat in julle midde is, ontdek. Daardie krag lê verborge in iets baie eenvoudig: gebed. Dit wag om gedetoneer te word. Dit is kragtig effektief. Nie omdat dit kragtig gemaak word deur ‘n kragtige bidder nie, maar omdat die lewende God se Naam aangeroep word en Hý kragtig is. Daarom is dit kragtig en met ‘n effektiewe uitwerking (v 16) indien dit ‘n geregverdigde is wat bid. In die Grieks nie “gelowige” soos in die NAV nie. “Geregverdigde” beteken nie volmaak nie, maar “reg met God” dit is “vrygespreek deur God” o.g.v. Jesus se kruisoffer. “Kyk bv na iemand soos Elia” sê Jakobus. Hy was ‘n geregverdigde, hy was God se kind alhoewel hy ‘n mens was nes ons almal. Hy was nie verhewe bó gewone menswees nie. Alhoewel hy geestelike hoogtepunte geken het (1 Kon 18) kon hy ook verval in wanhoop en neerslagtigheid (1 Kon 19). Hoewel hy braaf was, kon hy ook bang word en vir sy lewe vlug (1 Kon 19:3). Hy kon ook in selfbejammering val (1 Kon 19:10). En tog was hy reg met God. Sy praktiese lewe het bewys dat hy uit genade die Here ken. En hy het – in die tyd van Agab – in alle eenvoud gebid dat dit nie moet reën nie en dit het vir 3,5 jaar nie gereën nie. En hy het weer gebid, en dit het gereën. T.s.v. dat Elia ‘n gewone feilbare mens was, het sy gebed ‘n resultaat opgelewer wat slegs God kon gee. Ja, selfs sogenaamde natuurkragte het meegegee in antwoord op Elia se eenvoudige gebedswoordjies, want geen mens is by magte om reën & droogte te reguleer nie. En tog het hy maar eenvoudige woordjies gebid. ‘n Mens sien dit beter in die Grieks by vers 17: daar staan nie (soos in die NAV) dat hy “ernstig” gebid het nie. Daar staan letterlik: “met gebed het hy gebid”. Dit beteken dat hy doodgewoon net GEBID het – en niks meer of minder nie! Dit het nie gegaan oor hoeveel of hóé hy gebid het nie, maar dát hy gebíd het! Dit is wat Jakobus sê. “Gewone menslike gebedswoordjies > bonatuurlike hemelse resultate”! Gebed is ‘n saak van eenvoud, oortuiging en krag! Elia het maar net gebid. Hy het eenvoudig net ‘n klompie goed aan die Here genoem. Terwyl Agab gaan eet & drink het, het Elia op Karmelberg voor die Here gebuig met sy kop tussen sy knieë (1 Kon 18:42). Dit is die verskil tussen iemand wat God se krag ken en wie dit nie ken nie: terwyl die een partytjie hou, soek die ander die aangesig van die Here aan wie hemel & aarde behoort. En wáárin is die atoomkrag te vinde? Die Skrif gee die ondubbelsinnige antwoord. O, ‘n gemeente wat weer die eenvoud & krag van eenvoudige gebed ontdek het, sal die hand van die lewende God beleef. Dit maak nie saak in watter tyd ons leef of met watter probleme ons worstel nie. Die God van Elia is nog altyd dáár waar Hy altyd was – op die troon – en gebed bereik hom o.g.v die effektiwiteit van Christus se versoeningswerk!

Nou sê Jakobus: hierdie gebedsatoomkrag is die basis op grond waarvan alle aspekte van die lewe (in die gemeente) hanteer moet word. Hy noem in v. 13: swaarkry en vreugde. Dit geld veral vir die INDIVIDU. In alle omstandighede uitgebuig na Bo. Hy noem verder in v.14 & 15: liggaamlike kwale en geestelike kwale. M.a.w. ALLE lewensituasies & toestande word onder die sambreel van gebedsatoomkrag toegemaak. Alles kan hanteer word. Die Here is absoluut algenoegsaam. Gebed is die koppeling. Die hele lewe gemik na die hemel. VERAL – vlgs Jakobus – onderlinge omgee & sorg vir mekaar. Die onderlinge omgee kom in aksie wanneer mense liggaamlik swaarkry of siek is (vv 14-15) OF geestelik krank is (v 16) OF wanneer iemand wegdwaal van die pad van die Woord (vv 19-20). “Laat die gebedsatoomkrag in alles ontplof”, sê Jakobus.

Die persoon wat byvoorbeeld fisies swaarkry of siek is moet die inisiatief neem en die ouderlinge roep sodat hulle vir die kranke kan bid en met olie salf. Indien hulle “die gebed van die geloof” (letterlike Grieks) bid, sal die Here genesing gee en boonop sonde vergeef. (vv 14-15). U sien, die bediening van gebed & genesing is nie iets wat slegs behoort het tot die bedeling van die Apostels nie. “Ouderlinge” is nie apostels nie. Alle siekteprobleme, enige tyd, enige plek moet deur die gewone gemeenteleiers hanteer word. Om te bid is nie die bediening van sekere persone wat die “gawe” besit nie. Dit is nie die spesiale bediening van ‘n sekere “fantastiese ongelooflike bidder” nie. Die Here verhef nooit die MENS nie! Alle goeie gawes kom van Bó (1:17).

Hoe pas die mediese wetenskap in die prentjie? Is dit dan verkeerd om medisyne te gebruik? Of bid ons net indien die medisyne nie werk nie? In die Bybel is daar geen konflik tussen medisyne en gebed nie. Bv: Hiskia (Jes 38:21), Samaritaan (Luk 10:34), Paulus vir Timoteus (2 Tim 5:23), Trofimus (2 Tim 4:20) (niks van: dis Trofimus se skuld of wonderkragte moes toegepas word nie), Lukas geliefde geneesheer (Kol 4:14). Mediese benadering & gebed loop probleemloos saam. Ons moet in ons pasoppens wees vir enigiets wat nie klop met die Skrif nie.

En wat van die OLIEsalwing? Niks magies nie. Nie ‘n wet of regulasie nie. Onthou olie was ‘n algemene soort medisinale salf in die ou tyd. Om ‘n sieke te salf beteken net ‘n simboliese versekering van die Here se nabyheid. Net soos Jesus soms Sy eie spuug gebruik het wanneer Hy blindes & dowes aangeraak het. ‘n Sigbare & tasbare versekering sónder dat Sy spuug magiese genesingskrag gehad het!

Die siek persoon se geestelike lewe/ verhouding tot die Here is baie belangrik. Vers 15: sondes vergewe. Die eintlike genesing! Dit beteken nie noodwendig dat sondes direk teenoor die ouderlinge bely moet word nie, maar dat die krisis sélf die oë oopmaak vir die geestelike nood – wat dikwels groter is as die liggaamlike nood. Die klem val op die verbysterende goedheid van die Here. Hy sal verhoor. Hy wil verhoor. Absolute vrygewigheid. Hy wil niks weerhou wat goed is nie. Daar is niks wat ons nie van Hom kan verwag nie.

Maar hoe moet ons dit verstaan dat Jakobus sê: SAL sieke genees. Dit sou beteken dat iemand vir wie aanhoudend gebid word nooit sal sterwe nie. Ons weet ook uit ondervinding dat almal nie genees word nie. Hoe moet ons hierdie SAL verstaan? Die antwoord is: Dit is die SAL van die feit dat gelowige gebed bereid is om alles daaraan onderworpe te stel dat Sý wil sal geskied. HY BLY GOD. Interessant: Die woord vir “gebed” in Grieks (in hierdie vers) is die woord “wens”. Die “wens van die geloof”. Verwag dat Sý wil sal geskied. Dink hoe rampspoedig sou dit wees indien die Here maar net kon/moes maak soos ONS dink/sê/bid. Indien ons gebed egter onderworpe is aan SY soewereiniteit is daar GEEN BEPERKINGE NIE! Daarom sê Jakobus: Dit SAL – hoe die Here ookal wil! Dink daaraan! Dit is eintlik baie wonderlik bevrydend, want dit veroorsaak dat ons gebed nie net beperk is tot ons eie wil nie, maar onbeperk soos Sý wil onbeperk is!

Gebedsatoomkrag bring egter ook ‘n ánder soort genesing wat onontbeerlik is – waar daar konflik/spanning/seer tussen gelowiges is omdat daar teenoor mekaar gesondig/verkeerd opgetree is. Dalk individu teenoor individu. Dalk individu teenoor groep. Die gebrokenheid wat die Gees gee, veroorsaak dat daar na mekaar gegaan kan word en bely/reggemaak word. Dit is vers 16 se betekenis. Dit beteken nie dat ‘n mens sommer lukraak na enige een moet gaan en jou private sondes oopvlek nie. Dit is nie ‘n Bybelse beginsel nie. Wanneer ek wel ‘n sonde teenoor iemand oopmaak (en daaroor saambid) is dit wanneer ek teen daardie spesifieke persoon of groep gesondig het. Dán is daar net een pad: gebrokenheid, bul by die horings pak en gaan regmaak. Saambid. Genesing. Privaatsondes bely ek egter slegs teenoor die Here. Ja, dit kan wel gebeur dat ‘n mens met sekere privaat goed worstel waaroor jy net nie oorwinning kan kry nie. Dan is dit goed om na ‘n absoluut betroubare gelowige (geestelike leier) te gaan wat saam met jou sake kan deurbid. ‘n Mens dink aan dinge soos innerlike emosionele seer/ pyn van verwerping/ bitterheid ens. Die kern van vers 16 is egter: vrees & hoogmoed & trots mag nie gelowiges terughou van volle vergifnis/bevryding/lewe-in-die-lig nie. Daar moet gebrokenheid teenoor mekaar wees. Ongetwyfeld ‘n magtige werk van die Gees.

Daarby mag ons nie vergeet van die mensies wat van die Woord weggedwaal het nie (v 19-20). Alhoewel sulke mense waterdigte verskonings het, kan ‘n mens tog met jou oë waarneem en sien wanneer iemand koud/lou is. Jy kan ook sien wanneer iemand nie die vrugte van bekering dra nie. Jakobus herinner ons daaraan dat sulke mense op pad is na ‘n gewisse ewige dood en dat ALLE gelowiges (“as een van julle”) die roeping het om afgedwaalde mense te gaan haal. Jakobus plaas nie die roeping op die skouers van een of twee nie. Hy sê ook niks van ‘n toerustingskursus wat vooraf deurloop moet word nie. Hy sê net: “as een van julle so iemand terugbring, is iemand van die dood gered”. Natuurlik is dit net die Here wat iemand uit die dood kan lewendig maak, maar ons moet uitgaan asof dit alles óns werk is! Dalk moet ons die Here bid dat Hy ons oë oopmaak vir die nood waarin weggedwaaldes verkeer en ons met ‘n vurige passie vervul om vir mense te bid en hulle te gaan haal wanneer moontlik. Almal van ons weet van ten minste één persoon wat in hierdie gemeente hoort, maar traag/koud is. Dalk weet u van twee! Waarom nie daardie naam/name iewers neerskryf en daagliks vir hulle bid nie? Trek hulle in deur die gebed en praat met hulle wanneer die geleentheid opduik!

Mag die Pinkstergees diep in ons gemeente werk en genesing & herstel op alle vlakke gee. 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00