TAFELBERG GEMEENTE
Skrifgedeelte: Openbaring 2: 8-11, 3: 7-13

Ons sluit direk aan by verlede Sondag se preek waar ons begin het om die 7 briewe aan die 7 gemeentes in Klein-Asië onder die soeklig te plaas. Ons het gesien dat 5 van die 7 gemeentes vermanings en dissipline uit die mond van die Here ontvang. Die ander twee glad níé. Ons het verlede week na eersgenoemde 5 briewe gekyk – die 5 gemeentes wat herstel nodig gehad het. Vanoggend kyk ons na die twee gemeentes waar dit goed gegaan het. ‘n Mens sou kon sê: ‘n prentjie van die ideale kerk. Die modelkerk. Watter hedendaagse gemeente wil nie graag ‘n modelkerk wees nie? Elkeen probeer so hard om wonderlik te wees en om veel te bied en “lekker” te wees. Watter prentjie sal in ú gedagtes kom wanneer daar gevra word hóé die modelkerk lyk? Gewoonlik dink ons vanuit ons eie ervaring van kerkwees, nie waar nie? Dit waarvan ons hou en nie hou nie. Ons dink: ‘n Modelgemeente sal baie lidmate hê van wie die meeste aktief meelewend is en die meeste se gawes sal funksioneer. Sendinggeöriënteerd. Lekker informele eredienste met mooi musiek en kort prediking wat relevant is vir die daaglikse lewe. Die leraars sal inspirend en entoesiasties wees. En belangrik: Die modelkerk sal ‘n impak maak op sy omgewing! En daarby moet die finansies gesond wees en die lidmate ruim bydra. Is dit min of meer hoe ú oor die modelkerk sou dink?

Groot is die verrassing wanneer die Here Jesus Sý definisie van die ideale kerk gee! In Openb 2-3 is daar eintlik twee skokkende verrassings: Eerstens is die ideale modelkerk byna nie te vinde nie (onthou: net 2 uit die 7 gemeentes EN slegs 60 jaar ná Jesus se hemelvaart!!) en tweedens: wanneer ‘n mens wél die modelkerk teëkom, lyk hy hoegenaamd nie soos jy sou verwag ‘n ideale gemeente sal lyk nie! Om die waarheid te sê: Dis eintlik ‘n redelike groot teleurstelling. Smirna en Filadelfia beleef verdrukking, armoede, lyding, opposisie van die satan, toe deure, min krag en staar selfs die dood in die gesig!

U sien, in die destydse Grieks-Romeinse tyd het jy wettige en onwettige godsdiens gekry. Die wettige godsdiens was díé wat deur die owerheid (Keiser) goedgekeur is omdat daar eer en aanbidding aan die Keiser gegee is. Die Joodse godsdiens het hieronder getel. Die ónwettige godsdiens was egter die Christene, wat geweier het om die Keiser “Here” te noem. Teen húlle is daar gediskrimineer – veral ekonomies. Die deure is vir hulle toegemaak. Wie nie die spel wil speel nie, is uit! Indien jy vooruit wou gaan in die lewe, moes jou godsdiens deur die Keiser gesanksioneer word. Maar dan moes jy na sý pype dans en die ware evangelie kompromiteer. Daarom het die volgelinge van ons Here Jesus nie posisies in die samelewing beklee nie. Tewens, Smirna en Filidelfia se invloed in die samelewing was sub-zero. En die gemeentetjies se getalle was laag en hulle was arm. Presies soos dit vandag ook gaan. Wie is dit wat sukkel in besigheid? Is dit nie die gelowiges wat nie saamgaan met drinkpartytjies en besoeke aan “escort agencies” en ontkleevertonings wanneer besigheidsbesoeke afgelê word nie? Dis mos hoe besigheid gedoen word. Jy moet deel wees van die spel. Of anders is jy uit! Jy begin nie jou besigheidsete met gebed en danksegging nie. Jy trakteer die manne met ‘n groepie ontkleedanseresse. Ek hoor onlangs van ‘n sakeman wat sy besigheidsonthaal met ‘n tafelgebed begin het en daarná deur sy kollegas beskou is as stapelgek! Dit het nog nie verander vanaf die jaar 95 tot vandag nie! Maak kompromieë met die evangelie en jy floreer en is jy in tel. Anders is jy uit!

U sien óns dink: Indien ‘n gemeente nie geld het nie, nie invloed in die samelewing het nie, nie getalle het nie – is daar fout. Dit sou beteken dat die Here se gemeentes in Gugulethu en Kayelitsha die bus verpas het. Maar die Here dink anders oor die saak. Vir Filadelfia was alle deure gesluit. Posisies in die regering: Gesluit! Posisies in die munisipaliteit: Gesluit! Posisies op Rade: Gesluit! Posisies op Skoolbeheerliggame: Gesluit! Getal lidmate: Min! Banksaldo: Oortrokke! Invloed in die samelewing: Minus zero. En tog was dit ‘n modelkerk.

Maar, dit was nie ómdat Smirna en Filadelfia swak, arm en verdruk was wat hulle modelgemeentes was nie. Swakheid, armoede & vervolging máák nie van ‘n gemeente ‘n modelkerk nie. Daar is iets meer. Dit wat die Here so beïndruk het, was Smirna en Filadelfia se getrouheid aan Hom! Dit was die feit dat hulle, ten spyte van hulle swaarkry, ten alle koste getrou gebly het aan Hom. Kyk maar goed na die Here se woorde aan Smirna en Filadelfia: 2:10 – “hou net aan om getrou te bly tot die dood toe..” En in 3:8 – “.. tóg het julle aan My Woord vasgehou en My nie verloën nie..” En in vers 10: “omdat julle aan die boodskap van My volharding en lyding vasgehou het..” U sien: Nie rykdom, invloed, krag, vertoon of getalle maak ‘n modelkerk nie, maar wel getrouheid! Eintlik bring dit ‘n geweldige stuk verligting, want nou maak dit nie saak wát die omstandighede is nie – ‘n gemeente kán steeds ‘n modelgemeente wees en ‘n individuele gelowige kán steeds ‘n modelchristen wees. Want wát ookal die omstandighede, kán ‘n gelowige GETROU wees aan HOM. Getrouheid is immers ‘n vrug van die teenwoordigheid en werk van die Heilige Gees (Galas 5:22). Ja, selfs getrouheid aan Christus al staar jy die dood in die oë! ‘n Gelowige moet bereid wees om sy/haar lewe neer te lê t.w.v. die Here.

Ten slotte ‘n vraag wat ons by die dieptepunt van alles wil bring: Wat kan ‘n getroue gemeente/gelowige verwag om van die Here te ontvang? Kyk, indien geld/invloed/genesingswondere van ‘n gemeente ‘n modelkerk sou gemaak het, kan só ‘n gemeente seker van die Here GELD/INVLOED/WONDERTEKENS verwag. Maar, indien getrouheid aan Hom van ‘n kerk ‘n modelkerk maak, wat kan só ‘n kerk van die Here se kant verwag? Wat sê die Gees in die gelese 2 briewe aan Smirna en Filadelfia? Antwoord: Vervolging en beproewing. ‘n Getroue gemeente/gelowige kan verwag om deur die vuur te gaan en op die proef gestel en getoets te word. Die twee loop hand aan hand. Maar, let goed op: ál die beproewing kom uit Gód se hand. Dit klínk of die duiwel geweldig mag het om sommige lidmate van Smirnagemeente in die tronk te laat gooi. Maar let op: dit is die Here wat dit vooraf sê… én die tyd beperk tot 10 dae. Waarskynlik nie letterlik “10 dae” nie, maar om te wys dat God self alles onder kontrole het: Die toetsing kom van God en word ook deur Hom beheer. Die verdrukking, beproewing en toetsing kom van Hóm af. Die duiwel en omstandighede en ménse het nie ‘n titseltjie sê nie. Die hele boek Openbaring is tewens daarvan ‘n heldere getuienis.

Is dit nie ironies dat verlede maand se wrede moord op die 3 sendelinge in Turkye juis in SMIRNA plaasgevind het nie? Ek het ‘n eposverslag hieroor ontvang, met ‘n verduideliking van wat presies gebeur het en bo-aan die brief staan: “Van die protestantse kerk in SMIRNA.” Sien Openb 2:10. Het u geweet dat toetsing en beproewing eintlik die normale in die Here se kerk is? Dit is ook die normale vir ‘n getroue gelowige. Het u geweet dat – op die huidige oomblik – 66 lande ter wêreld vir die evangelie gesluit is en dat gelowiges daar vervolg word, gemartel word en gedood word? Het u geweet dat ook uself getoets en beproef sal word indien u ten alle koste getrou wil bly aan die Vader van Jesus Christus? Op alle punte sal u en ek deur die Here getoets word om te sien of ons getrou is tot die dood toe. Jy sal getoets word in jou besigheid. Jy sal getoets word in jou werksomstandighede. Jy sal getoets word in jou verhoudinge. Jou kinders sal getoets word op skool. Geen Christen is in watte toegedraai nie. Indien Tafelberg Gemeente ‘n getroue gemeente van Christus wil wees, sal dit nie noodwendig maanskyn en rose wees nie. Ook hierdie gemeente sal getoets word. Laat ons dit baie goed weet.

Die wonderlike is dat die Here aan Sy getroue gelowiges en gemeentes iets saamgee waarmee hulle oorwinnend kan lewe te midde van beproewing en toetsing. En dit is Sy beloftewoorde. Geredde mense is nie in watte toegedraai nie, maar wel in beloftes. Kyk maar weer na die gelese 2 briewe. 2:8 – “Ek is die eerste & die laaste. Ek was dood en Ek lewe weer. 2:9 – “Ek ken jou situasie.” 2:10 – “Moenie bang wees nie. Ek gee jou die kroon van die lewe.” 2:11 – “Jy sal nie getref word deur die 2de dood nie.” 3:7 – “Wat Hy oopmaak sal niemand sluit nie.” 3:8 – “Ek het ‘n deur voor jou oopgemaak wat niemand sal kan sluit nie.” Dit is ‘n deur tot by die troon van God. 3:9 – “Ek sal maak dat julle vyande erken dat Ek julle liefhet.” 3:12 – “Ek maak jou ‘n pilaar in die tempel van my God.” 3:12 – “God se Naam sal op jou geskrywe staan.” U sien? Al verloor ‘n gelowige baie aardse goed, verloor jy eintlik niks. Jy wen alles. Jy wen selfs die lewe, al sterf jy. Want Jesus wat dood wás en weer lewe, is die krag in alles. Sy dood gee waarde en krag aan al ons lyding en verliese en neerlae.

Dank die Here – ons mag ‘n modelgemeente en modelchristene wees, al is ons omstandighede hóé – want ons KAN tot die uiterste getrou wees aan Hom. Dis die bonatuurlike vrug van die Gees, daarom kan ons.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00