TAFELBERG GEMEENTE

Tema: Onderskragende én bevrydende lyding
Skrif: Markus 14: 32-42

Wanneer ’n mens se motor in slegte weer op ’n verlate pad onklaar raak, is dit wonderlik om iemand by jou te hê om die nare ondervinding te deel – ter wille van onderskraging. Maar dit is nóg beter om iemand te hê wat jou kan bevry uit die ellendige situasie. Christus het – met Sy lyding – BEIDE met ons gedoen. In Jesus se lyding het ons vir God baie naby aan ons gekry IN ons aardse moeites – onderskraging. Hy het werklik óns ontberinge Sýne gemaak. Hy het Hom daarmee vereenselwig. Die bange verdriet van Getsémane was werklik ’n vereenselwiging met óns moeites. Maar: Jesus se lyding was ook méér as dit. Dit was bevrydende lyding. Met Sy lyding het Hy méér gedoen as bý ons wees in ons moeites. Hóé belangrik dít ookal mag wees. Hy het ons ook kom vry maak. Dit is die unieke van die bybelse boodskap.

Kom ons benader vanoggend se prediking ’n bietjie anders as wat ons gewoond is. Pleks daarvan om ’n bepaalde Skrifgedeelte uit te lê, laat ons ’n oorsig oor die hele Bybel neem. Kom ons vergelyk vanoggend Christus Jesus se lyding met ’n paar bekende Bybelse figure wat ook moeite & lyding in hulle lewens geken het. Mense wat mense was soos ons ook is. Laat ons sien hoe Jesus se lyding ’n vereenselwiging met hulle lyding was (onderskraging), máár ook baie méér as dit. ’n Bevrydende lyding.

JEREMIA: het gely omdat sy prediking/boodskap deur die gemeentelede verwerp is, want hy moes ’n boodskap bring wat hulle nie wou hoor nie. Hulle wou ’n stryd aanknoop teen Babilonië om die ballingskap te ontkom, maar Jeremia het gepreek dat hulle hul nie moes verset teen Babel nie. Dat hulle die ballingskap moes aanvaar omdat God dit gestuur het. Dit was vir hulle net eens te veel. Daarom het Jeremia in die tronk beland en in die put. So erg was dit dat Jeremia sy roeping as profeet wou prysgee. Hy wou ophou preek, maar telkens het die Woord weer soos ’n vuur in hom gebrand (Jer 20).

’n Mens kan sien hoe ons Here Jesus Christus hierin digby Jeremia gaan staan het. Sy prediking het ook kwaai verset opgeroep. ’n Verset wat tot Sy dood sou lei. ’n Mens sien selfs hoedat Jesus met Sy roeping worstel in Getsemane. Hy het na Sy eiendom gekom, maar Sy eiendom het Hom verwerp. So staan Hy vir Jeremia by in sý swaarkry. Onderskraging.

En tog gaan Jesus se lyding Jeremia s’n ver te bowe. Jeremia het gepreek oor die bitter beker van God se toorn wat die Israeliete moes drink. Jesus het met die beker self geworstel. Hy moes self die beker drink. ’n Beker waarvan die inhoud veel bitterder was as wat Israel ooit moes drink. En so het Jesus se lyding bevrydend geword. Al ervaar ons ook watse moeite/stryd/verdriet, is dit altyd ons troos dat daar één beker is wat ons self tot in ewigheid nooit hoef te drink nie. Die een wat Jesus gedrink het. Die beker van God se toorn oor sonde. Dáárdie beker is – wat ons betref – vervang deur ’n ander beker. Die beker van Psalm 23. Die beker wat oorloop en wat te midde van bitterheid tóg soet smaak.

LOT: ’n Mens sou seker kon sê dat Lot verkeerd gedoen het deur in Sodom te gaan woon. En tog sê 2 Pet 2: 7&8 dat Lot ’n kind vd Here was. Hy het dus in ’n geloofsverhouding tot die Here gelewe. Daarom het die slegte dinge wat die Sodomiete gedoen het, sy siel gepynig, sê Petrus. Lot het regtig swaar gely onder die sonde wat rondom hom in Sodom gepleeg is. Presies so ly elke gelowige wat digby die Here leef. Al leef óns nie in Sodom nie, sit ons ook nie op ’n eiland nie. Wat ons rondom ons sien en hoor gebeur, hoef ek u nie te vertel nie. Is dit nie byvoorbeeld absoluut waar dat mense só gekondisioneer word met die media, dat hulle gaandeweg hul lewens inrig volgens die riglyne wat TV/rolprente/tydskrifte voorskryf nie? Dit gebeur daagliks rondom ons. Dink maar net hoe het ú eie sig op morele waardes verander in die afgelope 10 jaar – nie volgens die Woord nie, maar volgens die goddelose wêreld se norme. Vir die mens wat digby die Here leef, is hierdie dinge ’n sware lyding. Soos dit ook vir Jesus was. Hy wat nog skerper deur hierdie dinge gesien het as enige mens. Soos Lot self gekies het om tussen die sondaars te gaan bly, het Jesus ook gekies om as die Regverdige IN die goddelose wêreld te kom. Natuurlik het Lot se keuse nie God die Vader se goedkeuring weggedra nie, maar Jesus s’n het wel Sy goedkeuring gehad. Dit was immers God se wil dat Jesus omring moes wees van die sonde en nie óm sekere mense heen moes loop en sekere omstandighede vermy nie. Tewens, Hy het die goddeloses doelbewus opgesoek. Juis om vir hulle te sê dat daar vir hulle plek is in die Vaderhuis. Hoewel die prostitute en tollenaars se lewenswyse vir Jesus diep seergemaak het, het Hy met opset na hulle gegaan om hulle te bevry. Om vir hulle plek in die Vaderhuis te gee as vrye geskenk – en dit terwyl die Vaderhuis vir Homself geslote was toe Hy op die kruis die Godverlatenheid beleef het. Sien u hoe Jesus se lyding Lot s’n oortref het – om ook te kan bevry.

NABOT: Ons mag Nabot se lyding nie miskyk nie. 1 Konings 21. Koning Agab wou Nabot se wingerd hê, maar Nabot wou dit nie gee nie. Toe gaan die koning soos ’n stout kind op sy bed lê en wil nie eet nie. Sy vrou Isebel kom toe met die oplossing. Sy organiseer ’n aantal mense wat ’n klomp valse getuienis teen Nabot aflê en op grond daarvan word Nabot gestenig. Toe hy dood is, vat Agab die wingerd wat hy wou gehad het. Een van die grofste vorme van onreg denkbaar. Iets hiervan het Jesus ervaar toe Hy as onskuldige – o.g.v. valse getuienis – ter dood veroordeel is. En dit nadat Pilatus Hom 3 maal na mekaar ONskuldig verklaar het (Joh 19). Die wêreldlike regter vind geen skuld in Hom nie, maar lewer Hom oor om gekruisig te word. Op hierdie wyse vereenselwig Hy hom met Nabot en met alle gelowiges wat ly onder alle vorme van onreg. Gelowiges wat a.g.v. onreg moet ly, wat verwerp word deur mense, wie se goeie naam skade ly, wie onregverdiglik beskuldig word. Jesus identifiseer Homself ten volle met so ’n mens. Hy staan nie koud en afsydig en onbetrokke nie.

En tog was Jesus se lyding dieper en bevrydend. Want u sien: Nabot (en elke ander gelowige wat onreg ly) is SONDAARS wat ten diepste die onreg (as sondaars) VERDIEN. Maar Christus, was TOTAAL onskuldig. Hy was die smettelose en sondelose Seun van God. Die onreg wat teen HOM gepleeg was, was soveel erger. Daarby is Jesus nie gestenig nie, maar gekruisig. Spesifiek hierdie manier van sterwe het groot betekenis. Dit was geen toeval nie. Daaragter het ’n stuk goddelike regie gesit, want JUIS die dood van aan-’n-hout–opgehang-te-wees, was deur God vervloek – reeds so vroeg as Deuteronomium 21. Hierdie “vervloek” beteken om uitgeban te wees uit God se teenwoordigheid. Dit het nie met Nabot gebeur nie. Ook met geen ander mens nie – maak nie saak wátter onreg verduur is nie. Slegs Christus is deur Sy Vader vervloek. Dit maak van Sy lyding ’n bevrydende lyding. Dit oortref alle vorme van lyding wat ons verduur a.g.v. onreg. O ja, Jesus kom vereenselwig Hom met ons swaarkry deur onreg, maar Hy gaan verder as dit. Hy bevry ook. Dit is die groot verskil.

JOB: Job se swaarkry staan in die teken van ALLES verloor. Die manier waarop Job in ’n ommesientjie ALLES verloor het, is aan ons oorbekend. Daar is min van ons wat met hom kan saampraat, maar soms voel dit vir ons of ons baie naby kom aan dit wat Job beleef het. Soms voel ons ook lus om ons geboortedag te vervloek of om uit pure opstandigheid ons vuis teen die Here te bal. Ons beleef soms die opstandigheid en die waarom-vrae. Veral wanneer ons nie kop of stert kan verstaan van wat die Here besig is om te doen nie. Of wanneer ons vriende of familie ons nie verstaan nie. Dit is waar Job was.

Ons Here Jesus het byna onder Job se vel ingekruip soos Hy hom met Job se moeite vereenselwig het. Dink maar aan Sy bloedsweet in die tuin en Sy groot waarom-vraag op die kruis. Dink hoe het Sý vriende Hom misverstaan en in die steek gelaat. En tog het Jesus baie meer verloor as Job. Dink hoe het Hy neergedaal van hemelse glorie na aardse armoede en vernedering. Hy het nie net aardse goed verloor nie. Hy het die hemele verlaat.

Maar Jesus se verlies het Job s’n in nog ’n opsig oortref. Jesus het doelbewus daarvoor gekies! Dit was Sy doelgerigte missie. En waar Job uiteindelik sy verlies kon verwerk en oorwin, het Jesus nie. Want Hy het bevrydingswerk kom doen! Hy het geweet die gróótste verlies wat ’n mens te beurt kan val is veel méér as wat Job ervaar het. ’n Mens kan veel meer verloor as aardse goed. Jy kan die ontsettende armoede ingaan van ’n ewige bestaan sonder God – ’n ewige lewe sonder hoop en vooruitsig. En daarvan wou Jesus mense bevry. Bevry van die gróót verlies. Dit is die manier waarop Jesus se lyding al ons moeites oortref. Dit is die unieke van Sy lyding. Dit gee aan ons iets. Dit gee ons die aanwesigheid van God se liefde binne in die moeites wat ons beleef. Die aanwesigheid van Sy liefde kan ons nie verloor nie. 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00