TAFELBERG GEMEENTE

Tema: Mary Baxter se visioene van hemel en hel: Hoe beoordeel ons dit?
Skrifgedeelte: 2 Korintiërs 12: 1-10, Lukas 16:31

Dwarsdeur die eeue van die kerk se geskiedenis, was dít altyd weer die krisis wat oor en oor kop uitsteek: dat mense voel die Bybel alleen is nie genoegsaam nie. Die Bybel alleen bied nie genoeg nie. Daar is te min aksie en tinteling. Dit bevredig nie genoegsaam die mens se nuuskierigheid nie. Daarom is daar ekstra aanvulling nodig. Voorbeelde is legio: Die grootste Christelike Kerk op aarde – die Rooms Katolieke Kerk – sê dit openlik. Vir húlle is die Bybel maar net ‘n gedeelte van God se Woord. Méér belangrik as die Bybel, is die kérk se stem: die tradisie. Verder kan ‘n mens kyk na die ontstaansgeskiedenis van byna álle sektes & kultusse: feitlik almal ontstaan rondom ‘n geestelike leier wat die een of ander bonatuurlike buitebybelse openbaring ontvang het, en dit op skrif gestel het. Dan word dáárdie geskrif náás en bó die Bybel gebruik. Byvoorbeeld: Sewende Dag Adventiste: Ellen White se geskrifte. Mormone: Joseph Smith se Book of Mormon. Jehowa’s: Eie Bybelvertaling o.g.v. CT Russell se wyshede.

Maar ook in Charismatiese kerke voel die mense dat dit wonderlik is indien iemand kan opspring en in vreemde tale praat en die tale uitgelê word en die gemeente God se vars, direkte stem kan hoor. Byvoorbeeld: “Wees gereed, die Here se koms is naby.” Al sê die Bybel ook presies dit. Al sê die leraar dit vanuit die Woord. Nee, daardie ekstra, opwindende, talespreek is net so ‘n trappie hoër as die ou dooie letters van die Bybel.

En nou het ‘n nuwe vlaag boekies ons getref. “Goddelike openbarings van hemel en hel” van ene Mary K Baxter. (Vertoon boeke). Klaarblyklik verkoop hierdie boekies soos soetkoek en het mense in vervoering, want dit is mos egte visioene wat hierdie vrou gesien het. Jesus sélf het mos aan haar verskyn en haar aan die hand geneem en haar die hemel & hel gaan wys. Nóú weet ons presies wat in die hel & hemel aangaan! Bowendien is daar getuienisse van mense wat sê dat die boekies hulle wakker geskud het en hulle oë oopgemaak het. Dit bewys mos hóé eg Baxter se visioene is – al voeg dit ook ‘n klomp goed toe tot die Bybel.

Behalwe dat mense in vervoering is, kom daar egter ook heelwat vrae & vertwyfeling. Vrae soos: Waarom kon die Bybel dan nie die mense se oë oopmaak nie? Waarom is sensasionele visioene nodig? Het Mary Baxter se visioene dan méér krag as die Woord van God? Ook vrae soos: Indien ‘n mens ál die honderde gesigte/visioene/drome/geskrifte wat deur die eeue ontstaan het – en wat almal daarop aanspraak maak dat húlle égte openbarings van God is – sou neem, hoe sou ‘n mens ooit weet wátter van hulle eg & waar is? Want almal verskil van mekaar. Baxter se visioene van hoe hemel & hel lyk, verskil byvoorbeeld hemelsbreed van díé wat ander mense gesien het. Dieselfde geld vir ander kultiese geskrifte. Die Moslems sê hulle Koran het uit die hemel geval. Ellen White sê háár boekie is ‘n Godsopenbaring. Joseph Smith sê die engel Moronie het die Book of Mormon woord vir woord aan hom gedikteer. Dít is eg van God af. Verder “openbaar” die Roomse tradisie weer totaal ander dinge as “egte Woord van God”. Ensovoorts. Vraag: Wat is dan nou die waarheid en wat nie, want almal verskil van mekaar. Sien u die diepe penarie wanneer ‘n mens buite-om die Bybel gaan soek vir nóg aanvullende openbarings. Jy sit later in dryfsand vas waaruit jy nie maklik loskom nie.

Neem byvoorbeeld die uitlatings wat Mary Baxter oor hemel & hel maak. Dit krioel letterlik van plekke waar dit die Bybel weerspreek. Eintlik is dit niks anders nie as fantasie verbeeldingsvlugte. Die hele “atmosfeer” in die boeke verskil sóveel van die gees van die Skrif. En tog sê Baxter dat haar visioene die foutlose woord van God is. Dit is Sy finale woord, voller en meer opwindend as die Bybel.

Kom ons kyk na enkele dinge wat sy beskryf. Oor die hemel sê sy dat nasionaliteit steeds in die hemel mense sal verdeel en dat diamante, so groot soos blokke sement, gebruik word om diegene wat “sielewenners” was, se paleise te bou. Die hemel is ook vol Victoriaanse meubels. Daar is ook ‘n spesiale “bottelkamer” waar bottels vol menslike trane bewaar word. Op die bottels staan die mense se name. Daar is ook ‘n saal van platinum met kamers vol seëninge wat nooit op aarde opgeëis is nie – seëninge van wondergenesings en ander wonderwerke. Dit is dus waarom mense nie genesings beleef nie, hulle “eis” nooit hul genesing op nie! Ook sien Baxter perde wat God aanbid. Verder word engele beskryf as wesens wat alwetend is. Engele kom ook – volgens Baxter – tot bekering. Volkome in stryd met die Skrif.

In die ander boek wat handel oor Baxter se visioene van die hel, gaan dit nie veel beter nie. Eerder erger. Sy sien onder andere ‘n spesiale planeet waar babatjies, wat voor geboorte gesterf het, vergader word in ‘n vreemde soort sondagskool. Sy beskryf die hel as ‘n plek in die middel van die aardbol, wat die fatsoen het van ‘n menslike liggaam wat op sy rug lê met uitgestrekte arms en bene, met tonnels wat die verskillende dele verbind. Oral is daar reuse slange – sommige 25 voet lank en 4 voet dik. En natuurlik: Satan en sy demone is in beheer van die plek en pynig die mense – ‘n totaal onbybelse gedagte, want volgens Matteus 25:41 is dit juis húlle wat gepynig word! Hulle is nie in beheer nie. Hulle word vir ewig gestraf.

En so kan ‘n mens aangaan. Te veel om te noem. Oral vind ‘n mens uitsprake wat aan laster grens. Soos byvoorbeeld dat sy self baie meer ontsteld was oor wat sy in die hel sien, as wat Jesus is! En ook dat die meeste mense wat sy daar gesien het, gelowige Christene was. En verder dat Jesus haar op ‘n stadium in die hel alleen laat en toelaat dat demone haar martel. Maar genoeg. Genoeg om duidelik te sien wát gebeur wanneer die Bybel nie meer genoeg is nie en daar na ekstra inligting gesoek word.

Vraag is: Hoe moet ons dit beoordeel. Al bots die meeste van Baxter se vertellinge radikaal met die Bybel, wonder ‘n mens tog: Hoe moet ek met sekerheid weet dat daar nie waarheid in steek nie. En, hoe moet ek weet dat die Bybel alléén die Woord van God is. Hoe kan my hart volkome tot rus kom, slégs in die Woord alleen?

Dit is opvallend hoe die Apostel Paulus verskil van Mary Baxter. Ook Paulus het op stadium ‘n gesig van die derde hemel gesien. Maar, in teenstelling met Baxter, kon hy nie ‘n woord uitkry oor wát hy gesien het nie. Wat nog te sê ‘n boek skryf. Hy mág nie daaroor praat nie. Hy kón nie daaroor praat nie. (v 4) Hy is só beskeie daaroor dat hy in die derde persoon praat – asof dit met iemand anders gebeur het. Hy sê in vers 6 dat hy bang is dat – vanweë die ervaring – iemand méér van hom sal dink as wat hy in werklikheid is. En sodat hy nie hoogmoedig sou word nie, het die Here hom ‘n doring in die vlees gegee.

Bonatuurlike manifestasies van ewige dinge word ook nie deur die Here gegee om mense tot besinning te skok nie. Dit is die fout wat die man in die verderf – in Luk 16 – gemaak het. Hy was bitter bekommerd oor sy broers wat nog op aarde leef en wat net so goddeloos en ongelowig soos hyself was. Hy wou hê hulle moes gewaarsku word. En wat ‘n meer effektiewe basuin kon blaas indien Lasarus uit die dood aan hulle sou kon verskyn! Dán sou hulle tot besinning kom! En dan Abraham se skokkende antwoord: “Nee, hulle het hulle Bybels. Laat hulle dít lees. Laat dít hulle oortuig. Indien hulle nie deur die geskrewe Bybel oortuig word nie, sal hulle nooit oortuig word nie, selfs al verskyn iemand uit die dood aan hulle.”

In die Bybel, het die Here Sy hart leeggepraat en méér as wat in die Bybel staan, het ons nie nodig om te weet nie. Geen wonder dat die Bybel afsluit met die volgende woorde (Openb 22: 18-19): “Niemand mag iets van hierdie woorde wegneem óf daaraan toevoeg nie.” Hoor u? Die Bybel is afgesluit. Wat geskryf is, is geskryf.

En hoe praat hierdie Bybel oor hemel & hel? Antwoord: Op ‘n baie sobere manier. Sonder sensasie. Hy sê net wat nodig is. Maar, die groot fokus val op God drie-enig. Nie op die hemel of die hel nie, maar op God self en Sy groot verlossingsdade. Natuurlik laat die Bybel geen twyfel oor die absolute realiteit van hemel & hel nie, maar dit is nie die fokuspunt nie. Dit word nie beskryf om ons nuuskierigheid te bevredig nie. Net die nodige word dáároor gesê. Die groot fokus val op die lewende God en Sy reddingsdade waarby Hy ons inreken.

‘n Deurdringende vraag aan ons elkeen: Watter rol speel die Bybel regtig in ons lewens? Is die rede waarom mense so in vervoering raak oor vroom boekies en ménse se uitdinksels nie dalk omdat hulle só onkundig is oor die Bybel nie? Omdat ons Bybels so toe is en ons die minimum tyd daaraan spandeer en nie geleenthede benut waar ons onderrig kan word in die Skrifte nie? Die tinteling en opgewondenheid het ons dalk nog nie beetgepak nie. Daarom kan ons nie onderskei tussen waarheid & leuen wanneer ons met allerlei aansprake gekonfronteer word nie.

Mag die Here gee dat elkeen van ons op nuut weer die rykdom van die Bybel as Woord van God sal ontdek. Spreuke 2:4 – “Soek dit soos jy silwer sou soek. Spoor dit op soos ‘n verborge skat.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00