TAFELBERG GEMEENTE

Tema: God is groter as ons hart
Skrif: Matteus 16: 13-23, 1 Johannes 3: 18-24

Die Bybel is ‘n wonderlike boek. Dit is ‘n boek wat só menslik is, dat ‘n mens jouself op byna elke bladsy raakloop. En tog is dit tegelyk ‘n absoluut Goddelike Boek – Sy eie Woord aan ons. Dis egter juis die menslikheid wat een van die bewyse is van die egtheid van die Bybel. Die Bybel is geen glansende reklamebiljet wat al die mense se foute verswyg en hulle prestasies ophemel nie. Inteendeel. In geen onsekere terme nie, beskryf die Bybel die swakhede & wisselvallighede van die gelowiges. En dááraan het óns veel te danke. Want dit gee ons hoop wanneer ons onsself op byna elke bladsy van die Bybel raakloop – in die gelowiges van wie gepraat word.

Byvoorbeeld: Watter kind van die Here, kan hom/haarself nie helder herken in die apostel Paulus se persoonlike stryd in Romeine 7 nie: “Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek. Ek wil die goeie doen, maar al wat ek doen, is die slegte. Diep in my wese vind ek vreugde in die Wet van God, maar in my doen en late vind ek ‘n ánder wet wat stryd voer teen die wet van my gees.”

Ons moet dit mooi hoor. Dit is nie die woorde van ‘n mens wat verskonings soek vir sonde nie. Dit is ook nie die woorde van ‘n oppervlakkige mens wat sê: “Ag, ek is nou maar eenmaal ‘n sondaar. Ek kan dit nie verhelp nie. Ek ís nou maar so. Die Here sal dit seker verstaan. Gelukkig vergewe Hy darem weer, dus gaan ek maar aan.”

Nee, dit is die woorde van ‘n opregte gelowige in wie se hart liefde vir die lewende God gloei en wat werklik lééf uit Jesus Christus se verlossing. Iemand wat daarom dors & honger na ‘n heilige & toegewyde lewe. En tog: Die innerlike stryd. Die innerlike swakhede. Die wankelmoedigheid. Geloof en twyfel is vermeng binne in een en dieselfde hart! Blydskap en swaarmoedigheid loop hand aan hand binne in een en dieselfde mens se binneste!

Dink maar aan iemand soos die profeet Elia – op wie se woord dit 3,5 jaar lank droog was en tóé weer begin reën het. Elia: Die man van God op wie se woord vuur uit die hemel op die altaar geval het terwyl die Baälpriesters hulleself stukkend gekerf het sodat Baäl net moet antwoord – sonder sukses. Ons lees dit in 1 Konings 18. En toe die vuur uit die hemel val, draai byna die hele volk terug na God toe. ‘n Massiewe oorwinning/oplewing. En dan, net die volgende dag – een dag ná hierdie oorwinnings, sit hierdie selfde Elia onder die besembos en wens om te kan sterf, want hy voel hy het alleen oorgebly as kind vd Here in Israel. Net omdat die goddelose Isébel hom met die dood gedreig het, bewe hy van vrees. Dit staan in 1 Konings 19.

Ons lees in Matteus 16:16 dat Petrus van Jesus sê: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” En dan wéét ons sommer net weer met ‘n gloeiende vastheid en sekerheid dat ons veilig is by hierdie Jesus in wie ons glo. Ons lees Petrus se belydenis en dan stoot die sekerheid in ons binneste op: “Ja, Jesus was nie maar net ‘n besondere méns nie. Hy is God. Hy is die Een deur God gestuur om MY te red.” En, dan bely ons ook vol geloofsekerheid hierdie woorde agter Petrus aan: ”U is die Christus, die Seun van die lewende God.”

Maar, net ‘n klein rukkie later pak die sorge & krisisse van die lewe ons weer en dan word dieselfde mens wat so pas versterk is deur Petrus se woorde – en wat dit so mooi agterna gesê het – maar weer ‘n swaarmoedige kleingelowige.

Nou lê die krag & troos van die Bybel daarin, dat dit presies is wat ook met Petrus self gebeur het! Pas ná sy roerende geloofsbelydenis moes hy van Jesus self hoor: “Gaan weg, satan.” En nóg ‘n rukkie later was hy die een wat sweer dat hy Jesus nooit geken het nie. Drie maal.

En tog was dit Petrus se woorde van geloof wat uiteindelik end-uit bly staan het. Tot vandag toe. Tewens, dít is die fondament waarop Jesus steeds Sy kerk bou – die inhoud van Petrus se geloofsbelydenis. Dit het (in die hemel) swaarder geweeg as sy struikelende kleingeloof. Want, die geloof waarmee ons bely, kom van God af. En die kleingeloof kom uit ons eie hart. En daarom hoor Hy ons belydenis van geloof baie duideliker as wat Hy ons wanhoop en twyfel hoor. Omdat die geloof van Hom kom (Sy gawe), weeg dit baie swaarder as die kleingeloof wat uit ons eie harte voortkom.

Dit is aangrypend om te sien: Petrus se wankelmoedigheid en selfs sy drieledige verloëning van Jesus, kanselleer nie sy belydenis van gelóóf nie. Nie omdat sy geloof opsigself iets besonders was nie, maar vanweë die INHOUD van sy geloof: Jesus Christus is die Seun van die lewende God. DIT is die fondament waarop God Sy kerk bou. DIT is wat nooit kan wankel nie. Die kleingeloof en wanhoop en twyfel fokus altyd na binne – die onsekere, uitsiglose dryfsand van die innerlike. Die geloof – daarenteen-fokus buitekant toe: dit fokus op Gód en Sy groot verlossingsdade. Dit eet die Woord soos heuning. Dit fokus dáárop. Daarom stáán dit.

Dit is die betekenis van daardie pragteksvers in 1 Johannes 3: 20. Johannes is besig om te verduidelik hoe ons volle geloofsekerheid kan hê ten spyte van die teenwoordigheid van menigvuldige tekortkominge en die tweespalt & tweestryd in ons binneste. Johannes sê: Vanweë hierdie tweespalt, voel jy mos dat jou gewete nie skoon is nie. Daar is by jou geen twyfel nie dat Jesus jou volmaak gered het op die kruis. Jy vertrou slégs op Sy verdienste. En uit liefde vir Hom probeer jy jou bes om jou liefde met die daad te bewys – maar jou gewete bly jou maar aankla. As dit nie híér te kort is nie, is dit dáár te lank. Jou hart veroordeel jou. Want, die een oomblik bely jy saam met Petrus dat Jesus die Seun van God is. Maar oomblikke daarna moet jy saam met dieselfde Petrus hoor dat jy ‘n satan is. Dis asof jy nie die Here gedien kry met ‘n groot ywer soos dit hoort nie. Hoe kom ‘n mens se innerlike dan ooit tot rus?

Johannes sê: dit kom tot rus wanneer jy die ontdekking maak dat God groter is as jou hart/gewete. Jy moenie toelaat dat jou gewete/innerlike/hart jou vernietig nie. God weet méér as wat jou hart/gewete weet en tóg noem Hy jou Sy kind omdat Jesus jou met Sy dood gered het en jy juis daarop vertrou. Die slegste in ons is aan God algeheel bekend, en tog gee Hy hartstogtelik vir ons om. Dit wat ons nou eers in onsself ontdek, was 2000 jaar gelede al vir Hom ‘n ope geheim. Daarom: moenie vir Hom bang wees nie. Dit was juis toe Hy die moord & graf in jou hart gesien het, dat Hy Sy Seun gegee het. Hy is groter as ons innerlike – Hy weet alles en tóg het Hy Sy Seun gegee.

Namate ons toelaat dat die sagtheid van hierdie blye boodskap in ons lewens begin heerskappy voer, begin dit die mag van die sonde & boosheid in ons innerlike breek. Nee, die sagte evangelie gee nie vir ons ‘n vrypas om nog méér boos te wees nie. Dit bréék die boosheid. Daarom: Laat hierdie blye boodskap toe om u hart te regeer – en uit te groei tot in u stem, u vingerpunte en voete.

Dr. Chris Saayman

Tafelberg NG Gemeente, Buitenkantstraat 39, Kaapstad

Tel 0215516704

Sel 0832321817

Epos saay@isales.co.za

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00