Reeks oor ESTER nr. 4

Tema: Dat God soewerein is, maak ons aktief
Skriflesing: Ester 4

Is dit wat ’n mens in Ester lees, nie dalk maar net die een toevalligheid na die ander nie? ’n Opeenstapeling van toevallighede? ’n Mens-uitgedinkte fantasieverhaal? Kyk, alles pas darem net té gemaklik in mekaar – soos ‘n legkaart. Vir elke ding wat Ahasveros & Haman doen om die Jode uit te wis, gebeur daar net iets anders wat hulle planne kanselleer. Soos Mordegai vir Ester sê in v.14: “Is dit nie dalk met die oog op ’n tyd soos hierdie dat jy koningin geword het nie?” Dit klink byna soos ‘n verhaal wat iemand vooraf beplan en neergeskryf het.

’n Mens kan dink dat dit alles toevallighede of ’n fantasieverhaal is, totdat jou oë oopgaan en jy raaksien dat dít wat in ESTER beskryf word, eintlik ’n keerpunt in die hele geskiedenis van die mensdom was. Allermins ’n fantasieverhaaltjie. Onthou: Indien Haman se plan sou slaag, sou AL die Jode uitgewis word – OOK die Jode wat toe reeds weer in Jerusalem was. Want ook Palestina was in daardie tyd onder Persiese bewind. En, indien dít sou gebeur, sou daar nooit ’n Maria/Betlehem/krip gewees het nie. Dus: nooit die koms van die beloofde Christus/Messias nie!

Dít wat vir ons lyk soos ’n klomp toevallighede, is in werklikheid die lewende God in aksie. Dit is die hand van die Here in beweging. Dit is die Here se voorsienigheid. Dit is Sy soewereiniteit. MET EEN DOEL: Om álles ten goede te laat meewerk sodat die moederskoot van Maria bewaar kon word. Dit sê Mordegai eintlik in soveel woorde in v. 14 (herhaal). Was daar nie dalk ’n goddelike PLAN waarom Ester koningin moes word nie? Wat hoegenaamd nie aan ’n méns te danke was nie!

U sien, dít is wat dit beteken dat God soewerein is. Hy werk & doen soos Hy wil wanneer & waar Hy wil. Hy vra niemand se toestemming nie. Maar ons sien ook wat Sy voorsienigheid beteken: Hy voorsien in ons lewens en omstandighede (op ’n soewereine manier) en Hy doen dit meesal deur op die agtergrond te werk. In ESTER leer ons DRIE dinge van die Here: Soewereiniteit, Voorsienigheid & Sy trou aan Sy belofte. Hoe is dit moontlik dat ’n mens in die nag rustig kan slaap indien hy/sy nie die Here juis só ken nie? Hoe is dit moontlik om enigsins te kan léwe indien jy nie die Here persoonlik só ken nie? Só: Soewerein in Sy voorsienigheid & trou aan Sy beloftewoord.

Maar, ’n mens ken nie die Here só met die doel om aan die slaap te raak en passief / traak-my-nie-agtig te raak nie. Nee, die geloofsRUS in God se soewereiniteit, voorsienigheid & trou, maak jou juis heiliglik ONrustig. Die RUS maak jou ONRUSTIG. Dit skakel jou juis IN by die Here se plan. U moet baie fyn let op die ontwikkeling wat nou in hfst 4 plaasvind. Toe die nuwe wet bekend word, naamlik dat die Jode doodgemaak gaan word op die 13e Adar, was daar pandemonium onder die Jode. Mordegai het met rouklere rondgeloop tot by die poort van die paleis waar niemand met rouklere toegelaat is nie.

Toe koningin Ester dit hoor, kom Mordegai met sy troefkaart. “Jy, as Jodin, is dan nou koningin. Nou kan jy mos by die koning intree vir jou volk se behoud. Indien nie, moet dan nie dink jý sal bly lewe net omdat jy koningin is nie.” Ester sit in ’n penarie. Want niemand mag sommer by die koning kom sonder dat hý jou roep nie. Indien jy sommer by hom inbars en hy steek nie sy goue septer na jou uit nie, moet jy sterf. En wánneer hy weer vir Ester sal roep, weet nugter, want hy stel al vir die afgelope 30 dae nie in haar belang nie. Sy sou haar lewe waag deur sommer net by hom in te bars. Maar, Mordegai se pleidooi roer haar hart en sy maak ’n geweldige keuse: “As ek moet omkom, dan moet ek maar omkom. Maar ek sal gaan. Laat al die Jode in Susan vir 3 dae lank vas. Ek sal ook vir 3 dae vas. Dán sal ek na die koning toe gaan.”

Ons sien hier 2 dinge: Eerstens iets vreesliks en tweedens iets wonderlik. Eerstens: Mordegai & Ester is kerklidmate, maar hulle het so verskriklik verdwaal & koud geword. Kyk mooi, dan sien u dit: Hulle kan net eenvoudig nie sover kom om enigsins eens die Here se Naam te noem nie. Iewers uit hulle verre verlede onthou hulle dat die Here aan Abraham ’n belofte gemaak het en dat daar ’n Goddelike doel met Israel is. Iewers uit hulle prille jeug, die tyd toe hulle die preke ingedrink het en katkisasie bygewoon het, onthou hulle dat die Here voorsien en beskik. En dat gelowiges mag vas en bid as teken van verootmoediging voor die Here. Maar al wat hulle dáárvan oorgehou het, is slegs vae herinneringe. Hulle noem nie eens die Here nie. Hulle noem niks van Sy beloftes nie. Hulle praat nie van gebed nie. Onthou vas het altyd met gebed saamgegaan. Al wat Mordegai kan uitkry is: “dalk kom daar van ’n ander kant af ’n uitkoms..” Hy bedoel: “van die Here af”, maar hy sê dit nie.

Dit is die eerste: Die vreeslike plek waar ’n kerklidmaat kan beland as gevolg van afdwaling – weg van die Here en Sy Woord af. Dan word jou geloofslewe ’n private aangeleentheid. Godsdiens is iets persoonlik. Jy word wêrelds. Jou gewete word stomp. Jy vind dit al hoe moeiliker om die Here openlik te bely. Jou geloofslewe word iets wat byna geen uitwerking het op jou elkedagse lewe/besluitneming nie. Die Bybel, gebed en die kerkdienste word al meer ’n las as ’n lus.

Waar begin afdwaling altyd? Ongehoorsaamheid van die een of ander aard. Soos in Mordegai & Ester se geval, waar hulle in Persië was terwyl hulle in Jerusalem moes wees, by die kerk, besig om die tempel te herbou. En ongehoorsaamheid begin dikwels met sogenaamde klein dingetjies – soos Hooglied sê. Ek sien hoedat baie mense net die bywoning van sekere kerkdienste uitskakel en geen ramp/oordeel tref hulle nie – daarom sal ek dit ook doen. Baie mense lees dagstukkieboekies in plaas van die Bybel en geen oordeel tref hulle nie – daarom sal ek dit ook doen. Baie mense gaan slordig om met die dag vd Here (Sondag) en geen ramp tref hulle nie – daarom sal ek dit ook doen. Honderde kerkmense dobbel en vertrou op die geluksgodin en geen ramp tref hulle nie – daarom sal ek ook probeer. Kort voor lank sit jy net met die leë dop van Christenwees. Jou oë is vaal en uitdrukkingloos. Geen krag in die koninkryk. Die Bybel se letters swem deurmekaar, jy weet nie eens wat jy lees nie. Jou gebedslewe word droog en oppervlakkig. Die eredienste word vervelig en jou gedagtes is op ander plekke. Ensovoorts.

Daarom moet ons ons dringend bekeer sodra ons die geringste greintjie van ongehoorsaamheid en afdwaling en koudheid in ons hart & lewe opmerk!! Ons moet DADELIK omdraai. Net soos ons onmiddelik na die dokter gaan wanneer ons siektesimptome opmerk. Ons mag nie toelaat dat die afdwaling wortelskiet nie!

Die tweede: Die Here skakel vir Mordegai & Ester IN by Sy plan om Sy volk te red. Die feit dat God soewerein is in Sy voorsienigheid en trou aan Sy belofte, skakel nie die mens UIT nie (narkoseslaap), maar IN. Dit maak jou energiek, nie lusteloos nie. Nie passief nie, maar aktief. Kyk net hoe gebruik die Here vir Mordegai om vir Ester te inspireer. En kyk na Ester: Skielik is sy bereid om te sterf vir die redding van haar volk. Vroeër was die gerief van die koninklike paleis vir haar belangrik. Vroeër het sy na die koning gegaan ná ’n dieët en skoonheidsorg. Nou gaan sy na die koning sónder skoonheidsbehandeling en waag haar lewe. Sy gee haar gerief prys en word gewillig om te vas. Dít is hoe die Gees van God mense optel en opnuut inspireer en mobiliseer – en let op: mense wat koud en afvallig geword het. Mense wat óns dalk sou afskryf, word nie deur die Here afgeskryf nie, maar weer besoek met genade. Is dit nie sielsaangrypend nie??

Sien u? Wanneer ons glo dat die HERE voorsien – dat niks toevallig is nie – dat Hý soewerein is – dán raak ons juis AKTIEF. Dan gryp ons elke geleentheid aan. Dan laat ons ons inskakel met entoesiasme. Dan WERK ons – juis omdat ons weet dat dit die Here is wat werk. Omdat ons weet dat die Here soewerein regeer, laat ons nie gebed links lê nie. Omdat ons weet dat Hy Sy koninkryk laat kom, werk ons aan die koms van hierdie koninkryk. Omdat ons nie hoef te werk vir ons saligheid nie, juis dáárom werk ons uit dankbaarheid. Ons bring ons offers omdat Jesus geoffer is!

Onthou: Ester was GEWILLIG om vir haar volk te sterf en haar volk van die dood te red. Maar 450 jaar later HET Jesus gesterf en HET Hy sodoende Sy volk (uit alle nasies versamel) van die ewige dood gered. Ester se bereidheid (onthou: uiteindelik het sy nie gesterf nie) om te offer, berei net ons harte voor om Christus se volbragte offer gelowig te ontvang. Ester se bereidheid om haarself te offer lei ons na Jesus wat geoffer is. Dit wys weg van Ester af, ná Jesus en Sy offer. Wie vanuit hierdie offer leef, word weer bereidwillig om te offer. Sal ons nie vanoggend soos een man opstaan en ons opnuut aan Hom toewy nie? Wég van koudheid en louheid en vol aksie in Sy diens! 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00