Reeks oor ESTER nr. 3 Tema: Die stryd van die slang teen die saad van die vrou
Skriflesing: Ester 3

Twee weke gelede het ons gesien hoedat die totale Bybel skarnier/hang aan slegs een enkele teksvers: die sg. “Moederbelofte”. Die belofte wat God net ná die sondeval (pleks van om die gevalle mens uit te delg) gegee het : Hý sal uit vrye genade die verderf & gevolge van die sondeval herstel. Hoe? Hy gaan ’n manlike persoon (saad vd vrou) stuur wat die slang se kop sal vermorsel alhoewel die slang hom (die saad) in die hakskeen sal byt (Gen 3:15). Vervolgens is die hele Bybel ’n ontvouing van hierdie stryd tussen die slang en die saad-van-die-vrou. Die hele Bybel is ‘n openbaring van hoe die slang eeuelank probeer het om die koms van dié beloofde Man te verhinder… én Hom in die hakskeen te byt. Die Bybel is veral ’n magtige getuienis van hoe God Woord gehou het en getrou gebly het. Reg aan die einde van die Bybel, in die boek Openbaring, sien ons die uiteinde van die stryd: Die beloofde saad-vd-vrou was Jesus Christus en die slang en sy volgelinge is in die vuurpoel. Wat in Gen 3:15 beloof is, is in Openbaring vervul!

Die oomblik wanneer ‘n mens dít verstaan, kan jy met gemak die eeuelange konflik raaksien: Kain vermoor vir Abel om die vrou se saad summier te vernietig. Wie sit daaragter? Die slang. Set word egter gebore. Toe probeer die slang om Set se seuns met Kain se dogters te vermeng. En, dit lyk of hy sal slaag om die geslagte te vernietig, want in Genesis 6 wil God almal uitwis vanweë die sonde. Tóg is daar één man uit Set se geslag wat gered word: Noag. God sit Sy belofte – deur Noag – voort. En verder deur Abraham. Gelukkig vir die slang was hy en Sara te oud om kinders te hê. “Nou sal die beloofde saad nie gebore kan word nie” grynslag die slang. Die wonderwerk gebeur egter: Isak word – deur ‘n wonderwerk – gebore. Maar, toe moet Isak geoffer word op Moriaberg. Toe Abraham die mes optel, glimlag die slang van oor tot oor. Maar die Here triomfeer. Isak leef en ‘n ram sterf in sy plek. Isak en Rebekka trou, maar sy is onvrugbaar. ‘n Wonderwerk gebeur en Jakob word gebore. Nou sal die belofte deur hóm loop. Esau wil hom egter doodmaak. Hy slaag egter nie. Jakob se 12 seuns word die Kerk van die OT: die volk Israel. Keer op keer wil die slang Israel uitwis. Farao probeer al die seuntjies van die Israeliete doodmaak (Eks 1). Geweldige haat. Hakskeen byt. Moses word egter in die biesiemandjie bewaar en hy oorleef. Dink verder aan die “Goue Kalf episode”. Moses tree vir die volk in by God. Uit Juda kies God een familie: DAWID. Nou mik die duiwel weer alle pyle op hóm. Saul wil hom doodmaak. Later wou Atalia Dawid se nageslag uitroei. Net een nakomeling, Ahasia, word weggesteek en ontkom Atalia se moordlus. En so kan ons aangaan. Uiteindelik, toe Jesus gebore is, wou Herodes weer die babaseuntjies doodmaak. Maar Josef en Maria vlug na Egipte. Op Golgota het die slang gedink hy het oorwin, maar toe volg die opstanding! Vir die afgelope 2000 jaar is alle aanvalle op die kerk van Christus gerig.

Daar is egter nóg iets wat ons helder moet raaksien: Gedurende hierdie eeuelange stryd tussen die slang en die saad-van-die-vrou het die AMALAKIETE (Agagiete) ’n belangrike rol gespeel. Vir geslagte lank was húlle die instrument in die hand van satan om die Here se OT-Kerk te probeer uitwis en die koms van die beloofde Verlosser te kelder. In Eksodus 17:16 staan daar dat die HERE ’n stryd teen Amalek het. U sal onthou dat dít juis koning Saul se sonde was: dat hy nie die Amalakiete uitgewis het nie, maar hulle koning AGAG gespaar het (1 Sam 15). AGAG was die titel van al die Amalakitiese konings.

En nou kan ons Ester 3 verstaan. Want Haman was ’n Agagiet, sê die Skrif. Alhoewel hy ‘n Persiër was, was hy op die een of ander manier ‘n afstammeling van die Amalakitiese Agag-konings. Dít is die interpretasie van die Joodse historikus Flavius Josephus. Of dalk word Haman ‘n Agagiet genoem vanweë sy felle haat vir Mordegai, want onthou – volgens 2:5 – was Morgedai ‘n afstammeling van Kis en dus familie van koning Saul. Net soos Agag en Saul teenoor mekaar gestaan het, staan Haman en Mordegai nou teenoor mekaar. Die slang teenoor die saad-van-die-vrou!

Nádat Ester koningin geword het, het koning Ahasveros vir Haman in ’n ontsaglike hoë posisie aangestel. Almal moes aan hom eer betoon. Maar Mordegai, Ester se oom, het geweier om voor Haman te buig. Nie omdat hy die HERE liefgehad het en dáárom voor geen méns buig nie. Ons het verlede week gesien dat Mordegai ’n afvallige verbondsmens was. Ongehoorsaam en geestelik koud. Dit was in elk geval ook nie prinsipieel verkeerd om eerbied aan ’n ander te betoon nie. Dink hoe het Dawid voor Saul neergeval en Batseba en Natan voor Dawid. Ook Josef se broers voor hom. En Rut voor Boas. Om só neer te buig was destyds ’n algemene manier om eerbied te betoon.

Maar Haman was ’n Agagiet! Dáárom weier Mordegai om te buig. Al was Mordegai so afvallig van die Here, het sy Joodse bloed gekook teen die Agagiete. Dit het nie vir Mordegai gegaan oor die erns van die Here se saak nie. Dit het gegaan oor sy eie volksheid. Sy eie Joodwees. Net soos dit soms vir óns ook gaan oor ons eie sentiment/tradisies en nie oor dit wat werklik vir die HERE belangrik is nie. En toe Haman hoor dat Mordegai ’n Jood is, tóé is die vet in die vuur! Toe kom die slang en die saad van die vrou weer in ’n kop-aan-kop botsing! Op daardie oomblik vuur die slang vir Haman, die Agagiet, aan om nie net vir Mordegai nie, maar sommer álle Jode uit te wis. Nóú wil die slang finaal ’n einde maak aan hierdie volkie sodat God se beloofde Verlosser nooit gebore sou word nie. Dis nou of nooit!

Haman vind ook sommer in koning Ahasveros ’n handige medewerker. Sonder dat die koning eens weet wie díé volk is wat uitgewis moet word, gee hy toestemming. ’n Absolute swakkeling. Hy besef nie eens dat hy daardeur eintlik óók sy eie koningin Ester (wat ‘n Jodin was) ter dood veroordeel nie. Hy gee vir Haman sy koninklike seëlring sodat die uitwissing vd Jode ’n wet van Mede & Perse word. Nou kan Haman rustig ’n dag bepaal waarop al die Jode eensklaps doodgemaak kan word. En as hulle uitgewis is: God se belofte gekelder! Hoera! Wonderlik! Uiteindelik…

Maar, gemeente, hou nou mooi dop wat gebeur. Kyk, Haman is ’n barre heiden. Hy aanbid afgode. Nou is dit vir hom belangrik dat die gode tog net moet aanwys wánneer die Jode doodgemaak moet word. Op watter datum? Die hulp van die gode is vir hom belangrik. Daarom laat hy eers ’n “heilige” handeling verrig om die gode se hulp te vra. Indien die gode die dag aanwys waarop die Jode uitgewis moet word, dan sal hy ook verseker wees van die gode se hulp. Daarom werp hulle die PUR / die LOT. Dit was ’n heidense ritueel. En wátter dag word toe deur die Pur aangewys?…. Die 13e vd TWAALFDE MAAND (v 7). En gedurende wátter maand het Haman die PUR laat werp? Die EERSTE maand (v 7). M.a.w. hy moes nog byna ‘n jaar wag!!! Dit sou 11 maande neem. Dit gee aan die Jode oorgenoeg tyd om hulle voor te berei. Oorgenoeg tyd vir teen-aksie. Oorgenoeg tyd vir ’n verandering wat dalk nog kon plaasvind.

Sien u wat is besig om hier te gebeur? In Sy onpeilbare voorsienigheid manipuleer die Hére hierdie heidense PUR wat gewerp word. Want die Here het mos reeds gesorg dat Ester koningin is. Sý gaan sorg dat die Jode gered word. Maar, dit gaan tyd neem. Nou sorg die Here weer dat daar genoeg tyd is. Elf maande. En Haman dink dit is sy gode se antwoord!! Spreuke 16:33: “ Ménse werp die lot, maar die HERE gee die beslissing”. Net toe die slang dink dat hy nou finaal seëvier, toe gryp die HERE in, deur die PUR te manipuleer volgens Sý Raadsplan. Verstaan u waarom die boek Ester eindig met die PURIMfees. Want die Jode se redding was te danke aan die PUR wat in die HERE se hande gekom het!!

Maar die heel wonderlikste van alles: Die 13de van die twaalfde maand (Adar) was net een maand voordat die jaarlikse Israelitiese Pasga gevier is. Eks. 12:6. Elke jaar is die Pasga op die 15e Nisan gevier. En die Pasga was die fees waar die Here se volk HOM as VERLOSSER vereer het omdat Hy hulle uit Egipte gered het!! En JESUS sou 450 jaar later op die Pasga (15e Nisan) gekruisig word as Verlosser.

Sien u wat beplan die Here? Hý gee dat Haman se datum vlak voor die Pasga sal wees. En Ester gaan sorg dat die Jode GERED word op daardie dag! WEER EENS gered word! Op die randtjie voor Pasga. Soos hulle gered was uit Egipte op 15e Nisan. En soos die beloofde Saad-van-die-vrou op Golgota op 15e Nisan sou sterf! Die Here beplan dit so: Dat die Jode, pleks van sterf, op 15e Adar ’n DUBBELE VERLOSSINGSFEES sal vier! Gered uit Egipte en gered van Haman die Amalakiet en in die toekoms gered op Golgota! Alles tussen 15 Adar en 15 Nisan!

Sien u die prent wat in Ester 3 geskilder word? Dit is ‘n prent van die lewende soewereine God – wat betrokke is by Sy kinders se lewens.

Ek wil aan u ’n vraag vra. Gló u dat hierdie Here steeds dieselfde is? Dat Hy steeds só regeer? Dan kan Hy mos absoluut vertrou word wanneer die slang verwoed aanval! Onthou wat ons enkele weke gelede in Openbaring 12 gesien het: Toe die slang nie die koms van die Verlosser kon verhinder nie, het hy hom op hierdie Verlosser se KERK toegespits – met groot woede. Dit is waar ons vandag is. Dit is waarom ’n gemeente van Christus – wat waarlik aan Christus getrou wil bly – ’n STRYD het. Dit is waarom ’n gelowige – wat daarna dors om met die Here te lewe – ’n STRYD het. Maar kan u uit Ester 3 sien dat die Here vertrou kan word wanneer die slang aanval?! Kan u die wonder van die Here se troue beskikking sien? En hou dan Hebreers 13:8 styf vas: “Jesus Christus is gister, vandag en tot in ewigheid DIESELFDE!”

Is dit nie absoluut genoeg oorweldigende getuienis vir elkeen van ons om ons lewens onherroeplik aan hierdie Here toe te wy nie? Waarna kan ’n mens meer soek? Waarom nie die rotsvaste historiese getuienis van wie God is – wat uit Ester 3 straal – die fondament van u lewe maak nie? 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00