TAFELBERG GEMEENTE

7 PROFETE IN 7 WEKE NO 7: MALEÁGI

Skrif: Maleági 1-4

Tema: Die boodskap van Maleági

Iemand wat baie spesiaal in jou lewe is belowe hy/sy kom kuier. Jy maak alles gereed, trek mooi aan en wag gretig. Maar die ure gaan verby en niemand daag op nie. Namate dit later en later word, raak jy al hoe meer apaties. Jy skop skoene uit, trek gewone huisdra klere aan, gaan voort met gewone dinge en teen die aand gaan jy slaap. Jy gee nie eintlik meer om nie. En dan, teen middernag lui die voordeurklokkie… Byna soos die 10 meisies wat op die bruidegom gewag het, maar toe hy teen middernag nog nie opdaag nie, gee hulle nie meer om nie (Mat 25:5). Of wat van die dienskneg wat begin drink het & begin het om sy kollegas sleg te behandel en te slaan omdat sy werkgewer so lank talm om van sy oorsese reis terug te keer? (Luk 12:45). U sien, dit is wat gebeur wanneer iemand wat jy verwag oënskynlik nie omgee nie en nie woord hou nie en nie opdaag nie – jy, die een wat wag, gee later ook nie meer om nie.

Dit is die presiese konteks waarin die profeet Maleági homself bevind teen ongeveer 400vC. ‘n Oorblyfsel van die Here se volk het nou vanuit die Babiloniese ballingskap teruggekeer na Jerusalem en die tempel is herbou. Maar dinge is net nie dieselfde nie. Die ouer mense, wat die glorie van die eerste tempel geken het, het hardop gehuil toe die fondasie van die nuwe gelê is (Esra 3:12). Hulle het besef: dis nie dieselfde nie. Gaandeweg het dit gelyk asof die Here nie Woordhou nie. Profete soos Haggai & Sagaria het voorspel wat ‘n wonderlike tyd sal aanbreek wanneer die volk herstel is in Jerusalem en wat ‘n verlossing die Here sal bewerk: dat hulle Verlosser na Sy tempel sal kom, dat Hy op ‘n donkie sal ry, dat ‘n fontein van vergifnis sal oopgaan, dat mense van baie nasies gered sal word. Maar dis asof die beloftes nie vervul word nie. Daarom verflou hulle hoop. Pleks van wonderlike herlewing, beleef hulle misoeste, plae, armes wat verdruk word, geestelike afvalligheid, priester & geestelike leiers in patetiese toestand ens. Dis asof die Here nie omgee nie. So, waarom sal hulle verder omgee? Hoe op aarde rym ’n mens negatiewe omstandighede met geloof in die Here God??? Báát dit hulle nou nog enigsins om die Here ernstig & toegewyd te dien? Dalk moes hulle eerder in Babilon gebly het, want dit voel vir hulle of dit nie die moeite werd is om die Here te dien nie (3:14). Sien u? Wanneer jou geloofsoortuiging skynbaar nie strook/klop met dít wat jy beleef nie – ontwikkel jy ’n probleem met God. Wanneer die werklikheid van die lewe jou fondamente rondskud. Wanneer die Here Jesus se wederkoms nie plaasvind nie en dit lyk asof alles maar vir ewig só sal aangaan. Dán begin jy vra: Ís kind-van-die-Here-wees régtig só die moeite werd soos wat so baie Christene so vroom getuig? Want, kyk, dit gaan nie régtig soveel beter nie. Ek sukkel nog steeds met ’n klomp hardnekkige sondes. My lewe is nog altyd taamlik kragteloos vir die Here. Ek sukkel eintlik nóú baie meer as toe ek nie die Here geken het nie. Ook wanneer ek na die wêreld kyk, lyk dit asof Hy nie eintlik bestaan nie. Hoofsaaklik chaos. Belééf nie Sy krag en teenwoordigheid nie. Soveel ánder godsdienste wat voorgee dat húlle reg is. Wat is die waarheid? Mense op TV – wat in sonde leef – en tog lyk hulle so gelukkig en tevrede. Daarteenoor lyk die mense rondom my in die kerk nie eintlik altyd so waffers nie. Is die mense wat goddeloos leef nie dalk beter af nie?

Dit was die groot probleem van die Here se mense in Maleagi 3. Kyk maar net na vers 5. Die mense wat die Here nie ken nie, lýk so fantasties gelukkig. Die ongelowiges is ’n 1000 maal beter af. Hulle leef in sonde. Hulle maak/doen net wat hulle wil. Hulle sê wat hulle wil. Hulle gaan net kerktoe wanneer hulle die dag lus voel of behoefte het — en — dit gaan met hulle goed. Hulle lyk doodgelukkig. Is dit nou vir mý enigsins die moeite werd om die Here te dien en om vas te kleef aan die kruisdood en opstanding van Jesus Christus?

Die presiese situasie in Maleági se tyd was m.a.w. dat die Here se mense ná die ballingskap moedeloos geraak het omdat hulle gevoel het dat die Here hulle in die steek laat – met die gevolg dat hulle toewyding verslap het. Hulle het die Here begin minag deur hulle siek/blinde/lam diere aan Hom te offer (1:8). Diere wat hulle nie aan hul goewerneur sou gee nie! Wat hulself nie meer wou hê nie, kon die Here maar kry! Verder het hulle begin dink dat hulle God se guns kon koop (1:9). Verder het die geestelike leiers die mense laat struikel deur dwaalleer te verkondig (2:8). Die geestelike leiers was nie toegewyd nie en het nie daarna gestreef om mense na die Here te lei nie. Ook het die mans van Juda met vrouens van ander godsdienste begin trou (2:11) en oor die algemeen het huweliksontrou en egbreuk hand oor hand begin toeneem (2:14-16). Okkultistiese praktyke soos toordery het ook toegeneem en mense het hul dagloners te kort gedoen met hul vergoeding, weduwees & weeskinders veronreg en vreemdelinge verdring (3:5). Nodeloos om te sê het hulle ook die Here beroof in terme van hulle finansiële offergawes (3:8). Dit spreek eintlik vanself. Wanneer dit geestelik nie goed gaan nie, gaan die beursie ook toe vir die werk van die Here.

Dít is die konteks waarbinne die Here vir Maleági met ‘n boodskap stuur. En wat is die boodskap? Verrassing, verrassing: Die Here gee al die tyd vir julle om. Hy is nie ontrou aan Sy beloftes nie. Julle is net te haastig. Die Here het ‘n boek waarin Hy die name het van elkeen wat Hom heelhartig dien (3:16). En, al lyk dit tans asof die ongeredde mense die gelukkiges is, sal die bordjies verhang word en gaan hulle soos kaf verbrand word (4:1). Die Here na wie se koms julle al so lank vreugdevol uitsien, sal skielik na Sy tempel toe kom. Maar eers, voordat Hy kom, gaan ek ‘n boodskapper voor Hom uitstuur wat die weg vir Hom sal voorberei. Hierdie boodskapper sal Elia wees. Dán sal die beloofde Verlosser na vore kom en Hý sal julle skoon was soos die seep van die wassers en soos vuur metaal smelt. Sy koms is nou nie meer ver nie.” Hierdie woorde van Maleági is 400 jaar later letterlik vervul in die koms van Johannes die Doper (die volgende profeet ná Maleági) wat die weg voorberei het vir ons Here Jesus se koms na die wêreld.

Dis wonderlik dat – in ons huidige reeks boodskappe oor die klein profete – Maleági juis op hierdie Sondag aan die orde kom – die Sondag net voor Kersfees. Want dit is ook die volgorde in die Skrif. Die OT sluit af met Maleági se belofte van die koms van die beloofde Verlosser wat op hande is. Dan verloop daar 400 jaar. Dit is die tyd tussen die OT en NT. Dan begin Matteus wat vertel van die geboorte van die Christus op die eerste Kersdag. Net so spreek Maleági se belofte tot ons op hierdie Sondag voor Kersfees. Simbolies gesproke is die volgende 3 dae ‘n beeld van die wagtyd van 400 jaar. En Donderdag is Kersdag, wanneer ons sal sien hoe Maleági se belofte letterlik vervul is in Christus se geboorte!

Hierdie boodskapper (wat Elia genoem word) wat die koms van die beloofde Verlosser voorafgaan, was natuurlik Johannes die Doper, die heel laaste OT profeet. Die engel, wat met Sagaria (Johannes die Doper se pa) gepraat het, sê vir Sagaria dat Johannes in die gees & krag van Elia sal uitgaan en vader & kinders met mekaar sal versoen, presies soos Mal 4:6 sê (Lukas 1: 16-17). Ons Here Jesus sê ook self dat Johannes die Doper die beloofde boodskapper is: “Ek sê vir julle, dit is hý van wie geskryf is ‘kyk Ek stuur My boodskapper om die weg te berei.’” (Matteus 11:10). En in Matteus 17:12: “Ek sê vir julle: Elia hét reeds gekom, maar die mense het hom nie herken nie.”

En let ook fyn daarop hóé misterieus daar in Mal 3:1 oor die persoon van die beloofde Verlosser gepraat word: Díé lankverwagte Man wat kom, sal ‘n Persoon wees, wat gelykstaande is aan God self, maar tog Iemand wat apart staan van God! So staan dit daar. Dit is die HERE SELF wat kom, maar tog is dit God self wat die belofte gee en Hom in vers 1b die “boodskapper van die verbond” noem. Aan die eenkant is hierdie komende Persoon God self. Aan die ander kant word daar van Hom in die 3de persoon gepraat en moet Hy van God onderskei word. Hoe wonderlik is hierdie profetiese Woord en hoe letterlik is dit in ons Here Jesus vervul, Hý wat God self is en tog ‘n Persoon te onderskei van God die Vader, ‘n werklike tweede Persoon in die één Godheid! Ja, Hý wat in die krip gelê het, was nie maar net ‘n gewone seuntjie nie. Hy was ‘n unieke wese: God én mens in één Persoon. En Hy is dit nog steeds. Geen wonder dat Hy alle gesag en mag het om sondaarmense grondiglik te reinig nie. Soos die seep van die wassers en soos vuur die krag het om metale te smelt soos was.

En dit is presies wat die Gees deur Maleági sê: Kersfees is ‘n skoonmaak-fees. Dit gaan oor reiniging/wassing. Sien Mal 3: 2 e.v. Dit sluit naatloos aan by die boodskap van die NT waarvolgens ons Here Jesus die reiniging van sondes bewerk het (Hebr 1:3) en Homself aan die kruisdood oorgegee het om vir Hom ‘n groep mense te reinig wat passievol vir Hom sal lewe (Tit 2:14). Dit het Hy gedoen deur die werke van die duiwel te vernietig (1 Joh 3:8). Maar, Hy het nie net gekom en ons verlos van die straf op sonde nie. Hy het ook deur Sy Kersfeeskoms aan Sy kinders die mág oor sonde gegee, die krag om heilig te lewe (Rom 6) sodat Sy kinders iets beter kry as dit wat hulle gehad het. Deur Jesus se koms verloor jy jou geliefkoosde sondes. Maar in die plek daarvan verkry jy die Here se blydskap en die rus & vrede daarvan om Hom in jou lewe te mag verheerlik. Jy verloor ‘n paar rand, maar jy wen miljoene. Indien jy oppad is om miljoene in ontvangs te gaan neem, maar jy verloor onderweg jou beursie – wie sal dán oor die beursie treur?!

Volgens Maleági is daar twee basiese vernietigende geliefkoosde boesemsondes waarvan die komende Verlosser Sy mense gaan reinig: Huweliksontrou en liefde vir geld. U sien dit in Mal 2:14-16 en Mal 3: 8-12. Gaan lees dit maar in die konteks en u sal sien dat dit die twee groot sake is waarop die Heilige Gees Sy goddelike vinger lê. Aan die een kant beroof die mense die Here van dankoffers omdat hulle die geld vir hulleself wil hê en dit moeilik vind om hom te vertrou om vir hulle te voorsien. Min dinge het die mag om die liefde van ‘n mensekind se hart só te verower soos geld. Aan die ander kant verval die menslike hart so maklik in ontrouheid – veral wat die huwelik betref. In die Here se oë is dit geweld. Hy haat dit (2:16). Hy haat alle sondes van seksuele aard. Daarom sê Hy twee maal: “Beheers julle en moenie ontrou wees nie.” (2:15,16). Opvallend dat juis hierdie twee sake wat Maleági aansny, die twee dinge is wat deesdae so deur die media opgeblaas word en mense word daardeur in hulle miljoene die verderf ingesleep.

Wanneer ons Kersfees vier, moet ons weet: Met Sy koms het ons Here Jesus ons losgesny van die afgode van seks en geld. Volgens Maleági ráák Kersfees juis hierdie twee aspekte ten diepste. Dis onmoontlik om opreg Kersfees te vier, maar woelinge in jou innerlike hart te hê rondom geld/besittings of ‘n ander vrou(ens) of man. Ons moet verstaan: Ons is losgesny. Deur Betlehem se krip en Golgota en die leë graf is ons losgesny van die afgode in ons hart. Daarom is dit noodsaaklik/moontlik/’n voorreg om tot bekering te kom. Om berou te hê, om weg te draai van die afgode af en terug te keer tot die Here. 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00