TAFELBERG GEMEENTE

7 PROFETE IN 7 WEKE : NO 1 – JOËL
Skrif: Joël 1: 1-4, 13-15; 2: 1-5, 12-19, 25-32; 3: 14-21
Tema: Die boodskap van Joël

 

Dit is werklik die Woord van die Here wat ongeveer 835vC tot Joël (“die Here is God”)gekom het (1:1) en vanoggend as ware Woord van God tot óns kom. Alhoewel Joël eerstens met die volk Juda gepraat het, bring hy ‘n tydlose & dringende boodskap (v 3). Die Here het destyds ‘n verwoestende springkaanplaag oor die landstreek Judea gebring om Sy OT-gemeente so ver te kry om HOM ALLEEN te eer. En Joël was Sy mondstuk om vir die mense te sê wát die bedoeling van die plaag was. Maar in/deur die springkaanplaag, kyk Joël (o.l.v. die Gees) ook verder die verre toekoms in en sien die uiteindelike oordeelsdag, die Dag vd Here. Hy sien die natuurramp as ‘n voorspel van die éíntlike Dag vd Here wat vir die hele wêreld (nie net vir Israel) wag. Daarom is die profesie van Joël in 2 duidelike dele verdeel: 1:1- 2:27: die springkaanplaag as tugtiging vd Here (hoe die Here teen Sy eie mense veg om hulle so ver te kry om Hom alleen te eer) en 2:28-3:21: toekomstige oordeel oor die nasies (waar die Here teen die nasies sal stry omdat hulle geweier het om Hom alleen te eer).

Die springkaanplaag was destyds ‘n natuurramp met katastrofiese gevolge. Swerm na swerm het letterlik alles verwoes (1:4) soveel so dat Joël die springkane beskryf as ‘n berede leërmag wat soos ‘n vuur alles verteer (2:3). En tog is Joël se fokus nie op die ramp nie, maar op die lewende God. Joël wil hê sy mense moet iets van die Here sien. Hulle moet iets snap van die hartklop van die Here. Normaalweg sal mense ten tye van só ‘n ramp die regering se hulp inroep en omgewings- en rampbestuur & pesbeheer toepas. Joël sê: “Nee! Kry die kerkleiers bymekaar en hou eredienste. Want dit is die Here wat in hierdie saak is. Hy het nie dood & verwoesting vir julle in die oog nie. Maar Hy is genoodsaak om tug toe te pas & teen julle te veg omdat Hy alleen julle onverdeelde lojaliteit & liefde wil hê. Julle harte is op die oomblik verdeeld. Julle is lou-warm. Daarom veg Hy teen julle. Maar eintlik is Hy genadig en barmhartig, lankmoedig en vol liefde en bereid om baie gou Sy tugmaatreëls te herroep. Hy is bereid & in staat om vir julle binne ‘n ommesientjie te vergoed vir alles wat die springkane opgevreet het. As julle net weer op die punt kan kom om te besef dat daar buiten Hom geen ander is nie. En julle harte weer brandende kan word vir Hom. Daarom mense, vergeet van regeringshulp en pesbeheer. Kom terug na die Here toe met berou en trane. Kom met julle héle hart. Vas, huil en treur. Skeur julle harte. Buig julle harte. Verneder julself voor die Here. Roep die hele gemeente byeen – ook die babas wat nog drink. Bruid & bruidegom, kanselleer eers julle wittebrood, want hierdie saak is té belangrik.”

Die Engelse taal het ‘n woord wat ons nie het nie: “repentance” – wat nie dieselfde is as “conversion” (bekering) nie. “Repentance” beteken om sóveel berou te hê dat jy jouself verfoei en dat jy beetgepak word met die intense begeerte om weg te draai van alle sonde en alles wat die Heilige Gees bedroef. Dít is waarvan Joël praat. Dit gaan eintlik bekering vooraf. Want voordat jy omdraai na God toe, kom die berou, die skokkende ontdekking dat jy verlore is, die hartseer oor wat jy die Here aangedoen het, die begeerte om met alle sonde te breek en die honger & dors om met die Here te wandel. Dít is “repentance”. Die Here het teen Sy eie mense geveg om hulle dáártoe te bring.

Maar dan sien Joël ook die uiteindelike Dag van die Here wanneer Hy teen alle nasies gaan veg omdat hulle nooit Hom alleen geëer en as Koning gevolg het nie. Joël kyk regoor die geskiedenis. Hy kyk 800 jaar die toekoms in en hy sien Pinksterdag, die uitstorting van die Heilige Gees wanneer God se genade en verlossing vanaf die Joodse nasie sal uitkring tot alle nasies en die Heilige Gees op mense van alle groepe sal kom: seuns, meisies, jongmense, oumense, mense van aansien, mense nie van aansien – almal. Almal op wie die Gees kom sal profete wees en God se Woord liefhê en spreek. Élkeen wat die Here se Naam aanroep sál gered word – dit is elkeen wat deur die Here geroep is. Want, die uitkoms sal op Sionsberg wees. Dáár sal die verlossing wees, want dáár (op die berg) sal die Verlosser sterf en weer opstaan.

En tog sal miljoene nie werklik ag slaan op die Here se redding nie. Die tyd van genadeverkondiging sal verbygaan. Dan sal daar tekens in hemel en op aarde wees. Gloed, vuur en rookwolke. Die son sal donker word en die maan bloedrooi en dan sal die groot en vreeslike dag van die Here kom. Dan sal Hy al die nasies bymekaarmaak in die Dal van Beslissing. Die Here sal brul en hemel & aarde sal bewe. Maar, vir Sy volk sal Hy ‘n veilige vesting wees. Dan sal al die nasies besef dat die Here alleen God is en sal daar vir Sy mense ‘n fontein uit Sy huis borrel en melk op die heuwels vloei.

Is dit nie onbeskryflik dat Joël, vanaf die natuurramp van sy dag, vooruit kyk en die hele res van die Bybel sien nie? Tot by die voleinding en wederkoms. Hoor hoe beskryf ons Here Jesus self Sy wederkoms in Matteus 24:29-30. Hy gebruik Joël se woorde in 2:30. Joël sien Pinksterdag. Hy sien hoe mense die Here se Naam aanroep en gered word. Hy sien die Dag vd Here. Hy sien eintlik Pinksterdag en die finale Dag vd Here as één gebeurtenis – terwyl ons vandag weet dat daar nou reeds ‘n gaping van 2000 jaar tussen-in is. Maar onthou, die OT profete het nooit die tyd waarin ons nou lewe, raakgesien nie. Vir hulle was Jesus se twee komste, één koms. Byna soos wanneer ‘n mens op ‘n afstand na 2 bergreekse kyk. Dit lyk soos een, want jy kan nie die vallei tussen-in sien nie. Só het die OT profete gekyk. Die 2000 jaar-vallei tussen Pinksterdag en die Dag vd Here (waarin ons tans leef) het hulle nie gesien nie.

Nou wil ek vir u reguit vra: Indien Joël 2: 28&29 (koms vd Gees) letterlik vervul is 800 jaar ná Joël se woorde, op Pinksterdag (soos beskryf in Hand 2), waarom sal Joël 2:30-31 (Dag vd Here wanneer maan rooi & son donker sal word) nie ook letterlik vervul word nie – al sê vandag se siniese spotters wát? Dit is só seker dat dit vervul sal word dat Joël dit as één gebeurtenis sien. Die enigste rede waarom die twee gebeurtenisse in werklikheid van mekaar geskei is deur meer as 2000 jaar, is omdat soveel as moontlik mense (van alle nasies) nog die koninkryk moet inkom. Almal wat deur die Here geroep is (2:32). Die uitverkorenes dus. Ons is nou nog in daardie fase. Want die Here is barmhartig en lankmoedig. Maar, moenie dink dat dit sal vir altyd so sal aanhou nie. Joël 2: 30&31 sal óók in vervulling gaan – wanneer die Dag vd Here aanbreek. So seker as wat dit vandag Sondag 2 November is.

Wat óns dus uit die profetiese woorde van Joël baie goed moet raakhoor, is die volgende:

1) Ons mag daaroor geen illusie hê dat die groot finale Dag vd Here sal aanbreek nie en dat dit ‘n verskrikking sal wees vir alle mense van alle eeue in wie se lewens die Here nie werklik eerste was nie. Vir die mense wie se eerste liefde die Here Jesus Christus was, sal daardie dag egter ‘n dag van beskutting wees – ‘n veilige hawe. Dit is een van die redes waarom die lewende God dwarsdeur die hele geskiedenis met ‘n mensgesentreerde mensdom so hard praat d.m.v. byvoorbeeld natuurrampe en katastrofes: Hy wil sélf alléén God wees in die oë van alle mense. Joël sê dit so duidelik: die springkaanplaag sowel as die uiteindelike Dag vd Here sal tot gevolg hê dat almal weet dat die Here God is en dat daar geen ánder is nie (Joël 2:27, 3:17). Onthou: ook in die 21ste eeu is dit só dat daar in die oë van die mensdom net één god is: die mens self. En die Here gebruik dinge wat gebeur om vir mense die Waarheid te wys: Slegs Hy is God. Niemand anders nie. Ons mag nooit die komende Dag vd Here uit die oog verloor nie. Dit moet ons naderlok soos die lint waarheen die atleet mik. Dit moet ons motiveer tot ‘n heilige lewe. Dit moet ons ‘n las gee vir die mense rondom ons wat verlore is.

 

2) Wanneer Sy ware kinders se harte wegdwaal van die Here, sal Hy teen hulle veg om hulle tot bekering te bring. Waarskynlik nie deur ‘n letterlike springkaanplaag nie, maar op ander maniere. Hoe sien ‘n mens dit nie op persoonlike vlak nie: wanneer jy selfingenome raak, wanneer hoogmoed insluip, wanneer jy traer en flouer raak, wanneer jy sondes akkommodeer, wanneer gebed begin oorbodig voel – dan kom versper die Here jou pad. Hy kom frustreer jou. Hy maak jou lewe goor. Dinge loop skeef. Hy bring jou grond toe. Dinge in die huis raak taai. Spanninge by die werk laai op. Jy slaap sleg. Depressie bou op. Waar jy ookal draai, jou vreugde is skoonveld. Die Here veg teen jou hoogmoed. Waarom? Omdat Hy jaloers is op jou en jou gees net vir Homself wil hê (Jak 4:5). Omdat Hy vol liefde is en barmhartig en lankmoedig. Omdat Hy die krane van die hemel vir jou wil oopdraai. Hy kan nie wag om die springkane in die see te jaag nie. Daarom gebruik Hy die plaag om jou tot inkeer te lei. Daarom is jy dwaas om verbitterd te raak teenoor die Here wat teen jou veg. Elke goddelike hou wat Hy slaan, is die dissipline van ‘n liefdevolle Vader. Elke hou is ‘n hou teen ons hoogmoed en ons selfvertroue en ons liefde vir die wêreld. Draai liewer om en soen die sambok waarmee Hy slaan en jy sal vind dat Hy ‘n uiters sagmoedige Herder is.

3) Berou & bekering (repentance) : Die Here het die springkaanplaag & Sy profeet se prediking gebruik om die bekering by Sy mense te bewerk ómdat Hy in elk geval genadig, barmhartig en lankmoedig is en maklik tug herroep. Die Here het nie so geword nadat Sy mense tot bekering gekom het nie. Hy het nie op hulle reageer nie. Die bekering is nie ‘n menslike goeie werk waardeur die Here se vergifnis verdien word en Sy arm gedraai word nie! Nee, 1:12 sê so duidelik: “Kom met julle hele hart terug na My toe, vas, huil & treur, want Ek IS genadig en barmhartig.” U sien, die berou & bekering is God se gawe. Dit is die manier hoe Hy Sy genade in ons voltrek. Hy skenk ons die gawe om raak te sien dat ons totaal verdorwe sondaars is én dat die Here Jesus ons volkome verlos het op die kruis. En wanneer ons dit glo, het dit die gevolg dat ons met mag en mening wil wegdraai van sonde en dat ons skielik honger en dors om die Here te wil dien. Ons verag en verfoei onsself en ons lamlendige morsdooie lewe sonder die Here. En ons is van voorneme om met ons héle hart na Hom te kom. Nie brokkies en stukkies nie, maar van harte. Dít is “repentance”. Vroeër het ons gedink: “Ag nee, ‘n mens moet darem nie té wees nie. Ek is redelik goed genoeg vir God. Ek moet net hier en daar ‘n paar verstellinkies aanbring. Maar ek hou nie van hierdie gepratery van dat ek só verlore is dat ek van buite af ‘n Verlosser nodig het wat in my skoene moes staan en mý dood sterf nie. Ek hou nie van sulke praatjies nie. Dis té vernederend. Ek hou nie van predikers wat daarvan praat dat ek op my knieë moet gaan en my hart skeur en in skaamte voor die Here myself verag en in hopelose verlorenheid totaal omdraai na Jesus nie. Ek hou niks van sulke stories nie. Dis selfvernederend.”

Ja, so het ons vroeër gedink. In jou ongeredde toestand redeneer jy só, nie waar nie? Maar NOU – noudat die Here my onweerstaanbaar innerlik roep en my die gawe van geloof gee, nou verander my sienswyse radikaal en ek kom na Hom, met my hele hart. U sien: die rede waarom die Here teen ons veg met springkaanplae, is om ons dáár te bring. Gelukkig is die mens wat só getug word, want hy/sy sal nooit verlore gaan nie. Hoe ryk en begenadigd is so ‘n mens!
 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00