TAFELBERG GEMEENTE

Was daar ooit iemand soos Jesus?
Johannes 17:7, 2 Petrus 1: 16-21

Vele kerklidmate het op Saterdae 16 en 23 September die BY gelees met ‘n mate van ontsteltenis en onsekerheid. Twee joernaliste het dit nodig geag om artikels te plaas wat handel oor twee boeke wat onlangs geskryf is deur mense wat probeer bewys dat daar nooit iemand soos Jesus Christus was nie. Die eerste is Thomas Thompson se boek The Messiah Myth en die ander Tim Freke se boek The Jesus Mysteries. Freke het ook onlangs ‘n praatjie hieroor by die Univ. v. Kaapstad gehou. Beide skrywers beweer dat Jesus nooit geleef het nie en dat die getuienis van die Nuwe Testament op fiksie berus – menslike versinsels. Dit is duidelik dat die spesifieke joernaliste van Die Burger se simpatie – tot ‘n mate – by díé standpunte lê.

Freke beweer dat die NT getuienis gebaseer is op ou heidense misteriekultusse waar mitiese figure soos Osiris en Mithras aanbid is as “seuns van die gode” en hulle ook 12 volgelinge gehad het ens. Freke beweer ook dat geen historikus tasbare bewyse kan gee dat Jesus ooit geleef het nie. Tog voeg hy by dat hy nie seker is van sy standpunt nie – dit bly net ‘n teorie. Maar dan laat Freke die éíntlike aap uit die mou: Die Jesus-storie is ontwerp – sê hy – om jou as mens te help om te ontdek dat JY eintlik god is. Jy moet jou eie innerlike christus vind. So, dís waaroor dit éíntlik gaan: Raak van die ware Christus ontslae – sodat jyself god kan wees. Raak ontslae van die kerk – sê Freke – en soek jou eie geestelikheid buite die kerk – in jouself – want jý is eintlik ‘n klein godjie. Freke is dus ‘n aanhanger van die New Age-godsdiens – wat weer ‘n Westerse soort Hindoe-godsdiens is. Dit verklaar waarom hy so angstig is om ontslae te raak van díé Jesus van wie die Skrif getuig. Deur die eeue was dit só: Raak eerder ontslae van Jesus – want indien jy nie van Hom ontslae raak nie, moet jy buig voor Sy absolute aansprake op jou lewe – en daarvoor sien die mens se opstandige hart nie kans nie. “Kruisig Hóm, kroon mysélf” in plaas van “Kroon Hom en kruisig myself”.

Die vraag bly egter: Het ons ‘n antwoord op díé argumente? Wat van die gewone kerklidmaat wat hierdie goed in die koerant lees en nie oor die kennis beskik om antwoorde te gee nie? Wat van lidmate wat voel dat die fondamente onder hul voete uitgeruk word. Ís die Blye Boodskap van redding in die historiese Jesus – wat opgestaan het en steeds leef – werklik gegrond op betroubare vaste feite? Antwoord: Ondubbelsinniglik JA!! Maar, dit is die ootmoedige opregte soeker wat dit ontdek en nie die trotse eiegeregtige goddelose wat redes soek om van die Waarheid ontslae te raak nie. Sien Joh 7:17 – iemand wat gewillig is om Hom te volg (gebroke is) sal wéét of die leer-van-die-Woord van Gód kom – en of dit mensuitgedinkte stories is.

Ek wil u kortliks wys op DRIE onomstootlike getuienisse van die historiese bestaan van Jesus van Nasaret – waarby Die Burger se joernaliste totaal verbygaan: 1) Dit wat antieke skrywers gesê het. 2) Bybelse profesie. 3) Unieke inhoud van Jesus se boodskap.

1. Antieke skrywers se uitsprake: Freke se bewering dat geen historikus enige bewyse kan gee dat Jesus ooit gelewe het nie, is absoluut onwaar. Tewens, talle heidense skrywers uit die antieke tyd maak melding van Jesus en van die bestaan van die Christelike kerk: o.a. Tagitus (Romeinse skrywer), Suetonius, Plinius, Epictetus, Lucianus ens. Lucianus, Celsus, Porphyrius en Julianus het boeke téén die Christelike Geloof geskryf, maar daardeur juis die historisiteit van Jesus bewys. Pontius Pilatus het aan Keiser Tiberius ‘n hele verslag geskryf van waarom hy Jesus laat kruisig het. U kan in die biblioteek ‘n boek gaan uitneem en dit self lees. Interessant genoeg maak Pilatus melding van hoe dit, in die middel van dag, donker geword het toe Jesus gekruisig is – dat selfs die sterre sigbaar was. Ook ‘n ander heidense skrywer, Thallus, skryf in 52nC van die dag toe die son vanaf 12nm tot 3nm ophou skyn het. Hy sê dit moes ‘n sonsverduistering gewees het. Tagitus skryf weer oor Keiser Nero wat die Christene gemartel het en dan sê hy die volgende: “Christus, die een na wie die Christene vernoem is, was deur Pontius Pilatus gedood, maar toe het die vervloekte bygeloof weer opgevlam en orals versprei – selfs tot in Rome.” Plinius maak weer melding van Christene wat die gewoonte gehad het om elke week op ‘n vasgestelde dag, saam te kom en liedere te sing vir Christus – asof Hy ‘n god is. In 73nC vra die Siriese skrywer, Mara Bar-Serapion, watter voordeel die Jode daaruit gekry het om hulle “wise King” dood te maak, want toe het hulle hul land verloor. Julianus die Afvallige het ‘n hele boek téén die Christendom geskryf, maar daarin bevestig dat Jesus gebore is tydens keiser Augustus se bewind. Hy bevestig ook dat Matteus, Markus, Lukas en Johannes die outentieke bronne van die Christelike Geloof is. Josefus, die Joodse historikus, sê eksplisiet dat Jesus gedood is deur Pilatus, en hy maak melding van Jakobus (Jesus se broer) en Joh die Doper. Genoeg om te sê dat daar oorvloedige antieke historiese bewyse is dát Jesus Christus na die wêreld gekom het. Waarom ons joernaliste daaroor swyg, weet nugter.

2. Bybelse profesie: Bostaande is nie so belangrik soos die getuienis van die Skrif sélf nie. Slegs uit die inhoud van die Bybel self is daar ‘n vaste grond vir volkome sekerheid – en veral die rykdom van vervulde profesieë. Ook in híérdie opsig is die Bybel 100% uniek teenoor álle nie-Christelike godsdienste: Laasgenoemde ken nie so iets soos voorspelde & vervulde profesie nie, terwyl die Bybel daarvan wemel. Die wonder van Bybelse profesie is dat dit ongelooflik spesifiek en vol detail is en dat dit gewoonlik gaan oor sake waarvan daar geen kans is (uit menslike oogpunt) dat dit ooit vervul kan word nie. Gewoonlik het dit ook te make met presies die teenoorgestelde van wat die mens se natuurlike verwagtings is. En dan die wonder: ALLES word tot op die letter vervul – selfs eeue ná die profeet se dood. Geleerdes reken dat meer as 2000 bybelse profesieë al reeds vervul is – waarvan baie 100e te make het met stede/dorpe/plekke/volke met wie die Here se volk Israel iets te doen gehad het.

Net een voorbeeld: Die Heilige Gees het deur Esegiël aangekondig dat die magtige stad Tirus totaal vernietig sal word – sóveel so dat hy net ‘n kaal klipplaat sal word (Eseg 26). ‘n Klompie jaar nádat Esegiël dit geskryf het, beleër Nebukadnesar van Babilon die stad Tirus, maar Tirus bied 13 jaar lank weerstand alvorens Nebukadnesar die stad verwoes, maar duisende inwoners vlug die see in na ‘n eiland omtrent 800 meter vanaf die kus, waar hulle ‘n nuwe stad Tirus begin. O, weë, hou die Here dan nie Woord nie? Die verwoeste stad se mure staan dan nog en die Here het dan gesê Tirus sal so kaal soos ‘n klipplaat wees. Vir 250 jaar sou die profesie nog onvervuld bly. Tóé, 250 jaar nadat Esegiël al begrawe was, kom Alexander die Grote, in sy stryd teen Persië, en hy verwoes al die stede aan die ooskus van die Middelandse See. Maar die nuwe Tirus, op die eiland 800 meter vanaf die kus, wil nie oorgee nie. Toe maak Alexander ‘n pad, die 800 meter see-in – tot by die nuwe Tirus – om hulle beet te kry. En wat gebruik hy as opvulmateriaal om die see-pad te maak? Die oorblyfsels van die verwoeste Tirus se torings & mure. Sodat daar net ‘n kaal rotsbank oorbly.

Kom kyk nou na die profesieë & die Persoon van Jesus Christus: Het u geweet dat daar ongeveer 330 profesieë in die OT, aangaande die komende Verlosser is? En het u geweet dat ALMAL in een enkele Man vervul is? Die Man van Nasaret! En het u geweet hóé KLEIN die kans is dat 300 dinge – wat voorspel word van iemand wat nog nie eens gebore is nie – álmal letterlik vervul sal word? Géén kans nie!

Illustrasie: Gestel ‘n vrou is swanger en iemand sou AGT dinge aangaande die ongebore kind voorspel. Byvoorbeeld: Presiese uur van geboorte/By watter hoërskool hy/sy eendag sal skoolgaan/ met wie hy/sy sal trou/ watter beroep hy/sy sal beoefen/ hoeveel kinders hy/sy sal hê/ wyse van sterfte/ ouderdom by sterfte/ dag & datum van sy/haar sterfte. Wat is die kans dat ál 8 vervul sal word? Die kans is 1 uit 10 tot die mag 17 (10 met 17 nulle). Die moontlikheid dat ál 8 bewaarheid sal word, is dieselfde as om Kaapstad ‘n halwemeter diep met muntstukke te bedek, ‘n kruisie op een te maak en ‘n geblinddoekte persoon te vra om die munt met kruisie op, uit te haal met 1 probeerslag. Die kans is 1 uit 1000000000000000000.

Die Gees hét AGT dinge van die komende Man van Nasaret gesê, eeue der eeue voor Sy geboorte: 1) Manlik en sal slang se kop vermorsel (Gen. 3:15), 2) In Betlehem gebore (Miga 5:1), 3) Magtige God wees, alhoewel ook méns (Jes 9:5) 4) Verag deur die mense, lyding, deurboor twv sondes, opstanding (Jes 53) 5) Priester én Koning (Sag 6: 12&13) 6) ry op donkie (Sag 9:9) 7) Verloën vir 30 silwerstukke (Sag 11:12) 8) Johannes die Doper sal weg baan vir Sy koms (Mal 3:1).

Maar, behalwe vir hierdie 8, nóg 300. En toe kom Jesus, en in Hóm word alles letterlik vervul. Dink aan elke detail van die tabernakel (gedurende Pinksterreeks behandel). Dit is verdoemende getuienis, wat op geen manier deur die bose ongelowiges weerlê kan word nie.

3. Die unieke inhoud van Jesus se boodskap: Die grootste bewys dat die NT-skrywers nie hulle eie Jesus-figuur ontwerp het nie, is die feit dat dít wat hulle oor Hom sê & wat Hyself – volgens hulle – gesê het, indruis téén hul eie menslike natuur & logika. Daar is nie ‘n manier hoe gewone mense die unieke inhoud van die Christelike Geloof kon versin nie. Wát is die unieke inhoud? Dat Jesus nie maar net ‘n wonderlike leermeester en wonderdoener is nie, maar dat Sý lyding/dood/opstanding die mense se ewige redding is sonder enige-iets wat die mens hoef by te doen. Dit is totaal vreemd aan énige ander godsdiens of menslike filosofie. Kyk iemand wat iets sê soos : “Dit verseker ek julle: Wie in Mý glo, hét die ewige lewe” (Joh 6:47) – is óf totaal van sy verstand af óf hy praat die waarheid. Niks tussen-in is moontlik nie. ‘n Mens kan nie op twee stoele sit wanneer dit by Jesus van Nasaret kom nie. Dit is kwessie van ÓF Hy was kranksinnig, ÓF Hy is volledig dit wat Hy sê Hy is!

‘n Laaste belangrike opmerking: Om net verstandelik oortuig te wees dát Jesus Christus werklik geleef het én dat Hy steeds leef, maak nog nie van jou ‘n Christen nie. Om te glo dat Jesus werklik leef, is nog nie GELOOF nie. Daar skort iets. Sommige mense dink dat hulle geredde kinders van God is ómdat hulle glo dat God bestaan en dat Jesus werklik op aarde was en uit die dood opgestaan het. NEE! Onthou: Die duiwel glo ook dat God bestaan (Jak 2:19). Maar, die duiwels vertrou nie op Jesus se reddingswerk op Golgota vir hulle redding nie. Dít is wat in soveel mense se lewens skort: Hulle glo dalk dat alles wat in die Bybel staan die waarheid is, maar hulle het nog nie by die punt gekom om persoonlik hul vertroue op Jesus se kruisdood alléén te plaas vir volle saligheid nie. Kroon HOM, kruisig myself. In plaas van: Kroon myself, kruisig Hom.

Dr. Chris Saayman

NG Kerk Tafelberg, Buitenkantstraat 39, Kaapstad

Tel: 021 – 5516704

saay@isales.co.za

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00