TAFELBERG GEMEENTE 
Skrif: Jona 4, Lukas 15: 20-32
Tema: Vernietig deur edelmoedigheid

Stel uself voor: Die lewende God, wat op Sy knieë staan voor ménse – smekende, pleitende! Ondenkbaar! Klink byna soos laster. Tóg is dit die diepste hartklop van die Bybelse boodskap. In die Bybel openbaar God Homself as die Een wat só geweldig edelmoedig is. Die God wat die goddelose en godvyandige mense se skuld tot op die laaste sent in hulle plek betaal het terwyl hulle verdien het dat Hy hulle almal die ewige dood moes instuur – en dan kom smeek Hy hulle nog om dit asseblief tog nie van die hand te wys nie.

Dit is ontsettend om in 2 Korintiërs 5 vir God – deur Paulus – op Sy knieë te sien staan voor die sondaars in Korinte. Ek sê vir u: dis ontsettend. Deur Paulus sê die Here vir die mense: “Ék het julle met Myself versoen. Ék het julle saak met My reggemaak. Ék het betaal. Nie grootdoenerig uit my kleinsakkie of met my tjekboek nie, maar met die bloed van My Seun – My eie vlees en bloed.” En dan sak Hy af op sy twee knieë voor die mense en hy begin smeek (v 20) (as jy smeek, staan jy tog op jou knieë): “Aanvaar asseblief hierdie versoening. Moenie dit van die hand wys nie. Ek pleit by julle. Julle skuld by My is nie klein en gering nie. Julle is goddeloos en haat My, maar Ek het dit alles reggemaak. Dit is betaal tot op die laaste sent. Ek het julle volkome gered met daardie betaling. Nou smeek Ek julle: moet dit tog nie van die hand wys nie. Aanvaar dit.”

Sien u die smekende God. Sien u die edelmoedigheid wat ‘n mens se hart in stukkies breek en oorwin? En tóg sê die Nederlandse teoloog Vestdijk dat juis hierdie verbysterende smekende God die groot struikelblok vir elke normale mens is. Want die mens bied weerstand daarteen en skop vas en sê: “Ek weier om vernietig te word deur soveel edelmoedigheid.” Ja, pleks daarvan dat die weergalose vrye guns van God ons op ons knieë kry, raak ons opstandig en maak ons ons nekke styf. En ons grom onderlangs: “Hóé kan dit wees dat God my sonder my toestemming van die hel gered het? Hoe kan ‘n bloedoffer vir my betaal? Is ek dan só sleg? Hoe kan Hy my skuld sommer net so van die tafel afvee? En ook my toekomstige skuld? Alles wat ek nog gáán sondig? Hoe kan Hy my sommer net so van alle straf vrymaak – só dat ek nou REG is voor Sy Wet terwyl ek nog steeds die Wet oortree? Hoe kan dit so eenvoudig wees? Dis mos te goedkoop. Dis te maklik. Wat dan van mý belangrike aandeel in my verlossing? En hoe kan Hy voor my kom kniel en my smeek om Hom tog net te glo?”

‘n Mens sien iets van hierdie weerstand in die OT by die profeet Jona en in die NT by die oudste seun in die bekende gelykenis in Lukas 15. Daar is ‘n verbindingslyn tussen Jona en oudste seun, wat ons goed moet raaksien. Beide van hulle het groot moeite met die weergalose genade van God. Dit is vir hulle ‘n struikelblok. Hulle is vies en kwaad en opstandig. Tewens, dit is juis die groot rede waarom Jona in die eerste instansie na Tarsus gevlug het. Want hy het voor sy siel geweet wie/hoe God is. En hy het geweet die Here gaan die hele stad begenadig deur sy prediking. En hy wou nie hê Ninevé moes gered word nie, want hulle was nie Israeliete nie. Hulle was heidene. En wie wil nou saam met ‘n heiden die ewige lewe deurbring. Hy sê dit self. Hy sê in 4:2: “Ek het gevlug en ek wou nie vir hulle gaan preek nie, want ek het geweet U is ‘n genadige, jammerhartige God, lankmoedig en groot in verbondsliefde – wat gou afsien van die onheil wat U aangekondig het.”

Sien u waaroor Jona se hele opstandigheid & woede gegaan het? Die Here het nou hierdie ganse stad gaan staan en begenadig terwyl hulle vervloekte onbesnede heidene is. Wie wil nou saam met húlle in die hemel wees? Maar dis presies wat Jona geweet het wat sál gebeur, want hy weet mos hoe God is. Die edelmoedige smekende God wat mense verlos nog voordat hulle enigsins verbetering toon. Jona was heeltemal onbeholpe met só ‘n God. Die maklikste uitweg was om kwaad te word.

Presies dieselfde gebeur in die geval van die oudste seun in die gelykenis. Sy pa was vir hom net eenvoudig onverklaarbaar onhanteerbaar. Hoe op aarde kon sy pa hierdie jonger boetie van hom, wat ‘n absolute vloeksteen is, sommer net so aanneem en vir hom boonop ‘n fees hou? Dit is mos té maklik en goedkoop. Toe die seun nog ver aankom, het die pa hom reeds gesien en hom tegemoet gehardloop. Met ander woorde: Terwyl die mannetjie besig was om sy pa se goed met prostitute deur te bring, het die pa elke dag smekende by die voordeur (met ‘n verkyker) gestaan en wag en kyk: “My seun, ek hou niks teen jou nie. Ek skryf jou skuld af. Ek beloof jou dit. Ek hou vir jou feesklere gereed. Ek kan nie wag om die kalf te slag nie. Maak nie saak of die pesreuk van die varke aan jou kleef nie. Kom tog asseblief net terug.” Dit was juis hierdie Vaderhart wat die seun magneties terug getrek het huistoe, anders het hy dit nooit gedoen nie.

En toe die outjie uiteindelik terugkom, knip die pa sommer sy goedvoorbereide bekeringsgebed en skuldbelydenis kort en laat hom die feesklere aantrek en die fees begin daar en dan.

Maar, die oudste seun kon hierdie onverdiende guns van sy pa teenoor sy jonger broer, glad nie hanteer nie. Dit was soos ‘n warm patat in sy hande. As goeie Fariseër het hy súlke soort goedheid glad nie geken nie. O ja, hy het ook van genade gepraat, maar eintlik glad nie daarin geglo nie, want ten diepste het hy gedink dit is SY EIE toewyding wat die knoop finaal deurhaak. Hy het altyd gedink dat, indien hy – na die beste van sy vermoë – alles doen wat sy pa wil hê, sy pa vir hom feesklere sal aantrek. En hier kom sy boetie, wat álles verbrou het, wat glad nie toegewyd was nie, en hý ontvang ‘n fees. Sy pa spreek hom sommer “net-so” vry. Merieteloos. Daarom word die oudste broer kwaad en opstandig. Want sy pa het hom in sy trots gekrenk. Op voetspoor van Jona.

Wanneer die boodskap van God se ware genade einde ten laaste tot ‘n mens se versmoorde hart deurdring en die Gees praat jou ore oop, word jy meesal ook opstandig en kwaad. “Here, wil U vir my sê dat my kragtige geestelike ervarings heeltemal verniet was? Dat dit geen punte by U tel nie? Dat dit nie U guns kon wen nie? Ek het dan soveel moeite gedoen om die 500 sondes wat ek kon onthou een vir een met trane voor U te bely! Ek het alles probeer om genoeg berou te hê. Ek het ‘n berader gaan sien. Ek het sulke wonderlike gevoelens gehad. En ek moet erken, ek was nogal heimelik trots op die feit dat ék so goed vir U kon kies. Wil U nou vir my kom sê dat dit alles verniet was en dat Jesus se kruisdood my onvoorwaardelik gered het en dat ek net dáárop kon vertrou? Ek het dan gedink ek moet myself opdompkrag hemel toe deur ‘n vreeslike ervaring deur te gaan! En dit was so lekker om daarop bietjie trots te voel – en te dink ek is beter as ander mense – die ou simpel gespuis wat niks van hierdie goed verstaan nie.”

U sien, ons práát van genade, maar ons glo dit nie regtig nie. Ons dink: Dit is ONS SELF wat die knoop moet deurhaak. Wel, dan verskil ons bloedweinig van die Moslems en alle ander nie-Christelike godsdienste, wat ook almal van genade praat, maar geen idee het wat dit werklik is nie. Die Moslem dink sy god Allah help diegene wie hulleself help. Dus moet hy sorg dat hy in Mekka kom en hom ordentlik bekeer en elke dag 5 keer bid sodat Allah hom moontlik kan begenadig.

Is ú dalk ook nog op die opstandige-kwaad stadium? U voel vieserig, want die blye evangelie wat u hoor, keer u hele geestelike kis appels onderstebo. Soos Jona se boom uitgeval het toe hy die edelmoedige smekende God ontmoet.

Hóór dan die smekende pleit van die Gees deur die Woord – laat jou hart tog oorwin word deur die Here se vrye guns waarmee Hy u omvou het op Golgota se kruis. Verstaan tog dat Hy u ingesluit het daarby.

U sien: van nature sê ons: “Ek sal my nie laat oorwin deur soveel edelmoedigheid nie.” Maar, hoor net hoe pleit die Gees: “Láát jou oorwin deur My edelmoedigheid. Láát jou hart tot rus kom in díé Here wat jou saak met Homself onvoorwaardelik reggemaak het deur die bloed van die kruis. Kom tog net tot rus in Hom en laat jou oorwin!”

U sien hoe dit gebeur: Deur die Gees se onweerstaanbare werking deur die Woord, verander ons opstandigheid gaandeweg in ‘n oorstelpende vreugde en innerlike troos en rus. En dáármee kan ons óór die berge en heuwels van hierdie lewe klim. 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00