TAFELBERG GEMEENTE

Tema: Troos uit Jesus se geslagregister
Matteus 1: 1-17

Die aanval op Amerika van 11/9 enkele jare gelede, het ‘n groot invloed gehad op hoe miljoene mense, 3 maande daarná, Kersfees gevier het. Navorsing het aan die lig gebring dat mense van alle soorte godsdienste tóé ewe skielik ‘n sekere plek aan Jesus Christus in Kersfees gaan toeken het. Voorbeelde waarvan ek gelees het: A. ‘n Turkse Moslemgesin se houding teenoor Kersfees: “dank aan Allah vir die profeet (Jesus) wat hy gegee het”. B. ‘n Jood se siening waarom Kersfees vir hom betekenis het: “ Jesus was ‘n invloedryke Rabbi”. C. Ateïs se rede waarom hy Kersfees vier: “waardering vir morele waardes van Christelike geloof”. Al drie vermoed dat Kersfees iets met Jesus Christus te doen het, maar elkeen het sy eie sienswyse oor WIE hierdie Jesus nou eintlik is.

Dit konfronteer ons met die GROOT VRAAG waaroor dit in Kersfees gaan: Om watter rede wil u en ek binnekort Kersfees gaan vier? Omdat ‘n baie hoë Persoon gebore is? Omdat iemand gebore is wat ‘n baie goeie voorbeeld vir ons is? Omdat ‘n belangrike leermeester en profeet gebore is? Óf sal Kersfees 2006 ‘n totaal nuwe diepte aan u & my vieringe kom gee ómdat ons presies verstaan WIE hierdie Jesus is? En omdat dit vir ons saakmaak presies wie hierdie Jesus is, want u sien: Dit is Sy ware identiteit wat gaan bepaal hoe ons Kersfees vier. En, slegs die Heilige Gees kan aan ons bekend maak wie Jesus is. Dit doen Hy: nie deur ‘n droom/visioen/profetiese woord nie, maar deur Sy glasheldere geskrewe Woord. En, in ’n oënskynlik baie vaal en oninteressante gedeelte soos Mat 1: GESLAGSREGISTER. Ja, in ‘n lys vervelige name. Maar, juis uit hierdie lys vervelige name, maak die Gees van God aan ons bekend wat ons moet verstaan indien ons DIEPTE in Kersfees wil beleef. Ek is dus bevoorreg om vanoggend die Evangelieboodskap aan u te mag verkondig onder die tema: Uit Sy geslagsregister kom ons agter wie Jesus werklik is: 1. Die betekenis van die geslagsregister. 2. Die boodskap van die geslagsregister.

1.Die betekenis van die geslagsregister >> Daar is gelowiges wat glad nie hou van hierdie geslagsregister in Matteus 1 nie. Behalwe vir die feit dat dit so droog en vervelig lyk, is daar oënskynlik groot probleme. Sommige mense sê dat dit lyk asof Matteus glad nie kon tel nie. Matteus sê: 3 X 14 geslagte vanaf Abraham tot by Jesus se geboorte. Dit lyk asof Matteus nie sy eie Bybel ken nie. WANT: In die 2de lys name (van Dawid-Ballingskap) laat hy minstens 3 konings weg. EN: by die 3de lys is daar net 13 name en nie 14 nie. TOG: In vers 17 som hy alles op: 3 X 14!! Hoe moet ‘n mens dit verstaan?

’n Mens moet mooi kyk na wat daar presies staan: (vers 17) : 3 X 14 GESLAGTE. “Generations”. Matteus se bedoeling is NIE dat daar presies 14 NAME vanaf Abr-Dawid, Dawid-Ballingskap, Ballingskap-Christus was nie, want daar wás nie presies 14 in elke periode nie. Matteus praat oor PERIODES, geslagte. In die tyd van Matteus het die mense ‘n geslag geskat op ongeveer 42 jaar. 14 geslagte is dus om en by 588 jaar. En dit is histories presies in die kol: Vanaf Abraham tot Dawid was ongeveer 588 jaar (1769vC-1181vC). Vanaf Dawid tot Ballingskap was ongeveer 588 jaar (1181vC-593vC). Vanaf Ballingskap tot Christus was ongeveer 588 jaar (593vC-5vC). PERIODE van GESLAGTE dus. Dit lyk glad nie of Matteus so dom was nie! Nee, hy het juis onder leiding van die Gees geskryf.

Om wat te maak? Om binne-in hierdie tye waarin ons leef – tye van kritiek en ongeloof en duisende standpunte – tye waar DIE MENS vierkantig op sy troontjie sit – vir ons te wys: Hoe meesterlik Gód die geskiedenis ter wille van Sy Seun se koms bestuur. Die 42 geslagte (periodes) was meesterlik deur die Vader gestuur & bestuur sodat dit kon uitkom by Sy Seun se koms! Die hele geskiedenis sentreer rondom CHRISTUS. Hy is die sin van die geskiedenis. Hy is die sin van die lewe as sulks. En, geen mens vind ooit rus en vrede voordat hy/sy dít nie gesnap het nie. Voordat ‘n mens dit in geloof gesnap het, bly jy altyd ‘n rustelose soeker (soos die see), besig net met jouself en jou eie verganklike koninkrykie. Jou hele lewe sentreer net rondom die onheilige drie-eenheid: EK, MY, MYSELF. Hoe absoluut pateties is dit: Koning MENS regeer sy eie koninkrykie, terwyl hy salig onbewus is van die feit dat daar ‘n baie groter koninkryk aan die kom is. Waar Gód die Koning is. Kyk mooi na hierdie geslagsregister: Christus se koms na die aarde lê nie in koning mens se hande nie. Christus is nie gebore vanuit die mens se wil en voortplanting nie. Hy is nie in die diens van die mens nie. Hy kom nie uit die mens se keuses nie. Nee, Hý beheers juis die menslike geslagte. Die mens + sy/haar vermoeëns is in Sý hand. Eintlik is dit geen geslagsregister nie: dit is eintlik ‘n geloofs-geskiedskrywing wat wys hoe meesterlik God die geskiedenis bestuur ter wille van Sy Seun se koms. Die 42 geslagte word meesterlik deur die Vader se beskikking gestuur. Die Vader stuur dit sodat dit kan uitkom by Sy Seun se koms. As dit van die mens moes afhang sou daar geen Verlosser in ewigheid wees nie. Wat ‘n asemrowende waarheid. Hoe absoluut pateties vertoon die voorbeelde wat ek in die inleiding genoem het: Moslem, Jood en Ateïs wat Kersfees vier.

2. Die boodskap van die geslagsregister >> Openbaar vir ons die identiteit van hierdie Christus – sodat Kersfees DIEPTE in ons lewens mag hê. ‘n Geweldige stuk vastigheid onder ons voete. Die lewende God se beskikking is baas oor alles. Sy verkiesende liefde is die ankerpunt van my hart. Dink maar net: hoe het daardie 3 X 14 geslagte nie drooggemaak nie. Kyk, as dit van húlle moes afhang sou Christus Jesus nooit na die wêreld gekom het nie. Kyk maar na die slegte mense wie se name in die geslagsregister verskyn: Byvoorbeeld JUDA ( hy het 2 seuns by sy skoondogter, Tamar, gehad, want hy het gedink sy is ‘n prostituut). Kan die lys langer maak. Ook Ragab, die owerspelige. Israel het niks gehad om op trots te wees nie. Daar was ‘n hele klompie twyfelagtige figure in die Messias se geslagslyn. Dit was die lewende God se uitverkiesende liefde wat die deurslag gegee het, ten spyte van die mense wie se name in Jesus se geslagregister genoem word.

Dit is die magtige boodskap: Redding kom nie van mensekant nie. Dit kom nie van ónder nie. Die 3 X 14 geslagte het puur misluk. Die geboorte van Christus wil juis sê: Híér, in hierdie krip, lê die mens se énigste grond vir verlossing. Hoe baie keer kom daardie verleidelike gedagtes in ons kop: “Ag, wanneer ek voor die troon van God staan, sal ek darem kan sê dat ek darem tog nie so sleg was soos baie ander mense wat ek geken het nie: Kyk, ek het darem nou en dan ‘n dankoffertjie gegee. Ek het darem ‘n oumensie gaan besoek. Ek het darem nog iets oorgehad vir my naaste”. Het hierdie verleidelike en misleidende gedagte ook al in u kop gekom? U kan met sekerheid weet: dis die satan wat dit daar plaas. Waarom? Want, indien ons oulike werkies ons vrygespreek kan kry voor die heilige troon van God, wáárom moes Christus Jesus dan in Betlehem mens geword het? Dan was dit mos ‘n groot grap! Dan is Kersfees vir jou niks beter as wat dit vir Jood, Moslem, Ateïs is nie!!

Kersfees kry vir ‘n mens diepte wanneer jy by die punt gekom het om letterlik jou totale saligheid slégs van Christus te verwag. Wanneer ‘n mens afsien van eie meriete en verdienste. Sien u: dan is Christus nie net ‘n wonderlike profeet, leermeester of goeie voorbeeld – soos die Jode, Moslems en Ateïste dink nie. Dan is Hy self die enigste geregtigheid waarmee ek dit kan waag om voor God se heilige troon te verskyn. Vasgekleef aan Hóm deur die geloof in volle oorgawe.

Laastens: Kersfees kry diepte wanneer ‘n mens die troos van Kersfees verstaan. Dit sien ons ook in die geslagsregister. Ons sien hier hoe absoluut eg Hy Hom kom identifiseer het met die mens. Die hemelse Seun van God kom na die aarde uit ‘n intieme verbondenheid met die menslike geslag. Geen wonder dat Hy “Immanuel” genoem word nie: God met ons. God met die mens. Daar is niemand wat soveel begrip het vir MENSWEES nie. Al die stryde en moeites en vreugdes wat met MENSwees gepaardgaan. Daarvan verseker die MENSwording van Christus ons opnuut weer. Hy wat uit 3 X 14 MENSlike geslagte gebore was.

Hoe nodig is dit nie om dit weer opnuut te besef nie. Veral in die Kersseisoen waar die feesseisoen dikwels met soveel trane vermeng is. Hierdie tyd waar soveel mense wanhopig word. Groot twyfel oor die Nuwe Jaar. Soveel trane oor geliefdes wat intussen afgesterf het. Trane oor eie mislukking en sonde. Trane van selfverwyt. Dalk eensaamheid. Dalk die skrikwekkende besef: Dinge waarmee ek ‘n jaar gelede geworstel het, worstel ek steeds mee: ek het steeds nie oorwinning nie. My lewe gaan so gou verby. Ek is soos die gras van die veld.

Hoe goed om dan te mag weet: My Verlosser identifiseer Hom só 100% met my MENSwees, want Hy is uit 3 maal 14 eg ménslike geslagte gebore.

Dr. Chris Saayman

Ned Geref Kerk Tafelberg, Buitenkantstraat 39, Kaapstad

Tel: 021 – 5516704

Sel: 083 232 1817

Epos: saay@isales.co.za

Webblad: www.tafelbergkerk.co.za

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00