Datum: 2006-06-02
Outeur: Dr Chris Saayman
Skriflesing: Eksodus 25: 10-22, Levitikus 16: 13-17
Titel: TABERNAKEL REEKS No 7 - Die ark en versoendeksel

TABERNAKEL no 7

DIE ARK EN VERSOENDEKSEL

Skrif: Eksodus 25: 10-22, Levitikus 16: 13-17

Met vanaand se tema, staan ons op heilige grond – baie heilige kern van die Bybelse boodskap. Agter die voorhangsel was daar ‘n tweede vertrek genoem die Allerheiligste waar die direkte teenwoordigheid van God was – afgeskerm van die mense deur die dik, swaar gordyn (voorhangsel) – ‘n uitbeelding van die toestand ná die sondeval. God is ontoeganklik. Dit is die basiese nood van elke mens op aarde. Die mens is immers vír God geskep (Gen 1-2) en nou is Hy ontoeganklik. Wat ‘n krisis! Die mens mis dus sy bestaansdoel geheel en al. Enigeen wat sommer net agter die voorhangsel sou ingaan, het plotseling gesterf – byvoorbeeld Aäron se 2 seuns wat uit die goedheid van hulle harte vir die Here wierrook wou gaan offer (Levitikus 10). Om sónder offerbloed in God se teenwoordigheid te kom, het die dood beteken. Ons sal nou-nou sien waarom.

Behalwe vir God se teenwoordigheid, was daar ook die verbondsark (nie Noag se ark! Woord “ark” beteken “kis/koffer” waarin iets veilig bewaar word. In die Skrif is daar 3 soorte arke: a. Noag, b. Moses se biesiemandjie, c. verbondsark) met die versoendeksel (goue plaat) bo-oor. Die ark was ‘n houtkis met goud oorgetrek. Binne-in die ark was die twee kliptafels met die Wet, Aäron se staf wat gebot het en ‘n houertjie met manna. Die versoendeksel was ‘n plaat waarop twee afbeeldings van Cherubs (hoë vlak van engel) gemonteer was. God kyk dus heeltyd af op Sy volmaakte Wet. En die Wet veroordeel die mense (daar buite) en daarom die voorhangsel wat hulle verhoed om by God te kom (tragiese skeiding), anders sterf hulle volgens die Wet se onaanvegbare oordeel.

Slegs een maal per jaar mog die Hoëpriester agter die voorhangsel ingaan met die bloed van die offerdier en dit op die versoendeksel sprenkel – en bly lewe! Die bloed kom staan dan letterlik tússen God en die Wet. En dit sê: Iemand ánders het gesterf. Hierdie Hoëpriester (en die hele volk) móés gesterf het, maar nou het ‘n ander (dier) die oordeel gedra. God sien nou DIT (bloed op die deksel) en nie die Wet nie. Gevolg? Die Hoëpriester (wie ook tot die dood veroordeel is deur die Wet in die ark) LEEF binne die direkte teenwoordigheid van God. Hy móés gesterf het, maar danksy die bloed van die plaasvervangende offer, op die versoendeksel, tússen God en Wet, mag hy leef. Dit is die kern van die Bybelse boodskap. Die paradys is weer oop. God is weer toeganklik. Die verlore seun is nie meer verlore nie en daarom mag hy huistoe kom. Vrye genade deur die bloed van Jesus.

Wil u nie vir die volgende paar minute saam met my die boodskap van die verbondsark en versoendeksel ontdek en ontgin nie?

A. DIE GETUIENIS (So word die ark en die wet genoem). Binne-in die ark, moes Moses ‘n getuienis plaas. Amper soos ‘n soort kluis met kosbare inhoud. Dit is ook genoem die “troon van God” (vlgs Eks 25:11 was daar ‘n goue kroon bo-op die ark gemonteer) omdat Sy troon gesetel is by ‘n getuienis. Watse getuienis? ‘n Getuienis van hoe korrup die mens is voor ‘n heilige God. Daarom die twee kliptafels, Aäron se staf en die manna. Dit is herinneringe aan wat gebeur het.

Die twee kliptafels is ‘n getuienis van wat by Sinaï gebeur het … met ‘n bitter by-smaak, want dit is nie die oorspronklike klippe nie. Dit is ‘n tweede uitgawe omdat die eerste stukkend gegooi moes word ná die goue kalf-episode. Dit spreek van die diepe korrupsie van die mense hart. Die twee klippe is dus ‘n getuienis van God se heiligheid en die mens se sondige onwaardigheid waarmee hy NIE tot God kan nader nie.

Maar daar is ook die kruik manna wat nét so ‘n pynlike getuienis is van hoe die volk in die woestyn gemurmureer het in ongeloof en kleingeloof ten spyte van die Godswonder om kos in die woestyn te gee. Ook deur die manna besef hulle hulle kleinheid en onwaardigheid.

Ook so met Aäron se staf wat uitgebot het. Dit herinner aan die tyd toe die volk in opstand was teen die leiers wat die Here gegee het: Moses en Aäron. Toe het die HERE vir hulle gewys wie HY as leiers gekies het – die een wie se staf Hy laat bot het. Dit was Aäron (Num 17). Die staf moes bewaar word as ‘n getuienis.

U sien wat hier gebeur. God wil woon tussen mense. Hy rig Sy troon op tussen mense. Maar, HOE wil Hy omgaan met Sy mense? Hy wil omgaan met diegene wat hulle eie onwaardigheid besef. NOOIT mag hulle tot Hom nader asof daar niks gebeur het nie. Dieselfde geld ook vir ons, al IS die voorhangsel geskeur en al IS daar volle toegang tot God. Die kind van die Here besef steeds sy onwaardigheid en dus die onmoontlikheid dat daar óóit IETS in ONS kan wees waarom Hy ons sou kies.

Tot vandag is die GETUIENIS steeds baie ongewild. Die moderne mens wil nie herinner word aan wie/wat hy ten diepste is nie. Hy druk sy ore toe.

B. VERSOENDEKSEL. Kyk nou na hierdie wonderwerk. Die getuienis word letterlik toegemaak met die plaat van versoening. Die Wet/Manna/Staf word weggesteek onder die deksel. En die deksel word besprenkel met offerbloed. Die bloed maak die nare herinneringe toe voor God se oë, want die prys van die dood is betaal. Sien u die Godswonder? God kan nie die mens in Sy teenwoordigheid laat lewe (soos Sy liefde dit wil hê nie) want wát van die Wet se getuienis? Hy kan nie die mens laat lewe asof die Wet NIE veroordeel nie. God moes dus ‘n manier vind om die mens te behou EN die Wet se getuienis te eerbiedig. Die oplossing is die versoendeksel en die brandofferaltaar. Die oordeel van die Wet woed uit op die plaasvervangende offerdier. En die offerbloed kom staan nou tússen God en die Wet op die versoendeksel. Sodat God nie meer die Wet sien nie, maar die bloed. Só laat Hy die mens by Homself toe. Só verander die ark van ‘n oordeelstroon na ‘n genadetroon.

Die NT sê (Rom 3:25) dat Christus self die versoendeksel is. Die kruisdood van Jesus is die deksel wat die Wet toemaak. Die getuienis word nie afgeskaf nie, maar bedek met bloed. Maar nie die méns se bloed nie. So praat die Here. “Moenie te groot en windmaker by My troonsaal inkom nie (getuienis), maar kom tog wel in! Moenie vrees nie. Moenie bang wees nie. Jy mag by My wees (versoendeksel). Die getuienis veroordeel die mens. Die bloed maak die veroordeling toe. Die bloed bring ‘n persoonlike saamwonery tot stand. Romeine 8:1. Deur die versoendeksel word die troon van oordeel omskep in ‘n troon van genade. Daarom mag die gelowige nooit sê: “Kyk net na die Getuienis, ek is te sleg vir God” nie. Dit is ‘n belediging vir die Here om só te praat. Dit is ook ‘n belediging vir die Here wanneer ‘n gelowige heel grootmeneer in die troonsaal instap met ‘n hele lys prestasies en goeie dade en meriete. Want indien die Here die getuienis uit die kluis sou haal, sou daardie prestasies maar vaal lyk en in die niet verdwyn.

Hoe leef ‘n Christen dan? Besef diepe swakheid en onwaardigheid MAAR TERSELFTERTYD leef met vrymoedigheid in verhouding tot die Vader deur Jesus in die krag van die Gees. Met volle sekerheid – danksy die bloed!

C. DAAR KOM ‘N STEM VAN DIE VERSOENDEKSEL. Vers 22: Die Here práát van die versoendeksel af. Omdat daar versoening is deur die bloed, kan Sy STEM GEHOOR word. Daar is nou vrede. Daar is nou ‘n verhouding. Hoef nie meer te wonder of te spekuleer nie. Kan WEET wat die Here sê. Kan werklik Sy Woord hoor en verstaan. Geen afstand en skeiding meer nie. Die versoende mens leef nie meer in duisternis en dwaling nie. Ja, dalk vind ons die Stem soms te skerp, onverstaanbaar, beloftes word nie vervul nie, alles lyk soms verkeerdom. Moenie moedeloos word nie. Die Woord sê: Hy praat van die versoendeksel af. U SAL Sy stem hoor.

Is dit nie ‘n wonderbaarlike geheimenis dát daar persoonlike omgang mag wees tussen ‘n heilige God en ‘n sondaarmens nie? Al IS daar ‘n verdoemende getuienis téén die mens! TOG, danksy die versoendeksel, is die toegangshek tot die paradys tot in ewigheid ontsluit. Die voorhangsel is permanent geskeur – van bo na onder – dus deur ‘n Godswonder buite enige mens se toedoen. Dit is ook middeldeur geskeur. Dus opsigtelik. Geen twyfel daaroor moontlik nie. Dit het ook heeltemal geskeur. Die deurgang is ten volle. Alle struikelblokke is verwyder.

Op die vraag HOE die Here se stem tot ons kom en HOE Hy ons lei, sal ons Sondagoggend ‘n antwoord kry wanneer ons praat oor die wolk van heerlikheid.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00