TAFELBERG GEMEENTE

Noodhulp vir bekommernisse (Noodhulpreeks no. 4)
Filippense 4: 4-6

Die groot kerkhervormer, Maarten Luther, was ‘n baie jaloerse man. Hy was jaloers op die voëltjies – omdat hulle so vry en gelukkig is en die Here só getrou vir hulle sorg. Díé voëltjies vir wie die Hére sorg, vaar dikwels beter as díé in hokke vir wie ménse sorg. Luther vertel hoedat Dr. Spreeu, Dr. Duif en Dr. Mossie dikwels met Dr. Luther gesels het en hom vertel het hóé sorgeloos hulle uit die Vader se hand leef.

‘n Mens voel mos dis absoluut onmoontlik om jou daaglikse bekommernisse te bowe te kom. Die bekommernisse verhinder dat jy dinge in helder, klare perspektief sien. Dis asof jy met die warm, vogtige asem van bekommernisse & angstigheid op ‘n teleskooplens blaas en dan, wanneer jy die lens voor jou oog plaas, sien jy niks buiten wasigheid nie. Jou sig is belemmer. Ai, hoe onmoontlik is dit tog – om bekommernisse te oorwin!

En tog ís dit moontlik – mits ‘n mens oop & ontvanklik is vir die Geesgeïnspireerde Woorde van die Apostel in Filippense 4 – waar hy sê: Neem net ‘n doelbewuste besluit om jou bekommernisse een-vir-een te vervang met iets anders. Sit iets anders as plaasvervangers in hulle plek! Sit GEBED in hulle plek! Indien jou bekommernisse talryk is, laat jou gebede ook talryk word. Draai élke sorg óm in ‘n gebed. Doen dit baie opsetlik. Laat jou sorge die rou materiaal wees vir gebed! Só word afbrekende sake omtower tot geestelike skatte en rykdom. Neem elke sorg en bekommernis en doop hulle in die Naam van die Vader, Seun en Heilige Gees. Laat jou sorge seëninge word. In plaas daarvan dat omstandighede & sorge ‘n stuk angstigheid veroorsaak, laat dit liewer ‘n rede/verskoning word om te bid! Laat ons altyd na die Here gaan met ons sorge en verliese en daaglikse behoeftes.

Luther was rég dat die Here vir die voëls sorg – dit staan in Matt 6 – maar daar staan óók dat Hy MEER vir Sy kinders sorg. ‘n Groot rus & vrede neem van ‘n mens besit wanneer jy die onverbiddelike besluit neem om die Drie-enige God met ALLES te begin vertrou. En dat gebed ‘n kroniese gewoonte word – byna soos ‘n kroniese hoesie. Veral wanneer jy tot stilstand geruk word deur die besef dat bekommernisse jou regtig NIKS baat nie. Wat bekommernisse eintlik doen, is om ons as ménse (die diensknegte) in die plek van die Meester (die Heer) te stel. Ons maak of óns die vader van die huishouding is (die een wat verantwoordelik is om te voorsien), in plaas daarvan om kinders in die huishouding te wees. En dit terwyl bekommernisse nie ons situasie kan verbeter nie. Die bekommerde koringboer wat op en af stap en sy hande in mekaar wring en sug: “Hierdie laatreëns gaan ons oes verwoes. As díé reën aanhou, is die oes tot niet. Ons sal geen oes hê indien die son nie bitter vinnig begin skyn nie.” – wat vermag hy met sy kommer? Hy kan nie die klimaat verander nie. En dit terwyl die Here sy bekommernis wil gaan omkeer dat dit vir hom ‘n voordeel/seën word. Só stel Filip 4 dit.

Nou kan ek dink hóé u gedagtes moontlik op al hierdie woorde reageer: “Ag nee, is dít nou die noodhulpterapie vir bekommernisse? Bid!? Wie weet dít nou nie! Dit is geen verrassing nie. En, die meeste van die tyd werk dit tog in elke geval nie! En dis boonop moeilik en swaar om te bid – my vlees sukkel daarmee.”

Dis egter interessant dat Paulus die saak op ‘n ánder manier benader. Vir hom is “bid” nie “sommer maar net bid” – die laaste uitweg nadat alle ander planne misluk het – nie! Nie net half deur die slaap ‘n paar sinnetjie aframmel teen slapenstyd nie. Dit is vir Paulus ook nie ‘n swaar las – ‘n blok aan die been nie. Vir hom is gebedsvertroue die enigste manier van oorwinnend lewe! Byna soos asemhaling. Dit is so oorwinnend: om hulpeloos afhanklik te mag wees. Want, kyk net bietjie wat staan in vers 5: Die Here IS naby! Voordat Paulus oor gebed praat, stel hy eers die feit/toesegging/belofte: Die Here IS naby. Of jy nou bid of nie, Hy IS naby. Juis daarom mag jy bid! Of jy Hom met alles vertrou of nie, Hy IS naby. Juis daarom mag jy Hom maar met alles vertrou! Of jy jou bekommer of nie, Hy IS naby. Juis daarom mag jy gebed in die plek van elke bekommernis plaas. Doen jy dit nie, is Hy steeds naby, maar dan verbeur jy soveel seën, want jy kón maar jou bekommernisse met gebedsvertroue vervang het, want Hy IS naby!

Hóé ‘n voorreg hierdie gebedsterapie is, sien ‘n mens in Paulus se woorde wanneer hy sê dat ons met enige denkbare ding na die Vader in Christus mag gaan. Vers 6: “in alles”. Nooit is enige iets té gering/nietig vir Hom nie. In ieder geval is álles gering wanneer dit met Hóm vergelyk word. In vergelyking met Hóm is “groot goed” ook gering. In vergelyking met Hom is die hele aardbol ‘n sandkorrel. En tog stel Hy belang in die hare op ons kop (Luk 12:7). Dit is nie vir Hom té gering nie! Daarom mag ons Hom vertrou met die geringste dingetjies, maar ook met groot sorge – wat in elk geval gering is in vergelyking met Hóm.

En ons mag ERNSTIG wees met die Here. “Smeking” sê Paulus. Dit is iets meer as blote gebed. Om te “smeek” gaan gepaard met erns en emosie en verwagting en ongeduld. Maar terselftertyd ook “danksegging”. Ja, om die Here te kan prys/loof/dank te midde van moeites en sorge. Om Hom te mag dank vir probleme. Danksegging en smeking moet letterlik soos salf gemeng word en aangesmeer word aan die sere van bekommernis. Dit vernietig ons neerdrukkende sorge.

Kom ons sien nou watter wonderbaarlike EFFEK hierdie gebedsvoorreg-noodhulpterapie het. Die Heilige Gees sê: ‘n ongewone/onverklaarbare VREDE sal ons hart en verstand oorspoel. Die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan. Dit is net nie logies verklaarbaar nie. Dit is ook nie net ‘n sielkundige truuk nie. Dit is sterker as enige sielkunde.

Ek lees onlangs van ‘n martelaar wat destyds lewendig uitgebrand is op ‘n brandstapel – vir net een misdaad – dat hy ‘n gelowige in Christus Jesus is! Voordat hy op die brandstapel klim, sê hy vir die man wat die bevele gee om die vuur aan te steek: “Plaas asseblief u hand op my hart.” Die man maak toe so. “Klop my hart vinnig? Lyk dit vir jou of ek bang is?” – vra die martelaar. “Nee, glad nie” kom die antwoord. “Sit nou jou hand op jou eie hart en voel of jy nie meer angstig is as ek nie.”

Van ‘n ander martelaar lees ek dat hy die oggend waarop hy verbrand sou word, só vas geslaap het dat hy wakker geskud moes word. Hy het soveel vrede in die Here gehad, dat hy rustig geslaap het. Is dit bloot sielkunde, of is dit die vrede van die almagtige Gees – wat die innerlike mens en die gedagtes beskerm. Opvallend is die woordjies “die wag hou” (vers 7). Dit is in die Grieks ‘n militêre term wat beteken “beskerm”. God se vrede BESKERM jou – soos gewapende soldate. Ironies genoeg: “Vrede” klínk soos iets swak, maar in werklikheid is dit militêre krag! Dít is waarmee ons te make het wanneer ons gebedsvertroue plaas in die plek van bekommernisse!

Dit is egter só belangrik om te verstaan wáárom die Here vir ons die voorreg van gebed gegee het. Hy het gebed nooit bedoel as ‘n towerstaf wat Sy kinders van probleme, siektes, bekommernisse en lyding sal kwytskeld nie. Hieroor mag daar geen misverstand wees nie.

Gebed is gegee om ‘n Christen te onderskraag om lig en sout te wees TE MIDDE VAN moeilike/knellende omstandighede. Gebed is nooit bedoel as ‘n vrywaring nie, maar wel ‘n oorwinning. Dit bied nie ‘n pad tot ontvlugting nie, maar ‘n pad na oorwinning.

Ek lees in vandeesmaand se nuusbrief van GEOPENDE DEURE van ‘n jong Christen-gelowige wat op die oomblik in Eritrea (‘n land in die horing van Afrika) in ‘n ondergrondse metaalhouer aangehou word omdat hy ‘n Christen is. Dit is die wreedste vorm van aanhouding: ‘n klein ondergrondse sel waar daar net ewige duisternis is omdat daar géén sonlig kom nie. Sy verloofde vertel dat hy in hegtenis geneem is enkele weke voor hulle troue. Ná ‘n paar maande kon sy hom vir die eerste keer sien. Sy vel was amper deurskynend as gevolg van die gebrek aan sonlig en sy donker krulhare het oranje geword. Die meeste van sy tande het uitgeval en sy tandvleis het gebloei vanweë gebrekkige kos en vitamiene. En wat was sy gebedsversoek aan haar? “Moet asseblief nie bid dat ek vrygelaat word nie, maar bid dat ek getrou sal bly aan Christus.”

God die Vader skenk aan u & my gebedsvertroue om sout van die aarde en lig vir die wêreld te wees te midde van ons bekommernisse– om Christus ontwil. Amen.

Dr. Chris Saayman

Tafelberg Gemeente, Buitenkantstraat 39, Kaapstad

021- 551 6704

saay@isales.co.za

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00