TAFELBERG GEMEENTE

'n Kussing van hout
Lukas 9: 57-58, 22: 33-34, Matteus 26:56, Lukas 23: 40-43

Kyk ‘n bietjie na die manier waarop Jesus se aardse lewe beskryf word (in die 4 evangelies). Daar is ‘n eienaardige patroon wat ‘n mens kan raaksien. Aan die een kant kom die Heiland telkens met ernstig bedoelde EISE waaraan voldoen moet word. Maar, wanneer mense by Hom aankom met die idee dat hulle aan dié eise begin voldoen het, vee Hy hulle pogings van die tafel af. Nes die mense dink: NOU verstaan ons Hom, dan ontdek hulle dat hulle Hom nie eens amper verstaan nie. En dan… uiteindelik… wanneer Jesus stoksielalleen aan die kruis hang – met Sy kop op ‘n houtkussing, gaan die slegte misdadiger – wat geensins slaag nie – onmiddelik reguit paradys toe! Die man wat Jesus se kopkussing gedeel het.

Kom ons kyk of ons vanoggend hierdie skynbare raaisel kan ontrafel. Hoe kan dit wees dat ons Here Jesus volledig aanspraak maak op mense, maar wanneer mense ernstig raak om Hom te gehoorsaam, wys Hy dit af? En dan kom ‘n opperste misdadiger en gaan ál die mense vóór? Is die Heiland se aansprake dan vals? Bedoel Hy dit wat Hy sê nie ernstig nie? Bedoel Hy dit dalk nie ernstig wanneer Hy sê dat ons Hom met hart en siel moet liefhê en ons naaste soos onsself? Dat ons nog béter moet doen as die nougesette Fariseërs? Dat ons nie eens mag lús wees vir die sonde nie? Is Hy werklik ernstig as Hy VOLLE aanspraak op ons maak?

Daar kan nie twyfel oor wees dat Hy dit absoluut ernstig bedoel nie. Maar hoe moet ons dan die kloutjie by die oor bring as Hy mense AFWYS wat Sy aansprake ernstig probeer neem?

Indien ons na die breëre prentjie kyk, lyk dit byna asof navolging van Christus ‘n onmoontlike saak is. Dit is nie net ‘n kwessie van ‘n paar kosmetiese veranderinkies en siedaar – nou is ek vlak op Jesus se hake soos ek Hom navolg nie! Soms dink ons mos: Man, ek moet net minder vloek, rook & drink en bietjie meer kerktoe gaan, dán is ek ‘n volbloed dissipel van Jesus!

Maar die Woord sny baie dieper as dit. Dink bv aan die Ryk Jongman, wat álle gebooie van kleins af onbesproke onderhou, maar Jesus sê : “Eintlik het jy ál die gebooie verbreek, want jy het nog nie van al jou besittings ontslae geraak nie”. En vir Nikodemus sê Hy: “Nee, jý sal dit nie maak nie. ‘n Nuut gebore Nikodemus ja, maar nie jý nie. En GOD sal die weergeborewerk moet doen”. En die vrome Fariseërs moet hoor dat die hoere en tollenaars vóór húlle die koninkryk ingaan. Voeg daarby die nikswerd seun – wat van die varke af kom – wat die feessaal binne gaan terwyl sy vrome oudste broer buitekant sit en kla. En wíé word na die groot maaltyd in die nuwe Jerusalem genooi? Die lammes/kreupeles/verminktes/armes – die lieplappers. Dit wek die vraag: Is dit dan enigsins die moeite werd om ‘n navolger (dissipel) van Jesus Christus te probeer wees? Is dissipelskap nie totaal onmoontlik nie? Want nes jy dink jy verstaan die koninkryk, ontdek jy jou onkunde. Jesus VRA oorgawe aan Hom, maar wanneer mense selfvoldaan reken hulle het dit reggekry om hulleself oorgegee te kry, sê Hy: “Gaan weg, Ek het julle nooit geken nie”.

Dalk is die oplossing dat ‘n mens net ERNSTIGER moet wees – méér as almal voor jou. Dat jy op jou tande moet kners en ‘n absolute finale besluit moet neem EN dan vir die res van jou lewe daarby moet blý. Jy moet ‘n bekeringsdiens bywoon en ná die tyd ‘n kaartjie invul met jou naam en die datum daarop. Ek IS nou ‘n ware volgeling van Jesus. Ek het dit self besluit. Dalk is DIT wat Jesus vra. Meer erns & vasberadenheid. Dalk was dít die ryk jongman/ Nikodemus/ Fariseers/ oudste broer se moeilikheid. Hulle was nog nie ernstig genoeg nie.

‘n Voorbeeld van só ‘n bitter ernstige kêrel – wat ‘n onherroeplike keuse gemaak het, vind ons in Lukas 9: “Ek SAL U volg waar U ook al gaan”. Maar Jesus antwoord: “Wát? Is jy bereid om dieselfde kopkussing as Ek te gebruik? Ek hét nie eens ‘n kopkussing nie, terwyl Jakkalse gate het en voëls neste”. Vir ‘n tweede man sê Jesus: “Hoe wil jy My volg as jy nog jou pa wil gaan begrawe? Glo jy dan dat die dóód heers?” En vir ‘n derde: “Wie kan ploeg en omkyk? Jy moet vóór jou kyk as jy ploeg. En jy wil eers familie groet en My daarná volg? Vergeet dit”. O, weë, daar is die ernstige mense – met hulle bekeringskaartjies – ook totaal van stryk af gebring.

Maar dan sal PETRUS tog seker die saak reg verstaan. Ook hý vul ‘n bekeringskaartjie in. Ook hý kom op ‘n plek in sy lewe waar hy ‘n vasbeslote keuse maak om Jesus se dissipel te wees. Hy sê: “Ek sal vir U só volg dat ek bereid is om vir U te sterf”! (Luk 22:33). As daar nou iemand was wat by ‘n Billy Graham veldtog sou opstaan en sy kaartjie gaan invul, was dit Petrus. “Here, ek kies nie net vir U nie, maar ek verklaar myself bereid om vir U te sterf.” Dag & Datum. Nou is die hemel vir hom oop.

En moenie dink Petrus was nie dodelik ernstig nie. Hy voeg daad by die woord. Hy gryp sy swaard en kap Malgus se oor morsaf. Hy sal vég vir die Heiland. Hý sal saam met Jesus in die veld slaap, sonder kopkussing. Hý sal nie éérs dooies begrawe nie. Hý sal ploeg sonder om om te kyk. Hý is van harder staal gemaak as al die ander. Maar toe, tot sy stomme verbasing, maak Jesus sy poging om Sy dissipelskap met die daad te bewys ongedaan. Hy sit jou werklik Malgus se oor terug en genees dit. Toe Petrus werklik probeer, maak Jesus sy poging ongedaan.

En as Jesus dit nie ongedaan maak nie, maak Petrus dit self ongedaan. Toe hy vir Jesus volg tot in die binnehof. As die gespuis dan sy Meester wil doodmaak, sal hy saam met Hom sterf. Maar sy keusekrag is net nie kragtig genoeg nie. Hy swig voor ‘n diensmeisie se eenvoudige vraag: Is jý nie ook een van Sy dissipels nie? Maar Petrus ontken dit swetsend. Vrees pak hom beet. Sê nou maar net hulle maak hom saam met Jesus dood? Skielik laat sy keusekrag hom in die steek. Geheel en al.

Maar let fyn op: NIEMAND se keusekrag slaag nie. Uiteindelik gaan Jesus Sy lydensweg stoksiel-alleen tegemoet. In Getsemané swig Sy navolgelinge voor die slaap. Hulle wou tot die dood vir Hom veg, maar kon nie eens teen die slaap veg nie. Die Skrif sê eksplisiet: AL die dissipels het Hom in die steek gelaat en gevlug (Mat 26:56). NIE één het uiteindelik kans gesien om saam met Hom in die veld te slaap sónder kopkussing nie. Nie één kon ploeg en vorentoe kyk nie. Hulle wou álmal eers begrafnis gaan hou. Letterlik ALMAL. Toe Jesus voor Pontius Pilatus staan, was daar nie één mens wat vír Hom getuig het nie. Nie die één melaatse wat genees was nie. Nie Lasarus wat uit die dood opgestaan het nie. Nie die weduwee van Naïn nie. Nie Jaïrus nie. Ook nie sy dogtertjie wat uit die dood opgewek is nie. Nie Johannes die geliefde dissipel nie. Nie een het werklik kans gesien om Jesus se kopkussing te deel nie. Die keusekrag van die mens is eenvoudig net té swak. Dit kom nie die mas op nie.

Sien u die patroon? Jesus maak volle aanspraak op die mens. Maar wanneer mense dit ernstig wil opneem, maak óf Jesus self dit ongedaan óf die mense maak dit ongedaan. En op die ou end staan Jesus stoksiel-alleen en lê Hy Sy kop finaal neer op ‘n houtkussing – terwyl die jakkalse gate het… Sonder énige menslike ondersteuning. Niemand lewer ‘n bydrae nie. Niemand werk saam nie. Toe Hy ons op die kruis salig maak, doen Hy dit ALLEEN. In die OT tempel was dit afgebeeld deur die Hoëpriester wat ALLEEN die offer bring en agter die voorhangsel gaan om versoening te bewerk.

En nou verstaan ons skielik wát Jesus die heeltyd met die mense gedoen het. Waarom Hy so snaaks opgetree het. Hy wou elke keer húlle krag & vermoë breek – hulle in hulleself tot ‘n nulpunt bring. Hy wou hulle tot die besef bring dat Hy ALLEEN na die kruis moes gaan om hulle vir tyd & ewigheid salig te maak. Hulle kon nie met Hom saamwerk met hulle ernstige & toegewyde dissipelskap nie. Maar hulle moes dit op die harde manier leer.

En toe skielik, HIER is iemand wat die geheim van dissipelskap snap. Die man wat oor géén keusekrag beskik nie. Hý wat geen hoop het om ooit ‘n dissipel te wees nie. Hy wat geen toekoms voor hom het nie. En oor geen meriete beskik nie. Behalwe sy misdade. Hy kan hom op niks beroep nie. Hy kan hom slegs beroep op die alleen-Jesus ALLEEN. Die stoksiel-alleen-Jesus alléén. Dit is hý wat Jesus se kopkussing deel. Die houtkussing. Daar in die veld op Golgota tussen die jakkalse. Só word hierdie man Jesus se navolger – deurdat hy Hom glad nie kan navolg nie – hy kon hom slegs op Jesus alleen beroep. “Dink aan my Here. Ek kan nie handjie bysit nie. Maar U, wat so stoksiel-alleen mý ewige dood sterf, is my alleen-hoop. U kopkussing is myne. Ek het niemand om te gaan begrawe nie. En ek ploeg met my oog op U”.

Gestel hierdie man sou van die kruis kon afkom en weer in Jerusalem gaan lewe het. Hoe sou hy dán leef? Dan sou hy ALLES gaan doen. Hy sou ‘n DOENER word. ‘n Praktiese dissipel. Omdat hy niks kon doen nie, sou hy alles gaan doen: in die veld slaap tussen die jakkalse, begrafnisse misloop, ploeg sonder om om te kyk, die ander wang draai, die ekstra kilometer saamloop, die kombers óók gee – nie net die klere nie, die vyande liefhê, vader & moeder verlaat, voete was, dienskneg wees, alles verkoop en aan die armes gee, sendeling wees.

Dissipelskap beteken om ALLES te doen – juis omdat jy NIKS hoef te doen nie. Ons moenie NIKS doen nie!!! Ons moet ALLES doen – juis ómdat ons tot die geloofsontdekking gekom het dat ons NIKS hoef te doen nie, maar slegs vasklou aan die alleen-Jesus alléén.

Dr. Chris Saayman

NG Gemeente Tafelberg, Kaapstad

021 – 551 6704

saay@isales.co.za

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00