TAFELBERG GEMEENTE : 7 MEI 2006

Tema: ‘n Groot geloof is baie klein
Skriflesing: Matteus 15: 21-28

 

Indien ’n mens hierdie verhaal net so bolangs lees, klink dit asof dit primêr oor die wonderteken gaan: Genesing van kind, maar dat daar eers aan ’n voorwaarde voldoen moes word – die kind se ma moes eers ’n “groot geloof” hê. Anders was die wondergenesing net nie moontlik nie. So klink dit. Alles hang van die vrou en haar groot geloof af. So asof die Here die groot super Wonderwerker was – op díé voorwaarde dat mense eers “groot geloof” moes hê!

Dan verstaan ons egter die hele Evangelieboodskap net mooi verkeerdom. Op die platteland het ons dit dikwels gesien in tye van droogte – dáár waar letterlik alles van goeie reën afhang. Maar dan kom daar droogte. DAN moet die Wonderwerker wonderwerke doen! Maar daar is ’n voorwaarde – só reken baie van die boeremense. Hulle moet eers groot genoeg glo! En as dit gereën het, dan was dit omdat daar ’n groot geloof was!

Volgens die Bybel is dit egter ’n manier om die Evangelieboodskap mis te verstaan. Jesus was nie ’n groot superman wat heeldag rondgeloop het om wonders te doen wanneer Hy “groot genoeg geloof” by iemand raaksien nie. Die wondertekens wat Hy wél gedoen het was dan juis bedoel om mense na Homself te trek en om hulle te troos en te bemoedig! Dit het nie oor die wonders gegaan nie. Dit het oor Homself gegaan. Wanneer sommige mense se oë oopgegaan het vir Wie HY is, het daar somtyds spontaan geloof gekom, deur die kragtige werking van die Heilige Gees. Dit is ook juis die groot toets in ons lewens wanneer ons in wátse krisisse kom (afgesien van droogtes). Nie of Hy die wonder sal doen van ’n uitkoms te gee nie. Nie of daar groot geloof by ons te vinde is nie. MAAR: Sal dit vir ons steeds om HOM gaan of daar ’n wonder gebeur of nie, of daar ‘n uitkoms kom of nie?! Juis dit is geloof!

Dalk het u ook al in die verlede ’n stryd gehad oor ’n “groot geloof”. Dalk worstel u op die oomblik daarmee. ’n Worstelstryd om ook ’n groot geloof in die hande te probeer kry. En dit voel of dit iets is wat u altyd weer ontwyk. Dalk dink u daar moet ’n sekere soort gevoel kom. Tog sit u maar baie gereeld met ’n groot stuk twyfel. Klink asof ’n “groot geloof” iets is wat geweldige geestelike spierkrag verg. Dit kos inspanning. Die ergste is: Dit lyk asof die Here nie na ú kant toe kyk alvorens u nie hierdie soort spierkrag kan wys nie. Dus sit u vasgevang in knaende onsekerheid.

En dit alles omdat ons so geneig is om die evangelie mis te verstaan. “Misverstaan?” sal u dalk vra …. “Kyk, het Jesus het dan self gesê: (Mt 17:20): Ons sal vir Tafelberg kan sê: “Verskuif jouself…..en die berg sal skuif” nie? Ja, Jesus hét dit gesê, maar lees net mooi wat presies daar staan: Jesus sê in vers 20 dit is ’n mikroskopiese gelofie soos ’n mostertsaadjie wat berge verskuif. ’n Groot geloof is so nietig-klein soos ’n mostertsaadjie. Só klein en pieperig, sonder enige spierkrag.
Dit is hierdie soort “groot geloof” wat hierdie Kanaanitiese vrou gehad het, waarvan Jesus sê dit is ’n groot geloof. Dit was so klein soos ’n mostertsaadjie. Juis omdat hierdie vrou NIKS van haar geloof verwag het nie, maar alles van Christus Jesus!! DIT is juis die groot geheim wat ’n mens moet ontdek! ’n Groot geloof verwag niks van ditself nie, maar alles van God se genade in Christus Jesus. Daarom is dit ’n piepklein mostertsaadjie. Maar daarom kan berge versit word, omdat die fokus/klem/blikrigting op Christus JESUS is.

Kyk maar mooi na hierdie heidense vrou se optrede. Onthou: Sy was nie ’n Israeliet nie. Sy was geen kerklidmaat nie. Sy het geen deel aan die Here se verbond gehad nie. Sy was nie gedoop nie. Maar, op die een of ander manier, het sy te wete gekom dat JESUS die langverwagte Verlosser is vir wie die Israeliete verwag het. En sy het net eenvoudig vasgeskop en haar volle hoop op Hom geplaas. Al behandel Hy haar ook oënskynlik baie stuurs en nors en afwysend. Want, Hy antwoord haar dan nie eens toe sy roep nie! Hy tree so totaal ANDERS op as wat sy van Hom gehoor het. Dit kon sy ook verstaan, want Hy was mos eerstens na ISRAEL gestuur en sý was mos ’n heiden (nie-Israeliet). Maar ag, ook Jesus se dissipels is teen haar gekant. Hulle sê: “Here stuur tog net hierdie vroumens weg, want sy loop en raas hier agter ons”. En toe praat Jesus, maar Hy praat met die dissipels, nie met die vrou nie. En Hy sê ’n vreeslike ding. Hy sê: “Ek kan nie aan haar versoek voldoen nie, want Ek is na Israel gestuur”.

Stel uself voor hoe moes die vrou gevoel het. “Is DIT nou die wonderlike Messias wat so liefdevol en oorloop van barmhartigheid !? – Is dit nou HY wat soveel ander behoeftiges verhoor het?! — Moet EK nou die eerste onwelkome wees?”

MAAR WAT HOOR ONS? Die Heilige Gees het haar oë oopgemaak. Sy roep nog harder!! Sy worstel met die Heiland soos Jakob met God geworstel het in die Jabbokrivier. Sy val voor Hom neer en roep: “HERE, hélp my”. Dis asof sy wil sê: “Here ek wéét ek is net maar ’n heidense vrou, ver weg van die kerk en gemeente van Israel. Ek weet ek verdien geen druppel van U seën nie. U het absoluut alle reg om by my verby te gaan. MAAR EK GLO – U IS DIE HERE. Ek staan by U. Al antwoord U my tot in ewigheid geen woord nie, sal ek by U staan!!”

En toe antwoord Jesus haar. Maar o weë. Dit is steeds geen positiewe antwoord nie. Hy sê vir haar: “Dit is nie mooi om die kindertjies se brood te neem en dit vir die hondjies te gee nie”. M.a.w : “Ek kan nie die verlossing wat vir ISRAEL bedoel is, vir jou as Nie-Israeliet gee nie.” En wat Hy sê was natuurlik absoluut wáár. Want op dáárdie stadium (voor Pinkster) wás die verlossingsgebeure nog nie radikaal oopgegooi na alle nasies nie. Op daardie stadium het Jesus nog hoofsaaklik op Israel gekonsentreer. Maar, kan u sien: Die Meester gee eers hierdie vrou ’n katkisasieles. Hy onderrig haar eers. Daarby toets Hy haar motiewe. Hy stel haar erg op die proef. GAAN DIT VIR HAAR WERKLIK OM HÓM. Is HY haar enigste uitweg? Of hou sy dalkies ’n agterdeur oop?

Gemeente, die mens wat deur die krag van die Gees ontdek het WIE Jesus is, sál volhard – al neem dit ook 100 jaar. Luister na hierdie vrou: “Here, ek weet ek is ’n hond. Ek weet ek is geen verbondsmens nie. Ek is dit nie. U is 100% reg. Maar, hondjies KAN mos KRUMMELS kry. Hulle kan mos vd krummels kry wat van die kinders se tafel afval” !

Weet u, op daardie oomblik is dit asof Jesus Sy hande in lug gooi en HOERA skree: “O Vrou, groot is jou geloof. Jou wens is vervul. Jou dogter is genees”. Dit is asof die blydskap borrel in hierdie woorde. Hy verheug Hom oor hierdie onkundige vrou vir wie dit slegs om HOM gegaan het. Sy self was swak. Bloedweinig geestelike spiere. Pieperige mostertsaadjie. Maar, sy klou vas aan CHRISTUS JESUS.

Dit is ’n groot geloof. Dit is geen kragtoertjie nie. Dit is net mooi die teenoorgestelde daarvan. Nie krag nie, maar swakheid. Nie volheid nie, maar leegheid. Nie rykdom nie, maar armoede. Nie hoogmoed nie, maar ootmoed. ’n Groot geloof verwag niks van ditself nie, maar alles van Christus. ’n Groot geloof buig voor die Woord van God. ’n Groot geloof weet hyself kan nie eens ’n molshoop verskuif nie, wat nog te sê ’n berg. ’n Groot geloof weet dat ons maar té geneig is om van ’n molshoop ’n berg te maak. Daarom leef ’n groot geloof van krummels. Die krummels van die Nagmaalstafel. Krummels wat sê: My genade is vir jou genoeg.

Onthou: ONS is in ’n baie meer bevoorregte posisie as wat daardie Kanaanitiese vrou was. Sy het VOOR Pinkster geleef. Voor die uitstorting van die Heilige Gees. Sý moes van krummels leef. En tog is haar dogter van duiwels bevry.
ONS leef na/in Pinkster. Ons leef van volgraanbrode, nie van krummels nie. Die volheid van Christus.

Laat ons dan vir Jesus sien. Laat ons sien hoe Hy krummels vir ’n heidense vrou gee. Laat ons sien hoe Hy volgraanbrode vir ONS voorsien het deur die volheid van Sy opstanding, Sy hemelvaart, die koms van Sy Gees.
Dit is glad nie nodig om honger te ly nie. 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00