TAFELBERG GEMEENTE

Jesus: Resident of President?
1 Petrus 1: 17-25

Is dit moontlik dat goeie geestelike dinge soos Bybelstudie, gebed, kerklike lewe, erediensbywoning, getuienis – struikelblokke in ‘n mens se lewe kan wees? Inderdaad kán dit. Indien CHRISTUS nie in die middelpunt van jou lewe staan nie. Indien die son nie op sy sentrale regte plek is nie, sal die sonnestelsel verwoes word.

Christus neem verseker ‘n plek in ons almal se lewe in, maar die vraag is: WATTER plek? Behoort Hy aan my óf behoort ek aan Hom? Is Hy ‘n resident (Hy behoort aan my) in my lewe of die president (ek behoort aan Hom) van my lewe? Die meeste van ons hoor van kleins af: “Jy moet die Here aanneem..” Met ander woorde: “Jy moet Hom in besit kry. Hy moet joune (eiendom) word. Hy moet jou besitting word. Anders gaan jy reguit hel toe.” Die probleem hiermee: Dit bring geen ware blywende troos nie. Dit maak van Christus slegs maar net ’n RESIDENT in my lewe – ’n inwoner – Hy is myne. Maar dit is by verre nie die leer van die Bybel nie.

Eintlik is die ware bloedwarm evangelie so eenvoudig: Daar is maar net een werklike troos in die lewe EN die sterwe: die blye wete dat ek nie aan myself nie, maar aan die lewende Here Jesus mag behoort. Nie: “blye versekering, Jesus is myne” (ou Hallelujalied) nie, maar “blye versekering, ek is Syne.” Ek besit Hom nie. Hy het nie myne geword nie. Ek het Hom nie aangeneem nie. Hy het mý aangeneem! Hy besit my. Hy het rég op my. Waarom? Omdat ék met Hóm iets gedoen het? Duisendmaal NEE! Omdat Hy my gekoop het met Sy bloed. Uit Sy onbegryplike liefde, kom gee Hy my ‘n plek in Sy kerk sodat ek daar VIR HOM mag wees. Ek is nie Syne omdat ek Hom my eie gemaak het nie. Maar omdat Hy my met so ’n geweldige prys gekoop het! DAAROM President, nie resident. DIT is die enigste ware troos wat ook ná my sterwe steeds van krag is en soos dinamietkrag werk.

Dit is die skitterende troos wat die Bybel vir ons oopmaak – wanneer ons maar net ’n oog kan ontwikkel om die Bybel reg te leer lees. Dis ‘n troos om nie meer jou eie baas te wees nie. Om nie meer aan jou self te behoort nie. Die natuurlike mens verstaan dit nie, want hy/sy wil juis met alle mag self regeer – en Jesus is natuurlik ook welkom, mits HY net ’n resident bly. Maar, die Bybel sê dis ‘n verskrikking om aan jouself te behoort. Dink aan die droewige gevolge toe Adam aan homself begin behoort het! Dit word ‘n lewe van slawerny en dood. Kyk waar beland die verlore seun toe hy aan homself wou behoort! Vir daardie seun was daar geen groter troos as om te kon ontdek: ek mág ‘n seun wees in die huis van my vader!! Ek mag Hom as Vader erken. (Luk 15).

Israel het weer in ballingskap gegaan toe hulle aan hulself wou behoort. Presies so met ons ook. Jy word ‘n arme slaaf van jou eie armsalige begeertes wanneer jy self President wil wees. Wanneer jy self besluit oor die inhoud van jou lewe…. Dit is eiesinnigheid. En eiesinnigheid is afgodsdiens (okkulties) sê die Here vir Saul (1 Sam 15:23). Dit lei tot ‘n gewisse dood!

Die groot bevryding uit hierdie moeras: om te mag ontdek dat ek werklik nie meer aan myself behoort nie, maar aan Christus Jesus. Ek het ‘n ander President gekry omdat Hy Homself President kom maak het – toe die vollekoopsom op die kruis betaal is. Ek het Hom nie President van my lewe gemaak nie. Hy het Homself President van my lewe kom maak. DAAROM is ek bevry van die tiran, die SELF. En wanneer ek begin om dit te ontdek en te glo, begin dit werk in my lewe – alles keer net eenvoudig óm.

Maar: Hoe kan ek dit alles met 100% sekerheid wéét? Antwoord: Die belofte van die evangelie leer (bevestig/waarborg) dit aan my. Uitgespel in 1 Petrus 1. Voordat ek Hom nog kon kies, HET Hy my gekoop. Ek is losgekoop uit ‘n ydele lewenswandel. Met Sy dood het Hy betaal sodat ek van my doodsbestaan bevry kan lewe. Die geweldige mag van satan IS in/deur Sy bloed gebreek. Omdat ek aan ‘n ánder President behoort, is die mag van satan verbreek. Dit glo ek. Hierdie belofte eien ek vir myself toe!

Vers 22 spel dit uit: ek is gereinig deur gehoorsaamheid aan die Waarheid. Dit werk só: Die Here laat die Waarheid aan my verkondig (soos ‘n testament wat voorgelees word) waarin Hy vir my sê: “Jou sondes is vergewe, jy behoort nie aan jouself nie – want die koopsom is betaal.” Ek hoor dit. Ek glo dit. Ek aanvaar dit. Ek begin dit met my mond bely. Presies soos wat Abraham gedoen het. Dit is wat die mag van die SELF breek. Nie my sterk keuses doen die breek-werk nie, maar die sterke inhoud van Sy belofte naamlik dát Hy my duur gekoop het, DIT doen die breekwerk. En hierdie Woord GLO ek persoonlik. Die Heilige Gees gebruik ook hierdie selfde Woord as instrument om die sekerheid in my hart te werk.

Let gerus op vers 25. Soms voel ‘n mens of jy nie werd is om aan Hom te behoort nie. Die troos voel ver en dof. Jy sit in ‘n diep put. Dit voel of jy weer aan jouself behoort. Hoe nou gemaak? Dan val ek weer terug op Sy versekering in Sy Woord. Wanneer ek my eie ontrou sien, is dit ‘n troos om te weet ek behoort nie meer aan my eie trouelose self nie, maar aan my getroue Verlosser. Die prys waarmee ek gekoop is, is nie verganklike goed soos silwer en goud nie, maar die bloed van die ewige Messias. Wie kan die diepte van hierdie troos peil??

EN: As ek gekoop is, sál ek mos ook bewaar word. Ek sal behoue bly. Dis so logies soos daglig. Slegte goed in my lewe sal uiteindelik ook omgebuig word sodat dit ook tot troos kan word!! So lees ons in vers 6. Selfs al word ons vir ‘n kort rukkie, deur wat ookal, beproef, maak dit ons nogtans BLY. Beproewinge suiwer uiteindelik die geloof. Uiteindelik seëvier DIE HERE in Sy kind se lewe. Dit is die rotsvaste hoop wat ons altyd mag hê. DIT is die rede waarom ons ons geestelike sokkies kan optrek en volhard en áánhou en aktief kan raak en aan die brand kan wees vir God en Sy werk. Sien vers 13: “Moet daarom nie moeg word nie..” Let op die DAAROM. Die TROOS wat ek rotsvas het, maak dat ek aktief kan voortgaan in my geloofslewe en nie moedeloos word en uitsak nie. Ek kan gehoorsaam leef en heilig leef, want dit is nie meer dinge wat ek uit eie kragte hoef te put nie, maar die resultaat van die feit dat ek SYNE IS en nie HY MYNE nie! Hy is nie meer net ’n inwoner/resident omdat EK Hom myne gemaak het nie. Hy is PRESIDENT omdat Hy Homsélf President gemaak het en ek DIT van harte glo. Dít is die dinamietkrag wat my voortdryf.

LEES:

Heidelbergse Kategismus Sondag 1

Wat is jou énigste troos in lewe en in sterwe? Antwoord: Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe (Rom 14:8) nie aan myself (1 Kor 6:19) nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort (1 Kor 3:22, Tit 2:14). Hy het met Sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal (1 Pet 1:18,19, 1 Joh 1:7, 2: 2,12) en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos (Heb 2:14, 1 Joh 3:18, Joh 8: 34-36). Hy bewaar (Joh 6:39, 10:28, 2 Tes 3:3, 1 Pet 1:5) my op só ‘n wyse dat, sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie (Mat 10:30, Luk 21:18). Alles moet inderdaad tot my saligheid dien (Rom 8:28). Daarom verseker (2 Kor 1:22, 5:5, Ef 1:14, Rom 8:16) Hy my ook deur Sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe (Rom 8:14, 1 Joh 3:3).

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00