Titel: Die vrou met die fles
Skriflesing: Matteus 26: 1-14, Johannes 12: 1-8

Dit bly ’n wonder om te sien op watter wyse die Heilige Gees die Bybelskrywers gelei het om te skryf wat hulle geskryf het. Kyk byvoorbeeld hoe beheer Jesus self alles wat gebeur. Oënskynlik lýk dit asof Hy die slagoffer van bose planne is, maar in werklikheid is Hy soewerein in beheer. Hy bepaal self die presiese dag waarop Hy geoffer sal word op die kruis – en die Joodse en Romeinse leiers pas dáárby aan – sonder dat hulle dit besef. Jesus sê: “Oor 2 dae is dit die Pasga, dán sal Ek gekruisig word”. En onmiddelik daarná vers 3: “En toe het die Joodse leiers in Kajafas se huis vergader om Jesus se dood te beplan.” Onthou: Die Jode was glad nie van plan om doodsvonnisse te voltrek gedurende die Paasfees nie. So iets was ondenkbaar in die Joodse gemoed. Maar, Jésus maak God se program bekend – naamlik dat die Groot Paaslam sal sterf op dieselfde dag wanneer 1000e paaslammetjies geslag word – op die Pasga. En daarom gebeur dit só. Net ná Jesus se woorde, begin die Joodse leiers saamsweer – al het hulle nie eens gehoor wat Hy sê nie. Die lewende God beheer alles in Sy soewereiniteit.

Die episode van Jesus se salwing-deur-Maria het reeds 4 dae te vore plaasgevind toe Jesus in Betanië was, maar Matteus plaas dit hier as ’n terugskou / ’n “flashback”. Die vrou se oliesalwing pas oënskynlik nie in by dit wat hier aan die gang is nie. Maar dit word opsetlik deur Matteus ingevoeg op die plek waar hy praat van die Joodse leiers se bose sameswering en Judas se verraad. Waarom het die Gees vir Matteus só gelei? Met ’n baie goeie doel. Tussen al die listige Joodse leiers en die afvallige dissipel Judas, staan daar een vrou wat Jesus se sterwe verstaan en aanvaar en glo – nog voordat dit gebeur. Hy het dit dikwels vantevore voorspel en sy het Sy Woorde geglo. ’n Vrou met ’n fles. Sy was – as dogter van Eva – die eerste wat verstaan het dat Jesus – met Sy dood – die slang se kop gaan vermorsel. Sy was die eerste en enigste om Hom vir Sy begrafnis te salf. Kyk hoe wonderlik is die moederbelofte van Gen. 3:15 besig om in vervulling te gaan! En onthou: ’n Mens het destyds net jou saak versleg om aan ’n VROU enige prominensie te gee. Vroue het geen status gehad in die Ou Nabye Ooste nie en was beskou as ongeloofwaardige getuies. Indien Matteus hierdie verhaal uit sy duim sou suig, sou hy beslis nie ’n VROU gekies het om Jesus te salf nie. Dan sou hy sy verhaal totaal verswak. Maar, dit wys weer eens op die wonder van die Gees se inspirasie van die Bybel as Woord van God.

Die Gees wys vir ons die kontras tussen die owerpriesters/Judas/dissipels (aan die een kant) EN hierdie vrou se bediening (aan die anderkant). Ons sien die radikale kontras tussen hierdie vrou en ál die ander – wat betref haar insig van wie JESUS werklik is. In die ganse beskrywing van Jesus se lydensweg, sien ons op net een plek wat dit regtig beteken om ’n volgeling van Jesus te wees: ons sien dit by hierdie vrou. Ons sien dit nie by Kajafas/owerpriesters/Jode/Judas/dissipels/Petrus nie. Maar wel by die vrou.

Kyk maar net na die atmosfeer wat die Joodse leiers en dissipels omhul: Onsekerhede/ angste/ chaos/ konkel-agter-die-skerms/ vol bose idees/ stompsinnig/ geheimsinnig/ bang vir wat mense sal sê/ bang vir die skare….. Daarteenoor die atmosfeer by die vrou-met-die-fles: Lewe in die lig/ totale vryheid/ steek niks weg nie/ vrees nie mense se opinies nie/ bedien Jesus voluit met liefde/ kyk nie links of regs nie/ staan teenoor die duisternis… Van ál hierdie mense – verstaan hierdie vrou iets van wie Jesus regtig is en wat Hy kom doen het. Sy plaas ’n baie, baie skerp fokus op JESUS SELF. Dit is juis die punt: Die fokus val nie op haarself nie. Dus: Wanneer ’n mens na haar kyk en oor haar praat, moet jy ten diepste vir JESUS sien.

Kom ons kyk vir ’n oomblik hoe hierdie vrou in skrille kontras staan met Judas. Judas was die eerste persoon wat ’n kritiese opmerking oor die vrou gemaak het: “Waarom hierdie verkwisting?”/ “Salf kon verkoop gewees het”/” Geld kon vir die armes gegee gewees het.” Dit is ook verstommend om te sien dat AL die dissipels met Judas saamgepraat het. ALMAL sê: “Ja, wat ‘n verkwisting!” Eintlik is beide Maria & Judas besig om die weg te baan vir Jesus se begrafnis – elk op hul eie manier. Maria begin met die liefdevolle versorging van Sy liggaam en geen prys is vir haar te hoog om te betaal nie. Vir haar kan Jesus met geen geld ter wêreld vergelyk word nie. Maar vir Judas is Jesus net 30 silwerstukke werd. Eintlik wil hy net homself verryk. Hy verstaan hoegenaamd nie. Hy verstaan nie dat oorvloedige géé uit liefde en ’n verhouding in die volheid van die Gees niks met verkwisting te make het nie. Tog verstaan die vrou dit. Judas se ekonomiese beleid het behels dat hy gee wat hy moet. Hy gee nie minder as wat sy plig is nie. Hy gee ook nie meer as wat sy plig is nie. Koue krampagtige plig. Judas se manier van die Here dien was uit plig. Die Here was in sý diens om aan sý verwagtings te voldoen. Dit was die keuse wat Adam van die begin af gemaak het: Die Here moet in die mens se diens kom staan. Hy is die mens se gebruiksartikel. Ons is bereid om 100% godsdienstig te wees – solank dit net beteken dat die kroon op ONS kop is! Hierdie gif loop in ons almal se bloedstroom – nie net in Judas s’n nie. Dit is die gif waarvan Jesus ons kom red het. Die gif waarvan Hy ons kom red het is ons verkeerde godsdienstigheid sodat God weer Gód kan wees in ons lewe EN ons as mense weer ons regmatige plek as KIND kan inneem. DIT is die nuwe lewe wat Jesus gebring het. Nie ‘n nuwe godsdiens nie, maar nuwe LEWE.

Dit is die tweede keer dat hierdie Maria gekritiseer word. Die eerste keer was toe Jesus by haar en haar suster Martha aan huis was en sy by Jesus se voete gesit en na Hom geluister het terwyl Martha in die kombuis werk en Martha haar berispe omdat sy nie vir haar help nie. Die eintlike aanklag was: “Waarom oordryf jy so jou godsdiens? Elke ding het sy tyd & plek. Waarom by Jesus se voete sit terwyl daar werk in die kombuis is?” Elke keer word Maria gekritiseer omdat sy ‘n brandende hart vir Jesus het. Ook in die onderhawige geval van die oliesalwing.

‘n Mens wie se hart/lewe brandende is vir die lewende God, sal altyd ‘n mate van teenstand kry. 2 Tim 3:12. Dit kan selfs ‘n eensame pad word. Min, min mense verstaan jou. Mense wat ‘n koue, kille, wettiese godsdienstigheid bedryf, het nie begrip vir iemand wie se hart deur Jesus aan die brand gesteek is nie.

Hoe kosbaar is Jesus se woorde aan Judas en die dissipels: “Los haar – onthou: vir MY het julle nie altyd by julle nie. Die armes sal julle altyd by julle hê om te kan versorg.” Met ander woorde: “Doen NOU/VANDAG wat jy kan. Moenie vandag doen wat jy môre kan doen nie. Moenie uitstel nie. Koop die tyd uit. Môre kom dalk nooit. Hierdie vrou doen dít wat weldra nie meer moontlik sal wees nie. Sy het nie geld verkwis nie. Sy het dit op MY spandeer. Kan julle MY dan nie eien nie? Júlle gaan My kruisig en sy het My byvoorbaat al gesalf. Sy verstaan. Haar liefde kan nie in terme van geld uitgedruk word nie. Daarom – wanneer ookal die goeie nuus van My sterwe in die wêreld verkondig word, sal daar ook van háár melding gemaak word.”

Salwing self. Heilige grond. ‘n Mens sien by hierdie vrou wat in ‘n mens se lewe gebeur wanneer die Here met Sy genadige redding jou lewe in besit geneem het. Sy bedien die Here met haar kosbaarste. Breek die fles in stukkies. Dit was 1 liter (Joh 12:3) duur parfuum met ’n bedwelmende geur – vervaardig van die blare van ’n plantjie wat in Indië groei. 1 Liter : die hoeveelheid wat destyds gebruik is om lyke te balsem. Maar Maria het dit nie op haar broer Lasarus uitgestort toe hý oorlede is nie. Sy kom stort die volle kosbare inhoud op die Heiland uit. Nie net druppels nie. Daarmee gee sy haarself heeltemal weg. Ook wanneer sy Hom afdroog met haar hare. 1 Kor 11:15 sê ‘n vrou se heerlikheid is in haar hare. Maria gee dus háár eer en heerlikheid prys en fokus op Jesus alleen. Eintlik demonstreer Maria dat sy die enigste een is wat regtig verstaan WIE die Meester is. Hy IS die Gesalfde (Messias/Christus) van God. Die dood kan Hom nie vashou nie. Dit is asof nie een van die ander werklik kon sien WIE Jesus is nie. Selfs ook nie Petrus nie. Maar, hier midde-in die stryd – waar Jesus op die punt staan om verwerp te word deur almal – kom hierdie vrou en demonstreer vir hulle hoe JESUS besig is om gebreek te word soos die fles olie gebreek is. Hoe Hy Homself uitgiet tot die laaste druppel. Hoe Hy vrywilliglik Sy eer en heerlikheid prysgee sodat Sy lieflike geur uiteindelik oral versprei. Eintlik kom God die Vader sélf – deur hierdie vrou (skynbaar die enigste een wat verstaan) – om Sy Seun te troos – met die aanraking van liefde.

Die boodskap van hierdie Skrifgedeelte is NIE dat die Here vir óns sal kom toets/beproef om te sien of Hý vir ons kosbaarder is as ons kosbaarste besittings/enige iets in ons lewe nie. Hoe só? Kyk mooi: Jesus het nie hierdie vrou getoets of op die proef gestel nie. Sy het spontaan gekom en Hom gesalf OMDAT Hy reeds haar hart oorwin het. Die magtige boodskap wat hierdie Skrifgdeelte vir óns het is dit: Kyk net wat ’n magtige ding gebeur spontaan in jou lewe wanneer die Here jou lewe oorwin het met Sy sterwe en opstanding: Jy word spontaan al hoe meer bereid om jóú eer & heerlikheid prys te gee sodat HY alles kan vul.

Dit is egte MENSWEES in die ware sin van die woord.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00