TAFELBERG GEMEENTE

Die doop as teken van ontmagtiging
Skrif : Titus 2:11 – 3:7

Wat beteken dit dat die Vader die Gees op ons uitgestort het deur Jesus Christus (3:6)? Dit beteken: Hý het Homself die Persoon gemaak wat ons innerlik verander. Dit is die verrassing vd evangelieboodskap. Wie is dit wat sorg dat óns ingesteldheid teenoor die Here reg is? Is dit ons wat daarvoor moet sorg? Nee, Hý verbind Hom daartoe om self daarvoor te sorg. Dit is wat vrye genade beteken. Daarom sê 2:11-12 dat Sy genade daarvoor sorg dat ons ons goddelose leefwyse en wêreldse begeerlikhede vanself laat vaar. Ons los dit VANSELF. Ons word nie innerlik nuut omdat ons met die hel banggemaak word of met die hemel verlei word nie. Ons word innerlik nuut omdat Gód Homself (sonder om ons toestemming te vra) daartoe verbind het om ons innerlike ingesteldheid teenoor Hom te verander. God maak Homself die Een wat sorg vir ons veranderde houding teenoor Hom.

Dit klink baie vreemd, want dit staan lynreg téénoor hoe ons menslike logika redeneer. Ons menslike natuur sê: “Nee, dit is EK wat die Here se ingesteldheid teenoor my bepaal”. Ons as mense doen dit van kleins af. Klein Johan sal dit ook doen. Klein kindertjies ken die kuns om die mense rondom hulle se gesindhede te manipuleer. Wanneer ’n klein kindjie wil hê iemand moet hom optel/vashou/liefdevol wees, dan hou hy homself oulik/fraai. Wanneer hy nie lus is vir iemand nie en die mense wil weghou, dan hou hy homself negatief & mislik. So werk ons almal van kleins af. Ingebore neiging. Wie bepaal die ingesteldheid van ander teenoor my? EKSELF doen dit.

Die probleem is: Ons benader die Here op dieselfde wyse/ volgens dieselfde uitgangspunt. EK moet God aantrek na my toe. EK moet Hom so ver kry om my aan te neem as kind. En hoe doen ek dit? Hoe kry ek God so ver om my as Sy kind aan te neem? Ek speel oulik. Ek hou myself fraai. Soos wat ek van kleins af met mense doen. EK bepaal God se ingesteldheid teenoor my. EK het die magshouding. Dit wat EK doen, sal bepaal wat God doen.

Hierteenoor kom die Bybel met ’n totaal ander boodskap. Die Vader stort die Gees oorvloedig op ons uit deur Jesus Christus. God maak Homself die Persoon wat mense se ingesteldheid bepaal en verander. Net Hy alleen. Nie ons as mense se fraaiheid óf mislikheid nie. Uitstort vd Gees beteken dat God sê: “EK sal jou ingesteldheid teenoor My bepaal. Jý gaan nie bepaal hoe Ek teenoor jou ingestel sal wees nie.”

En hoe doen God dit? Hy sluit jou eenvoudig IN by Sy liefde/goedheid – of jy fraai/oulik/ of mislik is. Hy doen dit op grond van Sy ontferming alleen (3:5). Ten spyte van jou fraaiheid/mislikheid sluit die Here jou IN binne Sy barmhartigheid as Vader. Presies soos by ’n geboorte. Jy doen absoluut niks om gebore te word nie. Iemand anders doen alles. Daarom noem die Here Sy werk in ons lewens die wederGEBOORTE. Waarom ’n GEBOORTE? Want die Here ONTNEEM MY die mag om Sý goedheid teenoor my te bepaal. Nie met ’n gebed of enige vrome handeling kan ek God se ingesteldheid teenoor my bepaal nie. Hy láát my eenvoudig in Sy liefde deel uit Sy eie inisiatief – of ek wil of nie. Of ek fraai is of nie. Of ek mislik & negatief is of nie. Dít is ware genade/ ontferming.

Vraag: Kán ’n mens dieselfde bly wanneer God so werk? Nee. Hierdie vrye genade van God bring ’n totale ontwrigting in my lewe tot stand. Hy maak my deel van ’n liefde wat ek nie kies nie/ nie wil hê nie, máár dan begin daardie liefde my stadig maar seker innerlik wring/buig/vorm – soveel so dat daar iets in my loskom waaroor ek geen beheer het nie. Daar kom binne in my gevoelens/ingesteldheid teenoor die Here los waaroor ek geen beheer het nie. Die liefde waarby Hy my ingesluit het — toe ek dit nie wou hê nie — skep in my nuwe gedagtes/gevoelens/gedrag/optrede. Dit breek deur my fraai EN mislike houdinkies. Dit wring my binneste – op só ’n wyse dat ek omdraai na God toe uit dankbaarheid dat Hy ’n ellendige mens soos ek, uitverkies het. Ek bekeer my – omdat ek uitverkies is. Ek verwonder my daaroor dat Hy Homself die persoon gemaak het wat my verander – of ek oulik of mislik is. Dit is die bad vd wedergeboorte.

Hoe staan God teenoor Johan – wat vandag gedoop word? Is Hy die God wat sit en wag en kyk hoe Johan (wanneer hy groot is) Sý ingesteldheid gaan bepaal? Wanneer Johan mislik is, is Hy ver? Wanneer Johan besluit hy wil die Here hê en hy speel oulik, sal Hy hom aanvaar? Of gaan Hy die God wees wat Johan se innerlike gaan draai – en beloof Hy dit vandag reeds?

In die vroeëre kerk is daar van die doop gepraat as die “bad vd wedergeboorte” n.a.v. Titus 3. Nou verstaan u waarom. Want by die doop sê & doen Gód iets – nie die dopeling nie. Daarom WORD iemand gedoop (passief). Wat sê God? “Ek gaan op só ’n wyse God wees dat jý nie vir Mý sal instel teenoor jou d.m.v. jou gedrag/houding/gebede/bekerings/oorgawes/vroomheid nie. Ek sal die God wees wat jóú ingesteldheid sal bepaal. Ek gaan jou innerlik verander dat jy geen beheer daaroor het nie. Dit is soos ’n geboorte – waaraan jy nie ’n aandeel het nie.”

Sien u dat die doop ’n teken van ONTmagtiging is. Die doop is ’n teken van God se belofte – wat Hý waarmaak: Ek gaan jou ingesteldheid teenoor My bepaal. Ek is jou God net omdat Ek dit besluit het. Jy het deel aan my genade net omdat Ek jou daarby ingesluit het.

Die doop is nie ’n teken van BEmagtiging nie. Die doop bemagtig nie die mens nie. Die doop is nie ’n teken daarvan dat EK (as mens) die Here se ingesteldheid teenoor my bepaal nie. Indien dit so sou wees, sou ons die sg. bekeringsdoop bedien het.

Die bekeringsdoop werk só: “God kon my nie innerlik verander het alvorens EK nie tot ’n besluit gekom het hoe/waar EK Hom wil hê in my lewe nie. Eers toe EK my ingesteldheid verander het en besluit het om oulik/fraai te wees – het Hy Sy ingesteldheid teenoor my verander. Eers toe EK op ’n dag besluit het: “Ek is nou lus vir die Here” – tóé het Hy nadergekom na my toe en my aangeneem”. Hierdie soort teologie lei onvermydelik tot die bekeringsdoop: Teken dat EK Sý ingesteldheid teenoor my verander het. Dat Hý op mý besluit gereageer het en dat ek DAAROM aan Hom behoort. Maar, dit is ’n teologie wat nie in die Bybel te vinde is nie.

Hoekom word Johan – as klein babatjie – vanoggend gedoop? Omdat dit GOD is wat praat. Omdat HY ’n belofte maak: “Johan, dit is nie jy wat jou gesindheid moet regkry en sodoende Mý ingesteldheid verander en dán My kind word nie.” Nee, ons doop met die vaste versekerde waarborg dat die Here sê: “Ek sal die Een wees wat JOU gesindheid sal verander – of jy oulik is en of jy mislik is. Daarom het ek My Gees uitgestort. Want dit gaan NET oor My ontferming. Dis al. EK het besluit: EK wil jou insluit.

Doopouers (Chris & Arina): Gryp vas aan Titus 2:11-12. Wat veroorsaak dat julle kind innerlik sal verander? Wat maak dat ’n mens SELF besluit om wêreldse begeertes weg te gooi? Wat maak dat ’n mens NUUT begin leef? Wat maak dat ’n mens besluit om nie meer die SELF op die troontjie te wil hê nie? Wat voed ’n kind hiertoe op?

Antwoord uit 2:11-12: SLEGS die roekelose vrye genade van God. Nie die Wet nie. Nie die mens se dade (doen = wet) nie, maar die genade (Gód se alleen-doen). Omdat HY jou gesindheid ombuig – verander jy totaal. Dit is Sy beloftes wat ons gesindheid teenoor Hom omdraai. Hy is nie naby aan ons omdat ons fraai/oulik is of omdat ons besluit het ons is nou lus vir Hom nie. Hy is ook nie ver en onbetrokke omdat ons mislik en negatief is nie. Hy reageer nie op ons nie. Ons reageer op Hom. Daaraan alleen het ons die ewige lewe te danke.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

0:00
0:00