TAFELBERG GEMEENTE GALASIËRS-REEKS NO 14
Galasiërs 6: 1-10
Tema: Saai in die Gees
Verlede keer het ons – na aanleiding van hfste 4&5 – gesien wat dit beteken om onder die beheer van die Heilige Gees te leef. In kort beteken dit om vanuit die verdienste van die Here Jesus te leef en nie uit eie self-doen nie. Die beginsel van: Wat Syne is is myne en wat myne is is Syne. My sonde/skuld/verkeerdheid is Syne en Sy blaamloosheid en onskuld is myne. Die Gees maak my oë hiervoor oop en rus my hiermee toe.
‘n Mens moet iets ontdek: Jy moet ontdek dat Jesus se kruisdood en opstanding van 2000jr gelede iets radikaals met jou lewe in 2013 gedoen het. Dááruit moet doelbewus geleef word. Dis die Heilige Gees wat jou oë daarvoor oopmaak en jou daaruit láát leef en só beheers Hy jou lewe. Jy probeer nie meer om iewers te kom of anders te word of ‘n hoër trap te bereik nie. Jy leef vanuit die posisie waar jy reeds ís omdat God jou by Christus ingesluit het. Jy probeer nie meer jou lewe verander nie, maar jy ontdek dat jy reeds verander is. Die Heilige Gees beheers jou lewe deur jou oë oop te maak vir hoe splinternuut jy geword het toe Jesus in jou plek gesterf het.
Dis ‘n daaglikse proses.
Voorbeeld: Wanneer iets slegs met jou gebeur, fokus die Gees jou aandag daarop dat Christus as jou Plaasvervanger gely en gesterf het en dat jy daarby ingesluit is. Sodoende word jy versterk en leef jy oorwinnend binne-in jou swaarkry-situasie. Só beheers die Gees jou. Die Heilige Gees rus ons heeltyd toe met Christus se sterwe en opstanding en heiligheid en onskuld waarby ons ingesluit is.
Ander voorbeeld: Wanneer jy ‘n besluit oor iets moet neem, rus die Gees jou toe met Christus se wysheid as Mens. Hy fokus jou aandag op die feit dat jy ingesluit is by Christus se wysheid. Só beheers Hy jou in jou daaglikse besluitneming. Jy hoef nie meer dae en nagte te vas en te bid om wysheid te bekóm nie – jy ontdek dat Jesus se wysheid as Mens reeds joune is. Want Hy is jou plaasvervanger.
Die Heilige Gees fokus ons nie op die Heilige Gees nie! Wanneer God die Heilige Gees ons lewe beheers, vestig Hy nie ons aandag op Homself nie. Hy rus ons toe met CHRISTUS se onskuld en heiligheid. Hy maak ons daarvan bewus dat Christus se onskuld en heiligheid nie vir Homself getel het nie, maar vir óns – vir ú. Daarom ís ú totaal onskuldig vir die sondes wat u doen! En heilig. En reg. U staan nie meer as veroordeelde voor die Vader nie. U is toegerus met u Plaasvervanger Jesus Christus se onskuld en blaamloosheid. Daarom is u blaamloos en onskuldig voor God – al doen u sonde en al struikel u vir die duisendste keer oor dieselfde ding. Christus se geregtigheid hou u lewe reg & goed voor God. Hy láát u lewe goed genoeg wees vir God.
Sien u die magtige effek van die beheersing deur die Heilige Gees? Die Heilige Gees beheers jou – hoe? Deur jou te laat sien dat Hy jou deelgemaak het van Jesus se kruisdood en opstanding en alles wat Christus as Mens in u plek is. Daarom ís u en ek nie ons sondige begeertes nie. Ek is iets anders as die begeertes wat nog in my is. Ja die begeertes is in my, maar ek is iets anders as die goed wat so sterk in my stry.
Wat veroorsaak hierdie groot verandering? Die Heilige Gees wat my by Christus insluit. Daarom weet ek dat Christus in al my sonde deel. Wat myne is is Syne en wat Syne is is myne. Hy deel met my alles wat ek verkeerd doen – op só ‘n wyse dat ek deel is van die goedheid/liefde/barmhartigheid/genade van die Here self. Dis die mens wat ek nou wil wees. Ek wil die mens wees vir wie die Here gely en gesterf het. Ek wil nie dít wees waarvóór Hy gesterf het nie. Daarom is ek nie die begeertes wat in my stry nie. Ek is die mens vir wie Hy gely het.
Dit alles = wat die Bybel (Galasiërs 4-5) noem die “gees”. Die “gees-pad”.
Hierteenoor praat die Skrif ook van die “vlees” wat niks anders is as religieuse D.I.Y. (Do it yourself) nie. As ek in die vlees is, vind ek nie my identiteit in wie ek in my insluiting by Christus is nie. Ek vind my identiteit in wat ek self doen & probeer om te verander en God se guns te bekom en daarin te bly. Dit is die vlees. U kan hoor: Dis ‘n totaal ander koninkryk.
Die geespad lyk só: Ek weet ek word geseën selfs al doen ek nie alles reg nie. Ek weet ek is perfek reg en heilig wanneer ek in myself onheiligheid vind. Wanneer ek besef wat Hy alles gedoen het, word vertroue in my hart gebore. Ek is ingesluit by die dieselfde verhouding wat Christus as Mens met Sy Vader het. Ek glo en ontvang wat Hy gedoen het. Ek sien myself volgens hoe God my sien in Christus. Ek weet wat God oor my glo is presies dit wat Hy oor Jesus glo.
Die vleespad lyk só: Ek baseer my verhouding met God op my eie werksverrigting. Ek baseer die manier hoe ek myself sien op my doen/nie doen nie, my gevoelens, ervaring en sondes. Ek dink dit is my geloof wat God aan die gang kry. Ek glo ek moet reg doen om beloon te word. Ek voel heeltyd: Ek is nie – ek moet iets doen om iets te wórd. Ek moet probeer beter word.
Vleespad = Ek vertrou die Here om van my iets te maak. Ek moet dit en dat doen en Hy moet my help = Wet.
Geespad = Ek rus in wat Hy kant en klaar met my gedoen het deur my insluiting by Christus toe ek nie ingesluit wou wees nie = Vrye genade.
Vleespad = Wet = doen (Boom van Kennis van goed en kwaad)
Geespad = genade = rus (Boom van die Lewe)
Vleespad = Pligsbesef en gebruik van wilskrag. Selfgesentreerd. Negatiewe vrugte in verhoudings. Belastheid. Lasdraer. Laste van skuldgevoel, suspisie, minderwaardigheid, meerderwaardigheid, sondebewustheid. Voorgee/pretensie – jy dink jy is wat jy in werklikheid nie is nie. Vergelyk jouself met ander. Benodig ander se goedkeuring. Produseer die dood.
Geespad = Die “wet van Christus” wat liefdesgedrewe is en nie pligsgedrewe nie. Pleks van wilskrag, geloof wat rus in wat God van jou glo in Christus. Haal laste van ander af sonder om wettiese harde gesindheid te hê. Verwyder laste van skuld, skaamte, suspisie, minderwaardigheid. Glo nie meer leuens oor jouself maar glo dit wat jou ware identiteit is wat in Christus herstel is. Geen goedkeuring van ander nodig nie. Produseer lewe!
Die punt wat die Apostel in Galasiërs 6 maak is dat die vleespad sekere praktiese gevolge in jou lewe sal hê en so-ook die Geespad.
Wanneer die Heilige Gees jou lewe met die Evangelieboodskap (hy noem dit “die Wet van Christus”) beheers – sal dit praktiese gevolge hê. Dit het niks te doen met privaat geestelike ervarinkies wat ‘n gelowige iewers in sy binnekamer ondervind nie!! ‘n Mens se lewe met Christus word in die praktyk sigbaar. Dit wys die Apostel in hfst 6 so duidelik. ‘n Boodskap wat ons goed moet hoor.
Die Heilige Gees se werkinge in jou lewe veroorsaak dat jy nie meer net wil infokus op jou eie self nie. Maar binne-in allerlei praktiese omstandighede wat telkens opduik altyd weer na die Skrif wil terugkeer en sodoende na Christus terugkeer, jou onderwerp aan die heerskappy vd Woord. Die Heilige Gees werk op só ‘n manier dat ‘n mens weer en weer en weer ‘n begeerte het om na die Woord v God (en dus na Christus) te draai. Om jou nek te buig onder dit wat Hy sê… En sodoende saai jy op die akker van die Gees.
Dus: Om deur die vlees beheers te word = die vleespad = om op die akker van die vlees te saai (soos ‘n boer doen). Dit gaan noodwendige praktiese gevolge in jou lewe hê. Net soos ‘n boer presies dít oes wat hy gesaai het (bv koring).
Om deur die Gees beheers te word = die geespad = om op die akker van die Gees te saai. Dit sal praktiese gevolge in jou lewe hê.
Om op die akker van die vlees te saai beteken nie om sondes te doen of deur God vir jou sondes veroordeel en verdoem te wees nie. Om op die akker van die Gees te saai beteken nie om minder sondes te doen en ‘n oorwinningslewe te leef nie.
Om op die akker van die vlees te saai beteken om een of ander wetsinhoud te omhels – om met religie besig te wees. Om op die akker van die vlees te saai beteken om te dink jou werksverrigting maak dat God van jou hou en jou nie straf nie. Om op die akker van die vlees te saai beteken om te fokus presies op dít wat Jesus reeds volkome weggeneem het = sonde & skuld. Die vlees probeer om met berou en sondebelydenis en bekering dít weg te neem wat Jesus se bloed al reeds weggeneem het! Só saai jy op die akker van die vlees en die oes is nie goed nie!
Om op die akker van die Gees te saai beteken om Gods vrye genade in Christus te omhels. Om op die akker van die Gees te saai beteken om in die geloof te leef dat jy nooit ooit weer vir enige sonde gestraf en verdoem sal word nie. Dat jy in totaliteit op die kruis genees is en bevry is en dat dit vir tyd en ewigheid afgehandel is. Die Gees fokus op die volkomenheid van Jesus se offer waarby jy ingesluit is. Die Gees fokus op die Here Jesus Christus self!
Hierdie twee maniere van saai (vlees/gees) sal ‘n uitwerking hê op jou praktiese lewe van elke dag. Dit is waaroor hoofstuk 6 gaan.
As jy op die akker van die vlees saai, fokus jy op jouself. Selfgesentreerd.
As jy op die akker van die gees saai, verander jou perspektief. Pleks van: Om gedien te word, begin jy dien. Jou minderwaardigheid én jou meerderwaardigheid word oorwin. Ons ly mos gewoonlik aan een van die twee. Gewoonlik bekyk ons mos ons medemens en vergelyk onsself met hom/haar. Ons is krities op ‘n ander persoon ten einde die ander persoon af te trek en onsself te verhef. ‘n Wettiese gees is altyd hard en krities op ander mense.
Volgens ‘n vleeslike benadering sien ‘n mens nie jouself as heelgemaak in Christus nie. Jy sien jouself in terme van hoe jy nog moet probeer wórd. Jy glo eintlik ‘n leuen oor jouself – volgens dít wat jy van jouself waarneem.
Paulus sê in vers 4 ‘n verstommende ding: Ons hoef nie onsself met ‘n ander te vergelyk nie! Die kruis van Jesus het ons daarvan bevry. Vers 3: As ons ons verbeel ons is iets, terwyl ons niks is nie, bedrieg ons onsself. Dink net wat ‘n magtige impak sal dit op u daaglikse lewe hê om te weet: Ek hoef nie meer myself met ander mense te vergelyk nie. Ek is vry van minderwaardigheid én meerderwaardigheid. Begin sommer vandag daaruit leef, want u is klaar bevry. U hoef niks te bid nie, geen oorgawe te maak nie, niks te vra nie, geen beloftes aan God te maak nie. Dit is volbring – u is vry.
Wat gebeur wanneer ‘n mens jouself nie meer met ander vergelyk nie? Jy raak instaat om ander te gaan dien. Dit is waar regte geluk begin. Die oomblik wanneer jou fokus verskuif wég van jouself af, begin jy geluk ervaar. Selfgesentreerdheid maak jou ongelukkig en bedompig, want jy wil gedien wórd – ander is in jou diens.
Paulus sê dit kom daar na vore waar ons ander gelowiges, wat in sondes geval het, reghelp. Terwyl ons self sagmoedig bly. Terwyl ons altyd weet hoe broos onsself is. Die teenoorgestelde van die harde kritiese gees van die wettiese gees. Op hierdie manier dra ons mekaar se laste. Die vlees laai laste op. Genade neem laste weg. Die Wet vermenigvuldig laste. Die Evangelie verwyder laste. Wanneer jy ontdek dat jou eie laste op die kruis verwyder is, kan jy ander mense s’n verlig. Pligsbesef vermeerder laste. Liefde verwyder laste. Dit help ander mense op en wen hulle terug. Die Griekse woord vir “reghelp” = om visnette reg te maak.
Kan u sien dat die “geespad” ‘n praktiese ding is wat my medemens raak. Ek is vry van minderwaardigheid én meerderwaardigheid. En ek is vry van pligsbesef. Ek is vry daarvan om leuens oor myself te glo. Ek is vry van ‘n harde wettiese kritiese gees. Ek is vry van die laste van skuld en sondebewustheid. Ek is vry van selffokus. Daarom is ek vry – om my ware self – wat by Christus ingesluit is – uit te leef. En ek is vry om ander mense te dien.