EKONOMIE - GOEIE EN SLEGTE NUUS
’n Boer het eendag na sy bankier gegaan en toe hy die kantoor instap het hy dadelik gaan sit en vir die bankier gesê:-
“ Ek het goeie nuus en slegte nuus. Ek sal jou eers die slegte nuus vertel. Dit is vir my onmoontlik om my verband op die plaas te betaal. Dit is verder ook vir my onmoontlik om daardie lening vir die plant van die oes, wat ek vir die afgelope tien jaar by die bank het, te betaal. Dit is nie al nie, ek is ook nie instaat om die paar honderdduisend rand wat ek geleen het vir die aankoop van die trekkers en al die ander implemente te betaal nie. Dus gaan ek die plaas en alles wat daarop is aan jou oorgee sodat jy kan kyk wat jy daaruit kan kry vir al my skuld.”
Daar was stilte in die kantoor vir ’n hele tyd en toe:-
“ Nou wat is die goeie nuus?” vra die bankier.
“ Wel, die goeie nuus is, dat ek gaan nie my rekening sluit nie maar by jou aanhou bank.” Sê die boer.
MATT. 6:19 Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie;
:20 maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie;
:21 want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.
Waar is jou skat? Waar is jou hart?
GEBED
Wonderlike Here, dit gebeur so maklik dat ons daagliks jaag agter die tydelike dinge aan! Gee my die instaatstelling om te werk vir die skatte in die hemel en nie my aandag alleen toe te spits op die aardse skatte nie? AMEN